1. Home
  2. Jesus
  3. Gelykenisse Van Christus
  4. Gelykenisse Van Christus 6 – Die Verborge Skat

Gelykenisse Van Christus 6 – Die Verborge Skat

DIE VERBORGE SKAT

Skriftuur: Matt 13:44

“Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n skat wat verborge is in die saailand, wat ‘n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand.”

BOODSKAP

Wat is die boodskap van die Bybel? Wat probeer die Heilige Gees vir die leser van die Woord sê?

In kort: Ons is verlore en daar is net een wat red en dit is Jesus Christus ons Verlosser.

Orals in die Bybel word hierdie groot waarheid verkondig. En wat pragtig is, is die feit dat die Bybelskrywers verskillende beelde gebruik om dieselfde boodskap te verkondig. Ons is verlore, maar daar is ‘n manier om gered te word en dit is deur Jesus Christus ons Heiland en Verlosser.

AGTERGROND

Die agtergrond van hierdie gelykenis wat Jesus vertel het, is baie interessant. In daardie dae was daar nie sulke dinge soos banke en bougenootskappe nie. Mense het hulle geld in die grond begrawe. Dit was die veiligste plek. Dit was ook die gebruik wanneer oorlog uitbreek om jou kosbare goud in die grond te begrawe.

Dit het dikwels gebeur dat wanneer oorlog uitbreek en die eienaars van die begrawe goud sterf dat niemand geweet het war dit begrawe is nie.

Die wet het voorsiening gemaak dat wanneer jy op so ‘n skat afkom dit joune word as jy die eienaar van die grond is. En as jy nie die eienaar is nie, kan jy die grond gaan koop en dan die wettige eienaar van die grond en die verborge skat word.

DIE VERHAAL

So het dit dan gebeur dat ‘n man op ‘n keer ‘n stukkie grond gehuur het om te kyk of hy nie ‘n oesie kon maak nie. Die man het baie deeglik en diep geploeg en ek glo hy het elke hoek en kant van hierdie stukkie saailand omgeploeg.

En terwyl die osse met die ploeg heen en weer deur die land beweeg, was daar ‘n skielike ruk aan die ploeg. Dadelik stop hy die osse en stel ondersoek in. Sy hart gaan staan amper toe hy die sooie wegkrap en ‘n kis met ‘n klomp stukke goud daarin sien. Hy kyk rond of niemand hom gesien het nie, en krap alles gou weer toe. Hy maak seker dat hy mooi gesien het waar die plek is, en toe gaan hy weer aan met die ploeg.

Daardie middag na werk, stap hy by die eienaar langs en vra hom wat sy prys vir die grond is. Die eienaar gee hom die bedrag en terwyl hy huistoe stap, maak hy sommetjies. Uiteindelik breek die lig vir hom deur. As hy alles verkoop wat hy het – dit is nou letterlik alles, sal hy in staat wees om die grond te koop.

SY BESITTINGS

Kom ons dink aan hierdie man se besittings. Wat bepaal die waarde van iets? Dis nie net die monetêre waarde nie, daar is ook die sentimentele waarde.

As jy al jou besittings sou moes verkoop, sou dit vir jou maklik gewees het?

WASSKOTTELTJIE

Die man besit nie veel nie want in daardie dae was mense maar betreklik baie arm en hulle het net die nodigste items in ‘n huishouding gehad.

Ek glo daar was ‘n wasskotteltjie wat hy as erfstuk gekry het. Sy pa het dit gebruik en sy oupa het dit gebruik. Terwyl hy daarna kyk, besef hy skielik hoeveel sentimentele waarde dit het.

Dink jy dis maklik vir hom om dit te verkoop? Sal hy nie sy vrome voorgeslagte in die gesig vat nie? Wat gaan die mense daarvan sê as hy dit sou verkoop? Weer moet hy besluit. Dis nie maklik nie. ‘n Mens wil jou voorouers respekteer al leef hulle nie meer nie. En jy wil nie graag hê dat mense van jou moet praat nie.

Maar as hy daardie skat wil hê, moet hy ALLES verkoop, selfs die wasskotteltjie van sy voorouers. Elke aand wanneer hy by die huis gekom het, het hy vir hom so ‘n glasie wyn of twee ingegooi om te ontspan. Dis nou al baie jare dat hy aan hierdie gewoonte verslaaf is. In die kas het hy 12 kleipotte wyn.
Hulle is heelwat werd. In sy berekening het hy hulle ook ingesluit as die alles wat hy sal moet verkoop om die prys vir die saailand te kry.

Weer moet hy kies. As hy daardie skat wil hê, moet hy alles verkoop. En dit is nie so maklik nie. ‘n Gewoonte is ‘n taai iets om te breek. Dit word deel van jou bestaan. Probeer maar om ‘n gewoonte te breek en dan besef jy watter houvas dit op jou het. Maar die man in die gelykenis maak sy besluit. Hy gaan alles verkoop.

SY VROU

Ek wonder hoe sy vrou oor die saak gevoel het. Ek is seker hy moes dit met haar bespreek het. Ek sal nie verbaas wees as hy teenstand ondervind het nie.

Stel jouself in haar plek. Haar man kom met die voorstel dat hulle van alles ontslae moet raak, sodat hy genoeg geld kan kry om ‘n stukkie grond te koop. Dan, eers nadat hulle alles verkoop het, en eers nadat hy die saailand gekoop het, kan hy die skat gaan uithaal en dit verkoop.

Sê nou net iemand anders koop die stukkie grond voor hom? Wat dan? Of sê nou net iemand anders ontdek die skat en gaan steel dit stilletjies een nag?

MURMUREER

Ek sal sy vrou glad nie verkwalik as sy begin kla het nie.

“Pappa, wat van die ongerief wat jy jou gesin gaan veroorsaak?”

“My man, jy is besig om iets anders bokant jou gesin te stel!”

Of sy kon vir hom gesê het dat as hy dit net sou waag om hulle besittings te verkoop, dan vat sy haar kinders en gaan terug na haar ma toe.

BESLUIT

Die man in hierdie gelykenis moes ‘n besluit nee. As hy daardie saailand met die verborge skat wou hê, moes hy alles prysgee, alles verkoop. Hy moes gewillig gewees het om die risiko te loop.

Waardes van ‘n leeftyd sou hy moes prysgee. ‘n Lewenswyse van jare sou skielik verander moes word.

Dis ‘n pragtige verhaal. Die man in die gelykenis moes besluit. Hy het besluit en hy het reg besluit. Nadat hy alles verkoop het, nadat hy die spot van die samelewing geword het; nadat hy sy vrou se dreigemente verduur het, het hy die geld geneem en die saailand gaan koop.

Maar voordat hy daardie geld oorhandig het, moes hy met die sentimentele tradisies van sy voorouers breek. Eers moes hy met sy verkeerde gewoontes breek. Maar wat ‘n heuglike dag toe hy die geld vir die saailand aftel en die nuwe eienaar word. Wat ‘n oomblik toe hy daardie kosbare kis vol silwer en goud uit die grond haal en op daardie oomblik ‘n miljoenêr word.

Skielik verander sy status. Eers was hy brandarm, nou is hy skatryk. Eers het hy geen sekuriteit gehad nie, nou het hy al die sekuriteit in die wêreld.

Eers was dit opoffering en stryd; nou is dit ‘n heerlike kalmte. Eers was dit swaar om die verwyte en publieke opinie te verduur, maar nou maak dit nie meer saak nie. Alles wat hy deurgemaak het, was meer as die moeite werd.

TOEPASSING

Watter lesse wil Jesus, die grootste Leermeester van alle tye vir ons leer?

SAAILAND

Eers moet ons vasstel wat deur die saailand voorgestel word. Die saailand is die Woord van die Here. En die grootste Skat in die Bybel is Jesus Christus. Wanneer ons die ploegskaar van biddende Bybelstudie in die saailand van die Woord steek sal ons sekerlik die groot Skat Jesus Christus daarin ontdek. O, hoe belangrik is dit nie dat ons elke dag in die saailand van die Bybel ploeg nie.

ONTDEKKING NIE EIENAARSKAP NIE

Maar ontdekking is nie eienaarskap nie. Baie mense het Jesus in Bybelstudie ontdek maar Hom nog nooit werklik besit nie. Nadat die man die skat ontdek het, het hy die skat nog nie besit nie. Eers nadat hy alles verkoop het, on ky die saailand koop en die eienaar van die skat geword het.

Wanneer besit ek Jesus? Eers wanneer ek van alles ontslae geraak het wat ‘n skeiding tussen my en Jesus maak. Die prys wat Jesus vra om Hom te besit, bestaan uit vier letters – A L L L E S – alles.

GEEN BEGRIP

Moenie dink die man in die gelykenis se huismense het begrip getoon toe hy van sy wonderlike ontdekking vertel het en sy besittings begin uitverkoop het nie.

Watter begrip sal ons van mense kan verwag wanneer ons Jesus die groot en waardevolle Skat in die Woord ontdek en dan begin om alles wat ons voorheen besit te verkoop. Wanneer ons begin om van ou gevestigde tradisies ontslae te raak?

Kom ons lees wat Jesus gesê het:

Matteus 10:34-37 “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. Want Ek het gekom om tweedrag te verwek tussen ‘n man en sy vader, en tussen ‘n dogter en haar moeder, en ‘n skoondogter en haar skoonmoeder. En ‘n mens se huisgenote sal sy vyande wees. Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie.”

Op ‘n ander plek in Lukas 14:26,27 sê Jesus:

“As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe. Iemand wat sy eie kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie.”

Jesus probeer geensins sê dat ons ons verantwoordelikhede teenoor ons geliefdes moet versaak nie. Hy probeer ook nie sê dat ons hulle sommer goedsmoeds moet afskryf en doen wat ons wil nie. Hy probeer vir ons sê dat wanneer ons ‘n keuse moet maak, moet ons Hom eerste kies.

TEESPOED

Op baie plekke in die Bybel word ons gewaarsku dat wanneer jy dit jou erns maak om Jesus die hele weg te volg; wanneer jy gewillig is om alles te verkoop, alles te versaak, jy baie beslis teëspoed gaan hê. Maar een ding is seker, dit was jy uiteindelik kry, daardie groot skat, gaan die moeite werd wees.

ALLES

Maar onthou net een ding. Die prys wat ek betaal om Jesus te verkry is een woord A L L E S.

GEWOONTES

Die man in die gelykenis moes sekere gewoontes prysgee. As hy nie daardie twaalf kleipotte vol wyn gaan verkoop het nie, sou hy nie genoeg geld gehad het om die saailand te koop nie.

Wanneer ek Jesus ontdek het, sal ek van sekere gewoontes ontslae moet raak. Ek sal alles moet verkoop.

Hebreërs 12:14 “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie.”

Dis nie maklik om ou gewoontes te breek nie, maar dit is moontlik deur die krag wat Hy ons gee. Is dit die moeite werd om ou gevestigde gewoontes prys te gee om die ewige Skat te verkry? ‘n Duisend keer ja.

TRADISIE

Die man in die gelykenis moes van die dinge ontslae raak wat groot sentimentele waarde vir hom gehad het. Dit was nie maklik nie, maar dit was die prys. Hy moes die wasskotteltjie verkoop.

Daar is baie gebruike en tradisies wat deur ons vrome voorouers oorgedra is. Ons het met hulle grootgeword en hulle het tere sentimentele waarde vir ons.

Maar wanneer hierdie dinge tussen my en ‘n volkome oorgawe aan JESUS KOM, MOET EK ‘N BESLUIT MAAK. Dis nie maklik nie, want die prys wat ek moet betaal is alles.

NIKS IS GENOEG

Eers nadat die man in die gelykenis niks meer oorgehad het nie, het hy genoeg gehad.

Eers nadat hy van alles wat hy besit het ontslae geraak het, kon hy die groot Skat besit.

Net so met ons in die geestelike lewe. Dit is eers wanneer ‘n mens alles prysgee, dat jy alles kan besit.

Dis eers wanneer ek my selfsugtigheid, my sondigheid, my aardsheid opgee, dat ek Jesus kan besit.

Ek besit Jesus eers wanneer ek niks meer oor het nie.

UITNODIGING AAN SONDAARS

My enigste kwalifikasie om Jesus die grootste Skat in die heelal te besit, is ‘n absolute niksheid. Hy nooi mense wat niks het nie. Dis al soort mens wat Hy uitnooi.

“O, almal wat dors het, kom na die waters.“ Jes. 55:1

Die uitnodiging is aan mense wat nie water het nie. Hulle het hulle putte met aardse water verlaat en nou kom die uitnodiging om die water van die lewe te kom geniet.

“En wie geen geld het nie, kom koop en eet.” Jes 55:1.

Die uitnodiging is aan mense sonder geld. Aan mense wat van hulle eie geld ontslae geraak het. Dis mense wat vroeër onafhanklik opgetree het, maar nou hulle afhanklikheid van die Here besef.

Geld stel die mens in staat om te doen wat hy wil. En nou gebruik die Here hierdie beeld om ons onafhanklike sondigheid te beskryf. Maar ongelukkig sal ek met my geld van onafhanklikheid nooit die hemelse skatte kan koop nie.

Eers wanneer ek van my eie sondige, selfsugtige wil ontslae raak en hulpeloos aan Jesus se voete neerval, kan ek vir geestelike rykdom kwalifiseer.

Die Here sê: “Kom koop sonder geld! Met ander woorde kom met jou absolute behoefte, kom met jou niks en jy sal alles ontvang.

ALLES VERKOOP

Die man in die gelykenis moes huistoe gaan en alles verkoop. Daar was geen ander uitweg nie.

Wanneer ons Jesus in Sy pragtige Woord ontdek, moet ons huis toe gaan en alles verkoop. Ek moet aanhou verkoop totdat daar niks meer oor is nie. Die huis van my lewe moet leeggemaak word van alles wat lelik is sodat die lieflike Jesus kan inkom.

MOEITE WERD

Was dit vir die man in die gelykenis die moeite werd? ‘n Duisend maal ja. Dink net aan sy vreugde toe hy daardie kis oopmaak en die swaar stukke goud en silwer in sy hande vat. Miljoene der miljoene rande werd.

NIKS KAN MET JESUS VERGELYK WORD NIE

Daar is niks in hierdie lewe wat met Jesus vergelyk kan word nie. Wanneer ek Hom besit, besit ek alles. As ek Hom nie besit nie, besit ek absoluut niks nie.

Wanneer ek Jesus besit, besit ek sekuriteit. Wanneer ek Hom nie besit nie, het ek geen sekuriteit nie.

Wanneer ek Jesus besit, lewe ek; wanneer ek Hom nie besit nie, sterwe ek.

Wanneer ek Jesus besit, is ek gered; as ek Hom nie besit nie, is ek verlore.

VERKOOP?

Is daar iets wat jy moet verkoop? Iets wat vir jou baie dierbaar is? Jy sal vind dat wanneer jy dit verkoop jy Jesus in al Sy heerlikheid sal ondervind. Jy sal vind dat Hy dan waaragtiglik aan jou behoort.

Die mens wat Jesus gevind het, het alles gevind. Niks kan met Hom vergelyk word nie. Hy bevredig elke behoefte van die mens en Sy rykdom onuitputlik.

Was this article helpful?

Related Articles