1. Home
  2. Doopgedagtes
  3. Die Jordaanrivier En Sy Simboliek

Die Jordaanrivier En Sy Simboliek

DIE JORDAANRIVIER EN SY SIMBOLIEK

Skriftuur: Psalm 133:1-3

Die hoogste plek bo seëspieël in Israel, is die berg Hermon. Dwarsdeur die jaar is hierdie reus met ‘n wit laag sneeu bedek. Dis ‘n fees om hierdie natuurwonder te aanskou.

Dit was my voorreg om ‘n paar keer bo op een van sy pieke te kon staan en die pragtige landskap van Libanon, Sirië en Galileë te kon indrink.

In teenstelling met die 2,815 meters bo seëspieël van Hermon, kry ons die Jordaanvallei en die dooie see wat 300 meters onder seëspieël lê.

SIMBOLIEK

Bybelskrywer het die sneeubedekte Hermon gebruik om die pragtige verlossingsboodskappe te verduidelik.

Psalm 133 ’n Pelgrimslied. Van Dawid. Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon! 2 Dit is soos reukolie wat van die kop af in die baard afloop, die baard van Aäron, af tot by die soom van sy klere. 3 Dit is soos die dou van Hermonberg wat op die berge by Sion val. Waar broers so saam woon, skenk die Here sy seën: ’n lang, lang lewe.

Dou in die Bybel word gebruik om die teenwoordigheid van God se seën te beskryf. Die afwesigheid van dou dui op God se misnoë.

Die dou en sneeu op Hermon verwys na God se oorvloedige seën.

Kan iemand vir my sê wat God se grootste geskenk, Sy grootste seën aan die mensdom is? Jesus Sy Seun.

En dan sê die teks dat die dou van Hermon op die berge van Sion val. Wie is die Sion waarvan die Bybel praat?

Jesaja 40:9 Klim op ‘n hoë berg en roep hard, Sion, jy wat die goeie tyding moet bring.

Jesus, die dou van die hemelse Hermon wil op jou en my met al Sy reinheid val en ons vuilheid verwyder.

HERMONSIMBOLIEK

Ek staan in die El Bekaavallei in Libanon en ek kyk na die reuse sneeubedekte Hermon. Ek dink aan die simboliek en my hart word warm.

Die pragtige sneeu word deur die somerson gesmelt en vorm watervalletjies wat na benede vloei.

God die Vader se sondaarsliefde brand op Jesus, die sneeu en dou van die hemelse Hermon. En Jesus smelt en verdwyn van Sy hoë hemelse status en vloei tot hier onder by jou en my.

JORDAANRIVIER – SIMBOLIEK

Geen ander rivier in die wêreld val so verskriklik laag soos die Jordaanrivier nie. Geen ander rivier kronkel so baie soos hierdie een nie.

NAAM

Die naam Jordaan beteken “afkommer.”, Descender.

Wat ‘n paslike naam. Die sneeu van die bergpieke van die Hermon het gesmelt en afgekom tot by die behoeftes van Kanaän, die beloofde land.

STEL JESUS VOOR

Toe ek vir die eerste keer die betekenis van die Jordaanrivier gehoor het, het ek aan Jesus gedink. Hy is die grootste van alle Afkommers.

Jesus het van die hoogste hemelse bergpieke van glorie gekom en na die laagste deel van die kosmos gedaal – na ons sondige planeet.

GEBEURE BY DIE JORDAAN

Wanneer mens in die Bybel lees wat alles in die Jordaanrivier plaasgevind het, maak jy baie interessante ontdekkings.

Kom ons kyk eers na Israel se verlossing uit Egipte. Eksodus vertel vir ons hoedat die wolkkolom hulle tot teen die Rooisee gelei het.

Daar was net een manier waarop hulle van die agtervolgende vyand verlos kon word. Die rooi see moes vir hulle ‘n pad na vryheid en veiligheid oopmaak.
En nou moet ek ‘n lyn vanaf daardie Egiptiese verlossing na my verlossing trek.

Soos die rooi see vir Israel ‘n pad vanaf slawerny na veiligheid oopgemaak het, so maak Golgota ook vir my ‘n pad vanaf slawerny na vryheid oop.

DIE PAD NA KANAäN

Dit was ‘n lang woestynpad met baie beproewings vanaf die rooi see tot by Kanaän, die beloofde land.

Daar is ook ‘n lang woestynpad van swaarkry vir die mens wat deur die rooi see van Golgota verlos is voordat hy by die wonings van Kanaän uitkom wat die Here vir hom voorberei het.

Wat ‘n heuglike dag toe Israel uiteindelik by die grens tussen die woestyn en die beloofde land uitgekom het.

Voor hulle het die Jordaanrivier, simbool van oorgaan na die Beloofde Land, simbool van die Wederkoms gelê.

Binnekort gaan ek en jy ook by ‘n grens uitkom – die grens van ons lang pynlike woestyntog en die ewige land Kanaän.

Soos wat die Jordaanrivier destyds die oorgang na Kanaän was, so gaan die wederkoms ook binnekort die oorgang na die hiernamaals wees.

Kan jy vir my sê wie die fokus en middelpunt van die wederkoms gaan wees? Beide die Ou en Nuwe Testament sê vir ons dis Jesus. Jesus en die wederkoms is onskeibaar.

Kom ons lees aangaande die vreugdevolle historiese tog deur die Jordaanrivier:

Josua 3:14-16 Die draers van die ark het by die Jordaan aangekom. Gedurende die hele oestyd is die Jordaan gewoonlik vol, oor al sy oewers. Toe die voete van die priesters wat die ark dra, in die vlakwater kom, het die water wat afkom, gaan staan. Dit het op een hoop gaan staan, ver boontoe by Adam, die stad langs Saretan. Die water wat afloop na die see in die Jordaanvallei, die Soutsee, was heeltemal afgesny. Die volk het regoor Jerigo deurgetrek.

ELIA EN DIE WEDERKOMS

Dan is daar nog ‘n ander aangrypende voorbeeld wat die Jordaanrivier met die wederkoms koppel:
2 Konings 2:8 Elia het sy mantel gevat, dit opgerol en die water daarmee geslaan. Die water het na links en na regs verdeel, sodat hulle twee op droë grond daar deur is.
Waarom is hierdie wonderwerk by die Jordaanrivier gedoen? Die volgende gebeurtenis sê vir ons dit was ‘n illustrasie van die wederkoms.
Vers 11 Terwyl hulle gesels-gesels verder gegaan het, was daar skielik ’n wa van vuur met perde van vuur wat hulle twee van mekaar geskei het, en Elia is in ’n stormwind op, die hemel in.
DIE BYL WAT GEDRYF HET
Daar is nog ‘n ander interessante wonderwerk wat in die Jordaanrivier plaasgevind het. Iemand van die profete skool het ‘n geleende byl in die Jordaanrivier laat val.
2 Konings 6:6 Die man van God het gevra waar die byl ingeval het. Toe die profeet vir hom die plek gewys het, het hy ’n stuk hout afgekap en dit daar ingegooi, en dit het die byl bo laat dryf. 7 Hy sê toe vir hom: “Haal dit uit.” Die man het sy hand uitgesteek en dit gevat.

Dit was opspraakwekkend. Die swaar stuk yster ignoreer die wet van swaartekrag en kom na oppervlakte.

Die Jordaanrivier word simbool van wat God kan doen. Die byl wat diep onder in die modder gelê het is deur God se krag na die oppervlakte gebring en kon weer gebruik word.

Die mens wat met sy swaar sondelas onder die waters van selfverwyt gesink het, kan weer herwin word.

Daar is ‘n goddelike mag wat ons uit die modder van ons gevalle natuur na die oppervlakte van God se wederkoms kan bring.

Dink net hoe opspraakwekkend dit met Jesus se wederkoms gaan wees wanneer ons die swaartekrag van hierdie sondige wêreld gaan ignoreer en na Jesus gaan opvaar.

JESUS EN DIE JORDAANRIVIER

Op ‘n dag het Jesus in die waters van die Jordaan ingestap. Vir ‘n oomblik word Hy magteloos in Johannes die Doper se arms.
Matteus 3:16 Jesus is toe gedoop en het dadelik daarna uit die water gekom.

Soos die yster in Elisa se dag boontoe gekom het, so bring Johannes die Doper Jesus se liggaam ook na die oppervlakte.

Die stem van die Vader word gehoor:

Vers 17 “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.”

Met wie het die Vader eintlik gepraat? Hy het met jou en my gepraat. In Jesus ons verteenwoordiger is ons Sy geliefde kinders.

BOODSKAP AAN DOPELINGE

Die mens wat gedoop word, word in Jesus die Afdaler na die mens se vlak gedoop.

Jesus is die waters van die Jordaan wat vertel dat ‘n mens deur Sy krag van die bodem van ellende na die hoogtes van heerlikheid opgehef kan word.

Jesus is ook die doopwaters van die Jordaan wat Sy wederkoms simboliseer – die grens van die droewige verlede en die vreugdevolle toekoms.

Die doop vertel van ‘n dag wanneer die klank van die basuin van God die wanklank van ons sondige natuur vir ewig gaan verdring. Die doop vertel van die melodie van sondeloosheid wat reeds gekomponeer is en wat ons binnekort gaan sing.

Jesus, die witvlokkie sneeu wat hoog op die hemelse Hermon geskitter het, het gesmelt en ‘n Jordaanrivier van redding vir jou en my geword.

As jy nog nie in Hom ingestap het om van jou sondigheid ontslae te raak nie, nooi ek jou om dit gou te doen.

Elkeen wat van Jesus se reiniging gebruik maak, gaan Hom spoedig in al Sy glorie sien kom.

Ons gaan sien hoe spierwit rein Hy oorspronklik op die Hemelse Hermon geskitter het voordat ons sonde Hom op Golgota kom verdof het.

Was this article helpful?

Related Articles