1. Home
  2. Jesus
  3. Gelykenisse Van Christus
  4. Gelykenisse Van Christus 4 – Die Pêrel

Gelykenisse Van Christus 4 – Die Pêrel

DIE PêREL

Matteus 13:35-46

‘n Koninkryk moet ‘n koning hê, en daar moet ‘n gebied wees waaroor hy moet regeer. Jesus, is die Koning van hierdie koninkryk van genade en die hart van die mens is die gebied waaroor Hy wil heers.

Om Jesus as die Koning van my lewe te laat heers, beteken absolute gehoorsaamheid van my kant.

In die gelykenis het die man wat die verborge skat ontdek het, alles verkoop, die land gekoop en toe kon hy die skat sy eie maak.

Voordat Koning Jesus die Regeerder van my lewe word, moet ek gewillig wees om alles te verkoop, om afstand te doen van alles wat ‘n skeiding tussen my en Hom maak.

ALLES is ‘n groot begrip, maar Hy sal met niks minders as ALLES tevrede wees nie. Vandag gaan ons na die boodskap van die pêrel kyk. Dit is ‘n verdere verduideliking van die mooi boodskap van die koninkryk.

Vers 45 Verder is die koninkryk van die hemele soos ’n koopman wat mooi pêrels soek;

Hier is ‘n man wat ontevrede is. Dis een van die mooi eienskappe van ‘n Christen. Hy moet nooit tevrede wees met sy geestelike prestasies nie. ‘n Mens moet altyd na ‘n nog intiemer verhouding met die Here verlang.

Die ontevrede man soek na ‘n mooi pêrel. Hy is eintlik ‘n groothandelaar, die Grieks is emporos. Hy is glad nie ‘n arm man nie. Sy spesialiteit is pêrels. Hy koop hulle en dan verkoop hy hulle weer.

Verskil tussen koopman en boer

Die man wat die land omgeploeg het, was nie op soek na ‘n verborge skat nie. Hy was besig om sy werk deeglik te doen en het toe toevallig op die verborge skat afgekom.

Daar is mense wat die Skrif getrou deursoek en dan onverwags op die groot ontdekking van Jesus afkom.

Dit is wat met sommige van ons gebeur het. Terwyl ons die Bybel bestudeer het, het ons skielik op ‘n dag die groot ontdekking gemaak dat ons Jesus ontdek het.

(Iemand het hierdie week vir my gesê dat sy nuwe doel in die lewe ontdek het.)

Hierdie eerste man moes ALLES gaan verkoop voordat hy die verborge skat kon besit. Die groothandelaar wat in pêrels handel, was soekende. Daar was ‘n ontevredenheid in sy lewe. Hy wou iets beter hê en hy het aangehou om daarna te soek.

So is daar vele mense wat soekende is. Hulle is nie tevrede met die kennis wat hulle aangaande die Bybel het nie. Hulle is nie tevrede met die soort lewe wat hulle lei nie, hulle soek na iets beters.

Daar is baie sulke mense. Hierdie gelykenis vertel vir ons dat hierdie soekende klas, nie teleurgestel sal raak nie.

DIE PêREL

Waarom sou u sê, het Jesus ‘n pêrel in hierdie gelykenis gebruik? Wat presies is ‘n pêrel. Dit is ‘n pragtige, kalkagtige perlemoen verstening wat binne-in die skuld van ‘n oester gevorm word.

Wanneer daar ‘n sandkorreltjie tussen die skulp en die sagte vleis van die oester kom, veroorsaak dit pyn en irritasie. Die pêrel-oester vind dit onmoontlik om hierdie indringer uit te werp en begin dan om die sandkorreltjie met ‘n perlemoenagtige afskeiding te verf.

Lagie vir lagie smeer die oester hierdie perlemoen stof oor die sandkorreltjie.

LES

Wat ‘n pragtige les. Die oester verander die ding wat sy lewe omkrap in ‘n pragtige edelgesteente. Laat ons ook die onaangenaamhede van die lewe toemaak met ‘n mooi gesindheid van perlemoen.

Wat is die eindresultaat van die oester en die sandkorreltjie? ‘n Pragtige pêrel. Die pêrel lyk baie soos die binne-kant van ‘n ui – laag vir laag.

KLEURE

‘n Mens vind pêrels in rooskleur, roomkleure, wit, groen en ligpers.

Die wêreld se mooiste roos – en roomkleurige pêrels kom van die Persiese golf en staan as Pinctada vulgaris bekend.

Die verskil tussen die pêrel en ‘n ander edelgesteente lê hierin: die pêrel is gebore uit pyn; hy is die produk van ‘n lewende organisme; en ten einde die pêrel in die hande te kry, moet die oester die lewe gee.,

Die oester sterf en die pêrel leef voort.

JESUS DIE PêREL

Die pêrel in hierdie gelykenis, is Jesus. Soos die edelgesteente uit pyn gebore is, so is Jesus die kosbare pêrel ook uit pyn gebore.

Hebreërs 5:8 “Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het.”

Het jy geweet dit veroorsaak pyn om gehoorsaam te wees. Dit is die pyn van gehoorsaamheid wat ons mooi soos pêrels maak. Omdat Jesus in elke opsig gehoorsaam was, moes Hy pyn verduur, maar dit was hierdie pyn wat Hom so mooi gemaak het.

Daar is ‘n rede waarom Jesus die pêrel in hierdie gelykenis gebruik. Die pêrelsoekers moet die oester doodmaak voordat hulle die kosbare pêrel in die hande kan kry.

Voordat Jesus die pêrel van Sy volmaakte lewe aan ons kon gee, moes Hy sterf. Die oomblik toe Hy aan die kruis sterf en sê dit is volbring, het Hy die pêrel van Sy volmaakte karakter vervolmaak en aan elkeen wat daarna soek, aangebied.

Verse 45,46 Verder is die koninkryk van die hemele soos ’n koopman wat mooi pêrels soek;46 en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit.

VERHAAL

Op ‘n dag het hierdie skatryk, soekende, ongelukkige groothandelaar se asem amper weggeslaan. Hy was weer op soek na mooi pêrels, toe hy op hierdie besondere een afkom. Hy het die ander handelaar gevra of hy die pêrel net vir ‘n oomblik in sy hand kon vashou.

Toe het hy die pêrel teen die sonlig gehou het, het hy die pragtigste weerkaatsing van die mooiste kleure van die reënboog gesien. Nog nooit het die pêrel geglinster soos hierdie een nie.

Hy kon sy oë nie van hierdie pêrel afhou nie. Dit is net die pêrel waarna hy vir so lank al gesoek het. Nou het hy gevind wat hy gesoek het.

OOREENKOMS

Net soos die man wat die skat in die saailand gevind het, kon hierdie koopman dit nie dadelik as sy eie besit nie. Albei hierdie mense moes ‘n prys betaal – die prys was in elke geval die bedrag van ALLES.

VOORWAARDES

Net soos daar voorwaardes in die alledaagse lewe is voordat mens iets kan bekom, so is daar ook voorwaardes by die hemelse ware. Ons verdien nie die saligheid met die nakoming van die voorwaardes nie, dit is net om ons gesindheid te toets.

VERLANGE

Die Skepper het in elkeen van ons die verlange geplaas om te besit. ‘n Mens wil graag iets hê wat jy kan sê dit is jou eie. Toe die groothandelaar hierdie pêrel sien, het hy die verlange gehad om dit te besit.

Ongelukkig het die mens as gevolg van die sondeval die neiging ontwikkel om die verkeerde dinge te wil besit. Maar die verlange om iets te besit, om iets jou eie te maak, veral die mooi dinge van die lewe, is ‘n edel karaktertrek wat die Skepper in die mens geplaas het.

VRUGDE

Die gevoel is aangenaam wanneer mens na 24 of 30 maande jou motor afbetaal het en jy dit jou eie kan noem. Dis lekker om met ander mense se kinders te speel, maar hoe heerlik die dag wanneer jy jou eie kind besit.

Dis gaaf om ‘n nooi te hê, maar dis saliger om haar as jou eie vrou te besit. Dit was vir my lekker om met my pa se kar rond te ry, maar wat ‘n heerlike gevoel toe ek my eerste kar vir £36 gekoop het. Al was hy seker die oudste en lelikste op die pad, hy was myne en dit het die groot verskil gemaak.

DIE KOOPMAN

En terwyl die groothandelaar na hierdie pêrel kyk, en dit in ekstase bewonder, kom daar ‘n onweerstaanbare drang by hom op om die pêrel te besit, dit sy eie te maak – ongeag die prys.

“Meneer, hoeveel kos hierdie pêrel?”

Wel die bedrag wat hy gehoor het, was verskriklik hoog. So hoog dat hy net nie soveel geld aan hom gehad het nie. Gewoonlik kon hy groot somme geld vir pêrels betaal, maar hierdie prys was bokant sy vuurmaakplek.

Hy moes teruggaan huis toe en alles wat hy in die bank en die bougenootskap gehad het, trek. Sy erwe by die see het hy verkoop. Sy orrel, die klavier en die televisie.

Teen hierdie tyd het hy al duisende rande bymekaar gehad.

Maar dit was nie genoeg nie. Hy moes sy besigheid met al die geboue verkoop. Dit het nog duisende rande besorg, maar dit was ook nog nie genoeg nie. Ten einde laaste, het hy alles verkoop wat hy besit het. Hy het niks oorgehad nie, hy het ALLES verkoop.

Einde laaste het hy die koopsom vir die pêrel oorhandig. Daardie pêrel was vir hom ekstra kosbaar omdat hy alles daarvoor betaal het. Die groot drang, die groot begeerte om die pêrel te besit, is BEVREDIG. Toe hy die pêrel in ontvangs neem is sy groot drang om te besit bevredig.

JESUS DIE PêREL

Die baie kosbare pêrel waarna hierdie man gesoek het, is niemand anders as Jesus nie. Die woord vir kosbaar is polutimos, en dit beteken dat daar nie nog iets so kosbaar is nie.

Die woord kom ook in Johannes 12:3 voor waar Maria baie kosbare nardussalf gekoop het. Daar was net nie nog sulke waardevolle salf nie. Dit was die beste, die duurste.

HOE KOSBAAR IS JESUS?

Kolossense 2:9 “In Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik.

Kolossense 2:3 “In Christus is al die skatte van wysheid en kennis verborge”.

Die lewe van Jesus is soos ‘n skoon wit pêrel sonder defek of vlek. En net soos ‘n pêrel die pragtige kleure van die reënboog weerkaats, net so weerkaats die lewe van Jesus al die kleure van die Vader se skoonheid en volmaaktheid.

SOEKE BEVREDIG

Toe die groothandelaar die pêrel sien, het hy besef dat dit presies is wat hy so lank na gesoek het. Die pêrel het die soeke van sy hart bevredig.

JESUS SE BEGEERTE

Jesus se begeerte is dat ons Hom moet besit. Wat‘n gedagte!

WAT BESIT EK WANNER EK JESUS BESIT?

Om Jesus te besit beteken om gekrediteer te word met Sy volle geregtigheid, Sy volmaakte heiligheid, en Sy ewige wysheid. Om Hom te besit, beteken om alles te besit.

HOE BESIT EKJESUS?

Hy word myne wanneer ek gees, siel en liggaam onvoorwaardelik aan Hom oorgee. Ons moet ons aan Christus oorgee om ‘n lewe van gewillige gehoorsaamheid aan al Sy gebooie te lei.

BEHOEFTE OM BESIT TE WORD

Die mens het nie alleen ‘n behoefte om iets te besit nie, jy wil ook besit wees. Elke mens wil die wete hê dat hy deur sy land, sykultuur en sy mense besit word. Jy wil met iets identifiseer.

Omdat die mens ‘n geskape wese is, wil hy graag weet dat hy deur iemand groter as hyself besit en waardeer word. ‘n Mens wil die besitlikheid van iemand anders geniet.

ILLUSTRASIE

Die jongste poging tot selfmoord was van ‘n 9 jarige dogtertjie. Sy het nooit die ouerlike versekering gekry dat sy deur hulle besit is nie. En die dag toe hulle vir haar sê dat Jesus haar nie liefhet omdat sy stout was, het sy gebreek.

ONS IS DIE PêREL

In hierdie gelykenis is daar ‘n sekondêre toepassing. Ons is daardie pêrel. Die gelykenis vertel ons dat ons wel deur iemand besit wil wees. Hy was my wil besit is Jesus.

In Jesaja 43:4 lees ons die woorde, “kostelik, hooggeag”

Niks is vir die hemel van groter waarde as ek en jy nie. Die Vader soek ook pêrels en Hy sien in u en my ‘n kostelike pêrel. En wanneer Hy na die mens kyk, sien Hy ‘n waardevolle potensiaal in ons. Hy sien dat die mens soete gemeenskap met Hom kan hou.

Hy sien in die mens ‘n kommunikasie wese met wie Hy kan kommunikeer. En watter groter vreugde is daar as aangename kommunikasie nie? Maar voordat die hemelse koopman ons kan koop, moet Hy betaal. En God besluit om alles te verkoop ten einde hierdie pêrel te koop.

En wat het Hy betaal? Wat het Hy betaal om ons te kon koop?

1 Pet 1:18,19 Omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie,
19 maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ’n lam sonder gebrek en vlekkeloos.

As u wil vasstel hoeveel u werd is, gaan na Golgota. Die prys wat vir ons betaal is, sal ons nooit kan bereken nie.

ILLUSTRASIE

So ‘n rukkie gelede is my kind se mangels uitgehaal. Baie van julle sal weet waarvan ek praat. Toe sy bykom was ons by haar. Half deurmekaar en in vreeslike pyn het sy na my geroep.

“Pappa, pappa!” met ‘n mondjie vol bloed. En in haar betraande ogies het sy my pleitend laat verstaan dat dit vreeslik seer is en dat ek moet help. Sy het my om die nek gevat en vasgehou.

Al wat ek kon doen was maar net om haar vas te druk en haar die versekering te gee dat ek saamvoel. Verder was ek magteloos.

Toe ek later die oggend by die hospitaal wegstap, het my gedagtes na Golgota gegaan.

Die Seun roep uit: “Vader, dis so seer, nie net die brandpyn in My hande en voete nie. Nie alleen die katshoue op my rug en die dorings wat in my hoof brand nie. Maar Vader, My hart wil skeur. Die sondes van die mensdom wat Ek dra, pers die lewe uit My uit.

Vader, kan U my nie help nie? Maar pleks van simpatie, stort die Vader Sy toorn op die Seun uit. Daar is niemand om te help nie. En in Sy groot en vreeslike eensaamheid roep Hy uit, “My God, My God, waarom het U My verlaat.”

Net soos my ou sondige hart gebrand het om iets vir my kind te doen en ek wel iets vir haar kon gedoen het, net so het die Vader se hart gebrand om iets vir Sy Seun te doen, maar Hy het nie. Hoekom het Hy nie gehelp nie? Die prys wat Hy vir ons moes betaal, het alles gekos, Sy Seun.

Die prys wat Hy vir u en vir my moes betaal, was nie net Sy Seun nie, maar ook die vreeslike lyding wat Sy Seun moes deurmaak. Maar ons is vir Hom so kosbaar dat Hy ALLES vir ons betaal het. Hy wil ons die versekering gee dat ons deur Hom besit word.

Johannes 3:16 Want so lief het God my gehad, dat Hy ons met Sy eniggebore Seun betaal het, sodat elkeen wat in die waarheid van hierdie groot kooptransaksie glo, nooit moet voel dat hy nie besit word nie, maar dat Hy terdeë besit word en ook eendag die ewige lewe sal beërwe.

Matteus 13:45,46 Verse 45,46 Verder is die koninkryk van die hemele soos ’n koopman wat mooi pêrels soek;46 en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit.

Alles is betaal om ons te koop. U en ek sal ALLES moet verkoop, ten volle gehoorsaam moet wees, om die kosbare Pêrel Jesus te besit.

Mag dit u en my ondervinding wees.

Was this article helpful?

Related Articles