1. Home
  2. Jesus
  3. Gelykenisse Van Christus
  4. Die Baie Waardevolle Pêrel – Gelykenis 1

Die Baie Waardevolle Pêrel – Gelykenis 1

Afdeling (A) Die pragtige gelykenisse van Jesus oor goddelike liefde, genade en geregtigheid

‘N REFERAAT, GELYKENIS VAN DIE ONSKATBARE WAARDE VAN VERLOSSINGSLIEFDE.

Die gelykenis van die pêrel handel oor Jesus wat op soek is na sondaars en sondaars wat op soek is na verlossing.

Hy het hierdie geykenis tydens Sy tweede Galilese besoek aan Kapernaum langs die See van Galilea vertel.

Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n koopman wat mooi pêrels soek; en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit. Matteus 13:45,46

Die seëninge van verlossing word met ‘n baie kosbare pêrel vergelyk. Jesus vergelyk hierdie baie kosbare seëninge met ‘n handelaar wat duursame pêrels soek. En toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit.  Jesus is daardie onberekenbare kosbare Pêrel.

In Jesus vind ons die karakter van die Vader, die volheid van Godheid. Hy is die uitdrukking van die Vader se glorie. Die heerlikheid van die Vader word in Jesus se karakter geopenbaar en daar is nie die geringste defek in Hom nie. Die hele Bybel glinster en blink met Sy lig. Die geregtigheid van Christus, soos ‘n volmaakte pêrel, is vlekkeloos.

‘’In wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is.” Kolossense 2:3.

Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing.” 1 Korintiërs 1:30.

Al die behoeftes en al verlangens van die hart, kan in hierdie lewe en die een wat kom, in Jesus bevredig word.

Ons Verlosser is die kosbare pêrel. In vergelyking met alle aardse genot, kan niks met die vreugde wat Hy gee, vergelyk word nie.

Geen menslike pogings kan op hierdie kosbare geskenk van God verbeter nie. Maar dan die hartverskeurende woorde van Johannes: Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. Johannes 1:11. Maar: Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie. Johannes 1:5. Maar nie almal het die geskenk van die hemel versmaai nie.

Die handellaar in die gelykenis verteenwoordig mense wat naarstiglik na waarheid soek. Vorbeelde hiervan is Kornelius die Romein en die Itiopiese kamerling. Hulle was deel van mense wat na ’n godsdiens gesoek het wat hartsbevredigend was. Ons moet onsself sodanig aan Jesus toewy dat ons gewillig sal wees om aan al Sy voorskrifte gehoorsaam te wees. Al ons talente en al ons vermoëns moet aan Sy diens toegewy word.

En wanneer dit gebeur sal Jesus Homself met al die skatte van die hemel aan ons gee. Op daardie oomblik ontvang ons die onskatbare waardevolle pêrel. Verlossing is ‘n geskenk en tog moet dit gekoop en verkoop word.

Op die mark, wat onder die bestuur van goddelike genade staan, word die kosbare pêrel sonder geld en sonder prys gekoop. Op hierdie mark mag almal die hemelese goedere aankoop. Die skathuis van vol waarheidsjuwele nooi  almal uit te kom koop.

Openbaring3:8  ‘’Kyk, Ek het ‘n deur voor julle oopgesluit,’’ sê Jesus, ‘’en niemand kan dit weer toesluit nie.’’

Kom besoek asb tog die skatkamer van Here se rykdom. Jou geestelike toestand of sosiale status word nie in ag geneem nie. Jou ID of masker word nie deur die sekuriteit  getoets nie. Jy word met glimlagte van die personeel verwelkom. Hulle gaan jou nooi om enige van die geestelike geskenke te neem.

Luister na die mooi stem van die Hoofuitvoerende beampte:

Daarom raai Ek julle aan om by My goud te koop wat deur vuur gelouter is, sodat julle ryk kan word; en koop wit klere, sodat julle julle kan aantrek en julle skande, julle naaktheid, nie gesien word nie; en koop oogsalf om aan julle oë te smeer, sodat julle kan sien. Openbaring 3:18 

As jy besluit om God se skatkamer van genade te besoek, kan jy oornag ‘n geestelike biljoenêr word. Iemand groothartig vergewe en raak spandawelrig met vergifnis en omgee liefde.

Al wat ek kan bring is my gewillige gehoorsaamheid en ‘n aanvaarding dat hy sondaars red. Selfs die hoogste geleerdheid kan mens nie nader aan God as hierdie waarheid bring nie.

Die Fariseër was met elke stoflike en geestelike bevoorreg. Spogtender wyse roem hulle: ‘’Ons is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie.’’ Tog was hulle ellendig en beklaenswaardig en blind en naak.

“Voorwaar Ek sê vir julle, die tollenaars en die hoere gaan julle voor in die koninkryk van God.” Matteus 21:31.

Ons kan nie saligheid verdien nie maar ons moet dit met so ‘n passie soek, asof ons alles in die wêreld sou prysgee om dit te bekom. Ons moet die kosbare pêrel nie met selfsugtige motiewe soek nie. Die prys wat ons betaal is nie goud of silwer nie want dit behoort buitendien aan God.

Moenie dink dat tydelike en geestelike prestasies tot jou verlossing sal bydra nie. God vra gewillige gehoordaamheid en dat jy met jou sondes moet breek.

“Aan hom wat oorwin,” sê Christus, ‘’Sal ek gee om saam my op my troon sit, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.’’ Openbaring 3:21.

Daar is mense wat skynbaar gedurig na die hemelse pêrel soek. Maar hulle doen niks om ‘n volkome oorgawe aan die Here maak en met die sonde in hulle lewe te breek nie. Daar is nie ‘n sterwe vir die self sodat Chistus in hulle kan lewe nie. Gevolglik verkry hulle nie die waardevolle Pêrel nie. Hulle het nie die oorwinning oor selfsugtige ambisies en wêreld se plesier behaal nie. Hulle neem nie die kruis op en volg Jesus op die pad van selfverloëning nie.

Amper Christene tog nie ten volle nie. So naby die hemel maar hulle kan nie ingaan nie. Amper gered maar nie ten volle gered nie beteken nie amper nie maar geheel en al verlore.

Die gelykenis van die handelaar wat na goeie pêrels soek, het ‘n dubbel betekenis. Dis nie net die mens wat die koninkryk van die hemel soek nie, maar Jesus wat Sy verlore kinders ook soek. us, die hemelse Koopman soek kosbare pêrels en Hy sien die pragtige kosbare pêrel in die verlore mensdom. Hy sien in ons wat deur sonde verpletter is, die moontlikheid om gered te word.

Harte wat op die slagveld met Satan deur Sy mag en liefde gered is, is vir ons Heiland kosbaarder as die wesens wat nooit geval het nie. Jesus kyk nie na ons as besmet en waardeloos is nie maar wat ons deur Sy verlossende liefde kan word.

Hy verlaat die hemel met al sy glans en word ‘n mens ten einde ons, die pêrels te kom koop. En wanneer Hy ons gevind het, monteer Hy ons weer in Sy kroon. Hulle sal in sy land vonkel soos die edelstene in ‘n kroon. Sagaria 9:16. En hulle sal My tot ‘n eiendom wees, sê die HERE van die leërskare, op die dag wat Ek skep. Maleagi 3:17.

Die mens het die behoefte om te besit en om besit te word. Die gelykenis van die kosbare pêrel vervul in beide hierdie basiese behoeftes van die mens.

Jesus is die kosbare pêrel en wat ‘n ongelooflike heerlike voorreg om Hom te mag besit. Dis iets waaroor mens lank kan mediteer. Dit is die Heilige Gees se werk om ons te help om Jesus beter te begrip.

In Sy dag het baie die evangelie gehoor maar hulle verstand is deur valse leringe verdof en hulle het nie in die beskeie Jesus die Leermeester herken wat deur God gestuur is nie. Na die uitstorting van die Heilige Gees toe Jesus opgevaar, bekroon het en met Sy bemidellingswerk begin het, het sy volgelinge die boodskap van die verrese Heiland met groot krag verkondig.

Hemelse lig het die duister gedagtes van die mense binnegedring wat deur die vyande van Jesus mislei is. Die volgende profesie is vervul: Hom het God as Leidsman en Verlosser deur sy regterhand verhoog om aan Israel bekering en vergifnis van sondes te skenk. Handelinge 5:31.

Hulle het Hom met hemelse ligomstraalde glorie gesien. Hy was gereed om oneindige skatte aan mense te gee wat nie meer rebels was nie. Terwyl die disippels die heerlikheid van Seun van God en die Vader verkondig het, is 3000 bekeer.

Hulle het hulle gevallenheid besef en Jesus as hulle Vriend en Verlosser aanvaar. Jesus is verhoog en verheerlik en die krag van die Heilige Gees het op hulle neergedaal. Deur geloof sien hulle hoe hulle deur Sy vernedering, lyding en dood nie hoef te sterf nie, maar die ewige lewe kan beërwe. Die openbaring van Jesus deur die Gees het hulle van Sy krag en majesteit oortuig. Deur geloof het hulle hulle hande na Hom uitgestrek en geroep: ‘’Ons glo!”

Die goeie nuus dat Jesus uit die dood opgestaan het, is aan die bewoonde wêreld verkondig. Bekeerlinge het na die kerk gestroom. Afvalliges is herbekeer. Sondaars en Christene het saam die Kosbare Pêrel gesoek. Die volgende profesie van Sagaria is vervul:

Daardie dag sal die Here die inwoners van Jerusalem beskerm. Selfs die swakste van hulle sal daardie dag soos Dawid word, en die koningshuis van Dawid sal soos ‘n hemelwese word, soos die engel van die Here wat voor hulle uit gaan.  Sagaria 12:8

Hulle het goddelike liefde en meegevoel in mekaar gesien. Een passie het al die ander transendeer.  

Hulle enigste embisie was om die karakter van Jesus te verkondig en om vir die uitbreiding van God se koninkryk te werk.

Die groot getal wat gelowig geword het, was een van hart en siel. Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het, en die genade van God was groot oor hulle almal. Handelinge 4:32,33

En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is. Handelinge 2:47. Die nuwe stukrag, was die gevolg van die ontdekking van die kosbare Pêrel. Hierdie gebeure gaan met groter krag herhaal word. Die uitstorting van Heilige Gees op Pinkster was die vroeë reën; die laat reën gaan oorvloediger wees.

 Die Heilige Gees wag vir ons aanvraag en ons ontvangs.

Jesus gaan weer deur die Heilige Gees in Sy volheid geopenbaar word. Mense gaan die waarde van die Kosbare Pêrel besef en gaan saam met Paulus sê:

Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry. Filippense 3:7,8.

VOLGENDE KEER

DIE GELYKENIS VAN DIE VERLORE SKAAP

Was this article helpful?

Related Articles