Die Hetiete

Hoe die Hetiete ontstaan het, en hoe hulle uiteindelik van die toneel verdwyn het, weet ons nog nie presies nie. Maar wat ons wel weet is dat daar wel ‘n antieke beskawing soos die Hetiete was.

Vir meer as 3000 jaar was dit net die Bybel wat van hierdie mense gepraat het. Omdat daar geen ander bewyse vir die bestaan van hierdie mense was nie, het die geleerdes hulle bestaan ontken.

Gelukkig stel die Bybel sy lesers nooit teleur nie. Die Here het sy tyd en op Sy regte tyd sou die graaf van die argeoloog die Hetitiese beskawing ontdek.

Daar is talle verwysings in die Bybel na hierdie mense. Lees dit gerus. Op hierdie stadium wil ek net een van die tekse lees:

2 Konings 7:6  Die Here het die Arameërs in die kamp die geluid laat hoor van strydwaens, perde en ‘n groot leër. Hulle het vir mekaar gesê: “Die koning van Israel het die konings van die Hetiete en van Egipte gehuur om ons aan te val.”

Watter koninkryk word eerste genoem? Die Hetiete. Wat impliseer dit? Hulle was magtiger as die Egiptenare.

DIE HETIETE

Die Hetiete word dikwels in die Ou Testament genoem. Maar wanneer mens die antieke sekulêre bronne raadpleeg weet hulle niks van hierdie mense af. Baie geleerdes het die bestaan van hierdie beskawing heeltemaal ontken.

Maar die Bybelwaarhede aangaande hierdie unieke beskawing sou nie vir ewig verborge bly nie. In die laat 19de eeu het die feite van die Hetiete aan die lig begin kom.

Dis ‘n onbeskryflike ervaring om tussen die ruïnes van hierdie eens magtige beskawing rond te stap en oor hulle te peins. Die opstanding van hulle geskiedenis, kultuur, godsdiens en taal is een van die sages van moderne argeologie.

Eers is die Rosetta steen met sy Egiptiese hierogliewe  ontsyfer. Daarna is die eienaardige spykerskrif van Behistin in Iran ontsyfer. Met hierdie nuwe gereedskap het die argeoloë baie nuwe ontdekkings begin maak.

Toe hulle begin om die Egiptiese hierogliewe te lees, het hulle op ‘n naam afgekom waarvan hulle nog nie van e vore gelees het nie. Die naam was KHETA. Wie kon dit wees?

Terwyl hulle die Assiriese spykerskrif gelees het, het hulle op ‘n soortgelyke naam afgekom – HATTI. Die twee name het baie dieselfde geklink. Wie kon hierdie mense wees?

In die noordelike gedeelte van Sirië waar ek besoek het besoek het, het ek aan twee geleerdes met die name van Sayce en Wright gedink. In 1884 het hulle sekere van hulle bevindings gepubliseer oor eienaardige inskripsies wat hulle hier ontdek het.

Hulle het beweer dat die eienaardige taal aan die Bybelse Hetiete, afstammelinge van Het behoort. Later is hulle reg bewys.

Hugo Winckler, die Berlynse Assirioloog het vanaf 1906 tot 1912 opgrawings by Hattusas in Turkye gedoen. Sy ontdekkings was opspraakwekkend. In die koninklike argiewe het hy 10,000 kleitablette. Die Babiloniese en Akkadiese spykerskriftablette kon dadelik gelees word.

Maar dan was daar die tablette met die onbekende taal op. Toe B Hrozny dit in 1915 ontsyfer het, het hy ontdek dat dit Hittities was en aan die Indo-Europese familie van tale behoort het.

Terwyl argeoloë opgrawings by Jarablus, die Bybelse Karkemis gedoen het, het hulle nog meer interessante ontdekkings oor die Hetiete gemaak. Die Assiriërs het na Karkemis as die hoofstad van die Hetiete verwys.

In 1947 het Bossert in baie interessante ontdekking in die Turkse dorp van Karatepe gemaak.

Dit was ‘n parallelle teks wat in Fenecies en Hetities geskryf was. Die hele verhaal van die Hetiete kon nou gelees word.

DIE ETNIESE VERBAND VAN DIE HETIETE

Ons weet nog nie vir seker waar hierdie interessante volk vandaan kom nie. Hulle word op die muurprente as kort mense met groot neuse voorgestel. Hulle het dik lippe en skuins voorkoppe. Die voorpunte van hulle skoene het omgekrul en hulle het baie klere gedra.

Aanvanklik het die Hetiete hulle self die NESJUMLI genoem. Die mense wat hulle vroeg in die tweede millennium verower het toe hulle in Anatolië binnegeval het, het hulle die HASSILIS genoem.

Die verowerde HASSILI word die Proto-Hetiete genoem. Sommige geleerdes glo dat hulle die afstammelinge van Het, die seun van Kanaän, die seun van Gam was. (Genesis 9:18; 10:15.)

Beide die taal en grondgebied van die Proto-tipe Hetiete is deur die Indo-Europese NESJUMLI, afstammelinge van Jafet geabsorbeer. Die omliggende nasies het hierdie saamgesmelte volk die Hetiete genoem.

DIE GESKIEDENIS VAN DIE HETIETE

Die oudste geskrifte oor die Hetiete dateer uit die negentiende eeu vC.  Hierdie waardevolle inligting is deur Assiriese koloniste by Kanesj, naby die moderne  Turkse dorp van Kultepe nagelaat.

Die Assiriese kolonies het na ongeveer ‘n 100 jaar vir een of ander onverklaarbare rede opgehou bestaan.

Die heel eerste Hetiese koning waarvan ons lees, regeer aan die einde van die 17de eeu vC. en word  Labarnas genoem. Teen hierdie tyd was die Hetiete veilig in hulle bergvesting van Hattussas gevestig.

Labarnas se kleinseun Mursilis I word die eerste Hetitiese koning wat Mesopotamië binneval en Babilon verower. Hy maak ‘n einde aan die eerste Babiloniese dinastie en buit die goue standbeeld van Marduk.

SUPILULIUMAS

Gedurende die eerste helfte van die 14de eeu vC. maak die volgende baie interessante koning Supiluliumas sy verskyning.

Hy was ‘n tydgenoot van Amenhotep III en sy seun Amenhotep IV was later sy naam na Akhenaten verander het.

Hierdie magtige koninkrykbouer bring die oostelike klein Asië onder sy beheer. Daarna verower hy die boonste gedeelte van Mesopotamië. Hy verower Libanon en die suide van Sirië tot by Kades.

Teen hierdie tyd het die Hetitiese beskawing die toppunt van sy mag bereik en selfs ‘n bedreiging vir die magtige Egiptiese ryk geword.

Twee van sy seuns word as konings oor Aleppo en Karkemis aangestel. Dit was terwyl Supiluliumas by Karkemis was, dat ‘n boodskapper van Egipte by hom aangekom het.

Toe Supiluliumas die boodskap lees, kon hy sy oë nie glo nie. Ankensenamun, Tutankamun se weduwee wou weet of sy nie met een van sy seuns kon trou nie.

Sy verduidelik dat sy nie kans sien om met een van die Egiptenaars wil trou nie en indien die Hetitiese prins met haar sou trou, hy die volgende regeerder van Egipte sou wees.

Omdat Supiluliumas nie kon glo wat hy gelees het nie, het hy die versoek geïgnoreer. Toe Ankensenamun niks van die Hetitiese koning hoor nie, het sy ‘n tweede versoek gerig. Sy wou weet waarom die koning nie antwoord nie.

Daar het ongeveer ‘n jaar verloop voordat Supiluliumas een van sy seuns na Egipte toe gestuur het. Ongelukkig is hy by sy aankoms vermoor omdat iemand anders intussen die  Egiptiese troon bestyg het.

‘n Botsing tussen die twee wêreldmagte, Egipte en die Hetiete was onafwendbaar. In die jaar 1296 vind die slag van Kades tussen Ramses II en Muwattalis plaas.

Vir byna 3000 jaar het ons net die Egiptiese weergawe van hierdie veldslag gehad. Soos al die ander oorloë het hulle kamtig hierdie een ook gewen.

Wanneer mens die Rameseum by Luxor besoek, sien jy hoe Ramses II sy oorwinnings oor die Hetiete uitbeeld. Hy beweer dat hy man alleen 2500 Hetitiese strydwanes met hulle 7500 soldate verwoes het.

Met die ontsyfering van die Hetitiese hierogliewe na 1947 kon argeoloë ons die ander weergawe van die slag van Kades lees.

Die waarheid het na byna 3000 jaar uitgekom. Farao Ramses se weermag is byna uitgewis en hy moes skaam skaam na Egipte terugkeer.

By Egipte aangekom het hy sy kunstenaars opdrag gegee om die slag van Kades as die grootste oorwinning ooit uit te beeld. Dis interessant. Hy het sy verloorgeskiedenis in wengeskiedenis oorgeskryf.

Terwyl ek oor die Ramses II sindroom gedink het, het die mooi boodskap van die evangelie my opgeval. Jesus wil elke sondaar se verloorgeskiedenis in Sy eie wen-geskiedenis oorskryf.

Ek hoef nie self my verloorgeskiedenis probeer verander of oorskryf nie. Dis iets wat Jesus vir elke verloorsondaar doen wanneer ons met ons mislukkings na Hom te gaan. My mislukkings word in Sy oorwinnings oorgeskryf.

In 1283 vC. sluit Ramses II ‘n vredesverdrag met die die volgende Hetitiese koning, koning Hattusilis III. Net daarna trou Ramses met sy dogter.Van daardie tyd af was daar vrede tussen die Hetiete en die Egiptenaars.

VERDWYNING VAN DIE HETITIESE RYK

Net so misterieus as wat die Hetiete gekom het, net so misterieus het hierdie magtige beskawing verdwyn. Die See volkere, waarvan die Filistyne deel uitgemaak het, het uit die weste gekom en Anatolië binnegeval.

Hattussas die hoofstad en baie ander Hetitiese stede is verwoes. Die ryk het baie vinnig gedisintegreer en teen 1200 vC. verdwyn.

So ‘n paar stad-state in Bo-Mesopotamië en Noord Sirië het vir dievolgende 300 voorbestaan. Karkemis word as die belangrikste beskou.

Die Hetitiese monumente wat hier opgegrawe is, vertel baie interessante verhale. Dis ook moontlik dat Uria die Hetiet van die Bybel vanaf Karkemis gekom het.

Teen die 9de eeu het die magtige Assiriese oorlogsmasjien sy verskyning hier by Karkemis en die ander oorblywende Hetitiese stede gemaak. ‘n Verbete stryd vir oorlewing het gevolg.

Teen die einde van die 8ste eeu het die laaste oorblyfsels van die Hetiete onder Assirië geswig en verdwyn.

Die wêreld het so volkome van hierdie mense vergeet dat hulle nie eers in die klassieke literatuur genoem word nie. Daar was net een Bron wat van die Hetiete melding gemaak het, en dit was die Bybel, God se Woord.

DIE GODSDIENS EN DIE KULTUUR VAN DIE HETIETE

Die godsdienstige en kulturele profiel wat die geskiedenis vir ons van Hetiete skets, is aangrypend. Hulle was ‘n geharde bergvolk wat hoër etiese waardes as die meeste ander nasies gehad het.

Elke keer wanneer hulle ‘n nasie verower het, het hulle sommer die plaaslike gode deel van hulle eie panteon van gode gemaak. Tesjub was die naam van hulle weergod.

Hulle het ook die Babiloniese Isjtar as die songod  saam met baie ander gode aanbid. Hulle het geglo dat hierdie gode die magte van die natuur beheer het.

Sommige van die latere Anatoliese gode van die Nuwe Testament het hulle oorsprong by die Hetiete. Bv. Cybele, die Magna Mater, or moeder godin, het ‘n Hetitiese Prototipe met die naam van Kubaba. Sy het vir baie jare ‘n baie  belangrike rol in die populêre godsdiens van Klein Asië gespeel.

Terwyl ek na ‘n standbeeld van die godin Kubaba in die Britse Museum gekyk het, het ek diep gedink. By die aanbidding van hierdie gode, was daar harde ritmiese musiek. Die sensuele aard van hierdie aanbidding het dikwels met argasmis gepaard gegaan. Dit was ‘n emosionele godsdiens wat mense verwoes het.

DIE HETIETE EN DIE BYBEL

Die naam Hetiet verskyn 46 keer in die Bybel. Die Het van Genesis 10:15 was ‘n seun van Kanaän en ‘n kleinseun van Gam. Soos ons vroeër gesien het, was hy die voorgeslag van die Proto-Hetiete wat in Klein Asië gewoon het.

Sommige van hierdie Proto-tipe Hetiete het in Palestiene in die tyd van Abraham gewoon. (Genesis 15:18-20; 23:3-20)

Hier by die pragtige stad van Petra het ‘n man met die naam van Esau gewoon. Sy nasate is die Edomiete genoem. Die Bybel sê vir ons hy het met Hetitiese vrouens getrou.

Genesis 27:46  Rebekka het vir Isak gesê: “Ek is nou siek en sat van hierdie Hetitiese vrouens van Esau. As Jakob ook met Hetitiese meisies trou, met meisies soos hulle uit hierdie land, kan ek net sowel sterf.”

Die Bybel sê vir ons dat Israeliete gedurende die tyd  van die Rigters teen die wil van die Here met die Hetiete begin ondertrou het.

Terwyl ‘n groot gedeelte van Juda in Babiloniese gevangeskap was, het die profeet Ezegiël die volgende spottende opmerking gemaak: jou pa was ‘n Amoriet, jou ma ‘n Hetiet.”

Wanneer mens die Egiptiese vervloekings geskrifte lees, merk jy dat Amoritiese konings vanaf die 19de eeu vC. in Jerusalem geregeer het.

Maar wanneer jy die geskiedenis van die Amarnatydperk vanaf 1354 vC studeer, ontdek jy iets baie interessants. ‘n Koning met die naam van Abdu-Khepa regeer in Jerusalem. Abdu beteken “dienskneg” en Khepa verwys na die Hetitiese godin Khepa.

Selfs gedurende die regering van Dawid vind mens die teenwoordigheid van die Hetiete in Israel.  1 Samuel 26:6 En Dawid het vir Agimelek die Hetiet, en vir Abisai, broer van Joab en seun van Seruja, gevra: “Wie wil saam met my na Saul toe in die kamp gaan?” Abisai het geantwoord: “Ek sal saam met jou gaan.”

Wat van Salomo? Maak hy ook van die Hetiete melding? Ja. Kom ons lees in:

1 Konings 11:1  Koning Salomo was lief vir baie uitlandse vrouens. Behalwe die dogter van die farao het hy ook vrouens uit die Moabiete, Ammoniete, Edomiete, Sidoniërs en Hetiete gehad.

Die rede waarom konings destyds met uitlandse vrouens getrou het, was vir finansiële en politieke redes. Dis heel waarskynlik dat Salomo se Hetitiese vrou vanaf Karkemis gekom het.

URIJA DIE HETIET

Wanneer mens die Nuwe Testament lees, kom jy op iets baie interessants af. Ons noem dit tipologie. Bybelkarakters tipeer op een of ander wyse die lewe van Jesus.

Ons kry hierdie beginsel in Matteus 12:6, 40,41. Jesus verwys ook na hierdie interessante sleutel om die Ou Testament te verstaan in Lukas 23.

Uria het heelwaarskynlik van Karkemis na Israel geïmigreer. Alhoewel die Kubabakerk waaraan hy behoort het, nogal hoë morele waardes gehandhaaf het, het hy na iets diepers gesoek.

Hierdie besondere Hetitiese prins verhuis na Jerusalem waar hy vir Batseba ontmoet. Die naam beteken “Dogter van die Sabbat.” Hy raak verlief en trou met hierdie dame wie se oupa Agitofel die persoonlike raadgewer van Koning Dawid is.

Die feit dat Urija sy huis langs die paleis gehad het, wys vir ons dat hy ‘n ryk man was. Die bybel sê nie vir ons wanneer hy by Dawid se weermag aangesluit het nie. Wat ons wel weet, is dat hy baie gou een van Dawid se dapperste generaals geword het.

6. Op ‘n keer toe hy saam met Joab Amon Rabba beleër het, het Dawid hom laat roep. Ons kry die rede hiervoor in 1 Samuel 11.

Ek glo Urija soos enige goeie man, eers by sy vrou ‘n draai gaan maak het voordat hy na die koning se paleis net langs sy huis gegaan het.

Hya moes toe ontdek dat sy geliefde Batseba iemand anders liefgekry het en selfs ‘n kind van die man verwag. Min het hy op hierdie tydstip besef dat dit sy geliefde koning Dawid was.

Nadat Urija by koning Dawid was, het die hy alles gedoen om hom by sy vrou te kry. Maar Uria wou niks weet nie. Vir alle praktiese redes het hy nie meer ‘n vrou gehad nie.

Toe Dawid hom een aand dronk maak teneinde hom na sy vrou te laat gaan, het die waarheid vir Uria getref. Dawid was die man.

Hy stap terug na Amon Rabba, die moderne Aman met sy eie doodsvonnis in sy hand. Sou Joab deel word van Dawid se moordplanne?

Elke keer wanneer ek die ruïnes van die antieke hoofstad van die Ammoniete besoek, dink ek aan hoe Urija die Hetiet in die vreeslikste eensaamheid gesterf het.

Terwyl hy by een van die poorte teen die vyand geveg het, het sy manskappe skielik teruggetrek en hom alleen agtergelaat. Sy vrou het hom teleurgestel. Sy koning het hom teleurgestel. Joab het hom teleurgestel en nou sy manskappe.

Op die slagveld van Ammon Rabba sterf Urija die Hetiet die eensaamste dood ooit. Terwyl die spiese van die vyand hom deursteek, moes hy sekerlik gebid het en gesê het: Vader vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.

Baie eeue later het ‘n ander Urija, Jesus Christus sy verhewe beskawing verlaat en na ons ellendige kultuur gekom. Hy trou met Batseba, Sy kerk en die raak ontrou.

Hy verskyn voor die geestelike leier Kajafas, baie soos Dawid, en die stuur hom na Pilatus, baie soos Joab, om tereggestel te word.

En soos Urija sterf Jesus die eensaamste dood in die geskiedenis van die mensdom. Die mense wat Hom eintlik moes ondersteun, het Hom verlaat.

Sy doodskreet van verlatenheid deurpriem die heelal en Jesus se kop val op Sy bors.

Mag die Here met ons wees terwyl ons die boeiende geskiedenis van die Ou Testament bestudeer. Mag ons die mooi verhaal van Jesus meer en meer ontdek.

En mag dit wees dat ons meer en meer soos die lieflike Jesus sal word. Mag ons ook gewillig wees soos Uria die Hetiet en Jesus die Verlosser om ons alles vir die saak van die Here te gee.

Was this article helpful?

Related Articles