1. Home
  2. Jesus
  3. Deur Sy Wonde
  4. Deur Sy Wonde Deel 7 – Getsemane (Deel 2)

Deur Sy Wonde Deel 7 – Getsemane (Deel 2)

OP PAD NA GETSEMANE

Skriftuur: Matt 26:30-35

“En nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan na die Olyfberg.” Matt 26:30.

Ek wonder hoe Jesus se stem geklink het? Ek glo mens kon Sy stem bokant die van die dissipels gehoor het. Dit was die gebruik om tydens die paasfees Psalm 115 tot 118 as slotlied te sing. Luister net na ‘n paar van die pragtige gedagtes van hierdie lied:

“Ek het die Here lief, want Hy verhoor my smeekbede.” 116:1. “Bande van die dood het my omsluit, doodsangs het my aangegryp, ek het benoud en bekommerd geword. Toe het ek die Naam van die Here aangeroep: Here, red my tog!” 116:3

Jesus sing die eisnte lied wat oor Hom geskryf is. Kan u hoor hoe Jesus sing? Luister na hierdie paar treffende woorde:

“Vir die Here is die dood van sy troue dienaars geen geringe saak nie.” Vers 15.

Miskien het Jesus se stem by hierdie gedeelte ‘n bietjie sagter geword. Maar toe tel Sy stem weer op en Hy sing verder uit volle bors.

Psalm 117:1. “Prys die Here, alle nasies, loof Hom, alle volke, want Sy liefde vir ons is sterk, aan die trou van die Here is daar geen einde nie! Prys die Here!”

Die klanke van die lied sweef die nag binne. Flikkerende olie lampies word doodgeblaas. Jesus en Sy dissipels verlaat die bovertrek.

“En nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan na die Olyfberg.”

UITSTAP

‘n Rukkie van tevore het 13 mans die bovertrek binnegegaan; nou is hulle net 12. Baie gedagtes maal deur hulle koppe terwyl hulle stadig deur die besige strate na die stadspoort stap. Nadat hulle deur die poort is, en die geraas van stemme stiller word, begin Jesus weer te praat.
“Julle almal sal My vannag nog in die steek laat. Daar staan immers geskrywe: ‘Ek sal die herder doodmaak, en die skape van sy kudde sal uitmekaar gejaag word.” Matteus 26:31.

Dis ongeveer ‘n uur voor middernag. Jesus en Sy dissipels stap na Getsemane. Eers was dit Judas wat gewaarsku is, toe Petrus, maar nou praat Jesus met almal.

“Julle gaan my vannag almal in die steek laat.”

Hoe sou u teenoor mense reageer wat u weet u in die toekoms in die steek gaan laat? Jy vermy hulle. Jy ignoreer hulle. Kom ons kyk hoe Jesus sulke mense behandel het.

Matteus 26:32. “Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek julle vooruitgaan na Galilea toe.”

Met ander woorde Jesus sê vir hulle: Onthou manne, selfs nadat julle My in die steek gelaat het, wil Ek julle graag weer met My verenig. Anderkant julle val, gaan ons weer voor begin. Al stel julle My teleur, Ek vergewe julle.

VERGIFNIS VOORUIT

Hier kry ons ‘n pragtige karakter van Jesus. Hy vergewe Sy dissipels vooruit.

Hoe vergewe ons? Eers nadat iemand die saak met ons kom regmaak het?

U dierbares, u vriend, mag u een of ander tyd in die steek laat soos Jesus se dissipels Hom in die steek gelaat het.

Maak sommer nou met hulle ‘n afspraak by Galilea soos Jesus met Sy dissipels ‘n afspraak by Galilea gemaak het. Weet u wat beteken die naam Galilea? SIRKEL.

Met ander woorde.

Omsirkel voornemende oortreders nou reeds met u arms van vergifnis.

Bring mense wat in die toekoms teen u gaan oortree, nou al terug in die sirkel van u vooruigeprojekteerde vergifnis.

Die Engelse Living Bible stel dit so:

“But after I have been brought back to life again I will go to Galilee, and meet you there.”

Ten spyte van die feit dat ons sondes Jesus se dood veroorsaak het, het Hy afgespreek om ons na Sy dood in Sy sirkel van vergifnis te ontmoet.

Indien jy ‘n volgende keer sou u val, onthou Jesus wil u by Galilea ontmoet. Hy wil jou in die sirkel van Sy vergifnis ontmoet.

GELD UITLEEN

Het u al aan mense geld uitgeleen? Ek weet nie hoe dit met jou gegaan het nie, maar ek het geleer dat baie mense wat kom leen, dit nooit weer terugbetaal nie.

Dis iets wat my baie ontstel het. Tot ek op ‘n dag besluit het om mense voor die tyd vir hulle moontlike oneerlikheid te vergewe.

Daarna het ek net geld verloor en nie my humeur en gesondheid daarby nie.

Dis is goddelike om vooruit te vergewe. Dis die regte ding.

Luister hoe pragtig stel Jesus dit in Lukas 6:34-36.

“En as julle geld leen net aan die van wie julle hoop om dit terug te kry, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Sondaars leen ook aan sondaars, solank hulle maar dieselfde bedrag kan terugkry. Nee, sonder om iets terug te verwag, moet julle julle vyande liefhê en goed doen en uitleen. Dan sal daar vir julle ‘n groot beloning wees: julle sal kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy self goed is vir die ondankbares en slegtes. Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is.”

Dis een van die grootste ondervindings om vooruit te vergewe.

Besluit sommer nou om by voorbaat almal te vergewe wat jou hierdie week gaan te na kom. Pro-aktiewe vooruitvergifnis maak die lewe baie aangenamer.

BOOM VOL WIT LAKENS

‘n Engelse predikant vertel van ‘n baie interessante insident uit sy lewe. Hy was iewers in Engeland op reis in ‘n trein. Die jongman wat voor hom gesit het, het baie senuweeagtig gelyk.

Kort kort het hy sy vingers deurmekaar gevleg, oor sy voorkop gevryf, en dan op sy horlosie gekyk.

Die predikant begin toe met hom te gesels. Dit was net die regte ding want hy het op daardie oomblik iemand nodig gehad wat na hom kon luister.

Hy vertel toe die predikant dat hy en sy pa twee jaar van tevore ‘n vreeslike uitval gehad het. In hulle woede het hulle vir mekaar baie lelike dinge gesê. Die jongman het toe sy goedjies gepak en net sy ma gegroet. Sy was natuurlik gebroke want hy was die enigste kind.

Die jongman vertel toe vir die predikant dat dit die twee moeilikste jare van sy hele lewe was.

Sy ma het onophoudelik ‘n versoening tussen pa en seun probeer bewerk. Maar hy en sy pa is albei harde koppe. Die laaste ruk het die jongman se hart begin sag word. Hy het besluit dit sal goed wees om weer sy ouers te sien. Dit sal goed wees om weer met pa te gesels.

Hy vertel toe vir die predikant van die brief wat hy so ‘n week of wat gelede huis toe geskryf het. In die brief het hy gemeld dat hy daardie spesifieke dag gaan terugkom huistoe. As sy pa hom vergewe het en as hy welkom is om weer as hulle kind opgeneem en teruggeneeem te word, moet hulle hom net een guns bewys.

Sy ouerhuis was naby aan die spoorlyn en in hulle erf was daar ‘n groot boom. Al wat hulle moes doen om vir hom te laat weet dat hy vergewe is en dat hy welkom is om terug te kom, was om ‘n wit lap in die boom te hang.

As hy daar verbykom en hy sien die wit lap in die boom hang, sal hy by die stasie afklim. Maar as daar niks is nie, sal hy weet hy is nie vergewe nie en hy is nie welkom nie en dan sal hy maar net aanry sonder om by die stasie af te klim.

“Ag dominee, oor vyf minute sal die trein om ‘n draai gaan en dan sal mens die huis en die boom kan sien. Mag ek u ‘n guns vra? Wil u nie vir my kyk nie. Ek het nie die moed nie.”

Die predikant het by die venster gaan staan, die trein het om die draai gekom, die jongman het met sy kop in sy hande gesit.

“My jong vriend, daar is geen wit lap in die boom nie. Al wat ek sien is ‘n klomp lakens. Die hele boom is vol wit lakens! Jongman, kom kyk net hoe hang al die lakens!”

Kan u daardie outjie by die treinvenster sien huil terwyl hy na die wapperende lakens kyk?

VERLANGE NA DIE VADER SE HUIS

Net soos daardie jongman het elke sondaar uit die Vadershuis weggeloop. Een of ander tyd kom daar ‘n verlange om na die Vadershuis terug te gaan.

Daar kom in ons harte die verlange om met die Here vrede te maak. En dan wonder ‘n jy hoe die ontvangs sal wees. Ons is nie op ‘n baie mooi manier van Hom weg nie.

Sal Hy ons aanneem? Sal Hy my, ‘n groot sondaar vergewe?

By Golgotas boom het Hy al sy lakens van vergifnis gehang. Daar is nie ‘n tak wat nie ‘n laken van vergifnis aan het nie. Elke bladsy in die Bybel is ‘n wit laken van vergifnis wat aan die kruishout van Golgota wapper.

‘n Mens kan amper sê: “Die hele Bybel skreeu dit uit: Sondaar, jy is reeds vergewe. Sondaar kom huis toe.”

PETRUS SE REAKSIE

Kom ons keer terug na Jesus wat met Sy dissipels op pad is na Getsemane. Wat sou u reaksie gewees het as u daardie Donderdagnag moes hoor dat u Jesus in die steek gaan laat? As iemand vanoggend vir u sou sê dat u Jesus gaan verloën?

Kom ons lees Petrus se reaksie:

Matteus 26:33 “Daarop het Petrus vir Hom gesê: ‘Al sal hulle U ook almal in die steek laat, ek sal u nooit in die steek laat nie.”

As daar een iets is wat baie moeilik is om te aanvaar dan is dit die uitwys van ons foute. Dis heerlik om ‘n kompliment te ontvang, maar dis bitter om kritiek te vat.

WAAROM?

Waarom dink u het Jesus hulle op hulle swakheid gewys? En waarom spreek die Woord van die Here ons vandag nog oor ons swakhede aan? Hoe moet ons reageer? Hoe moes Petrus gereageer het?

SWAKHEDE

Jesus het sekere swakhede in Petrus se lewe gesien wat Petrus self nog nie raakgesien het nie. Daardie swakhede sou eers tevoorskyn kom wanneer Petrus in ‘n krissis situasie beland. Toekomstige potensiële swakhede.

En in Sy groot liefde kyk die Here ook na u en my en hy sien sekere swakhede raak wat ons nog nie raakgesien het nie. En Hy weet dat wanneer ek onder druk gaan verkeer, wanneer omstandighede moeilik gaan raak, daar lelike dinge in my tevoorskyn gaan kom.

En Jesus waarsku Petrus dat hy Sy Meester in die steek gaan laat en dat Petrus hom self minder moet vertrou en meer op Jesus moet staatmaak.

En vanoggend sê Jesus aan ons: “Julle gaan My in die steek laat. Wantrou julle self en vertrou My.”

Jesus wil vir ons sê dat ons nie genoeg krag het om te oorwin nie, maar dat Hy vir ons die krag wil gee. Ons moet op Hom staatmaak.

PETRUS

Kom ons lees wat Jesus vir Petrus geantwoord het toe Petrus gesê het hy sal Jesus nooit in die steek laat nie:

Matteus 26:34 “Toe sê Jesus vir hom: “Dit verseker ek jou: Vannag nog, voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën.”
Die haangekraai was destyds ‘n tydsberekening, ‘n soort horlosie en dit het op die tyd net voor dagbreek gedui, so om en by 5 uur.

Maw. Jesus sê vir Petrus net voor middernag dat hy Hom ‘n paar uur later gaan verloën – drie keer agtermekaar voor dagbreek.

Kom ons hoor hoe hierop gereageer het:

Matteus 26:35: “Petrus sê vir Hom: ‘Al moet ek saam met U sterwe, ek sal u beslis nie verloën nie!’ Al die ander dissipels het ook so gesê.”

As u iets in die Bybel lees wat u aanspreek, wat u waarsku, moenie soos Petrus maak nie. Moenie stry nie.

Aanvaar bestraffende waarskuwings en vra vir genade om nie in daardie sonde te val nie.

Iemand wat geestelik selfverseker is soos PETRUS VAL, MAAR IEMAND WAT MET ALLE SMEKING NA DIE HERE soek sal deur Sy krag staande gehou word.

BETERWETERIGHEID

Wat maak jy met iemand wat beterweterig is? My eerste reaksie is om so iemand te ignoreer. Laat hy maar sy kop stamp! Ons gee partykeer mense so maklik op. Maar Jesus was so anders.

Tenspyte van die feit dat dit al baie laat was en dat die wrede kruisdood vir Hom gegrynslag het, het Jesus nogtans tyd geneem en vir hulle die grootste les in die hele Nuwe Testament geleer, die les van afhanklikheid.

Jesus vergelyk Homself met ‘n wingerdstok en Sy Vader met die landbouer, die boer. Hy vergelyk ons met die lote wat die druiwe dra. Johannes stel dit so:

Johannes 15:4 “Julle moet in My bly en Ek in julle. ‘n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie.”

Toe Jesus hierdie gesprek met hulle gevoer het, kon hulle die wingerstok in die volmaan sien. Ek glo nie hulle kon die les van afhanklikheid van die Here ooit vergeet nie.

Ek sluit af met ‘n belydenis soortgelyk aan die een wat Petrus gemaak het. Maar die persoon wat hierdie belydenis gemaak het, het alles deurgevoer. Dit was ‘n vrou, ‘n vrou wat haar afhanklikheid aangevoel het, haar naam was Rut.

Rut 1:14-17 Maar Rut het geantwoord: “Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God; waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê ‘n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei.”

Wat ‘n pragtige belydenis. Rut het eers op die pad van ongehoorsaamheid geloop, maar nou sê sy vir haar godvresende skoonmoeder “Waar u gaan, sal ek gaan.” Met ander woorde sy besluit om op die weg van gehoorsaamheid te volg.

U volk is my volk. Voorheen het sy aan ‘n heidense volk behoort. Rut het die moed om die teerste bande te breek en te doen wat reg is.

U God is my God. Eers het sy afgode aanbid. Nou breek Rut met afgode en sy besluit om die lewende God te aanbid.

Waar u sterf sal ek sterf. Pragtig. Sy gaan getrou bly tot in die dood.

Uit haar belydenis het die langverwagte Messias voortgekom.

Kom ons raak soos die loot wat vassuig aan die wynstok en al sy krag daaruit kry. Kom ons bly in Hom oomblik elk oomblik. En wanneer ons in Hom bly, gedurig in Hom bly, sal ons mense vooruit kan vergewe.

Was this article helpful?

Related Articles