Die transenderende waarde van waarheid en die poging wat aangewend moet word om die koninkryk te beërwe.
Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n skat wat verborge is in die saailand, wat ‘n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand. Matteus 13:44
Dis net Matteus wat oor hierdie gelykenis skryf. Hy illustreer die waarde van verlossing. Daarby saam noem hy die poging wat aangewend word om dit te bekom.
Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n skat wat verborge is in die saailand. Die saailand verwys na die Woord van die Here. Asgevolg van die destydse politieke en ekonomiese onsekerheid, was dit algemene gebruik om waardevolle items in die grond te begrawe. Dikwels het die skatte lank na die dood van die eienaar daar gelê . Die nuwe mense wat daar kom woon het, was nie van die skatte bewus nie. Kom ons hoor van die geluk wat die nuwe intrekkers te beurt geval het.
Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n skat wat verborge is in die saailand, wat ‘n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand. Matteus 13:44
Versigtig steek die huurder die skat weg waar hy dit gevind het. As hy dit wettig wou bekom het, was daar sekere prosedures wat hy moes volg. Ons moet dit net in gedagte hou dat Jesus nie noodwendig die man se optrede goedkeur toe hy die skat ontdek het nie en dat Hy terselfdertyd ook nie die ontdekker se optrede afkeur nie.
Ons moet in gedagte hou dat die karakter van die man niks met die waarheid te doen het, met dit wat Jesus wou tuisbring nie nl. Die ontsettende groot waarde van die hemelse skat en die energie wat aangewend moet word om dit te bekom nie.
Die belangrike les wat ek en jy moet leer, is: ‘’Die transenderende waarde van waarheid en die poging wat aangewend moet word om die koninkryk te beërwe.”
Soos voorheen genoem is, was dit die gewoonte vir mense om hulle skatte te begrawe. Diefstal en roof het dikwels voorgekom. Wanneer ‘n nuwe regeerder oorgeneem het, is die rykes ontsettend swaar belas. Om die belastinggaarder te ontduik, was die wegsteek van die hulle skatte in die grond die enigste manier om belasting vry te spring.
Die wegsteekplek is dikwels vergeet; die eienaar sterf; gevangenis of verbanning het jou van jou skat geskei. Dit wat jy so mooi en veilige bewaar het, kon nou die eiendom van ‘n nuwe gelukkige ontdekker word. Tydens Jesus se eerste koms was dit ‘n algemene verskynsel dat ou verwaarloosde goue en silwermuntstukke ontdek is.
Terwyl hy ploeg kom hy toevalling op hierdie ongelooflike skat af. Met groot opgewondenheid besef hy dat hy die gelukkige nuwe eienaar van die kosbaarhede kan word. Hy sit die skat versigtig terug, gaan huistoe en verkoop alles wat hy besit om daardie stuk grond te koop. Sy familie dink hy is van sy kop af. Waarom die stuk grond koop? Maar hy alleen weet wat hy besig is om te doen. Toe die kooptransaksie afgehandel is, ploeg hy elke duim van die grond met groot versigheid om.
Die gelykenis vertel ons van die waarde van hemelse rykdom en die poging wat ons moet aanwend om dit in die hande te kry. Die ontdekker van die skat was bereid om alles wat vir hom kosbaar was, te verkoop om die skat in die hande te kry. As ek en jy die hemelse skat sou ontdek, moet ons geen steen onaangeroerd laat om daardie onberekenbare kosbare skat in die hande te kry nie.
Soos in die gelykenis genoem, is die grond waarin die skat ontdek is die Bybel. Die aarde self is nie so met gouderts deurvleg en met waarhede gevul soos die Woord van God nie.
DIE WYSE WAAROP DIE SKAT VERSTEEK WAS
Daar is mense wat glo dat die skatte van die evangelie verberg is. Hulle wat wys is in hulle eie oë, opgeblaas deur ydel filosofie, kan nie die skoonheid, krag en verborgenhede van die evangelie raaksien nie. Baie het oë, maar hulle sien nie; het ore maar hulle hoor nie; hulle het intellek maar hulle kan nie die verborge skatte raaksien nie.
n Mens mag oor die plek loop waar die skatte versteek is. In sy armoede kan hy onder ‘n boom sit sonder om te weet watse skatte tussen sy wortels begrawe is. Dit was die geval met die Jode.
Soos ‘n goue skat is die waarheid aan die Joodse volk toevertrou. Die Joodse bedeling, is deur Christus ingestel. Al die tipes en simbole het vooruit na Sy koms verwys. En toe Hy gekom het, het hulle by die simbole vasgesteek en Hom verwerp.
Hulle was die besitters van die Woord van God. Maar hulle oorleweringe wat valse hoop van Joodse grootheid verkondig het, het hulle daartoe gelei dat hulle die waarhede wat Jesus verkondig het, verwerp het. Die Here verberg nie Sy waarheid vir mense nie. Deur hulle verdraaing van die Skrifte het hulle hulle self verwoes. Hulle het ook nie kans gesien om met hulle sonde breek nie. Wat Jesus gevra het, was te moeilik.
Hulle het voorgegee dat hulle in die Ou Testamentiese Geskrifte glo, tog het hulle die profesieë oor Jesus se eerste koms geheel en al verwerp. Die Skat van die evangelie, die Weg, die Waarheid en die lewe was onder hulle. Hulle het die grootste Skat wat die Hmel kon gee, verwerp.
Maar tog het selfs baie van die owerstes in Hom geglo; maar ter wille van die Fariseërs het hulle dit nie bely nie, om nie uit die sinagoge geban te word nie. Johannes 12:42. Sommige was oortuig en het geglo dat Jesus die Seun van God was. Dit het nie by hulle selfsugtige drome gepas om Hom te bely nie. Hulle geloof het ontbreek om die hemelse skat hulle eie te maak. Ongelukkig het hulle aardse skatte nagejaag.
Is die massas enigsins anders? Hulle dink net aan winsbejag, aardse aansien en skatte. Hulle het obsessies met selfsugtige aardse ambisies. Asgevolg van hierdie sondige toedrag van sake, plaas hulle dit wat God van hulle verwag ondergeskik aan hulle eie sondige vereistes. Dis so jammer skatte van Sy woord vir hierdie mense versteek is.
Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word. 1 Korintiërs 2:14. Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan,
naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie. 2 Korintiërs 4:3,4
DIE OMVANG VAN DIE WAARDE VAN DIE SKAT
Jesus het gesien hoe mense ‘n obsessie vir rykdom gehad het en die geestelike skatte uit die oog verloor het. Hy het onderneem om hierdie boosheid aan te spreek. Die betowerende mag wat die siel verlam het, moes verbreek word. Hy het Sy stem verhef en uitgeroep:
Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel? Matteus 16:26. Hy wys vir die gevalle mensdom die edeler wêreld wat hulle uit die oog verloor het. Hy neem hulle tot by die drumpel van die oneindige ongelooflike goddelike glorie en wys vir hulle skate wat hulle nog nooit eers van gedroom het nie. Niks van die skate van hierdie wêreld kan daarmee vergelyk word nie.
Die wêreldvloed sê: In my is dit nie; en die see sê: By my is dit nie. Fyn goud kan daarvoor nie gegee word nie, en geen silwer as koopprys daarvan afgeweeg word nie. Die goud van Ofir weeg daar nie teen op nie, ook nie die kosbare onikssteen en saffier nie. Goud en glas kan daarmee nie vergelyk word nie, en vir goue voorwerpe ruil ‘n mens dit nie. Korale en kristal kan nie genoem word nie, en die besit van wysheid is meer werd as korale. Job 28:14-18
Dit is die skatte wat in die Bybel gevind kan word. Dis God se Groot lesboek, Sy leermeester. Die grondslag van alle ware Wetenskap word daarin gevind. Elke aspek van kennis kan deur die lees van die Bybel gevind word. By uitstek bevat dit die wetenskap wat alle wetenskappe oortref, die wetenskap van verlossing. Die Bybel is die myn van God se ondeurgrondelike rykdom van Christus.
Ware hoëronderwys word deur ‘n studie en gehoorsaamheid van Gods Woord verkry. Maar wanneer ander leesstof sy plek sou inneem wat nie na God se koninkryk lei nie, is dit ‘n perverse opvoeding.
Daar is aangrypende waarheid in die natuur opgelsuit. Aarde, see en lug wemel van waarhede. Hulle is ons leermeesters. Die natuur spreek van lesse waarin hemelse wysheid en ewige waarheid opgesluit is. Die gevalle sondaar verstaan dit nie. Sonde veroorsaak visuele distorsie. Jy kan nie die natuur vertolk as God nie in die prentjie is nie.
Mense wat die Woord van God verwerp kan die natuurwette nie reg vertolk nie. Hulle verdraai dit in so ‘n mate dat hulle nie meer aan die Skepper dink nie. Die wysheid van die mens word hoër as wysheid van God geag. God se lesboek word as irrelevant en oninteressant beskou. Maar vir hulle wat deur die Heilige Gees aangeraak is, is dit hemels mooi en anders.
Die ernstige soekers na pryslose skatte, sal alles verkoop om die grond te koop waarin dit begrawe is.
Pleks van die werke van bekende outeurs te lees, verkies hulle om die Woord van Hom te lees wat die grootste leermeester alle tye is. Hy het Sy lewe vir ons gegee sodat ons die ewige lewe kon bekom.
VOLGENDE KEER
Die gevolge van die verwaarlosing van die skat.