1. Home
  2. Jesus
  3. Deur Sy Wonde
  4. Deur Sy Wonde Deel 9 – Jesus Se Trauma

Deur Sy Wonde Deel 9 – Jesus Se Trauma

JESUS SE GEVANGENEMING (DEEL 2)

Matteus 26:57-68

Verlede keer het ons na die begin van die onmenslike gevangeneming van Jesus gekyk. Kom ons verplaas ons terug na die tuin van Getsemane en dan volg ons hierdie menslike drama verder:

Johannes 18:7 “Hy vra hulle toe weer: Vir wie soek julle?” En hulle sê: “Jesus van Nasaret.” Toe sê Jesus: Ek het vir julle gesê dit is Ek. As julle My soek, laat die mense hier by My dan toe om weg te gaan.” So sou vervul word wat Hy voorheen gesê het:“Van die wat U my gegee het, het ek niemand verlore laat gaan nie.”

JUDAS

In die lig van die fakkels sien ons hoe ‘n man uit die gepeupel na Jesus toe aanstap. Kom ons vra vir Markus om die voorval vir ons te skets, 14:44,45.

“Die verraaier het met die mense ‘n teken afgespreek. Hy het gesê: “Die een wat ek sal soen, dit is hy. Gryp hom en vat hom weg. Moenie dat hy ontsnap nie.” Toe hy dan daar kom, het hy reguit na Jesus toe gegaan en gesê: “Rabbi!” en Hom met ‘n soen gegroet.”

Kan u sien hoe Judas ewe op sy gemak na Jesus aangestap kom? Hy neem Jesus se hand, trek hom nader en begin om hom te soen. Die Grieks bring die gedagte uit dat Judas vir Jesus herhaalde male gesoen het.

Is dit nie vreeslik nie! Huigelary van die ergste graad. Judas gebruik ‘n soen om sy selfsugtige drange te bevredig. Die Judas-kus het vandag ‘n spreekwoordelike iets geword.

En nou moet ek weer in my eie lewe inkyk. Is dit moontlik dat ek van soene uitdeel om myself ten koste van iemand anders te bevoordeel?

Hoe beskou Jesus ons optrede teen ander mense? Hy sê dat dit wat ons aan een van die geringstes van Sy kinders doen, ons dit ook aan Hom doen.

O mag die Here ons van agterbaksheid, skeinheiligheid en verraad bewaar. Mag Hy ons van Judaskuste bewaar.
Matteus 25:40 En die Koning sal hulle antwoord: Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.”

Mag die Here ons help om baie meer sensitief met die gevoelens van mense om te gaan. Mag ons onthou dat dit wat ons aan hulle doen, ons dit ook aan Jesus doen.

Matteus 26:50 “Maar Jesus sê vir hom: Vriend, doen wat jy gekom het om te doen!” Toe kom hulle vorentoe, gryp Jesus en neem Hom gevange.”

VRIEND

Toe die dowwe geluid van die laaste soen wegsterf, praat Jesus: “Vriend, my ou maat” sê Jesus, en toe breek Sy hart en Sy stem van droefheid.

Lukas 22:48 stel dit so: “Judas, verraai jy die Seun van die mens met ‘n soen?”

Hierdie mooi pleitende woorde moes die hart van Judas aangeraak het, maar Judas het reeds te ver gegaan. Eer, trou en menslike teerheid het van hom gewyk.

Judas het die sonde teen die Heilige Gees gepleeg. Judas het homself aan die Satan oorgegee en die satan het met hom gemaak net wat hy wou.

O, mag die Here ons bewaar om nie die onvergeeflike sonde teen die Heilige Gees te pleeg nie. Wanneer die Heilige Gees met my oor ‘n saak praat en ek luister, word my hart sag.

Maar wanneer die Heilige Gees oor ‘n verkeerde ding praat en ek steur my nie daaraan nie, en ek stuur Hom weg, word my hart harder.

More en oormore praat die Heilige Gees weer en weer sê ek nee. En die kors van my weerstand word harder en dikker.

En op ‘n dag kan die klank van die stem van die Heilige Gees nie mee deur die dik kors van weerstand penetreer nie. Die Heilige Gees is nog daar maar hoe tragies, ek hoor nie meer hoe Hy pleit nie.

Hebreërs 10:26 “Wanneer ons opsetlik bly sondig nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, is daar geen offer meer wat ons sondes kan wegneem nie.”

As daar ‘n verkeerde saak in u lewe is, maak dit nou reg. Dank die Here dat Sy Gees nog met u pleit en dat u daardie stem nog hoor praat.
DIE SKARE

Kom ons keer terug na die toneel in Getsemane. Toe die bende sien dat Judas die liggaam van Jesus aanraak, dieselfde liggaam wat oomblikke tevore goddelike heerlikheid uitgestraal het, het hulle vrypostig geraak en op Jesus toegesak. Met growwe toue bind hulle Sy twee hande wat net goed gedoen het, styf vas. Hulle ruk die twee ente en dit maak Hom baie seer, terwyl hulle die toue knoop.

PETRUS

Petrus staan met gemengde gevoelens en toekyk. Eers is hy teleurgesteld in Jesus dat Hy toelaat dat die bende dit aan Hom doen. En toe vererg hy hom bloediglik. Malgus die slaaf van die hoëpriester moes iets aan Jesus gedoen het, wat Petrus onbeheersd kwaad gemaak het.

Hy pluk sy swaard uit sy skede en kap met alle mag na die vermetelde Malgus, maar Petrus kap sy kop mis, en vang die slaaf net skuins teen sy kop en kap sy oor af.

Matteus 26:51: “Een van die wat saam met Jesus was, gryp toe sy swaard en trek dit uit. Hy slaan na die slaaf van die hoëpriester en kap sy oor af.”

EDEL EN ONEDEL

Wat sou u sê, het Petrus ‘n edel daad verrig? Hulle was besig om sy Meester te molesteer en hy was gewillig om tot die dood toe vir hierdie goeie saak te veg.

Het u al soos Petrus gevoel? Wanneer iemand onskuldig behandel word, wil ‘n mens met mag teen die slegte mense optree. Wanneer die reg verdraai word, wil ons vir die saak van die Here veg.

Wat sou u gedoen het as u in Jesus se plek was? Miskien sou ons vir Petrus gesê het: “Man, Petrus, baie dankie. Ek moet jou komplimenteer vir die edelmoedigheid wat jy aan die dag lê. Jy sê nie net jy sal vir my veg nie, jy doen dit ook. Daar is darem tenminste een wat vir my omgee.”

GEEN GEWELD

Kom ons luister na Jesus se raad aan Petrus.
Matteus 26:52 “Toe sê Jesus vir hom: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat na die swaard gryp, sal deur die swaard omkom.”

En dit wat Jesus daardie nag vir Petrus gesê het, sê Hy ook vir u en vir my. “Sit jou swaard terug.” “Versaak jou planne van geweld.” “My koninkryk is nie op geweld gebou nie. My koninkryk is op liefde en vrye keuse gebou.”

Geweld is eintlik die weg wat die lafaard volg. Geweld is gewoonlik die laaste uitweg van die valse godsdiens. Geweld is die enigste argument van ‘n sinkende saak.

Die duiwel se koninkryk is ‘n koninkryk van geweld. Geweld mag nooit in die saak van die Here gebruik word nie.

SWAARD?

Het u ‘n swaard in u hand? Is u besig om ‘n goeie saak te verdedig? Luister na Jesus se woord: “Sit jou swaard terug in sy plek.” Jy oortuig niemand met jou geweld nie, jy antagoniseer net mense. Daar is geen plek vir geweld in die koninkryk van liefde en genade nie.

Openbaring 12:17 “Die draak was woedend oor die vrou en hy het weggegaan om oorlog te maak teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God nakom en aan die getuienis vashou wat Jesus gelewer het.”

Ons sien hierdie as ‘n toekomstige gebeurtenis wanneer almal wat gaan volhou om Gods gebooie te bewaar, inlsuitende die Sabbat, vervolg gaan word.

Maar miskien moet ek hierdie teks uit sy toekomsperspektief haal en dit op my huidige lewe toepas. Is ek soos die draak, die duiwel, woedend vir ander mense wat probeer om gehoorsaam te wees? Loop ek met ‘n swaard rond om mense seer te maak.

Mag die woorde wat Jesus daar die Donderdagaand tot Petrus gespreek het, iets in my hart verander. Hy pleit met my, Hy pleit met u:

“Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat na die swaard gryp, sal deur die swaard omkom.” Matteus 26:52.

Haat en geweld is een van die gevaarlikste dinge om te hanteer. Dit verwoes my wanneer ek dit hanteer.

Ek het een keer van ‘n beer gelees wat ‘n vlymskerp swaard in die son sien flikker het. Hy het met sy groot tong daaraan gelek en toe proe hy iets souterig. Hy het nie besef dis sy eie bloed nie. Hy het weer gelek en weer gelek en sodoende homself meer en meer stukkend gesny totdat hy homself doodgebloei het.

Die swaard van agressie doen vandag nog dieselfde. Hy sny meer aan jou as aan die persoon wat jy daarmee in stukkies wil kap.

As u vanoggend ‘n Petrus met ‘n uitgeplukte swaard is, steek hom dadelik terug in sy skede van selfbeheersing. Daardie swaard kan ander mense se oor afkap, maar daardie selfde swaard gaan u eie lewe verwoes.

Ons gebruik nie eers ‘n swaard om die saak van Jesus te verdedig nie.

JESUS PRAAT

Luister wat sê Jesus:

Matteus 126:53 “Of dink jy ek kan nie My Vader om hulp vra nie? Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel.”

Jesus kon binne ‘n breuk van ‘n sekond ‘n legioen engele ontbied het. Hoeveel is ‘n legioen. Dis meer as die sterre van die melkweg. Met hulle glans alleen kon hulle hierdie planeet met sy rebelse inwoners in ‘n oomblik laat verdwyn.

Jesus kon op daardie oomblik hierdie stukkie kosmiese stof wegblaas en terug gaan hemel toe. Soos ‘n skoolkind ‘n verkeerde som met ‘n uitveër uitvee, kon Jesus hierdie verkeerde som in Sy heelal uitvee en weer van voor begin.

Maar Hy doen dit nie! Hoekom nie? Hy is ‘n God van liefde! Hy los my nie wanneer ek rebels raak nie! Hy verlaat my nie wanneer ek my met die modder van sonde bemors het nie. Jesus het gekom om te soek en te red wat verlore was.

”Toe sê Jesus vir Petrus: Sit die swaard in sy skede terug. Moet Ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie?” Johannes 18:11.

LYDENSBEKER

Wat is hierdie lydensbeker? Dis die beker waarin al u sonde en al my sondes ingegooi is. Dis die beker met die verskriklikste liederlikste inhoud wat daar nog ooit was.

Die inhoud van hierdie beker is so afstootlik dat ons nie daaraan wil dink of daarna wil kyk nie. Dit is ‘n mengsel van haat-sondes, skynheilige sondes, moedswillige sondes, die lelikste wellustige sondes en die bitter sondes van onvergewensgesindheid.

VRAAG

Ek wil vir u ‘n vraag vra? Hoeveel van u beker se sonde-inhoud dink u het Jesus gedrink? Toe Hy die eerste sluk gegee het in die tuin, het Hy toe opgehou?

Toe Hy die tweede sluk met Sy arrestasie gegee het, het Hy toe opgehou? Nee! Nee! Nee! “Petrus, Ek moet die lydensbeker leeg drink.”

Toe Hy drie uur Vrydagmiddag sterf het Hy die groot beker met al my sondes leeggedrink. Dit het Hom van 12 uur Donderdagnag tot drie uur Vrydagmiddag geneem om alles leeg te drink – altesaam 15 uur.

Nee, eintlik het dit langer geneem. Hy is geslag voor die grondlegging van die wêreld. “Petrus, Ek moet die lydensbeker leeg drink.”

Toe Jesus besluit het dat Hy sou kom sterf as die mens in sonde val, het Hy al die beker begin drink. Toe die eerste offerlam by die poorte van die paradys vir Adam en Eva geslag is, het Jesus aan die beker begin drink. Hy het saam met daardie lam gesterf.

Dink jy Jesus het al u sonde in die lydensbeker leeggedrink? O ja. Net voor Sy dood, roep Hy uit: “Dit is volbring!”

Ek wil vir u vanoggend die goeie nuus bring! Jesus het al ons sondes op Hom geneem. Toe Hy die laaste bietjie uitgedrink het, het Hy gesterf. Jesus se sterwe aan die kruis is die bewys dat al ons sondes vergewe is. Die duiwel wil nie hê u moet dit glo nie!

En op grond van die feit dat Jesus vir al ons sondes gesterwe het kan Johannes vir ons die volgende sê:

1 Joh 1:9 sê: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”

Ek het vanoggend baie goeie nuus vir u. Jesus het al ons sondes op Hom geneem. Toe Hy die laaste bietjie inhoud van die sonde beker uitgedrink het, het Hy gesterf.

Ek het goeie nuus vir u vanoggend. Daardie een vreeslike sonde wat u gepleeg het, wat u nie kan vergeet nie, het Jesus ook voor gesterf.

Daardie sonde waarmee u op die oomblik mee worstel, het Jesus ook voor gesterf.

Ek het nog verdere goeie nuus vir u. Sy vergifnis hou nie vorentoe op nie. Die sonde wat u in die toekoms mag pleeg het Jesus ook voor gesterf.

Jesus het die hele wêreld se sonde probleem in totaliteit opgelos.

DANKBAAR

Is u ook dankbaar? Is u dankbaar dat Jesus dit vir u opgelos het? Gaan u gebuk onder ‘n skuldgevoel? U hoef nie. Jesus het u sonde reeds weggeneem.

Ons is vry! Steek vanoggend u hand uit en neem Sy vergifnis en dank Hom vir die res van u lewe met ‘n gehoorsame lewe.

DIE GROOTSTE ONTDEKKING

Die grootste ontdekking wat die mens kan maak, is die ontdekking dat Jesus al jou skuld betaal het. Nie net ‘n gedeelte nie, maar alles.

Dis H. G. Spafford wat geskryf het:

My sin – o the bliss of the glorious thought!
My sin – not in part, but the whole,
Is nailed to His cross and I bear it no more;
Praise the Lord, praise the Lord, O my soul!

It is well with my soul,
It is well, it is well with my soul.

DIE VOL BEKER

Jesus neem nie alleen die beker met al ons sondes weg nie, Hy gee ons ‘n ander beker – die beker van verlossing. Wat is alles in hierdie beker?

Die reinheid van Jesus. Die volmaaktheid van Jesus. Die versekering dat ek ‘n geredde kind van God is.

Vanoggend nooi ek u weer om opnuut na die leë beker van u sondes te kyk. Te kyk hoe Jesus alles leeggedrink het.

Ek nooi u ook om opnuut die beker van verlossing te neem wat Jesus vir u volgemaak het en om dit te drink.

Neem die beker met u onwaardige hand en sluk dit weg. En weet u wat, hierdie geestelike fees eindig nooit nie. U sal Sy beker van verlossing nooit leeg drink nie. En weet u wat, hoe meer ‘n mens Sy verlossing indrink, hoe meer wil jy indrink.

Vanoggend bied Jesus aan ons Sy beker van verlossing. Hy nooi u om opnuut die versekering te kom drink dat al u sondes vergewe is en dat u Sy kind is.

Wil u nie saam met my uit hierdie verlossingsbeker drink nie?

Was this article helpful?

Related Articles