1. Home
  2. Jesus
  3. Deur Sy Wonde
  4. Deur Sy Wonde Deel 5 – Jesus In Die Wingerd

Deur Sy Wonde Deel 5 – Jesus In Die Wingerd

(5) JESUS DIE WARE WYNSTOK – OP PAD NA GETSEMANE

Skriftuur: Johannes 15:1-5

1. As ons een Donderdagaand lank gelede in Jerusalem was, sou ons gesien het hoe 12 mans deur die stadspoort stap. Hulle is op pad na Getsemane.

2. Dis ‘n stil plekkie aan die voet van die Olyfberg. Dis hier waar Jesus dikwels gaan bid het. Daar was kere wanneer Hy die hele nag in die tuin van Getsemane in gebed deurgebring het.

3. Nou stap Hy om vir die laaste keer daar te gaan bid.

Dit sou die grootste worstelgebed in die geskiedenis van die heelal wees. Die mens se ewige toekoms was op die spel.

Dit was die laaste geleentheid wat Jesus gehad het om met Sy dissipels te gesels. Hy moes vir oulaas vir hulle iets sê wat hulle vir altyd moes onthou.

En dit wat Jesus wel geleer het, is so diepgaande treffend dat ‘n mens vir ‘n leeftyd daaroor kan peins en dit nooit sal uitput nie.

4. Vir drie en ‘n half jaar het Jesus aan Sy dissipels probeer verduidelik hoedanig hulle verhouding met Hom moet wees. Godsdiens se onderbou is ‘n verhouding. Daar kan nie ‘n verhouding wees as daar nie ‘n gesprek is nie.

Terwyl hulle so aanstap, het die helder silwer strale van die volmaan op ’n vrugbare wingerdstok geval. Jesus het gaan stilstaan. Die dissipels het nader gekom.

Wat Jesus daardie Donderdagnag aan Sy dissipels gesê het, ego deur die klowe van tyd en word vanoggend weer gehoor:

5. Johannes 15:1 Ek is die ware wingerdstok en My Vader is die boer.

Wanneer mens deur die Bybel lees, ontdek jy interessante beelde waarmee Jesus Homself vergelyk het. Kom ons kyk na so ‘n paar:

6. In Johannes 8:12 sê Hy dat Hy die lig van die wêreld is. In Johannes 10:9 sê Hy “Ek is die Deur.” In Johannes 10:11 “Ek is die goeie Herder.” Johannes 11:25 “Ek is die opstanding en die lewe.” En in Johannes 14:6 “Ek is die weg, die waarheid en die lewe.”

7. En nou staan Jesus en Sy dissipels langs ’n wingerdstok, ’n prieel, en Hy sê vir hulle Hy is die ware wingerdstok.

WAAROM ‘N WINGERDSTOK?

Waarom hierdie beeld? Watter simboliese waarde het die Jood van destyds aan ’n wingerdstok geheg? Wanneer ‘n mens die dieptes van die verskillende simbolieke bestudeer, word die Bybel vir jou onbegryplik mooier.

Kom ons lees die antwoord in Psalms:

8. Psalm 80:9-12 U het ’n wingerdstok in Egipte uitgehaal en dit hier kom plant nadat U die nasies uitgedrywe het. U het vir hom plek reggemaak, sy wortels het gegroei en hy het die land ingeneem. Sy skaduwee het die berge oordek, sy ranke die magtige seders. Hy het sy ranke uitgestoot tot by die see, sy lote tot by die Eufraat.

9. Die wingerdstok was die simbool van die Joodse volk [Jesaja 5:1-5; 27:2,3; Jeremia 2:21; 12:10]. Ongelukkig het hulle nie die afhanklikheidsboodskap van die wingerdstok uitgeleef nie.

Jesus was besig om vir Sy dissipels te verduidelik dat Hy eintlik die ware wynstok is. Hy het dieper simboliek kom demonstreer.

10. As u destyds geleef het en tot voor Herodus se pragtige tempel gestap het, sou u ’n goue wingerdstok gesien het wat die ingang tot die tempel versier het.

Selfs op die Joodse muntstukke is druiweblare en trosse druiwe vertoon. Soos die letters RSA vir die Republiek van Suid-Afrika staan, so het ’n wingerdstok vir die nasie van Israel gestaan. Dit was hulle Nasionale embleem.

11. Baie Jode het geglo dat omdat hulle etnies aan die uitverkore volk behoort, hulle outomaties vir die ewige lewe gekwalifiseer het.

En nou kom Jesus en Hy sê: Ek is die ware wingerdstok. Wat probeer Hy leer? Hy sê vir ’n paar Jode dat die feit dat hulle deel van die uitverkore volk is, hulle nie noodwendig kandidate vir die ewige lewe is nie.

12. En Hy sê ook vir jou en my dat om aan die regte kerk te behoort nie noodwendig beteken dat ek nou ’n paspoort vir die hemel het nie.

13. Dit is moontlik om in die waarheid te wees, sonder dat die waarheid in ons is. Dis moontlik dat ek die regte kerk met ’n verkeerde motief is.

En Jesus leer ’n baie belangrike les:

14. Binne in die ware kerk is die ware Wynstok, Jesus Christus. As ek in Hom ingeplant is, het ek die ewige lewe. Net ’n verbintenis met Hom alleen kan vir my die ewige lewe verseker.

TWEEDE REDE

15. Daar is ’n tweede rede waarom Jesus Homself nie met ’n reuse akkerboom of sederboom vergelyk nie, maar wel met ‘n wingerdstok?

16. Die palmboom sou Hom ook mos goed voorgestel het. Pragtig, mooi en regop staan hy daar in al sy trots en grasie. As die wind waai, ritsel net sy boonste blare maar sy stam staan onbuigbaar. Sou dit nie die Majesteit van Jesus beter uitgebeeld het nie?

17. Maar nou gebruik Jesus ’n wingerdstok. Staan daar miskien ’n wingerdstok in u erf? Het u al die sterkte van sy hout getoets? Die een in ons vorige erf kon nie op sy eie staan nie, hy moes teen ’n stellasie opgelei word.

Die een paal wat die traliewerk moes stut, het afgebreek en die hele wingerd het saam met die paal op die grond geval. En u weet, die stam is nie juis die mooiste wat daar is nie.

18. Wat het Jesus bedoel toe Hy gesê het Ek is die ware wingerdstok?

19. Daar is net een allerbelangrikste antwoord: AFHANKLIKHEID. Jesus het Sy totale afhanklikheid aan die Vader verduidelik.

Die magtige palmboom staan op eie krag. Maar die wingerdstok moet aan traliewerk vashou.

Jesus, die tweede Persoon in die Godheid het Sy onafhanklikheid opgegee en aan die traliewerk van Sy Vader se krag kom rank.

20. Johannes 5:30 Uit my eie kan Ek niks doen nie.

Die groot akkerboom staan trots, selfversekerd op sy eie. Die storms kan maar kom. Hy het inherente krag om dit te trotseer. Die wingerdstok daarenteen moet met sy ranke aan die traliewerk vasklem.

21. Jesus, die Magtige tweede Persoon in die Godheid het Sy onafhanklikheid opgegee en aan die traliewerk van Sy van Sy Vader
se krag kom rank.

22. Dis ‘n groot belewenis om op die asemrowendmooie roete na die Seders in Libanon te reis. Deur die eeue het die vorste hulle kwaliteit hout kom hier kom haal.

23. Uiteindelik is jy bo waar die laaste paar prinse van die antieke tye nog pronk. Baie digters het al hierdie reuse al besing.

24. Die hitte van die somer brand, die koue van die winter byt, maar die seder staan trots, alleen, onafhanklik.

25. Dwarsdeur die jaar met sy seisoene van bitter koue en versengende hitte, bly sy voorkoms groen en mooi.

26. In teenstelling met die kragtige seder, kry ons die swakke wingerdstok wat met sy tenger ranke aan bloudraad en traliewerk moet vashou.

En wanneer die yswind kom, val sy blare af en die bruin takke met hulle lelike knoetse staan in skaamte. Wat ’n pragtige uitbeelding van Jesus se geboorte en sterwe. Aanvanklik groen en mooi, maar later vasgerank aan die kruishout, vaal en lelik.

JESUS EN SY DISSIPELS

Die koel windjie van die middernag ritsel deur die blare van die wingerdstok. Jesus plaas Sy arms om ’n paar van Sy dissipels.

“Kom ons stap nader,” sê Hy, “dan kyk ons na die lesse wat ons uit die wingerdstok kan leer.”

En Jesus verduidelik vir hulle dat Hy wat eintlik ’n magtige hemelse sederboom is, Hy wat ’n goddelike immergroen boom is, Hy wat die misterieuse tweede Persoon van die Godheid is, so lelik en afhanklik soos ‘n wingerdstok kom word het.

27. Hy kon trots en onafhanklik opgetree het want Hy was God, maar Hy raak geheel en al van sy Vader afhanklik. Nie een keer het Jesus Sy Godheid onafhanklik van Sy Vader se goedkeuring gebruik nie.

28. In Johannes 5:30 sê Hy “Uit my eie kan Ek niks doen nie.”

29. Jesus Christus, die Absolute Onafhanklike, die Skepper van ’n kosmos, die Instandhouer van elke lewende wese, word soos ’n afhanklike wingerdstok.

30. Hy groei uit die nederige grond van mensheid op. Dwarsdeur Sy lewe rank Hy in groot afhanklikheid teen die traliewerk van Sy Vader se genade.

“Petrus,” sê Jesus, “kan jy My in die simbool van die wingerdstok sien? Johannes, verstaan julle? Vir drie en dertig en ’n half jaar het Ek in volkome afhanklikheid van My Vader geleef.

“Soos lote aan die traliewerk rank, so is ek dag en nag, oomblik vir oomblik, aan My Hemelse Vader vasgerank. En nou wil Ek hê dat julle die grootste geestelike les van alle lesse moet leer. Dis die geheim vir geestelike sukses.”

Die dissipels staan nog nader om elke woord te hoor. Jesus praat:

31. Johannes 15:4 Julle moet in My bly en Ek in julle. ’n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie.

32. Kom ons kyk versigtig na wat Jesus daardie Donderdagaand vir Sy dissipels wou leer. Binne in hierdie wingerdstok vloei daar lewegewende sap.

En terwyl Jesus die wingerdstok in Sy hand neem, sê Hy vir Sy dissipels. Manne, in My is lewegewende krag.

33. Johannes 15:5 Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.

Wat wil hierdie wingerdstok vir die lote doen? Hy wil van sy lewegewende sap vir die lote gee.

34. En wat gebeur wanneer die lote hierdie lewegewende sap ontvang? Pragtige trosse druiwe maak hulle verskyning. Hulle ruik lekker en hulle smaak nog lekkerder.

Die wet van wingerdbou sê dat as die loot in die wingerdstok bly, gaan daar iets plaasvind. Hierdie lote kan nie met die wingerdstok verbind wees sonder dat daar groei, lewe en vrugte is nie.

Jesus verduidelik aan Sy dissipels dat wanneer hulle in Hom bly, en Hy in hulle, daar iets gaan gebeur. So belangrik is hierdie “in Hom motief” dat Paulus dit 163 keer in sy sendbriewe noem.

35. As ‘n loot aan die wingerdstok bly, gaan druiwe tevoorskyn kom. En as ons aan Jesus verbind is, sal die pragtige vrug van liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing aan die lote aan ons lewe verskyn [Galasiërs 5:22]

Hoedanig is ons lewens? Kan mense na ons lewenswingerd kom en heerlike trosse druiwe van aangenaamheid kom pluk en geniet?

SONDER MY KAN JULLE NIKS DOEN NIE

Jesus sê ’n baie belangrike iets – sonder Hom kan ons niks doen nie.
36. Vers 6 As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos ’n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.

Sodra ’n loot van die wingerdstok afgesny word, word die vloei van sap afgesny. Dit kan nie meer in daardie loot invloei nie. Dit verdroog en die beste wat ’n mens daarmee kan doen, is om dit te verbrand.

Is ek ‘n weggegooide loot of is ek met Jesus die Wingerstok verbind?

MIDDERNAG

Dis om en by middernag. Jesus staan saam met Sy dissipels langs ’n wingerd en Hy pleit ernstig met hulle:

37. My dierbare vriende, Ek is die wingerdstok, julle is die lote. Soos die loot vasgroei aan die wingerdstok, so moet julle aan My vasgroei. Soos die lote onafgebroke kontak met die wingerdstok het, so moet julle onafgebroke die vloei van My Gees ontvang.

En dit wat Jesus daardie laaste nag voor Sy kruisiging aan Sy dissipels gesê het, sê Hy ook vandag vir ons:

“My dierbare kindjie. Bly gedurig in my.”

KASSET EN KASSETSPELER

Ek het ‘n CD van Handel se Messias. Wanneer hy in die hoëtroustel ingedruk word, is daar onmiddellik hemelse musiek wat die vertrek vul. (Illustreer)

Ek en jy kan met die stukkie metaal van die ‘n CD vergelyk word. Op ons eie gee ons net wanklanke af. ‘n Luidende simbaal, klinkende simbaal. Maar wanneer ons in Jesus geplaas word, speel Hy Homself, die Messias. (Vertoon)

38. Maar wanneer die “Eject” knoppie gedruk word, is daar niks. Dis nodig dat ons as CD’s gedurig in Jesus moet bly sodat Hy die hemelse musiek deur ons kan speel.

Bly in My sê Jesus, en Ek sal in julle bly. Wat ‘n voorreg!

Die skepsel word genooi om intiem met die Skepper te verkeer.
Dis nie enige iemand wat met my wil vriende wees nie. Ek stoot sekere mense af. Wanneer ek in hulle geselskap is, kan ek deur hulle lyftaal agterkom dat hulle ‘n afstand wil hou.

Maar die Skepper van die heelal wil baie graag ‘n intieme verhouding met my hê.

GEVOLGE VAN OM “IN JESUS TE WEES.”

Kom ons kyk na die geestelike voordele wanneer ons as lote in Jesus die Wingerdstok bly:

39. Die lewe van die wingerdstok word die lewe van loot.

Wat ‘n geskenk. Ek het ‘n behoefte aan Jesus se lewe. Wat van jou?

Die mens wat dood is in sonde en oortreding ontvang ‘n nuwe rein lewe deur ‘n verbintenis met Jesus.

‘n Godelike eenheid word met Hom gesmee.

40. Die sondaar koppel sy swakheid aan Christus se krag. Sy leegheid met Christus se volheid. Sy broosheid met Christus se blywende mag.

Christus het ons mensheid geraak en ons mensheid het Hom geraak.

DIE TWEE KONSEKWENSIES

Dis byna middernag. Die maan se silwerlig skyn op die wingerdstok op Jesus en op sy elf dissipels. Hy praat met hulle?

41. Johannes 15:1,2 “Ek is die ware wingerdstok en My Vader is die boer. Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra.”

Jesus noem ’n baie interessante iets. Elke loot, elke mens, gaan onder die snoeimes deurloop. As ek ’n loot is wat nie vrugte dra nie, gaan ek afgesny word. Dit is ’n verskriklike ondervinding.

Maar wat gebeur met die lote wat wel vrugte dra? Jesus sê Elkeen wat vrugte dra, snoei die Vader reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra.

SNOEIMES

As kind het ek gesien hoe my oupa ‘n wingerd snoei. Voor hy begin, sien jy baie takke en blare. Maar wanneer hy klaar is sien jy omtrent niks. As die wingerd kon praat en huil sou hy seker gesê het:

42. “Wat maak hierdie man. Ek was so groot en kyk nou hoe klein maak hy my. Waarom die saag en die snoeimes? Waarom die pyn, waarom die vernedering? Sal die snoeiproses dan nooit ’n einde kry nie?”
Oupa het geweet wat hy doen. Party van die lote sleep op die grond en hy moet hulle los sny van die dinge op die grond waaraan hulle vas is. Hulle moet na bo rank.

Oupa klim op ’n leër en dan snoei hy die dak van die prieel amper weg. Hy weet daar is oortollige blare wat die lewensap van die vrugte af weg hou. Baie van die boonste lote moet weggesnoei word sodat die strale van die son kan deurkom.

GESNOEI

43. Word jy op die oomblik gesnoei? Ek het goeie nuus. God die Vader is die landbouer. Hy hanteer die snoeimes. Hy kyk na ons en Hy sien vrugte, maar Hy sien ook die potensiaal vir baie meer vrugte.

ONS UITDAGING

Ons uitdaging is nie om te probeer vrugte dra nie. Ons uitdaging is om baie tyd met die Here deur te bring. Lees Sy Woord peinsend, biddend. Staan lank op jou knieë. Bly daar totdat jy die oorwinning oor jou besondere probleem gekry het.

Hoe meer tyd ons met Hom deurbring, hoe groter gaan die trosse druiwe van ‘n heilige lewe aan ons lote hang.

Moenie met die snoeimes baklei nie. Kyk verby die pyn en kyk na die deurboorde hand wat die snoeimes vashou. Kyk vorentoe na die pragtige vrugte wat later in jou lewe gaan verskyn.

Bly in Jesus. Bly in Jesus. Bly in Jesus!

Was this article helpful?

Related Articles