1. Home
  2. Jesus
  3. Gelykenisse Van Christus
  4. Gelykenisse Van Christus 3 – Die Huis Wat Op Die Rots Gebou Is

Gelykenisse Van Christus 3 – Die Huis Wat Op Die Rots Gebou Is

DIE HUIS WAT OP DIE ROTS GEBOU IS

Matteus 7:24-29; Lukas 6: 46-49

Jesus het aan die einde van Sy mooiste preek gekom wat Hy nog ooit gepreek het. Ons noem hierdie preek die “Bergpredikasie” Dit sal goed wees om dit weer ‘n keer in Matt. 5,6 en 7 te lees. Dit behandel die hele spektrum van menslike gedrag. Dit vertel ons wat die Here van ons verwag mbt ons verhouding tot Hom en mbt ons verhouding teenoor ons medemens.

Terwyl Jesus se pragtige preek nog in hulle geheue was, het Hy Sy boodskap deur ‘n kort gelykenis afgesluit. Kom ons lees dit een keer deur en dan ontleed ons elke gedagte versigtig.

Matteus 7:24-28 “Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots. En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met ‘n dwaas wat sy huis op sand gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes.”

Die evangelie van Lukas praat as gevolg van hierdie gelykenis:

Lukas 6:46-49 “Watter sin het dit dat julle My aanspreek met Here, Here, en nie doen wat Ek sê nie? Elkeen wat na My toe kom en na my woorde luister en doen wat Ek sê, – Ek sal vir julle verduidelik soos wie hy is: Hy is soos ‘n man wat by die bou van sy huis die grond diep uitgegrawe en die fondament op die rotsbodem gelê het. Toe daar ‘n oorstroming kom en die vloedwater die huis tref, kon dit hom nie beweeg nie, want die huis was goed gebou. Maar as iemand luister en nie doen wat Ek sê nie, is hy soos ‘n man wat sy huis bo-op die grond gebou het sonder ‘n fondament. Toe die vloedwater dit tref, het dit dadelik ingestort, en daardie huis het een groot puinhoop geword.”

ERNSTIG

Ek wonder of ons ooit sal besef hoe ernstig hierdie woorde regtig is? Die aanneming of verwerping van Jesus se woorde kan of die ewige lewe of die ewige dood beteken.

Dit is die Woord van die Here wat ‘n heelal tot stand laat kom het. Daar is onbeskryflike fisiese krag in Sy Woord. Maar terselfdertyd is daar groot geestelike krag in Sy Woord.

Jesaja 40:8 sê: “Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.”

Daar is sekere verkeerde dinge waaraan mense vasklem, maar wat baie spoedig sal verbygaan. Ongelukkig sal ons saam met hierdie dinge vergaan waaraan ons vasklem. Maar wanneer ek die Woord van God vasklem, wanneer dit deel van my lewe word, kan ek verseker wees dat ek aan iets vasklem wat nooit ten einde sal kom nie.

Psalm 119:11 “Ek het U Woord in my hart gebêre dat Ek teen U nie sal sondig nie.”

Jeremia roep uit: “Toe U woorde gevind is, het ek hulle opgeëet, en U Woord was vir my vreugde en vrolikheid vir my hart.” Jeremia 15:16

Kom ons lees wat Jesus in die gelykenis van die twee huise, aangaande Sy Woord geleer het:

“Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het.” Matteus 7:24.

Jesus vergelyk elke mens, goed of sleg, met ‘n huis wat gebou word. Ek en ek bou ‘n huis, of andersom gestel, ons bou ‘n karakter. Ek kry net een kans en dis die lewe wat ek nou leef. Ek bou net een keer. Of my huis, my karakter gaan staan, of my huis, my karakter sal val en wegspoel.

En die gelykenis wat Jesus 2000 jaar gelede langs die see van Galilea geleer het, spreek vandag nog tot elke hart. My karakterhuis gaan staan of hy gaan val. Dit hang af van hoe ek teenoor Jesus se Woorde reageer.

HOOR EN HANDEL

Daar is twee werkwoorde in vers 24: hoor en handel.
Daar is een iets wat die Here nie vir my gaan doen nie, en dis om vir my te besluit nie. Wanneer ek Sy Woord hoor en Hy klaar gepraat het, rus die onus op my of ek wil luister en of ek nie wil luister nie.

Wanneer ek luister, noem Jesus my ‘n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het. Vroeër in die bergpredikasie het Jesus die volgende gesê:

5:19 Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel. Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die hemel.

GEHOORSAME KINDERS

Wanneer ‘n kind klein is, dink hy sy pa en ma is die wonderlikste twee mense op aarde. Die kind is nog te klein om die karaktergebreke raak te sien. Maar wanneer die kind ouer word en hier by 16, 17, 18 jaar kom, dan dink hulle so ‘n bietjie anders oor pa en ma. Die slim pa en ma word nou ‘n bietjie dommer. En somtyds kan die kinders nie verstaan waarom hulle sulke dom ouers het nie.

Maar namate ons ouer word, besef ons dat pa en ma tog nie so dom was nie. As daar een iets is wat ‘n ouer se hart baie bly maak, dan is dit ‘n gehoorsame kind.

Ek moes onlangs met my kind oor iets praat. Ek het vir haar gewys wat reg is en wat verkeerd is. Sy het my nie geantwoord nie en ek het bly bid en die Here het my gebed beantwoord. My kind het besluit om te doen wat reg was. Ek kan jou nie verduidelik watter groot vreugde dit in my hart gebring het nie.

Het jy geweet dat jy vreugde vir Jesus bring wanneer jy gehoorsaam is?

In Matteus 7:21 sê Jesus: “Nie elkeen wat vir My sê: “Here, Here sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van My Vader wat in die hemel is.”

GEHOORSAAMHEID

Godsdiens bestaan daarin dat ons Jesus se woorde gehoorsaam. Ons probeer nie om God se guns daardeur te verdien nie, maar omdat ons Sy groot geskenk van liefde onverdiend ontvang het.

Die groot beginsels van die wet verklaar die karakter, die geaardheid van God. Die bergpredikasie van Jesus was juis daarop gemik om die skoonheid van die wet te verduidelik. Enigeen wat sy lewe op hierdie woorde bou, bou op die Rots der Eeue. Wanneer ons hierdie woorde aanneem, neem ons Jesus self aan.

BOU OP DIE ROTS

Dis ‘n pragtige beeld wat Jesus gebruik. Die mens wat hoor en doen, maw gehoorsaam is aan die gebooie van die Here, is soos ‘n man wat sy huis op die Rots gebou het.

Daardie huis word deel van die rots. Die huis word in die Rots ingebou. Is dit maklik vir die bouer om sy fondasies so te lê? Nee. Lukas 6:48 sê die grond is DIEP uitgegrawe en toe is die fondament op die rotsbodem gelê.

Gehoorsaamheid vra opoffering. Die man wat sy huis op die rots gebou het, het gesweet. Sy rug wou breek, maar hy het geweet dat as hy op die rots bou, sal sy huis nooit intuimel nie. Gehoorsaamheid vra inspanning, deurset- tingsermoë, maar liefdesgehoorsaamheid kom by die Rots Jesus uit.

Gehoorsaamheid is die bewys dat ek Jesus eerste stel en my eie begeertes laaste. Gehoorsaamheid is die bewys dat ek sê: Nie my wil nie, maar laat U wil geskied.

Gehoorsaamheid is die bewys dat ek in die Rots belangstel. Daar is niks wat ‘n karakter so ontwikkel soos gehoorsaamheid nie.

Hebreërs 5:8 sê: “Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het.”

Omdat gehoorsaamheid my gevalle natuur laat ly, is ek nie altyd gewillig om die pyn van gehoorsaamheid te verduur nie. Maar hier is Jesus my voorbeeld. Die lyding wat gehoorsaamheid Hom veroorsaak het, was tot die dood toe. Gehoorsaamheid het nie goedkoper geword nie. Dit gaan vandag nog met lyding gepaard. En dit is daarom wat die gehoorsame mens beter met die Rots Jesus kan identifiseer as die ongehoorsame mens.

GEVOLG VAN BOU OP DIE ROTS

Kom ons kyk na die gevolge van die huis wat op die rots gebou is. Matteus 7:25:

“Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots.”

As daar een iets is wat baie skielik kom, dan is dit ‘n storm. En nie net in die natuur nie. Het jy al agtergekom hoe vinnig ‘n storm in jou eie binneste kan ontstaan?

Daar is een iets wat ons nooit sal kan ontvlug nie, en dit is die lewensstorms. Elke mens word geteister. Die gedreun van mense wat teen ons opstaan, laat die mure van ons hartkamers bewe.

Die vloedwaters van misverstande en teleurstellings en moeilikhede spoel sonder een minuut se waarskuwing teen die mens aan.

En wanneer hierdie vloedwaters jou teister is daar ‘n aanhoudende gedreun, en jy wonder wanneer die vloed jou gaan meesleur. Die teks sê die winde het teen die huis gewaai en daaraan geruk.

Die orkaan van teëspoed waai met al sy woede teen jou en jy voel hoe ruk hy jou. En jy wonder wanneer jy saam met die storm gaan wegwaai.

NET DIE ROTS

Daar is net een iets wat verhoed het dat die huis in die gelykenis nie weggewaai en weggespoel het nie, en dit is die feit dat hy op die rots gebou was.

Daar is net een iets wat gaan verhoed dat ons weggewaai gaan word deur die storms, en dit is die Rots Jesus Christus. Hoe diep is jou en my se fondasie in die rots ingegrawe? Hoe vas het ons gehoorsaamheid ons aan Jesus vasgemessel?

KRAPPE

As jy weer by die see kom, soek gerus ‘n krap op tussen die rotse. Dit is baie interessant om te sien hoe hulle met hulle grillerige pote en uitpeul oë op die rotse rondstap. Maar het jy gesien wat doen hulle wanneer ‘n brander oor die rots spoel? Hulle val plat en hulle klou aan daardie rots met alles wat hulle het. En dan wanneer die brander terugtrek, staan hulle weer ewe trots op die rots en hulle oë bekyk die wêreld met groot tevredenheid.

Die krappe laat my aan onsself dink. In baie opsigte is ons dieselfde.
Ons loop ook maar party keer skeef soos die krap. Ook in ons lewens kom die groot branders van krisisse wat oor ons koppe gaan. Wanneer dit gebeur is daar net een iets wat ons kan doen, en dit is om aan die Rots Jesus vas te klem. Hoe sterker die branders wat oor ons spoel, hoe vaster moet ons aan die Rots vasklem.

DIE DWAAS

Kom ons kyk nou na die beskrywing van die dwaas.

Matteus 7:26 En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met ‘n dwaas wat sy huis op sand gebou het.”

Die enigste verskil tussen die twee huise is die fondasie. Wanneer ek wier om die woorde van Jesus te gehoorsaam, sal ek nooit by die Rots uitkom nie. ‘n Ongehoorsame mens, sê Jesus, is soos iemand wat sy huis op sand gebou het.

Wanneer dit nie reën nie, lyk die grond nogal betroubaar en stewig om op te bou. Maar wanneer die vloedwaters kom, spoel die grond weg en alles wat daarop gebou is.

DIE TONEEL

Kom ons neem ‘n verbeeldingsvlug na waar Jesus teen die hange van die heuwels van die See van Galilea gesit en leer het. Baie van Sy toehoorders is in daardie omgewing gebore en hulle het presies geweet waarvan Hy praat. Terwyl Hy van die huis praat wat op die sand gebou is, het hulle hierdie soort huise gesien. Dit is mense wat naby die see wou wees.

Hulle wou nie lang ente stap om daar te kom nie. Die plekke waar hulle gebou het, het veilig gelyk. Dit was nie in die rivierbedding nie, dit was ‘n hele ent daarvan weg. Maar dan gebeur dit wanneer die winterreën begin val dat daar storms losbars en die klein spruitjies in magtige riviere verander.

En wanneer die stormwater oor die walle spoel, gryp hulle die huise wat op die sand gebou was, en neem hulle saam see toe. En terwyl Jesus hieroor praat het Sy toehoorders aan baie gevalle gedink war dit gebeur het.

INSIDENT

Dit was my voorreg gewees om Israel in die tyd van die laat reën te kon besoek. Ek het rondom die See van Galilea gery en gekyk hoe magtige riviere teen die heuwels afstorm. In die droë somermaande is daar geen waterstroompies nie en dis byna onmoontlik om te glo dit is dieselfde plek wanneer die laat reën begin val.

Op ‘n keer het ek aan die noordekant van die See van Galilea uit die kar geklim en op die brug gaan staan om te kyk hoe die bruin waters hier onder my verby spoel. Die hele brug het gebewe.

En terwyl ek daar gestaan het, het ek aan Jesus se gelykenis gedink van die huis wat op die sand gebou was. Maar ek het ook aan die dag gedink wanneer die laat reën van die Heilige Gees uitgestort gaan word. As my lewe nie in algehele gehoorsaamheid aan Hom oorgegee is nie, sal ek weggespoel word.

Tussen die rollende, bruisende bruin waters het ek gesien hoe daar stukke hout en ander items afgespoel gekom het. Dit was nie op vaste fundasies was nie, het weggespoel.

HUIS OP DIE ROTS

Terwyl Jesus gepreek het, het Hy die mense se aandag op ‘n huis gevestig wat hoër op teen die heuwels gebou was. Die omgewing het nie so aantreklik gelyk as die pragtige gras bedekte vallei naby die see nie. Die huis was ook ‘n bietjie ongerieflik ver van alles. Maar die belangrikste van alles was dat hierdie huis op die rots gebou was. Deur die jare van wind en storm het hy gestaan.

HUIS OP DIE SAND

Matteus 7:27 “Die stortreën het geval, vloedwater het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes.”

‘n Man en vrou met hulle drie kinders word een nag skielik wakker. Hulle hoor ‘n geweldige gedreun. Die volgende oomblik spoel die water oor die vloer. Die kinders gil en hardloop na pa en ma toe. Die water stoot hoër en hoër. Skielik stort die huis inmekaar. Groot massas water sleur die huis en sy mense die donker nag in. Vir oulaas kan ‘n moeder se gille bokant die gedreun van vloedwaters gehoor word:
“My kinders, my kinders. O God, red my kinders.” En toe raak haar stem in die gegrom van die waters weg.

Die huis was nie reg gebou nie. Die huis was op sand gebou. Die huis kon die toets van die stormwater nie weerstaan nie. Die huis het geval en sy val was groot.

GESKIEDENIS VAN ISRAELIETE

Wanneer ‘n mens die geskiedenis van die kinders van Israel lees, merk jy dat wanneer hulle aan die Here gehoorsaam was, hulle voorspoedig was. Maar wanneer hulle ongehoorsaam was, het hulle in die diepste ellendes verval.

Ons weet dat ons nie die hemel met ons gehoorsaamheid kan verdien nie. Ek glo nie daar is iemand wat probleme daaroor het nie. Gehoorsaamheid is die bewys dat ek my lewe onvoorwaardelik aan Jesus oorgegee het. En as u vanoggend ‘n probleem met gehoorsaamheid het, kan dit wees dat u ook ‘n probleem met oorgawe het.

Is die gehoorsaamheid wat die Here van my verwag te veel gevra? Kom ons lees wat sê Deuteronomuim. 30:11-19

Die gebod wat ek jou vandag beveel, is nie te moeilik vir jou nie. Dit is ook nie buite jou bereik nie. Dit is nie in die hemel nie, sodat jy nie hoef te sê: “Wie sal vir ons opklim hemel toe om die gebod vir ons te gaan haal en ons dit mee te deel sodat ons daarvolgens kan lewe nie.

Dit is ook nie oorkant die see nie, sodat jy nie hoef te sê: “Wie sal vir ons oorvaar na die oorkant toe om die gebod vir ons te gaan haal en ons dit mee te deel sodat ons daarvolgens kan lewe nie. Die gebod is baie naby aan jou, jy kan daaroor praat, jy ken dit, jy kan daarvolgens lewe.

Ek het vandag die lewe en die voorspoed, die dood en die teëspoed aan jou voorgehou. As jy die Here jou God liefhet en Sy wil doen deur Sy gebooie, Sy voorskrifte en Sy bepalings wat ek jou vandag gegee het, te gehoorsaam, sal jy lewe en baie word en sal die Here jou God jou voorspoedig maak in die land wat jy in besit gaan neem.

Maar ek verkondig vandag aan julle: As jy van die Here af wegdraai en Hom nie gehoorsaam nie en as jy jou laat verlei om ander gode te vereer en te dien, sal julle almal omkom; julle sal nie lank bly woon in die land wat jy in besit gaan neem sodra jy deur die Jordaan getrek het nie.

 

Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe.”

Watter pragtige oproep! Watter diepe patos. Hy pleit met ons om Hom te gehoorsaam. As daar vanoggend ongehoorsaamheid in u hart is, wil u nie daarmee breek nie. Ongehoorsaamheid is soos ‘n man wat sy huis op die sand gebou het.

Los die sand, kry die Rots in die hande. Gehoorsaamheid is baie moeiliker as ongehoorsaamheid. Maar gehoorsaamheid bring jou by die Rots Jesus uit.

Was this article helpful?

Related Articles