1. Home
  2. Jesus
  3. Deur Sy Wonde
  4. Deur Sy Wonde Deel 6 – Getsemane (Deel 1)

Deur Sy Wonde Deel 6 – Getsemane (Deel 1)

JESUS – GETSEMANE

Matteus 26:36-45.

1. “Toe kom Jesus met hulle in ‘n plek met die naam van Getsemane, en Hy sê vir die dissipels: sit hier onderwyl Ek daar gaan bid.” Matteus 26:36.

2. Jesus en Sy dissipels het so pas die wingerdstok met sy boodskap van afhanklikheid verlaat. Hulle stap stadig na die tuin van Getsemane. Dis ‘n wolkelose nag en voor hulle kan hulle die bome en die skaduwees van die tuin sien. Agter hulle lê Jerusalem in stilte gesus.

GETSEMANE

3. Wat beteken die naam, Getsemane? Dis ‘n transliterasie, ‘n weergawe van die Aramese woord Gath Shemani en dit beteken “olie pers.”

4. Iewers in die tuin of in die nabye omgewing moes daar ‘n oliepers gewees het en daarom is hierdie tuin so vernoem.

SIMBOLIEK

Miskien sal dit goed wees om net vlugtig te kyk hoe olyfolie vervaardig is en waarvoor dit alles gebruik is.

Daar was twee metodes waarop olyfolie vervaardig is. Wanneer dit vir algemene doeleindes gebruik is, soos voedsel, lampolie en medisyne is dit in ‘n oliepers voorberei.

5. Maar wanneer olyfolie vir die kandelaar van die heiligdom voorberei is, is ‘n ander metode gevolg. Kom ons lees daarvan in Levitikus 24:2.

6. “Gee bevel aan die kinders van Israel dat hulle vir jou suiwer uitgestampte olyfolie vir die kandelaar moet bring, om gedurigdeur ‘n brandende lamp te hê.”

Die KJV praat van “beaten”, geslaan. Die olywe is geslaan en gekneus totdat die olie stadig begin uitloop het. Met hierdie metode is minder olie geproduseer as met die oliepers, maar die gehalte olyfolie was superieur. Dit was tempel olie.

TEMPEL

7. Ek is daarvan oortuig dat van die olie van die olywe in die tuin van Getsemane ook vir tempeldoeleindes gebruik is. Werkers het gekom, die swart ryp olywe afgepluk en dan het die slaanwerk begin.

8. Hierdie olie is dan in houers geplaas en na die tempel geneem. Daar is die olie in die groot goue kandelaar met sy sewe arms gegooi en die sewe vlamme het die heiligdom verlig.

Die lampe in die heiligdom het gebrand omdat die olywe geslaan en gekneus was.

As die olywe nie deur hierdie vreeslike proses gegaan het nie, sou hulle nie die olyfolie kon voortbring nie. Die olyfolie het op sy beurt die pragtige lig in die heiligdom gemaak. Hier het ons met baie groot simboliek te doen.

Die lig in ons lewe is die werk van die Heilige Gees.

9. Mark 14:32 sê: “Toe kom hulle in‘n plek waarvan die naam Getsemane was…”

Ek wonder wat het alles deur Jesus se gedagtes gemaal toe Hy so na Getsemane aanstap?

Soos die olywe geslaan en gekneus was sodat hulle olie vir die kandelaar van die heiligdom kon voorsien, so sou Hy ook in die tuin deur die stokke van mense sonde geslaan en gekneus word.

10. Maar uit Sy kneuswonde sou die olie van verlossing vloei. En dit sou die evangelielig dag en nag (in die hemelse heiligdom) laat brand.

11. Terwyl Jesus die tuin genader het, het Hy al stiller en stiller begin raak. Sy hele lewe lank het Hy in die lig van Sy Vader se liefdevolle teenwoordigheid gewandel.

Maar hier voor Hom was ‘n tuin wat in duisternis gehul was. Die duisternis van ‘n ewige verlorenheid.

12. Jesus was op die punt om uit die lig van Sy Vader se liefde te stap en die donker nag van sonde binne te stap.

Die sondelas wat Hy van die mensdom kom afneem het, sou aanstons op Hom geplaas word. Die skuldgevoel wat miljoene mense in wanhoop neer druk, sou ‘n endjie vorentoe op Hom neerkom.

13. Sou Hy ons onweegbare gewig van neerdrukkende sonde kan dra?

14. Terwyl Jesus na Getsemane aanstap, dink Hy daaraan hoe Hy mense met God die Vader versoen het. Mense wat in die hel van Godvervreemding geleef het, het Hy in die hemel van met-God-verenig gebring.

15. Hier in Getsemane is Jesus besig om vanaf ‘n intimiteit met die Vader na ‘n verskriklike Godvervreemding te beweeg. Jesus ervaar pynlik hoe Hy van Sy Vader se liefde weggeskeur word.

16. Hy, die ryp Olyf voel hoe Hy deur die Landbouer, God self afgepluk en begin slaan word. Hy voel hoe die stokke van sonde Hom begin kneus…die pyn is onbeskryflik.

DISSIPELS

17. Die dissipels bemerk die verandering wat oor hulle Meester kom. Hulle het Hom nog nooit so hartseer en stil gesien nie.

Kort kort loer hulle na Hom en sien hoe hierdie vreemde droefheid toeneem. Naby die tuin begin Hy te waggel net asof Hy wil val.

18. Elke tree wat Jesus gee, geskied met groot inspanning. Hulle hoor hoe Jesus kreun, Hy struikel weer en weer en Sy dissipels is genoodsaak om Hom te ondersteun.

JESUS SE EMOSIES

19.Markus vertel ons van Jesus se emosies. In Markus 14:33 lees ons dat Jesus begin het om ontsteld en benoud te word.

Was jy al verskriklik ontsteld? Jesus was oneindige meer ontsteld.

20. Die Griekse woord wat Markus vir ontsteld gebruik, is “ekthambos” en dit beteken om troumaties verskrik te word.

“Ekthambos” beteken om in die diepste dieptes van ontsteltenis gedompel te word.

Waarom is Jesus ontsteld?

Hy stap uit Sy ewige onbesmette reinheid, binne in my vuil sonde besoedelde lewe in, en Jesus is ontsteld.

21. Hy verlaat Sy onverstoorde vrede en Hy stap die oorlog van my sonde-neurose binne. En die teks sê Hy is ontsteld. Hy is verskrik. Sy hele wese ruk en bewe van ontsteltenis.

Die teks sê ook dat Hy benoud begin raak het. Die woord wat Markus gebruik, is “adymonein”.

22. Adomyn verwys ook na die soort benoudheid wanneer jy ontuis voel. Jy voel so uit jou plek want jy weet die mense wil jou nie daar hê nie.

En Jesus begin benoud te raak – die benoudheid van ontuis voel. Jesus is skielik nie meer tuis in sy Vader se liefde nie.

Hy ervaar pynlik hoe die sondes van die wêreld wat Hy besig is om op Homself te neem Sy verhouding met Sy Vader begin affekteer.

23. Jesus ervaar ‘n ontsettende ontuisheid in my sonde. Dis onbeskryflik troumaties. Hy wil nie daarin wees nie. Sy heilige wese rebelleer daarteen.

24. Hy voel hoe die vlamme van God se vreemde toorn Hom wil verteer. Jesus word met ‘n “Ek is nie meer tuis by Vader nie” getroumatiseer.

Dis vreeslik om te dink dat dit my afskuwelike sonde is wat Jesus in hierdie verskriklike trouma dompel.

En hoe dink u het die Vader in hierdie onttrekking gevoel. Sy hart het saam met Sy Seun se hart gebreek. Ons sondes het die Godheid in ‘n verskriklike krisis gedompel. So erg dat ons geen benul daarvan het nie.

In hierdie vreeslike pynlike “ontuis by Sy Vader,” en “ontuis in my sonde,” roep Hy daardie Donderdagnag in groot angs uit: “Ek is benoud.”

25. Wat ‘n onbegryplike liefde vir sondaars! Jesus voel ontuis by Sy eie Vader sodat ek en jy eendag vir altyd by die Vader gaan tuisvoel.

MIDDERNAG

26. Dis middernag. Dis in die tuin van Getsemane. Dis ‘n Jesus wat ontsteld is, dis ‘n Jesus wat diep benoud is.

Toe Jesus begin agterkom hoe verskriklik Gods toorn teen die sonde is, het Sy benoude kreet die naglug deurpriem:

“Ek is ontsteld, ek is benoud” en nou word ‘n nuwe kreet gehoor:

“My siel is diep bedroef tot die dood toe.”

DIEP BEDROEF

Wat beteken dit? Die woord wat Markus gebruik is “perilupos”. “Peri” beteken “rondom” en “lupos” beteken “hartseer.”

27. Met ander woorde, Jesus roep uit dat Hy omring is, vasgekeer, vasgedruk is deur ‘n verskriklike hartseer.

Presies watter soort hartseer is dit?

Dis die hartseer van die hele wêreld wat Jesus omsingel het. Hy word in die groot oseaan van menslike hartseer gedompel.

28. Hy voel die hartseer toe Adam en Eva hulle Eden tuiste verloor het.

29. Hy voel hulle brandpyne van selfverwyt hier diep in hulle harte toe hulle vir oulaas omkyk na die paradys en toe met betraande oë ‘n eensame wêreld vol dorings instap.
30. Hy voel Adam en Eva se pyn toe hulle langs die lewelose liggaam van hulle seun Abel staan. En pyn is so erg wat dis hulle eie seun wat sy broer doodgeslaan het.

31. Jesus kom staan een donker nag in die middel van die hartseer van die wêreld en Hy sê vir Sy dissipels: “My siel is diep bedroef tot die dood toe.”

Jesus kom staan in die pyn van ons dag en Hy voel die pyn toe hulle vir haar sê: “Mevrou jou man het so pas gesterf”

32. Hy voel die pyn toe hulle vir die man laat weet: “Meneer ons is baie jammer om jou mee te deel dat jou vrou en kinders almal in ‘n motorongeluk betrokke was…Hulle is almal op slag dood.”

33. Jesus kom staan in die middel van die wêreld se hartseer en Hy roep uit perilupos! “Rondom my is almal se hart seer. Ek staan in die middel van elke hartseer en ek voel dit intens.”

Hy voel die verworpe hartseer van die vrou met haar paar kinders toe haar man sê: “Ek verlaat julle. Gee my my vryheid.”

34. Jesus kom voel die hartseer van verlies; die hartseer van verydelde drome, die hartseer van teleurstellings, die hartseer van afskeid. Jesus word ‘n Victoriawaterval van hartseer trane.

DIE DIEPTE VAN JESUS SE DROEFHEID

35. Hoe diep, hoe intens was Jesus se droefheid daardie nag in Getsemane?

“My siel is diep bedroef tot die dood toe…”

Maw Hy sê vir Sy dissipels die hartseer van die wêreld wat Hom omring is so erg, dat Hy daarvan wil beswyk. Hy is so diep in die see van menslike hartseer dat Hy daarin wil verdrink.

Kan hartseer so vreeslik wees dat jy wil sterf? Onthou Hy beleef die hartseer van ‘n hele wêreld. Terwyl Hy daardie nag in Getsemane “perilupos” uitroep, het u persoonlike hartseer Hom ook oorval.

36. Jesus is in die gestorte trane van die verlede gedompel; Hy is in die trane van Sy tyd gedompel; en Jesus is in die trane van die toekoms gedompel.

37. En terwyl die Seun van God in hierdie groot oseaan van trane spartel; terwyl Hy elke pyn voel wat nog ooit gevoel is, en wat nog in die toekoms gevoel sal word, roep Hy uit:

“Ek voel doodsbenoud van die vreeslike hartseer.”

Die seer, die pyn, die gebrokenheid van die mensdom het so swaar op Jesus gedruk, dat Hy wou sterf. Sy hele wese rebelleer teen hierdie vreemde fenomeen van sondige pyn.

Ek wil u vanoggend sê dat Jesus van elke hartseer van u lewe weet. Hy weet nie alleen daarvan nie, Hy het dit saam met u deurgemaak.

38. Vorentoe wag daar nog baie hartseer. Onthou wanneer u hart môre of oormôre gaan breek. Jesus het jou pyn reeds in Getsemane ondervind. Hy dra nie net ons sonde nie maar ook ons hartseer.

GROOTSE HARTSEER

39. Ek glo die grootste pyn wat Jesus gevoel het was die pyn van die skeiding van Sy Vader se liefde. Van ewigheid was daar ‘n goddelike band van liefde tussen God die Vader en God die Seun.

40. En hier in Getsemane voel Jesus hoe die skêr van sonde daardie band pynlik en stadig afsny en die pyn is so vreeslik en so onbeskryflik dat Jesus uitroep: “Ek is so hartseer dat Ek kan sterf.”

ALLEEN

41. By die ingang van die tuin het Jesus die agt dissipels agtergelaat en met Johannes, Petrus en Jakobus dieper ingestap. Op ‘n sekere plek het Hy die drie agtergelaat en hulle gevra om saam met Hom te waak.

WORSTELING

42. Markus 14:35 “En toe Hy ‘n bietjie verder gegaan het, val Hy op die grond en bid dat, as dit moontlik was, die uur by Hom sou verbygaan.
Kan u sien hoe Jesus die tuin dieper instap? Hy is snikkend en strompellend en Hy val op Sy aangesig. Hierdie gevoel van skeiding wat sonde tussen Hom en die Vader bring, is onbeskryflik.

43. Die kloof word groter en groter, die nag swarter en dieper en Jesus begin te sidder. Die versoeking is daar om Sy goddelike mag te gebruik om Sy lyding te verlig maar Hy mag nie. As mens moet Hy die toorn van God teen die sonde verdra.

Jesus het nie grasieus neergekniel nie. Die teks sê Hy het op die grond geval.

44. Die werkwoord in die Grieks sê vir ons dat Jesus herhaalde male op die grond neergeval het, en herhaalde male tot die Vader gebid het. Hy beleef nie alleen ‘n fisiese nag nie. Daar is ‘n skrikwekkende nag in Sy gemoed.

DIE DUIWEL

Daar is nog iemand by Jesus, dis die Satan. Hy vertel vir Jesus dat as Hy die borg vir ‘n sondige wêreld sou word, die verwydering tussen Hom en Sy Vader permanent sal wees.

Die Satan skilder die prentjie in baie donker kleure. Hy sê vir Jesus dat dieselfde mense vir wie Hy kom red het, saam met hom, die Satan werk om Jesus om die lewe te bring.

Hierdie gedagte deurboor die hart van Jesus.

45. Die stryd is onbeskryflik. Die swaar gewig van die wêreld se sondes is besig om Jesus te oorweldig. En saam met hierdie gewaarwordinge ondervind Hy ook Gods toorn teen die sonde en dit pers die lewe uit Hom uit.

46. Dis wat my sonde aan Hom gedoen het. Kom ons dank Hom vir die verlossingsprys prys wat Hy vir onwaardige sondaars soos ons betaal het. Kom ons dank Hom vir Sy sondaarsliefde wat gewilliglik die hoogste prys vir ons verlossing betaal het.

Was this article helpful?

Related Articles