1. Home
  2. Jesus
  3. Gelykenisse Van Christus
  4. Die Groot Fees – Gelykenis 14

Die Groot Fees – Gelykenis 14

“Gaan uit op die paaie en na die lanings”

In gehoorsaamheid aan die evangelieopdrag, het Paulus en Barnabas vir die Jode gesê:

Maar Paulus en Bárnabas het vry-uit gespreek en gesê: Dit was noodsaaklik dat die woord van God aan julle eers verkondig moes word. Aangesien julle dit egter verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie—kyk, ons wend ons tot die heidene.  Want so het die Here aan ons bevel gegee: Ek het U ‘n lig van die nasies gemaak, sodat U tot redding sal wees tot aan die einde van die aarde. Handelinge 13:46,47 

Die evangelie wat die disippels verkondig het, het na Jesus se eerste koms verwys. Dit het die goeie nuus vertel dat mense deur geloof in Jesus gered kan word. Dit het ook na die tweede koms verwys wanneer Jesus in Sy glansryke glorie Sy volgellinge kom red. Hierdie boodskap word aan die werêld verkondig en dit dui op die nabyheid van daardie heerlike dag. Jesus het die tekens beskryf wat net voor Sy koms gaan afspeel. En hierdie gebeurtenis is ontsettend naby.

Johannes die geliefde Apostel het iets baie belangrik in die boek Openbaring geskryf. Dit hou verband met die evanglie wat nou in hierdie tyd voor Sy wederkoms gaan plaasvind.

En ek het ‘n ander engel in die middel van die lug sien vlieg met ‘n ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke.  En hy het met ‘n groot stem gesê: Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het.  Openbaring 14:6,7 

Hierdie verkondiging word die ewige evangelie genoem. Die verkondiging van die nabyheid van Jesus se wederkoms, is ‘n baie belangrike deel van die evangeliebodskap. Die Bybel leer dat mense in die laaste dae geld en splesier gaan najaag. Hulle gaan afgestomp met betrekking tot die ewige werklikhede wees. Jesus sê:

En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het,  en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Matteus 24:37-39  

Mense jaag net na wind en selfbevrediging asof God en die hiernamaals nie bestaan nie. Noag se waarskuwing van ‘n komende vloed moes mense wakker skud en tot bekering lei.

Die boodskap van Jesus se spoedige koms is om mense uit hulle onverskillige aardse slaap wakker te skud. Dit is bedoel om die ewige werklikhede te waardeer en die uitnodiging na die Meester se fees aan te neem. Die evangelie uitnodiging is aan die hele wêreld gegee; “die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke.” Openbaring 14:6.

Hiedie eindtydboodskap van genade moet die hele wêreld met sy glorie verlig. Dit moet alle klasse van die samelewing bereik.  “Gaan uit op die paaie en na die lanings,’’ sê Jesus, ‘’en dwing hulle om in te kom, sodat my huis vol kan word.’’

Die wêreld vergaan weens ‘n gebrek aan die evangelie. Daar is ‘n hongersnood vir die Woord van God. Bitter min mense preek die Woord sonder om dit met menslike tradisies te doen. Tenspyte van die feit dat mense ‘n Bybel besit, geniet hulle nie die seëning wat daarin opgeskrywe staan nie. Die Here roep ons om blye die boodskap na mense te neem.

Die Woord van ewige lewe moet aan die mensdom gebring word wat besig is om hulle sonde te sterf. In die bevel om na die paaie en lanings te gaan, verduidelik Jesus hoe om in Sy naam te werk te gaan. Die hele wêreld is die veld van Sy dienaars. Dis Sy diepste verlange dat Sy boodskap van genade na elke huis en na elke hart geneem moet word. Dit moet grootliks deur persoonlike kontak gedoen word.

Dis hoe Jesus dit gedoen het. Hy het ‘n gehoor met selfs net een mens baie belangrik  geag. Deur daardie een mens is die boodskap na duisend aander oorgedra. Ons moenie wag dat mense na ons toe moet kom nie. Ons moet hulle gaan opsoek. Nadat die Woord van die kansel verkondig is, het die werk net eers begin. Daar is skares wat nooit bereik gaan word nie, tensy ons die boodskap na hulle toe neem nie.

Die uitnodiging na die fees was eerste aan die Jode gerig. Hulle was die mense wat geroep is om as onderwysers en leiers op te tree. Hulle was in besit van die profetiese boekrolle wat die eerste koms van Jesus voorspel het. Aan hulle was die simboliese tempeldiens gegee wat na die werk van Jesus, die beloofde Messias gewys het.

As hulle geluister het, sou hulle by Jesus se disippels aangesluit het om die goeie nuus na die wêreld te geneem het. Toe hulle hierdie pragtige waarheid verwerp het, is die groot voorreg aan die armes, die kreupeles en blindes toevertrou. Die tollenaars en sondaars het die boodskap aangeneem.

Dieselfde metode is met die heidene gevolg. Die boodskap moes eers na die mense ‘’op die paaie’’ geneem word. Dit is die invloedrykes, die leiers en die onderwysers in die gemeenskap. Hulle moes die eerste wees om die waarhede vir hulle tyd te hoor.

Die vooraanstaandes moet met arbeid van liefde en die vrees van die Here bearbei word. Hulle maak staat op hulle rykdom en is onbewus van die baie gevare. Hulle fokus moet op temas van ewige waarde geplaas word. +Hulle moet die Gesag van ware goedheid erken wat sê:

Kom na My toe, almal wat vermoeid e n belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig. Matteus 11:28-30  

As ons sien dat mense ‘n afgrond nader sou ons nie huiwer om hulle te probeer keer nie, watter posisie hulle ookal in die samelewing beklee nie. Dieselfde is van toepassing op die mens wat in geestelike gevaar verkeer.

Niemand moet afgeskeep word oor hulle skynbare verknogtheid aan aardse skatte nie. Baie vooraanstaandes het pyn en is sat vir ydelheid. Hulle verlang na vrede wat hulle nie besit nie. Daar is baie van hierdie hoogeplaasde mense wat na verlossing honger en dors.

Hulle kan deur ‘n aangename mooi manier genader word. ‘n Hart wat deur tere liefde sag gemaak is, het groot invloed.

Die sukses van die evangelie is nie van geleerde toesprake, oortuigende getuienisse of geleerde argumente afhanklik nie. Dit het met die eenvoud van die boodskap en die toepassing daarvan op die mens wat na die brood van die lewe honger, te make. Die behoefte van die siel word in die volgende woorde gevind: “Wat moet ek doen om gered te word?’’

Baie dierbare siele kan deur die mees eenvoudige nederige manier bereik word. Die mees intelligent persoon wat as die begaafste beskou word, kan deur iemand  wat die Here lief het, bereik word.

Ons moet altyd onthou dat ons nie in ons eie krag werk nie. Ons moet in geloof die troon van God nader want net Hy het die mag om te red. Kom ons worstel met Hom in gebed en werk dan met die gawes wat Hy ons gegee het. Die Heilige Gees bekwaam ons. Engele sal ons vergesel om harte te beïndruk.

Ons moenie net aandag aan die vooraanstaandes gee en die armer mense verwaarloos nie. Jesus het ons ook aangesê om na bewoners van die paaie en lanings te gaan. Die armes en eenvoudiges moenie afgeskeep word nie. Ons moet in hierdie lydendes mense sien vir wie Jesus kom red het. Luister na hierdie roerende uitnodiging:

o Almal wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk! Waarom weeg julle geld af vir wat geen brood is nie, en julle arbeid vir wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My en eet die goeie, en laat julle siel hom in vettigheid verlustig. Neig julle oor en kom na My toe, luister, en julle siel sal lewe; Ek wil met julle ‘n ewige verbond sluit: die bestendige genadebewyse van Dawid. Jesaja 55:1-3

Ons moet in Jesus se voetstappe loop. Net waar Hy gegaan het, het Hy die lydendes getroos en die siekes genees. Daarna het Hy die groot waarhede van die koninkryk met hulle gedeel. Dis wat ons moet doen. Sê vir die verlorenes wat die pad byster geraak het, om nie moed te verloor nie. Al het hulle gefaal die Here skep behae daarin om mense te herstel.

Hy verbly Hom om skynbare nuttelose materiaal te vat, hulle wat die werktuie van Satan was, en van hulle voorwerpe van Sy meesterlike genade te maak. Hy is verheug om hulle van die straf te verlos wat die godelose gaan tref.

Sy vir hulle daar is genesing vir elke liewe mens. Daar is selfs ‘n plekkie vir hulle om in die wingerd van God te kom werk. Hy wag met rykhalsende verlange dat hulle moet kom. Die krag van God se liefde dwing ons om na Hom te kom. Hy sê: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.” Openbaring 3:20.

Hy laat hom nie deur spot of dreigemente intimideer nie. Hy hou aan om ons met liefde te soek en sê: “Hoe kan ek jou oorgee…jou prysgee?” Hosea 11:8. Alhoewel ons rebelse hart Sy liefde wegstoot, kom Hy terug en pleit net met groter liefde.

Van die mees gevalle sondaars sal die plek van ander inneem wat nie geestelike voorregte waardeer het nie. Hulle sal as die kostelike geag word. Met die wederkoms gaan hulle naby Sy troon staan.

Pas op, moet Hom wat met julle praat, nie afwys nie. Hulle wat Hom afgewys het toe Hy sy Goddelike woord op aarde laat hoor het, het nie ontkom nie. Hoeveel minder sal ons ontkom wanneer ons nie ag slaan op Hom wat van die hemel af met ons praat nie? 

Destyds het sy stem die aarde laat wankel, maar nou het Hy aangekondig: “Nog een maal sal Ek nie alleen die aarde laat bewe nie, maar ook die hemel.” Hebreërs 12:25,26. Wat het met die mense gebeur wat geweir het om na die fees te kom?

Toe sê die heer vir die dienskneg: Gaan uit op die paaie en na die lanings en dwing hulle om in te kom, sodat my huis vol kan word. Want ek sê vir julle dat nie een van daardie manne wat genooi is, my maaltyd sal smaak nie. Luk 14:23,24. Hulle het die uitnodiging van die hand gewys en nie een van hulle is weer uitgenooi nie.

Toe die Jode Jesus verwerp het, het hulle hulle harte verhard en hulleself aan die Satan oorgegee. Die gevolg was dat dit onmoontlik was om Sy genade te aanvaar. Dis vandag nog steeds geval as ons Jesus verwerp. As ons nie die liefde van God waardeer nie en nie toelaat dat dit ‘n blywende invloed in ons lewe word om ons harte mooi te maak nie, is ons verlore.

Die Here kan ons nie ‘n groter openbaring van Sy liefde gee as wat Hy gegee het nie. As die liefde van Jesus nie ons harte verower nie, is daar niks anders wat dit kan doen nie. Elke keer wat ons weier om na die boodskap van genade te luister word ons net leliker. Elke keer wat ons weier dat Hy in ons harte moet kom woon, word die weiering om na Sy stem te luister net groter.  Jy sal nie na die heel laaste oproep van die Heilige Gees luister nie.

Laat dit nie van jou gesê word soos aan Israel van ouds nie: “Efraim is aan afgode gekoppel; laat hom staan.” Hosea 4:17.

Moenie dat Jesus oor jou huil soos Hy oor Jerusalem gehuil en gesê het:

‘’Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak, soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke, en julle wou nie. Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat. Lukas 13:34,35  Ons leef in ‘n tyd wanneer die laaste boodskap van genade, die laaste uitnodiging na hierdie wêreld gebring word.

Die opdrag: “Gaan uit op die paaie en na die lanings,’’ is besig om sy finale vervulling te bereik.                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                   

Die uitnodiging gaan aan almal gerig word. Die engele kan nie wag om die boodskap van nog ‘n verlore sondaar wat gevind is aan die hemel te bring nie. Harpe is gereed om gespeel te word en ’n vreugdelied te sing oor nog ‘n sondaar wat die uitnodiging na die groot evangeliefeesmaal aangeneem het.

VOLGENDE KEER

Die verborge skat.

Matteus13:44. Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n skat wat verborge is in die saailand, wat ‘n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand. 

Was this article helpful?

Related Articles