Jesus Se Doop

JESUS SE DOOP

Skriftuur: Handelinge 22:16

In die suide van Iran is daar ‘n baie indrukwekkende plek met die naam van Naqsh I Rustam. ‘n Mens staan verstom wanneer jy na hierdie meters hoë grafte kyk wat uit soliede rots gekap is.

Beroemde Persiese konings soos Darius en Ahasveros kan hier gesien word. Terwyl ek na die graf van Artasasta gekyk het, het ek aan sy betrokkenheid van die Messiaanse profesie van Daniël 9:27 gedink:

Daniël 9:25 “Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ‘n Gesalfde, ‘n Vors, is sewe sewetalle; en twee-en-sestig sewetalle…”

Die argeologiese en geskiedkundige feite sê vir ons dit was in die jaar 457 vC. dat Artasasta die dekreet uitgevaardig het dat Jerusalem volkome herbou kan word.

Verder voorspel Daniël dat 69 profetiese weke later, of te wel 483 jaar later, die Messias Sy verskyning sou maak? Het dit gebeur? Inderdaad. God se voorspellings gebeur sonder uitsondering.

Toe die groot profetiese horlosie van die profesie van Daniël 9:25 in 27 nC. slaan, stap Jesus die Jordaanwaters binne om deur Johannes gedoop te word.

Etlike jare gelede het die Jordaniese owerheid twee baie belangrike geskiedkundige plekke vir die publiek oopgestel.

Die een is die historiese plek vanwaar Elia na die hemel opgevaar het, en die ander plek is Betabara of Betanië waar Jesus in die Jordaanrivier gedoop is.

Kom ons lees Markus se kort beskrywing van Jesus se doop:

Markus 1:9-11 Jesus het in daardie selfde tyd van Nasaret in Galilea af gekom, en Hy is deur Johannes in die Jordaan gedoop. Net toe Hy uit die die water kom, het Hy die hemel sien oopskeur en die Gees soos ‘n duif na Hom toe sien neerdaal. Daar was ook ‘n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”

ILLUSTRASIE VAN JESUS SE KRUISDOOD EN OPSTANDING

In my geestesoog kan ek sien hoe Jesus en Johannes dieper en dieper in die Jordaanrivier instap. Johannes lig sy hand op. Jesus hou sy asem vir ‘n oomblik op, en Johannes plaas Jesus onder die waters.

Daarna lig Hy Jesus uit die waters op. Die hemele skeur bokant hulle oop en die Heilige Gees daal grasieus en saggies soos ‘n duif op Jesus neer.

En dan word ‘n stem gehoor. Dis die stem van God die Vader.

“Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug ek My.”

Wat wou Jesus daardie spesifieke dag met Sy doop aan ons illustreer?

Sy doop was ‘n miniatuur voorstelling van ‘n ander doop wat op Hom gewag het, nl. die kruisdoop. Kom ons lees dit:

Markus 10:38 “Kan julle die lydensbeker drink wat Ek drink, of met die doop gedoop word waarmee Ek gedoop word?”

Toe Jesus in daardie vuil, koue, bruin waters van die Jordaanrivier instap, het hy in die simboliek van die mensdom se gavalle sondigheid ingestap.

En dis presies wat drie-en-‘n-half jaar later op Golgota gebeur het.

Jesus het in die vuil, besoedellende waters van ons sondigheid ingestap.

Terwyl Jesus sy asem ophou, begrawe Johannes Hom in die donker waters van die Jordaanrivier.

Drie uur die Vrydagmiddag het Jesus gesterf, opgehou asemhaal en in die donker waters van die dood verdwyn.

Johannes lig vir Jesus uit die waters van die Jordaan en die Vader en die Heilige Gees is daar om hulle tevredenheid met Jesus te kenne te gee.

Die Sondagmôre het Jesus uit die donker waters van die dood opgestaan. God die Vader en God die Heilige Gees het Jesus se soenoffer vir die sondes van die mensdom aanvaar. Ons saligheid is verseker.
Romeine 6:3,4 Of weet julle nie dat ons almal wat in Crhistus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die heerlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ‘n nuwe lewe lewe kan lei.

BOODSKAP AAN DIE KANDIDATE

Kandidate wat gedoop word, kom nie sê hoe wonderlik goed hulle is nie. Nee.

Deur die doop kom vertel hulle hoe wonderlik goed die Here vir hulle is.

Hulle vertel dat hulle enigste hoop op redding in die dood, sterwe en opstanding van Jesus is.

Liewe kandidate. Mag die Jesus wat voor julle deur die doopwaters gegaan het, op ‘n besondere wyse met julle wees wanneer julle ook nou deur die doopwaters gaan.

Was this article helpful?

Related Articles