1. Home
  2. Jesus
  3. Gelykenisse Van Christus
  4. Gelykenisse Van Christus 1 – Die Barmhartige Samaritaan

Gelykenisse Van Christus 1 – Die Barmhartige Samaritaan

DIE BARMHARTIGE SAMARITAAN

Lukas 10:25-37

“Doen dit en jy sal lewe” 28

Die lewe neem betekenis aan wanneer ons mense begin lief kry. Kom ons klee die gelykenis van die barmhartige Samaritaan in die taal en begrip van ons dag.

En ons sê: So ongeveer 20 kilometers duskant Thabe Nchu het ‘n lelike iets gebeur. ‘n Man wat op pad Natal toe was, is deur ‘n groot swart motor van die pad gedruk.

Toe hy uiteindelik tot stilstand kom het vier gewapende mans uit die groot kar gespring, op die man afgestorm en hom katswink geslaan. Alles wat hy aan hom gehad het, het hulle geroof en hom half bewusteloos langs sy kar, langs die pad laat lê en toe gemaak dat hulle wegkom.

Hy het seker ‘n halfuur so gelê voordat hy weer bygekom het. ‘n Kar het van Bloemfontein se kant aangekom. Ag, as die man tog net wil stilhou. Die man in die aankomende motor sien dadelik wat gebeur het. Predikante is ingestel op moeilikheid.

Maar ongelukkig is hy ‘n hoof spreker by ‘n predikant vereniging waar hy oor die praktiese uitlewing van Godsdiens moet praat, en hy ry verby.

Die verwonde man se moed is gebreek. Maar nie lank daarna die kom daar nog ‘n motor aan. Die bestuurder slaan die remme aan. Die verwonde man herken die bestuurder as die Adventiste predikant van Bloemfontein.

“Ag dankie tog”, sê die verwonde man, “die Here het onderneem”.

Maar die predikant het net vinnig gekyk en besef dat hy nooit vir so ‘n siek mens ‘n Bybelstudie kan gee nie, en toe sy kar in tweede rat gesit en vinnig weggetrek.

Buitendien kan hy nie lank versuim nie, want daar wag ‘n ander Bybelstudie oor die 2300 aandes en mores vir hom. Hy is ‘n man wat besig is met groot dinge en hy voel die werk van die Here moet eerste kom.

Die son het ondergegaan en die koue van die Vrystaat het begin byt. Die verwonde man was in ‘n vreeslike toestand. As gevolg van die bloedverlies en die ontbloting het sy lewe aan ‘n draadjie begin hang.
In die verte hoor hy weer iets aankom. Vir ‘n oomblik skep hy moed, maar dan dink hy: As twee predikante agtermekaar nie eers vir my omgegee het nie, wat kan ek van ander mense verwag.

Dis ‘n swartman van Bloemfontein wat aankom. Hy ry die ou Mobiele Ete waentjie. Hy het dit van die kerk gekoop nadat hulle gevoel het om hierdie diens toe te maak, want daar is belangriker werk om te doen.

Die uitlaat stelsel is stukkend, die ligte is geel dof en gooi ‘n flou liggie op die teerpad.

Omdat hy stadig ry, sien hy gelukkig wat die twee vorige bestuurders gesien het. Hy pomp die remme so ‘n paar keer voordat daar iets is, die waentjie swaai skeef en hy stop ‘n paar tree van die man af.

Hy weet as dit hy was wat daar gelê het, die witman verby sou ry. Maar dit maak nie saak nie.

Sy hart is aangeraak en met groot bejammering laat hy die man agter in die van lê. Ses ander passasiers moes uitklim om plek te maak.

So vinnig en versigtig as moontlik jaag hy na Thaba Nchu. Omdat daar nie ‘n blanke hospitaal is nie, ry hy na die hotel toe. Hy klop by die agterdeur en toe die eienaar die deur oopmaak, vertel hy sy storie.

Die man vra hom: “Wie dink jy gaan betaal?”

“Auk my baas, hierdie man hy sal doodgaan. Ek, ek sal pataal.” En hy haal die R200,00 uit wat hy vir sy ma op Tweespruit wou neem.

DENKBEELDIG

Wat ek vertel het, is net denkbeeldig. Dis nie noodwendig dat die predikante verby sou ry nie, maar dit is min of meer hoe Jesus dit vandag sou vertel.

DIE LESSE

Wat is dit wat Jesus met hierdie gelykenis vir u en my wil vertel? Daar is baie dinge, maar kom ons oordink net ‘n paar.

Eerstens wil Hy vir my leer dat dit in die eerste plek nie soseer gaan oor dit wat ek glo nie, alhoewel dit baie belangriker is, maar dat dit eintlik gaan oor my verhouding teenoor mense wat verwond langs die lewenspad lê.

Hy wil leer dat Godsdiens uitdrukking vind in die liefdesdiens wat ek aan behoeftiges, onwaardiges bewys.

DINGE EN MENSE

Hy wil die waarheid tuisbring dat mense belangriker as dinge is.

IDENTIFISERING

Kom ons identifiseer die karakters in die Gelykenis.

VERWONDE MAN

Dit is die mensdom wat deur die duiwel aangerand en beroof is. Die mensdom lê langs die pad van die lewe en het hulp dringend nodig.

Die verwonde man is elke mens wat my hulp nodig het, of hy nou dit waardig is al dan nie.

LEVIET EN PRIESTER

Dit is die mens wat godsdiens bely en nie beoefen nie. Dit is die mens waarvan 1 Korintiërs 13:1,2 praat.

SAMARITAAN

“Toe ons verwond en sterwende was, het Hy Hom oor ons ontferm. Hy het nie anderkant verbygegaan en ons hulpeloos en hopeloos laat sterf nie. Hy het nie in Sy heilige en gelukkige tuiste gebly waar Hy deur die ganse hemelse skare bemin is nie. Hy het ons skreiende behoefte aanskou; Hy het ons saak op Hom geneem, en Sy belange met die van die mensdom vereenselwig.” GC 353

Jesus is die Barmhartige Samaritaan wat by die verwonde man kom stilstaan het. Wat hom verbind het, wat hom na veiligheid en genesing geneem het.

In Joh 8:48 noem die Jode Hom ‘n Samaritaan. In hierdie gelykenis wil Jesus vir ons die voorbeeld stel.

MY REAKSIE

Wat is my reaksie teenoor die man wat langs die pad lê? Daardie mens wat in groot nood en benoudheid verkeer – hetsy fisies of geestelik?

Gaan ek soos die priester en die Leviet “anderkant verby”? Of kan ek sê dat ek soos die barmhartige Samaritaan reageer nl. om “innig jammer te voel”?

Steek ek vas as ek by iemand met leed kom, of gaan ek anderkant verby. Of, wanneer ek iemand teëkom wat diep verwond is, vra ek eerstens of hy dit op homself gebring het voordat ek gaan help?

VERDIENSTELIKHEID OF ONVERDIENSTELIKHEID

Jy weet, daar is by ons as mens ‘n baie subtiele, selfsugtige motief wanneer dit by hulp aan ander mense kom.

ILLUSTRASIE

Net om jou ‘n idee te gee. By ‘n sekere huis waar ek die mense bearbei het, het ek agtergekom dat daar groot behoefte was. Ek het “innig jammer” gevoel. Ek bespreek dit toe met my vrou en sê vir haar dat hierdie gesin ‘n stoof en ‘n yskas nodig het.

En toe sê sy vir my iets waaraan ek nog nie gedink het nie. “Se nou hierdie huisgesin neem nie die Here aan nie?”

Ja, sê nou hulle reageer nie op my bearbeiding nie.

Ons het die saak net daar gelos, maar die Here het nie. Die volgende oggend het my vrou na my gekom en gesê dit maak nie saak nie.

En wat ‘n vreugde om goed te wees sonder enige subtiele bymotiewe. Om net te help omdat daar ‘n behoefte is en omdat ons nie anders kan nie.

JESUS

Toe Jesus besluit het om ons te kom help, ons wat deur ons eie toedoen in die moeilikheid beland het, het Hy nie gevra of ons dit werd is nie, of ons dit sal waardeer nie. Hy het nie gesê dat Hy sal kom sterf mits die mens Hom aanneem nie. Nee, Hy het gekom sonder voorwaardes. Hy het gekom omdat ons Hom vreeslik nodig gehad het.

Vers 7 “Is dit nie dat jy jou brood breek vir hom wat honger het, en ellendiges, swerwelinge in die huis inbring nie? As jy iemand sien wat naak is, dat jy hom klee, en jou vir jou eie vlees nie verberg nie”

Die teks sê nie vir ons of hy of sy dit op hulleself gebring het nie. Daar is ‘n behoefte en ons moet help.

ONS BEHOEFTE

Weet jy wat is my grootste behoefte? ‘n Hart wat innig jammer voel. Die Griekse woord wat gebruik word beteken dat iets in my moet roer.

“’n Hart wat sag en teder is – maak dit, o heer U troon.”

HOE

Hoe kan ek maak dat ek “innig jammer” vir die verwonde mens langs die pad voel?

Matteus 25:35-40 Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom.37 Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee? 38 En wanneer het ons U ’n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee? 39 En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom? 40 En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.

Sien in die behoeftige, die verwonde, die lydende vir Jesus. Honger gehad? Het Jesus honger gehad? Ja. Donderdagaand eet Hy Sy laaste stukkie kos, en toe Hy sterf, sterf Hy ‘n honger man.

Dors? Aan die kruis roep Hy uit, “Ek het dors”. Naak? Ja, Hy sterf aan die kruis, naak.

Siek? Jes. 53:4 “Nogtans het Hy ons krankhede op Hom geneem, en ons smarte, die het Hy gedra.”

Vreemdeling? Joh. 1:11 “Hy het na Sy eiendom gekom en Sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.”

Gevangenis? Nadat Kajafas hom ondervra, bespot en geslaan het, het Hy Jesus in ‘n sel geplaas.

En nou kom Jesus en Hy vereenselwig Homself met die behoeftes van die ellendige mensdom. En Hy vra my om, wanneer ‘n verflenterde bedelaar voor my staan, Hom te sien.

DIE VERWONDES LANGS DIE PAD

Wanneer ons die nuwe week begin, sal ons verwondes langs die pad sien lê.

Hulle lê in die hospitaal. Ek was by ‘n jong moeder van kinders wat die sesde een verwag. Sy het beroerte gehad en haar spraak is belemmer. Die middag toe ek haar besoek het, het sy bitterlik gehuil want haar man is die selfde oggend oorlede.

Die mense langs die pad is in die inrigtingswaar daar min besoekers kom.

Hulle sit in die park met ‘n bondeltjie in die een hand en ‘n bottel in die ander. Hulle het stokkiesbaard en brandewynasems. Hulle lê daar langs die pad en die mense gaan “anderkant verby”

Die verwondes sit op die harde bruin banke van die hof, die hooggeregshof en die appèlhof en die mense stap “anderkant verby”

Die verwondes sit in kamertjies en ouetehuise en die mense stap anderkant verby. Is dit moontlik dat daar verwondes in ons kerk sit en ons gaan anderkant verby?

Ja, is dit miskien moontlik dat daar verwondes in my eie huis is, en dat ek anderkant verbygaan?

SLOT

Lukas 10:31-33 En Jesus antwoord en sê: ’n Sekere man het afgegaan van Jerusalem na Jérigo en onder rowers verval, en nadat hulle hom uitgetrek en geslaan het, gaan hulle weg en laat hom half dood lê.
31 En bygeval het ’n priester met daardie pad afgekom, en toe hy hom sien, gaan hy anderkant verby.
32 En net so het ook ’n Leviet by dié plek gekom en hom gesien en anderkant verbygegaan.
33 Maar ’n sekere Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom; en toe hy hom sien, het hy innig jammer gevoel,
34 en na hom gegaan, sy wonde verbind en olie en wyn daarop gegooi. Hy het hom toe op sy eie pakdier gehelp en hom na ’n herberg geneem en vir hom gesorg.
35 En toe hy die volgende môre weggaan, haal hy twee pennings uit en gee dit aan die eienaar van die herberg en sê vir hom: Sorg vir hom, en enige onkoste wat jy nog meer mag hê, sal ek jou betaal as ek terugkom.

Gebed. Hemelse Vader, in ons reis deur hierdie nuwe week, bid ons dat U vir ons ‘n hart sal gee wat innig jammer sal voel. Dat U ons sal help om die olie en die wyn van tere hulp aan hierdie mense te verleen. Wil U ons help om hierdie verwondes op die pakdier van ons onselfsugtige hulp te laai en hulle na die herberg van ons teerste liefde sal neem. In Jesus Naam, Amen.

Was this article helpful?

Related Articles