1. Home
  2. Argeologie
  3. Noag – Afstammelinge Van Sem, Gam en Jafet.

Noag – Afstammelinge Van Sem, Gam en Jafet.

1. Een van die groot voorregte van hierdie lewe, is om te reis. Dit was my voorreg om talle kere na die Bybellande te kon besoek en met kosbare inligting te kon terugkeer.

2. In hierdie lesing besoek ons Armenië. Waaraan laat hierdie land jou dink? Die berg Ararat.

Dis hier waar Noag na baie dae op woeste waters veilig op die berg Ararat geland het.

3. Terwyl ek stadig met ‘n Russiese Jeep na die hoë gebergtes van Armenië ry, kom die teks in Genesis 7:24 by my op:

Die water het die aarde honderd en vyftig dae lank oorstroom.

Ek kry groot vrede wanneer ek die pragtige aangrypende verhale van die Bybel glo.

4. Dit was met groot dankbaarheid en opgewondenheid dat ek ‘n uitnodiging aanvaar het om saam met Amerikaanse geleerdes na die ark te kon gaan soek.

Die Bybel is ‘n geïnspireerde boek wat die rustelose hart van mens met ‘n rustigheid vervul.

5. Kan jy sien wat ek sien? Dit lyk amper soos ‘n groot versteende skip.

Saam met baie ander arksoekers voor my, het ek teleurgesteld na Suid-Afrika teruggekeer.

6. In die dorp Sisian in die suide van Armenië het ons ‘n plek met die naam van Zorats Karer besoek. Presies wat die antieke inwoners met hierdie regop basaltstene gedoen het, is nog nie vasgestel nie.

Sommige van die 204 stene is drie meters hoog met  interessante gate aan die bokant.

7. In die middel van hierdie Armeniese “Stone Henge”  (Karahunge) is die stene in ‘n eiervormige formasie gerangskik met ‘n grafheuwel in die middel.

Daar is geleerdes wat glo dat Sem hier begrawe is.

Ek wil nie graag oor die meriete van hierdie mening spekuleer nie.

8. Ons het baie interessante ontdekking in hierdie besondere land gemaak.

In 301 nC. word Armenië die eerste land wat die Christelike geloof amptelik aanvaar.

9. In 405 nC het ‘n priester en geleerde met die naam Mesrop Mashtots die Armeense alfabet ontwikkel wat tans nog gebruik word.

10. Ek was nogal aangedaan om Armeense Bybels van baie eeue in hulle museums te kon sien. Waar ‘n nasie die Woord van die Here bestudeer en uitleef, geniet daardie land voorspoed.

OP SOEK NA ARGEOLOGIESE BEVESTIGING VAN DIE BETROUBAARHEID VAN DIE BYBEL

11. Waar ek ookal in die Bybellande besoek, soek ek na inligting om die betroubaarheid van die Bybel te bevestig. Tot dusver was ek nie teleurgesteld nie. Namate my navorsing voortduur, kry ek net meer en meer bevestiging dat die Bybel waarlik die Woord van God is.

12. Bo op die kruin van een van Armenië se berge, het ek op hierdie eienaardige rotsinskripsies afgekom. Nêrens in die wêreld kry mens hierdie tipe skrif nie.

13. As jy dit iewers anders so kry, kon mens op ‘n manier dit probeer ontleed het, maar tans is dit ‘n hopelose taak.

14. Daar is ontsettend baie van hierdie inskripsies wat deur Noag se nageslag nagelaat is. Ek praat met hulle Afrikaans en vra vir hulle of hulle my nie kan vertel waar die ark van Noag is nie. Hulle het net doodstil gebly.

15. Die enigste aanduiding van wegtrek, soos die Bybel dit noem, is ‘n skets wat ‘n span Engelse argeoloë hier gekry het. Kom ek wys vir jou.

16. Al die inskripsies dui op ‘n suidoostelike rigting waarin mense getrek het.

Die enigste argeologiese hulp wat ons oor die verhaal van Noag gaan kry, gaan ons in die name van sy seuns kry.

Kom ons gaan toer.

17. Genesis 10:1,2 Hier volg besonderhede oor Noag se seuns, Sem, Gam en Jafet. Na die oorstroming is daar ook vir hulle kinders gebore. Die nageslag van Jafet: Gomer…

Kan argeologie dit bevestig? Kom ons doen navorsing oor die naam van GOMER.

18. Die Assiriese anale verwys na Gomer as die Gamirri van Indo-Europese afkoms. In die 8ste eeu vC. het die Assiriese magte hulle weswaarts verdryf.

Later is hulle deur die Anatoliese mense geabsorbeer.

19. Terwyl ek na die reuse menskopbulle van die Assiriërs kyk, sê ek vir die Here baie dankie dat Sy Woord betroubaar is.

Die wetenskap van die argeologie bevestig die waarheid van die Bybel.

20. Kom ons kyk na nog name van Jafet se seuns argeologies kan opspoor:

Genesis 10:2 Die seuns van Jafet was: Gomer en Magog en Madai en Jawan en Tubal en Meseg en Tiras.

Wat sê die argeologie, was daar iemand soos Madai?

21. Ons soek in die Assiriese anale van die 9de eeu waar ons die antwoord kry.

Daar word na hulle verwys as die mense wat op die hoë plato van Iran, oos van Assirië geleë is. As jy goed is met aardrykskunde sal jy dadelik weet waar dit is.

Die Madai is die Assiriese naam vir die Meders waarna die Bybel verwys.

Die Bybel is waar. Daar was mense soos die Madai, die Meders. As dit waar is, is die vloed verhaal ook waar.

22. Ek het die voorreg gehad om hulle antieke hoofstad, Ekbatana te kon besoek het. Dis hier waar koning Cyaxares en sy seun Astyages geregeer het. Hy het Armenië in 612 vC. verower. Dis hier waar Nebukadnesar sy vrou Amuhea ontmoet het.

23. Op ‘n keer het ‘n gids in Turkye vir my gesê dat hy ‘n Kurd is en dat hulle die afstammelinge van die Meders is.

Ons kyk hier na ‘n afstammeling van Jafet se seun Madai, ‘n Meder. Hy sê vir ons die Bybel is waar.

Die Nuwe vertaling stel dit asvolg: Die nageslag van Jafet: Gomer, Magog, die Mediërs.

Die Bybel is pynlik akkuraat.

24. Die volgende seun se naam kan baie vinnig geïdentifiseer word. Kom ons lees dit in

Genesis 10:2 Die seuns van Jafet was: Gomer en Magog en Madai en Jawan…

Die Grieke of die Ioniërs het van Jawan gekom.

25. Die Hetiete was die heel eerste nasie wat na Jawan verwys en sê dat hulle in die westelike kusgebied van klein Asië woon.

Wat interessant is, is die feit dat hierdie inligting in die middel van die vyftiende eeu vC. geskryf is, rondom die tyd toe Moses die boek Genesis geskryf het.

26. Terwyl ek na die Griekse kuns in die Istanbulmuseum kyk, dink ek aan die akkuraatheid van die Bybel.

Die nageslag van Jafet: Gomer, Magog, die Mediërs, die Grieke

Die Nuwe vertaling spaar mens baie navorsing en noem die mense van Jawan sommer die Grieke.

NAGESLAG VAN GAM

27. Deur middel van die argeologie kon ons vasgestel het dat die Bybel baie akkuraat oor die afstammelinge van Jafet gepraat het. Nou wil ons kyk of ons dieselfde betroubare inligting oor Gam kan kry:

Genesis 10:6 En die seuns van Gam was: Kus en Misraim en Put en Kanaän.

Waaraan laat die woord Kus jou dink? Die Kussiete, die Etiopiërs. In antieke tye was hulle die Nubiërs genoem.

28. Kom ons gaan lees die Egiptiese hiërogliewe en dan kyk ons of ons afleiding korrek was.

Die woord wat hulle vir Kus gebruik is Kasj en dit verwys na die swart mense wat aan Egipte gegrens het.

Dis so lekker wanneer mens navorsing doen en jy ontdek hoe betroubaar die Bybel is. En al sê die Woord dat God self sondes kan vergewe, kan ons dit met ‘n geruste hart glo.

29. Kom ons gaan lees gou wat die Assiriese spykerskrif oor die naam Kus vertel. Hulle noem Kus,Kusu.

Net soos die Egiptiese hiërogliewe verwys die Assiriërs ook na Kus (Kusu) as Etiopië.

30. Die ander naam waarna Moses in Genesis 10:6 verwys, is Misraim. Wie kan dit wees? Hier hoef ons nie baie ver te gaan soek nie, want

Moderne Egiptenare verwys na Misraim as Misri wanneer hulle na hulle self verwys.

Die Nuwe Vertaling stel dit asvolg:

Die nageslag van Gam: Kus, (Misraim) Egipte

31. Genesis 10:6 En die seuns van Gam was: Kus en Misraim en Put en Kanaän.

Het die argeologie ‘n antwoord vir Put?

32. Wanneer mens na Hatsjepsut se muurprente by Deir el Bahri kyk, verwys dit na haar ekspedisies na Punt. Dis heelwaarskynlik die Put waarvan Moses praat.

33. Die laaste seun van Gam, word Kanaän genoem. Dis nie moeilik om vas te stel wie sy nageslag was nie.

Hulle gebied het vanaf die Middellandse see in die weste, tot by Libanon in die noorde en Egipte in die weste gestrek.

34. Die opgrawings waarna ons kyk is by Geser, ‘n antieke Kanaänitiese stad waar mense geoffer is.

Terwyl ek by hierdie Bybelse stad besoek, dink ek aan die betroubaarheid van die Bybel.

Klein woordjies word groot argeologiese ontdekkings.

Alles help ons om meer vertroue in die Bybel te hê. Daar was ‘n Noag en daar was ‘n vloed.

35. Jesus het ook geleer dat daar ‘n vloed was en dat Noag mense tot bekering geroep het.

Vir my is dit die grootste bewys van ‘n wêreldwye vloed en die bestaan van ‘n historiese Noag.

DIE AFSTAMMELINGE VAN SEM

36. Laastens kyk ons na die belangrikste afstammelinge,  die van Sem. Dit is hulle wat die pragtige waarheid aangaande die God van liefde na die wêreld uitgedra het.

Genesis 10:22 Die seuns van Sem was: Elam en Assur en Arpagsad en Lud en Aram.

Twee van Sem se seuns se name was Elam en Assur. Kon die argeoloë hulle opspoor?

37. Kom saam met my na die ruïnes van die antieke stad van Susan. Dis hier waar Mordegai en Ester en Ahasveros gewoon het. Ons soek na leidrade wat lig werp op die bestaan van Elam.

38. Die naam Elam is tussen die ruïnes van Susan ontdek. Dit was die voormalige hoofstad van die Elamiete in Iran. Die Bybel is waar!

39. Raai wie was die nageslag van Assur,Sem se ander seun?

Assirië.

Jy kan die Bybel met die grootste vrymoedigheid lees en aanvaar.

40. Nineve was een van die vier hoofstede van Assirië. Assur, die seun van Sem het homself hier gevestig.

Die boek Genesis is nie ‘n mite nie, hy is outentiek. waar.

41. Na die sondvloed het Sem nog 500 jaar geleef en selfs vir Tera, en sy seun Abram gesien. Agt geslagte altesame.

42. Sem se nageslag die Semiete, het uit Babiloniërs, Assiriërs, Arameërs, Arabiere bestaan.

43. Terwyl ek Armenië besoek het, het ek aan Noag en sy nageslag gedink. Daar moes seker ‘n klompie mense in die omgewing van Ararat agtergebly nadat baie weggetrek het.

44. Die mense wat tans hier woon, noem hulle land Hayastan. Dit was vir my baie interessant want die moderne naam is Armenië. Kom saam met my dan gaan kyk ons of hierdie naam in die ander beskawings voorkom.

45. U kyk hier na die plek waar Hatussas die antieke hoofstad van die Hetiete was. Dit was vir my ‘n baie groot voorreg om hierdie geskiedenisryke plek te kon besoek.

‘n Kleitablet is hier ontdek waar Armenië “Hayasa” genoem word. Dit gaan natuurlik baie jare terug en is verwant aan die moderne naam van Hayastan.

46. Ek raak baie opgewonde wanneer ek ontdekkings soos hierdie maak. Argeologie bewys nie die Bybel waar nie, dit bevestig slegs die betroubaarheid van die Bybel.

47. Behalwe vir my besoeke aan Babilon in Irak, het ek ook Nineve in die noorde van die land kon besoek.

Ek wou weet of die argeoloë iets aangaande die Armeniërs hier ontdek het.

48. Ek was nie teleurgestel nie. Argeoloë het op die naam Nairi afgekom en dit beteken: “Die land van die riviere”, ‘n verwysing na antieke Armenië.

49. Dit was ‘n onbeskryflike ervaring toe ek die vesting van Koning Argisti II naby Yerevan ontdek het. Hy was die heerser van die antieke Urartiese koninkryk.

50. Argisti II was ‘n tydgenoot van die Assiriese koning Adad-Nirari III. Hy moes van Jona gehoor het.

Weet u wie was hierdie koning? Hy het tot bekering gekom terwyl Jona in Nineve gaan preek het.

Name soos Salmaneser en Sargon wat in die Bybel genoem word, kan op hierdie antieke inskripsies gelees word.

50. Jou Bybel is die enigste akkurate, geïnspireerde historiese bron in die hele wêreld. Dis die enigste boek wat vir jou ‘n ware beeld van God se ongelooflike liefde vir sondaars gee.

52. Iran was vir my ‘n ongelooflike interessante land. Hier het ek op die spore van magtige Persiese konings gaan loop. By ‘n plek met die naam van Behistun, naby die Irakese grens, het ek na Darius I se rotsinskripsies gaan kyk.

53. Wanneer mens die inskripsie versigtig deur lees, vind jy die naam Armenië. Dis die heel eerste keer wat argeoloë die naam buite die Bybel ontdek het. Dit kom in drie tale voor: Persies, Elamities en Babilonies.

54. Terloops. As die Bybel iets sê, kan jy dit met gemoedsrus aanvaar.

As die graaf van die argeoloog dit nog nie opgegrawe het nie, sal hy dit weldra doen.

55. Kom ons hoor of Jesaja iets oor die land van Ararat geskryf het:

Jesaja 37:38 Terwyl hy op ’n dag in die tempel van sy god Nisrok aanbid het, het sy seuns Adrammelek en Sareser hom met swaarde doodgesteek. Hulle het na Ararat toe gevlug, en Sanherib se seun Esarhaddon het hom as koning opgevolg.

56. Garni is die enigste ongeskonde Romeinse tempel wat nog bestaan. Al die ander is deur die vroeë Christene verwoes.

Die tempel van Garni is in die jaar 77 nC. ter ere van die songod Aref gebou.

57. Die mense het mekaar destyds met die woord Baref gegroet. “Mag die songod Aref sy strale van warmte oor jou laat skyn.” Die heidense groet word vandag nog in Armenië gebruik.

58. ‘n Persiese soldaat wat die dood in die oë gestaar het, het die volgende woorde op die tempel ingraveer: “Hier staan ek. Dis net Aref die songod wat weet hoe om my te bewaar.”

Dis in ons geval dieselfde. Dis net Jesus, die Son van Geregtigheid wat weet hoe om ons van die dodelike gevaar van selfsug kan bewaar.

59. Ons laaste besoekie is aan die Genoside monument. Hierdie volksmoord monument is opgerig ter nagedagtes van die ontsettende uitmoording van miljoene Armeniërs.

60. Iets wat my aangegryp het, is die manier waarop hulle mekaar groet. Soos wat ons “Goeie more, of goeie middag, of goeie naand sal sê, so sê hulle: Tsavuth Danem. Dit beteken: Gee my jou pyn, laat my in jou pyn deel.

61. Dit het my aan Jesus se woorde laat dink:

Matteus 11:28,29 Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.

61. Die grootste las wat ons Hom kan gee, is ons pyn. Moenie die monopolie van jou pyn vir jouself hou nie. Gee dit vir Jesus.

62. In ons volgende lesing kyk ons na die migrasie van Noag se nageslag na Mesopotamië. Ons gaan kennis maak met Abraham en kyk hoe die wêreld van sy dag gelyk het.

63. Maar ons gaan net na die argeologie en die aardrykskunde kyk nie, ons gaan ook die kosbaarste lewenslesse uit die lewe van hierdie besondere man Abraham leer. Moet dit nie misloop nie.

Was this article helpful?

Related Articles