Verlede keer het ek beloof om iets meer oor die sinagoge te praat wat hier bo op Masada ontdek is.
Dis hier waar die sicarii vir oulaas kom bid het. Oortuig dat omdat hulle Abraham se nageslag is, hulle God se uitverkore volk is.
Terloops. Hoe maak mens om God se uitverkore volk te wees? Kom ons kyk eers na die kwalifikasies ho e om vandag daardie status te mag geniet:
Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, (wat is die belangrikste kenmerk van uitverkore?) om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, 1 Petrus 2:9
Het die Joodse volk God se karakter aan die wêreld vertoon? Was hulle inklusief of eksklusief?
Wat van jou en my? Vertel ons vir mense deur ons optrede, lyftaal en woorde van die liefdevolle verlossende, genadige God wat ons dien?
Wanneer mens die ou sinagoge besoek, verwys dit na ‘n Geniza wat opgegrawe is. Wat betken dit? ‘n Kamer verbonde aan ‘n sinagoge wat kosbare teksdokumente gehuisves het.
Binne die sinagoge is ‘n ostracon met die opskrif ma’aser cohen (מעשר כוהן, tiende vir die priester) gevind.
Daar is ook fragmente van twee boekrolle: dele van Deuteronomium en van die boek Esegiël, insluitend die visioen van die “droë bene” (Deuteronomium 33-34 en Esegiël 35-38) gevind.
Dit was onder die vloer van ‘n kamer wat in die sinagoge gebou is.
Ek het vir ‘n rukkie in die Sinagoge gaan sit en peins. Ek was by dieselfde plek waar ‘n klompie mense 2000 haar gelede ook gesit het. Wat het alles deur hulle gedagtes gegaan? Waarvoor het hulle gebid?
As vannag ons laaste nag op aarde is, waarvoor sal ons bid? Sal ons gereed wees om met die opstandingsmore uit te roep: “Dit is onse God op wie ons geweg het, laat ons juig en bly wees oor Sy hulp.”
HERODUS SE SUIDELIKE PALEIS
Ons is hier by Herodus se suidelike paleis. Kom ons hoor wanneer hy hier gebou het:
Masada se westelike paleis is deur Herodus die Grote in 25 vC. gebou.
Die swart streep wat mens shier sien, vertel hoe die ruïnes oorspronklik gelyk het toe Yigael Yadin en sy span hier begin werk het.
Alles bokant die swart streep vertel van restorasiewerk. Dis een van die mooi boodskappe van die argeologie. Moenie afbreek nie, herstel liewer.
Dit laat my dink aan die hemelse argeoloog. As ons Hom toelaat begin Hy om ons gebrokenheid te restoreer. Ons hoop rommel van ons verlede sit Hy weer aanmekaar. Die gom wat Hy gebruik is die Sumeriese woord (Ki agga) wat beteken “Ek het jou lief”.
Hy skrop nie sommer ons stof van mislukkings met skropborrel af nie. Nee Hy gebruik ‘n kwassie met sagte hare en werk baie versig met ons sondige stowwerige verlede. En wanneer Hy is gerestoreer het, vertel Hy dit aan die Hele wêreld.
En dan stal Hy ons in Sy hemelse Pergamon en Louvre museums uit. En Hy nooi die talle bewoners van die ander planete om na die fonds te kom kyk. Ons word ‘n skouspel van die herstellende vaardighede van ‘n liefdevolle hemelse Argeloog.
En omdat ons gerestoreer is, word ons vir Hom en die ganse kosmos baie meer werd. Ons waarde word nie aan gevallenheid gekoppel nie, maar aan die herstelwerk wat Hy aan ons gedoen het.
TYDGENOTE
Dis interessant om na die feit te kyk dat Herodus die Grote ‘n tydgenoot van Jesus was. Hulle was altwee meester bouers, meester argitekte. Herodus se handewerk pronk nog steeds na 2000 jaar.
En Jesus se verlossingswerk pronk ook steeds deur al die eue. Dink maar aan Paulus die moordenaar wat die Christene wou uitmoor. En toe kom Jesus die Groot Hersteller en Hy restoreer hierdie gevalle sondaar in die grootste evangelis in die geskiedenis van die planeet.
En as jy Paulus se boeke in die Nuwe Testament lees, staan jy verstom oor wat die Here met mense wrakke kan uitrig.
En dan is daar die 12 disippels. Die sommes, die ongeleerdes van die samelewing. Hy restoreer hulle in die pragtigste mense van Sy tyd. Een van hulle, die skelm Matteus skryf die pragtige evangelie wat na hom vernoem is.
En jy het ook al mense in jou dag ontmoet wat eers baie sleg was en wat mou mooi geword het.
PROFIEL VAN HERODUS
Iemand skryf die volgende oor hom:
Herodes was ‘n vreemde mengsel van ‘n slim en doeltreffende heerser en terselfdertyd ‘n wrede tiran.
Aan die een kant was hy wantrouig, jaloers en brutaal en het hy enige moontlike opposisie genadeloos verpletter. Die Jode het hom nooit as hulle wettige koning aanvaar nie, en dit het hom woedend gemaak.
Hy was voortdurend bang vir sameswering. Hy het sy vrou tereggestel toe hy vermoed het sy beplan tom hom. Dood te maak. Drie van sy seuns, nog ‘n vrou en sy skoonma het dieselfde lot tegemoet gegaan toe hulle ook van sameswering verdink is.
Herodes, wat probeer het om ‘n wettige Jood te wees, wou nie varkvleis eet nie, maar hy het sy seuns vryelik vermoor! Matteus se weergawe van Herodes se slagting van die babas in Betlehem pas goed by wat ons weet van die koning se ambisie, paranoia en wreedheid (Matt. 2:1-18).
Was daar ‘n goeie kant aan Herodes?
Hy het die ontwikkeling van die sinagogegemeenskappe aangemoedig en in die tyd van rampspoed belasting aan die mense terug besorg en van gratis graan voorsien.
SY DOOD
Herodes sterf in 4 vC (vgl. Matt. 2:19), waarskynlik aan ingewandskanker.
As ‘n laaste daad van wraak teen sy veragtende onderdane, opgesluit en beveel dat hierdie vooraanstaande Jode by sy dood tereggestel moet word.
Sy redenasie was dat as daar geen rou oor sy dood was nie, daar ten minste die dag van sy dood baie trane sou vloei! (By die dood van Herodes is sy bevel geignoreer en is die gevangenes vrygelaat.)
HERODION
Wanneer ek Herodion besoek waar hy begrawe is, dink ek aan hierdie besondere karakter. Hy kon nie mense bou nie, hy het hulle afgebreek. Maar hy kon met sandsteen die mooiste geboue die lig laat sien.
By die Israelimuseum sien mens ‘n model van hoe Jerusalem in Herodus se tyd gelyk het. Die skaalmodel van die tempel is ‘n meesterstuk. Hy het baie jare aan hierdie tempel gebou wat as een van die sewe wonders van die antieke wêreld beskou is.
Hy kon tempels van klip bou maar hy het nie toegelaat dat die Here ‘n tempel in sy hart gebou het nie.
Jesus het nie asemrowende monumente gebou nie, maar Hy het tempels van mooi mense gebou.
Herodus het baie mense doodgemaak, Jesus het baie mense geestelike opgewek.
VOORBEELD
Wie is my voorbeeld? Herodus wat met prag en praal op ‘n kameel gery het, of Jesus wat te voet na stukkende mense geloop het?
Op Masada het hy talle reuse water putte gegrawe en genoeg water vir baie maande gehad het. Jesus het die water van die lewe vir mense geword en Hy les nog steeds ons geestelike dors.
Kom ons lees wat die Bybel oor Herodus die argitek en bouer van die tempel, Seserea, Mukawir en Masada geskryf het:
Matteus 2:1 Jesus is in Betlehem in Judea gebore tydens die regering van koning Herodes. Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom
2:2 en gevra: “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.”
2:3 Toe koning Herodes hiervan hoor, was hy, en die hele Jerusalem saam met hom, hewig ontsteld.
By die aankondiging van Jesus se geboorte in Betlehem het die hemelse kore met die mooiste melodieë die Koning van die konings na die aarde verwelkom. Die skaapwagters jubel en Herodus die Grote en die geestelike leiers is onsteld.
Hier net voor sy dood moes Herodus hoor dat die nuwe koning van die Jode gebore is.
Ek wonder of die Heilige Gees hom oortuig het dat dit die geboorte van die langverwagte Messias was. Ongelukkig het hy nie soos die wyse manne, die sterrekykers die behoefte gevoel om ook voor hierdie ander Koning te gaan neerbuig en Hom aanbid nie?
Luister wat hy toe gedoen?
Matteus 2:4 Hy het toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar geroep en hulle uitgevra oor waar die Christus gebore sou word.
2:5 Hulle het hom geantwoord: “In Betlehem in Judea, want so is dit deur ‘n profeet geskrywe:
2:6 En jy, Betlehem, gebied van Juda, jy is beslis nie die kleinste onder die leiers van Juda nie. Uit jou sal ‘n leier voortkom wat vir my volk Israel ‘n herder sal wees.”
As daar ooit ‘n oomblik in sy lewe was waarin hy ‘n behoefte aan ‘n Herder gehad het was dit nou. Hy wat hom as ‘n Jood voorgedoen het en sinagoges gebou het moes sekerlik van die langverwagte Messias Koning gehoor het.
Maar hy het ongelukkig ‘n ander herder gekies en die ewige lewe verloor.
As ek na die ruïnes van Masada kyk, dink ek aan hierdie man. En ek dink ook aan die teks in Titus 2:8
Titus 2:11 Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn.
Hy moes van die eerste gewees het om voor Jesus te gaan neerkniel het en Hom as Sy Verlosser aangeneem het. Maar luister wat hy toe doen:
Matteus 2:7 Daarna het Herodes die sterrekykers in die geheim ontbied en noukeurig by hulle vasgestel wanneer die ster verskyn het.
2:8 Hy het hulle na Betlehem toe gestuur met die woorde: “Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom kry, laat my weet, sodat ek ook aan Hom hulde kan gaan bewys.”
Wou Herodus regtig vir Jesus gaan aanbid het? Nee hy was die eerste wat ‘n moordgedagte teenoor Jesus gekoester het. ‘n Ander herder, ‘n ander moordenaar het hom opgesteek om Jesus te gaan doodmaak.
Daardie selfde haat teenoor Jesus en die drang om Hom dood te maak, was ook in sy seun Herodus die Viervors toe Jesus voor hom in Jerusalem verskyn het.
2:9 Nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek; en kyk, die ster wat hulle sien opkom het, het hulle gelei totdat dit gaan staan het bo die plek waar die Kindjie was.
Ek glo hulle het vir Herodus van hulle ondervinding vertel hoe hulle die engele wat soos ‘n ster gelyk het, gesien het. Hulle het dit vir die afgelope 40 nagte in die lug gesien het.
Ek wonder of Herodus die ster gesien het wat hulle daardie nag na Betlehem gelei het. Kan jy jouself indink hoe ontsettend bly hierdie mense uit die ooste was toe hulle die baba Jesus sien en toe voor Hom in aanbidding neergekniel.
2:10 Toe hulle die ster sien, was hulle baie bly.
2:11 Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre.
Ek dink hulle het vir mekaar gesê: “Manne kom ons gaan sê vir koning Herodus dat ons die Koning van Verlossing gesien het. Hy moet sekerlik ook hierheen kom om Hom te aanbid.
Daardie nag het die Here in ‘n droom met hulle gepraat. Almal het dieselfde droom gehad
2:12 En omdat God hulle in ‘n droom gewaarsku het om nie na Herodes toe terug te gaan nie, het hulle met ‘n ander pad na hulle land toe teruggegaan.
Maar Herodus se naam het ook in ‘n droom aan Josef verskyn. Luister na die inhoud daarvan:
2:13 En toe hulle teruggegaan het, verskyn daar ‘n engel van die HERE in ‘n droom aan Josef en sê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar totdat ek jou sê; want Herodes gaan die Kindjie soek om Hom dood te maak.
2:14 Hy het toe opgestaan, die Kindjie en sy moeder in die nag geneem en na Egipte vertrek.
2:15 En hy was daar tot die dood van Herodes, sodat die woord vervul sou word wat die Here gespreek het deur die profeet: Uit Egipte het Ek my Seun geroep.
Die filosowe van die Ooste vlug na Ooste en Josef en Maria en die Baba vlug na Egipte in die weste.
Die bouer van Masada het verloor en Jesus se lewe is gespaar.
Maar hierdie sluwe wreedaard het nie verlief met die gebeure geneem nie. Hy het ‘n ander plan, ‘n verskriklike wrede moordplan in sy kop gehad.
Volgende keer gaan ons daarna kyk.