1. Home
  2. Doopgedagtes
  3. Die Tollenaar En Die Fariseer

Die Tollenaar En Die Fariseer

DIE TOLLENAAR EN DIE FARISEER

Skriftuur: Lukas 18:9-14

Ons na die sonde wat vir die Here die afstootlikste van alle sondes is. Van al die sondes is hierdie spesifieke een die hopeloosste en die ongeneeslikste.

Ongelukkig is dit ‘n sonde wat net onder belydende Christene voorkom. Kom ons lees dit:

Lukas 18:9 Met die oog op mense wat seker was dat hulle eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel:

Het iemand al skielik op jou afgekom en vir jou gevra of jy gered is. Dit het al met my gebeur. Die een wat die vraag gevra het, het vir my kwaai gelyk.

Die man met die rasperstem het so gered-terig gelyk en ek het my so verlorerig, veroordelend laat voel.

Daar is sekere mense wat jou deur hulle superheilige houding verlore laat voel.

Maar dan is daar ander mense wat jou laat voel daar is hoop vir ‘n hopelose sondaar soos jy.

Vers 10 Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was ‘n Fariseër en die ander een ‘n tollenaar.

Hierdie twee mense het een Sabbatoggend by die kerk opgedaag. Elkeen met sy eie agenda. Elkeen wou iets vir die Here kom vertel het.

Voel jy partykeer ook so wanneer jy kerk toe gaan?

Vers 11 Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: ‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie.

In Jesus se dag was Fariseïsme die hoogste vorm van vroomheid. Aan die ander kant was die tollenaars op die laagste sport van die sedeleer.

Terwyl die Fariseër die Here gelukwens dat Hy iemand soos hy in sy diens het, en hy sy oë so op ‘n skrefie oopmaak, sien hy ‘n tollenaar.

Skielik voel hy homself nog so endjie heiliger.

Aan die groot maag van die tollenaar kan mens sien dat hy iemand was wat hom nooit aan vas gesteur nie. Die man was beslis nie op die Halleluja dieëet van rou groente en vrugte soos Mnr. Fariseër nie.

Kom ons luister verder hoe oulik die Fariseër was:

Vers 12 Ek vas twee keer in die week en ek gee ‘n tiende van hele inkomste.

Kan jy hom sien bid. Sy lippe prewel en op sy gesig is daar ‘n uitdrukking van self-voldoening.

Eintlik het hy nie met God gepraat nie, maar met homself.

Weet jy hoe het hierdie Fariseër sy geregtigheid probeer verdien?

Deur sy drie of vier sogenaamde goeie hoedanighede teen die drie of vier swak karaktereienskappe van ander mense te probeer afspeel.

En nou moet ek in my eie hart inkyk en vir myself die vraag vra. Ontwikkel ek ‘n geestelike superieure houding deur my sogenaamde goeie karaktereienskappe met die swakhede van ander mense te vergelyk?

DIE TOLLENAAR

Kom ons stap oor na die tollenaar en dan hoor ons waaroor hy bid:

Vers 13 “Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig.’

Kan jy hierdie man in jou geestesoog sien? Die trane rol oor sy wange en hy slaan homself desperaat oor die bors.

“Ag Here. Ek is ‘n sondige verlore mens.”

Hierdie man het gesien hoe rein God is en hoe vuil en verlore hy is. Die verskriklike kontras het hom verpletter.

Ons moet die diepte van ons gevalle sondige natuur insien, anders vlug ons nie na veiligheid van Jesus se geregtigheid nie. Ons moet die pyn van ons wonde voel, anders soek ons nie die salf van God se genesing nie.

Waarom is die tollenaar se gebed verhoor? Dit was ‘n daad van absolute afhanklikheid wat uitgestrek het om die Almagtige se hulp aan te gryp.

Vir die tollenaar was sy lewe niks anders as skande nie. Hy het alle selfvertroue verwerp en met smeking die oneindige genade van God probeer aangegryp.

Kom ons luister na Jesus se evaluering van hierdie twee aanbidders.

Lukas 18:14 “Ek sê vir julle: Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.”

WAARSKUWING

Ek wil net ‘n waarskuwing aan voornemendee dopelinge rig. Aan die begin van julle omgang met ons, gaan julle net ons mooi kant sien.

Maar soos al die ander sondaars het ons ook ‘n ander kant.

Wat gaan julle die dag maak wanneer julle ons swakhede ontdek? Daar is twee opsies:

Julle kan soos die Fariseër in die gelykenis optree en die Here begin dank dat julle nie so sleg soos ons is nie.

Die duiwel kan julle in so ‘n gevaarlike strik lei dat julle soos hy gaan begin optree. Die Bybel noem hom die aanklaer. Kom ons lees dit:

Openbaring 12:10 Die aanklaer van ons medegelowiges is uit die hemel uit gegooi, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het.

Martin Luther het die Latynse uitdrukking “Simul justus et pekator” oor en oor in sy geskrifte gebruik. Dit beteken die mens is gelyktydig gered en gelyktydig verlore.

As jy net my swakhede gaan raaksien, gaan jy ‘n navolger van die duiwel word. Jy sal naderhand so erg word dat jy net die duiwel in my optrede gaan raaksien en nie hoe die Here besig is om aan my karakter te werk nie.

Die kritiese Fariseërs het sover gegaan dat hulle gesê het dat die wonderwerke wat Jesus gedoen het, die werk van die duiwel was.

Matteus 9:34 “Deur die owerste van die duiwels dryf Hy die duiwels uit.”

As jy op ‘n dag by die plek kom wanneer jy nie meer ‘n seën in die huis van die Here ontvang nie, mag dit net wees dat jy dieselfde begin doen het as wat die Fariseërs gedoen het.

Luister na hierdie ernstige sitaat:

“Christus het hulle onomwonde vertel dat hulle hulleself van die bron van seën afsluit omdat hulle die werk van die Heilige Gees aan die Satan toegeskryf het.” Die Koning van die Eeue, bld. 280.

Dis waarheen die duiwel ons met ‘n gees van kritiek wil lei. Die dag as jy nie meer ‘n seën in die Huis van die Here ontvang nie, moet jy die fout in jou eie lewe gaan soek.

Wat is die sonde teen die Heilige Gees? Ek het die volgende skokkende sitaat ontdek.

“Dit is wanneer ons doelbewus die werk van die Heilige Gees aan die duiwel toeskryf.” 5T 634.

DIE TOLLENAAR

Kom ons gaan terug na die berouvolle tollenaar wat op sy bors geslaan het en die Here gevra het om hom genadig te wees.

Hy kon homself nie van sy sondigheid ledig nie. Al wat hy kon doen was om die Here toestemming te gee om dit vir hom te doen. Die gebed van elke mens moet wees:

“Here, neem my hart want ek kan dit nie gee nie. Dit is U eiendom. Bewaar dit want ek kan dit nie vir U bewaar nie. Red my ondanks my swakke, onchristelike self. Giet my, vorm my, hef my op na ‘n suiwere en heilige atmosfeer waar die ryke strome van U liefde deur my siel kan vloei.”

GOLGOTA

‘n Baie veilige plek om gereeld te besoek, is die kruis van Golgota. Luister wat met die Engelse digter Elizabeth Clephane gebeur het toe sy daar besoek het:

Upon the cross of Jesus mine eyes at time can see the very dying form of One who suffered there for me;

And from my smitten heart with tears two wonders I confess: The wonders of redeeming love and my unworthiness.

Hoe meer ons na God se offer aan die kruis kyk, hoe meer gaan ons bekering verdiep.

SLOT

Tydens wêreldoorlog 2, het ‘n Amerikaanse soldaat in ‘n groot gat beland wat deur ‘n bom veroorsaak is. Tot sy verbasing het hy ‘n gewonde Duitser daar raakgeloop.

Hy het die vyand se wonde verbind. Nadat die artelerie aanvalle gestaak is, het die Amerikaner uit die gat geklim en na sy basis teruggekeer.

Hy het vir oulaas omgedraai om te sien hoe dit met die gewonde Duitser gaan. Hy sien toe hoe hy sy hand in sy baadtjie insteek om iets uit te haal.

Die Amerikaner dag toe die Duitser wil hom in die rug skiet. Hy pluk toe gou sy eie rewolwer uit, en skiet die vyand dood.

En toe stap hy terug om die lyk te gaan ondersoek. Tot sy verbasing sien hy dat die man ‘n foto van sy gesin uit sy sak wou haal om dit uit dankbaarheid vir die Amerikaner te gee wat sy wonde verbind het.

Mag die Here verhoed dat ons mense met ons kritiek doodskiet. Mag Hy ons help om te sien dat hulle ons nie wil skiet nie, maar hulle dankbaarheid teenoor ons wil bewys.

Was this article helpful?

Related Articles