1. Home
  2. Jesus
  3. Gelykenisse Van Christus
  4. Die Een Verlore Muntstuk – Gelykenis 3

Die Een Verlore Muntstuk – Gelykenis 3

In hierdie gelykenis kyk ons na sondaars wat verlore is en nie weet hulle is verlore nie.Ons gaan kyk met watter liefde, sorg en deeglikheid ons hulle moet ondersteun. In die vorige gelykenis het ons na mense gekyk wat weet dat hulle verlore is, maar nie weet hoe hulle weer by die kraal en die Herder kan uitkom nie.

Of watter vrou wat tien pennings verloor, steek nie ‘n lamp op en vee die huis uit en soek sorgvuldig totdat sy kry nie en as sy dit nie? En as sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: wees saam met my blym want ek het die penning gekry wat ek verloor het. So, sê Ek vir julle, is daar blydskap oor een sondaar wat hom bekeer. Lukas 15:8-10

In die Ooste het die huise van die armes net een kamer  sonder vensters gehad. Dit was baie donker. As ‘n geldjie in daardie stowwerige grondvloer geval het, was dit ‘n nagmerrie om dit weer in die hande te kry. Jy moes ‘n kers aansteek en daardie vloer deeglik vee.

Die vrou se huweliks-geskenk het gewoonlik uit tien geldstukke bestaan wat sy baie versigtig pgepas het sodat sy dit eendag aan haar eie dogters kon gee. ‘n Verlore muntstuk was ‘n ramp en as jy hom later in die hande kon kry, was daar ‘n ‘n gejubel. Die buurvrouens was dan saam met daardie buurvrou bly.

“En as sy dit kry,” sê Jesus “roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: Wees saam met my bly, want ek het die penning gekry wat ek verloor het. So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer. Lukas 15:9.10 

Het so iets al met jou gebeur? Jy het ‘n oomblik van te vore iets in jou hand gehad en nou is dit weg. Dis nog steeds vandag moontlik dat iets baie vinnig verlore kan gaan.

Net soos die vorige gelykenis vertel hierdie een ook dat as jy deeglik gesoek het, jy die verlore item met groot vreugde kan terugkry. Maar die twee verhale stel ook twee verskillende groepe mense voor.

Die verlore skaap weet hy is verlore. Hy het die herder en die trop verlaat en hy kan homself nie help nie. Hy verteenwoordig mense wat besef hulle het van God weggedwaal. Hulle is verpletter, en verneder.

Die verlore muntstuk verteenwoordig verlore mense wat in sonde beland het en wat geen benul van hulle haglike toestand het nie. Hulle besef nie dat hulle van God vervreemd is nie. Hulle verkeer in doodsgevaar sonder om dit te besef.

In hierdie gelykenis leer Jesus ons dat die onverskillige sondaar die voorwerp van God se liefde van teeheid is. Hulle moet gesoek word en na die Hom teruggebring word. Hulle kan moontlik in jou familie wees.

Die skaap het ver van die trop afgedwaal en in die wildernis en berge soek geraak. Die muntsuk het in die huis weggeraak. Dit was sommer hier naby maar dit het deeglike werk gevat om hom weer in die hande te kon kry. Hierdie gelykenis praat met gesinne. Dis so maklik om agterlosig te raak sonder dat ons agterkom dat een van die kinders besig is om weg te dwaal.  Wat doen ons met die kosbare geskenk van kinders doen wat God aan ons toevertrou het?

Nieteenstaande die feit dat die muntstuk tussen die stof en vuilgoed lê nie, bly hy baie gesog. Die eienaar soek dit omdat dit ‘n baie kosbare item is. Net so met elke gevalle sondaar. Afgesien hoe die sonde hom of haar verniel het –  bly ons stoute kosbaar vir God.

Soos wat daardie muntstuk die kop van die koning dra, so het die mens met sy skepping ook die beeld van Sy koning gedra. Ons was koninklik besonder. Alhoewel die sonde ons verniel en lelik gemaak het, is daar nog spore in ons van Hom wat ons geskep het. Dit is God se groot begeerte om Sy beeld van geregtigheid en reinheid weer in ons te herstel. Wat ‘n hemelse onverstaanbare mistieke liefdes gedagte.

Die vrou in in die gelykenis het baie deeglik na daardie munstuk gesoek. Sy steek die kers op en vee in elke hoekie van haar ou huisie. Sy verskuif die ou meubeltjies want niks moet verhoed dat sy nie die munstuk kry nie. Alhoewel net een van die tien munstukke verlore geraak het, sal sy nie ophou voordat sy dit gekry nie nie. So ook in ons gesinne. Kom ons doen alles om daardie een verlore lid terug te kry. En kom ons ondersoek ook sommer ons eie harte. Is dit moontlik dat ons die oorsaak is dat ons kinders van die Here weggedwaal het?

As daar ‘n kind is wat onbewus is dat hy in sonde leef, het ons as ouer ‘n baie groot verantwoordelikheid. Kom ons steek ‘n kers van huisgoddiens op en lees die Bybel. Wat se tydskrifte en boeke lê in ons huis rond. Na wat se programme kyk die gesin op die TV? Wat se musiek word daar in ons huise gespeel? Kom ons kyk biddend en deeglik waarom een van ons kinders afgedwaal het. Kom ons kyk na ons eie gewoontes want ‘n kind is geneig om soos sy ouers te leef. Met watter stemintonasie praat ons met mekaar?

Sommige van ons is aktief met die dinge  van die Here besig terwyl van ons kinders nog nie die vreugde van God se liefde ervaar het nie. Dan maak ons ook soms die fout om die redding van ons kinders aan die predikant of die onderwyser oor te laat. As ons hierdie pad loop, is ons besig om ons godgegewe taak te verwaarloos.

Die opvoeding van ons kinders om Jesus te leer ken, is die noodsaakikste diens wat ons as ouers aan God kan bied. Dis ‘n moeisame werk wat baie geduld en lewenslange deeglike inspanning en gebed vra. As ons hierdie verantwoordelikheid verwaarloos, bewys ons dat ons ontroue rentmeesters is. Geen verskoning vir so ‘n versuim, is vir God aanvaarbaar nie.

Maar as jy aan verwaarlosing skuldig is, moenie tou op gooi nie. Die vrou wat haar muntstuk verloor het, het gesoek tot sy dit gekry het. Deur liefde, geloof en baie bid, kan ons aanhou totdat ons kan sê: “Hier is ek en die kinders wat die Here aan my gegee het.” Jesaja 8:18.

Ons moet mekaar ondersteun en besef dat hulle kinders ook ons kinders is. Ons is een groot familie. Kom ons gaan na ons vriende toe en bemoedig hulle in hulle seer vir hulle verlore kinders. Soos wat ons omgee toeneem, sal ons liefde ook toeneem. Daar is so baie werk wat ons vir ander kan doen. God se groot huishouding bestaan deur almal op aarde. Nie een van kinders moet verwaarloos word nie.

Waar ons ookal beweeg sal ons muntstukke kry wat gesoek moet word. Soek ons hierdie mense? Elke liewe dag ontmoet ons mense wat geen belang by godsdien het nie. Wat se soort belangstelling gee ons hulle? Gee ons om vir hulle geestelike welsyn? Hou ons Jesus aan hulle voor as die Heiland wat sondes vergewe? Vertel ons hulle, met die liefde van Jesus in ons hart van God se groot liefde vir hulle. Wie kan die waarde van siel bereken?

Gaan na Getsemane waar Jesus alles in doodsangs vir ons deurgemaak het. Kyk net hoe slaan die sweet soos groot druppels bloed op Sy voorkop uit! Kom kyk waar Hy aan die kruishout hang. Luister na daardie eensame wanhopige geroep: “My God, My God, waarom het U my verlaat?” Markus 5:34. Kyk na Sy verwonde gesig Sy deurboorde sy, sy verminkte hande en voete. Onthou Hy het dit alles deurgemaak teneinde ons te kom red. Onthou net terwyl jy na Jesus aan die kruis kyk, dat Hy net vir jou alleen ook sou kom sterf.

Wanneer ons ‘n verhouding met Jesus het, sal ons soos Hy oor elke mens voel. Jy sal vir ander mense dieselfde liefde voel as wat Hy vir jou gevoel het. Dan sal ons mense vir wie Jesus kom sterf het nie wegstoot nie, maar eerder na ons aantrek.

Niemand sou vir God gered word as Jesus nie bemoeienis met hulle gemaak het nie. En dis ook net met persoonlike biddende kontak dat ons mense vir die hemel kan wen. Wanneer jy sien dat hulle verlore gaan sou jy nie onverskillige teenoor hulle staan nie. Hoe groter die sonde, hoe dieper die ellende hoe ernstiger en hoe groter sal ons pogings wees om hulle te help. Jy sal sien watter lyding hulle deurmaak omdat hulle teen God gesondig het, en onder ‘n swaar las met sondeskuld worstel.

Jou hart sal na hulle uitgaan en jy sal hulle ondersteun.  Jy sal hulle in arms van geloof en liefde na Jesus toe bring. Jy sal na hulle omsien en jou simpatie, aanmoediging en vertoue sal dit vir hulle moeilik maak om weer af te dwaal.

Engele  is gereed om jou in hierdie werk te ondersteun. Al die hulpmiddels van die hemel is tot ons beskikking wanneer ons trag om mense vir die Here te wen. En wanneer iemand na die Here gelei word, juig die hemel. Serafs en gerubs speel op hulle harpe en sing lofliedere tot eer van God en die Lam vir hulle genade en liefdevolle goedheid die mensdom.

Of watter vrou wat tien pennings verloor, steek nie ‘n lamp op en vee die huis uit en soek sorgvuldig totdat sy kry nie en as sy dit nie? En as sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: wees saam met my blym want ek het die penning gekry wat ek verloor het. So, sê Ek vir julle, is daar blydskap oor een sondaar wat hom bekeer.Lukas 15:8-10

VOLGENDE KEER

Die gelykenisse van die verlore skaap, muntstuk en seun verduidelik vir ons die unieke jammer liefde vir die verskillende wegdwaalendes. Hy versaak hulle nie in hulle verplettering nie. Sy tere simpatie en goedheid teenoor die mens wat aan die versoekings van die vyand blootgestel word, in verstommend.

Was this article helpful?

Related Articles