Die Melaatse

Ons was ‘n baie gelukkige gesin wat in Kapernaum gewoon het. My vrou en kinders was vir my alles.

En toe gebeur. My vrou het ‘n merkie aan my gesig gesien. Ons het dit dopgehou en salf aangesmeer,maar dit wou nie genees nie.

Om dood seker te maak dat dit nie kwaadaardig was nie, het ek na die priesters in Jerusalem toe gegaan vir ‘n diagnose.

Ek kan nie vir jou vertel hoe sleg ek gevoel het toe hulle vir my vertel dis die begin van melaatsheid nie.

Maar wat my nog slegter laat voel het, was die uitspraak wat die priester gemaak het.

“Jy is goddeloos en God straf jou met melaatsheid. Jy sal voortaan nie meer by jou gesin kan woon nie, maar iewers in ‘n grot. Jy mag nooit weer in die geselskap van mense gesien word nie. As hulle naby jou kom, moet jy uitroep: ‘Onrein, onrein, onrein.’

Dit sal vir hulle ‘n waarskuwing wees om van jou te vlug.”

VLOEK VAN GOD

Op pad terug na Kapernaum het ek omtrent die hele ent pad geloop en huil. My gesinslewe is vir altyd weg. Hoe gaan ek hierdie ramp aan my vrou en kinders oordra?

TOTSIENS

Totsiens was nog nooit vir my lekker nie. Maar die pyn wat ek en my gesin ervaar het, was onbeskryflik. Ons jongste met my om my nek gegryp en gesê: “Nee Pappa kan nie weggaan nie. Nee, nee, nee.”

My vrou moes die kind van my wegskeer. Ons het lank vir mekaar gewaai voordat ek oor die laaste bultjie verdwyn het.

Na ‘n lang ent se gestap het ek by ‘n paar ander melaatses aangesluit. Dit was so hartseer om na hulle verhale te luister.

Hulle het my vertel van Jesus wat mense genees. Maar hulle was nie seker om Hy melaatsheid kon genees nie. Sedert Elisa Naaman van sy melaatsheid genees het, het daar nog nie weer so ‘n genesing plaasgevind het.

EENSAAM

Ek het nie baie tuis by hierdie melaatses gevoel nie en myself toe onttrek. Maar die verhaal van Jesus het by my vasgesteek. As Hy die oë van blindes kon oopmaak, verlamdes kon laat loop, kon Hy seker ook melaatsheid genees.

OP SOEK NA JESUS

Ek het besluit om hierdie Jesus te gaan opsoek. Ek kon niks verloor nie en miskien kon ek genade in Sy oë vind.

My vingers en tone het reeds afgeval. Waar my neus en ore was, was daar nou net gate. Ek het ‘n verskrikking vir die samelewing en vir myself geword.

Met ‘n groot gesukkel het ek op Jesus afgekom. Hy was deur ‘n groot skare omring. Wat gaan ek nou maak? As ek moet uitroep “Onrein, onrein, onrein” sou die mense my soos ‘n hond wegjaag.

Met die laaste bietjie moed en die laaste bietjie krag stap ek sonder waarskuwing tussen die klomp mense in. Toe hulle my sien, begin hulle te skreeu en in alle rigtings uitmekaar te spat.

Onder skreeu op my om te voetsek. Maar niks keer my nie.

Uiteindelik val ek voor Jesus se voete neer. Ek smeek Hom en sê vir Hom: “Ag Here as U wil, kan U my reinig.”

Toe ek my ou stompieshande om Sy bene slaan, en vir ‘n antwoord wag, was dit vir my soos ‘n ewigheid. Wat gaan Hy my antwoord? 800 jaar gelede is ‘n melaatse genees, sal dit weer kan gebeur?

Ek toe voel ek Sy hand op my kop. Die eerste aanraking deur ‘n mens vandag ek my huis verlaat het.

Maar hierdie aanraking was anders. Gelyktydig sê Hy vir my: “Ek wil jou baie graag reinig. Wees gereinig.”

Daardie vuil gevoel wat die priesters my gegee het dat ek besoedel is, het my verlaat. Jesus het my van sondeskuld gereinig.

En toe gebeur die volgende wonderwerk. My gevoellose stompie hande waarmee ek Hom vasgekleef het, het skielik hulle gevoel terug gekry.

Ek voel aan my neus en ore en hulle is terug op hulle plek.

Ek was weer ‘n heel mens.

Hy sê toe vir my ek moet vir niemand van die wonderwerk vertel nie en baie vinnig na die priester toe gaan wat my melaats verklaar het en ‘n reinigings sertifikaat by hom kry.

En nou stap ek huistoe met die genesingssertikaat.

Teen watter pas dink jy het ek gestap?

Hoe dink jy is ek by my huis ontvang? Ons het eers van blydskap gehuil en toe van Jesus begin praat.

Een van die kleintjies vra my: “Was Pappa se tone en vingers en neus en ore regtig weg”?

AANBEVELING

My liewe mede sondaar. Ek wil Jesus by jou aanbeveel. As jy Hom vra om jou van sonde te reinig, sal Hy nie aarsel nie. Hy wil jou van die smet van sondeskuld reinig.

En die moontlikheid dat Hy jou fisies kan genees, is nie uitgesluit nie.

Was this article helpful?

Related Articles