1. Home
  2. Jesus
  3. Gelykenisse Van Christus
  4. Gelykenisse Van Christus 7 – Die Mosterdsaadjie

Gelykenisse Van Christus 7 – Die Mosterdsaadjie

MOSTERDSAADJIE

Markus 4:30-34

Een van die groot wonderwerke wat elke oomblik van die dag of die nag plaasvind, is die wonderwerk van groei. Dis so tragies dat ons hierdie wonder nie altyd raaksien nie.

‘n Mens neem ‘n paar saadjies en begrawe dit in die grond. En dan na ‘n ruk sien jy hoe hulle hulle groen koppies uitsteek en groei en groei tot ‘n pragtige blom.

‘n Klein mensie met yl hartjies, ‘n rooi, lelike gesiggie word gebore. En elke dag vind die wonderwerk van groei plaas. Die wonderwerk van groei is een van die mees fassinerende verskynsels van die lewe.

Lank terug was daar strepies in my studeerkamer. My dogtertjie het kort kort gekom dat ek moes meer hoe ver sy gegroei het.

DIE LES

Is daar ‘n les wat ons moet leer uit hierdie groot verskynsel in die natuurlike lewe? O ja. Jesus die grootste Leermeester van alle tye, neem hierdie wonder en Hy leer ‘n diep les.

“En Hy het gesê: Waarmee moet ons die koninkryk van God vergelyk, of met watter soort gelykenis moet ons dit voorstel?” Markus 4:30.

KONINKRYK

Maar voordat ons Jesus se gelykenis lees, moet ons eers vasstel wat die koninkryk van God is. Die Skrif meld twee koninkryke.

HEERLIKHEID

Die een is die koninkryk van heerlikheid wanneer Jesus in die wolke gaan kom.

Matteus 25:31 Dit is ‘n toekomstige iets. In daardie koninkryk gaan Hy al Sy skatte letterlik op ons uitstort.

Die ander koninkryk, is die koninkryk van genade. Lukas 17:20,21 beskryf dit.

Jesus is die koning en Hy wil oor die gebied van my hart regeer. Hy wil nie alleen die Verlosser aan die kruis wees nie. Nee, Hy wil die Heerser, die Koning van my lewe word.

So dikwels hou Christene Jesus net aan die kruis en Hy kry nooit die voorreg om hulle lewe te beheer nie. Maar godsdiens bestaan nie net uit iets wat 2 000 jaar gelede gebeur het nie. Dit is iets wat op hierdie oomblik ook gebeur – iets in my eie lewe.

GELYKENIS

Markus 4:31,32 Dit is soos ’n mosterdsaad, wat die kleinste is van al die soorte saad op die aarde wanneer dit in die grond gesaai is; 32 en wanneer dit gesaai is, kom dit op en word groter as al die groentesoorte en maak groot takke, sodat die voëls van die hemel onder sy skaduwee nes kan maak.

Onder die mense wat na Jesus kom luister het, was daar die skeptiese, die agterdogtige, die ongelowige Fariseërs. Hulle kyk na hierdie jong rabbi wat in eenvoudige klere geklee is. ‘n Man sonder enige formele opvoeding.

Hulle kyk na die twaalf volgelinge, Sy dissipels. Dis ruwe manne. Johannes en Jakobus is seuns van die donder. Petrus is impulsief. Thomas ongelowig.

Hulle luister hoe Jesus verklaar dat Hy gekom het om ‘n koninkryk op te rig, en hulle skud hulle kop. In hulle harte dink hulle:

“Hierdie man kan maar vergeet. Die materiaal wat Hy tot Sy beskikking het, kan nie ‘n koninkryk bou nie. En buitendien, hulle is te klein, te min.

Hulle het nie geweet dat dit nie soseer die materiaal is wat die deurslag gee as wat dit die Een is wat die materiaal gebruik nie. Men ander woorde dit is nie soseer ek nie, maar dit is die Here wat iets deur my kan doen. “It’s not the capabilities you now possess or will, that will give you success. It that which the Lord can do through you.”

Die mens is geneig om na die dramatiese te kyk. Die dinge wat die sintuie aangryp, dinge wat sensasioneel is. Ons kyk na getalle, na status, na geleerdheid en ons wil sukses in daardie konteks bereken.

En met hierdie kritiese mense in Sy gehoor, spreek Christus hierdie gelykenis.

Markus 4:31,32 Dit is soos ’n mosterdsaad, wat die kleinste is van al die soorte saad op die aarde wanneer dit in die grond gesaai is; 32 en wanneer dit gesaai is, kom dit op en word groter as al die groentesoorte en maak groot takke, sodat die voëls van die hemel onder sy skaduwee nes kan maak.

“Waar Jesus hierdie gelykenis geleer het, was die mosterdplant orals sigbaar bokant die gras en graan; sy takke het liggies in die windjie beweeg. Voëls het van tak tot tak gevlieg en tussen die blare gesing. Tog was die saad waaruit hierdie reuse plant gespruit het onder die kleinste van alle soorte saad.” GC 77.

ROME

In vergelyking met die magtige koninkryk van Rome, hoe niksbeduidend het Jesus se aankondiging van ‘n koninkryk nie geklink nie.

En net soos mense klein mosterdsaadjies geplant het, was Jesus ook besig om klein saadjies te plant. Die werk en die preke wat Hy gelewer het, het so gering gelyk, net soos ‘n mosterdsaadjie so gering lyk.

Maar net soos die mosterdsaadjie groter as enige ander struik word, net so sou die koninkryk van Jesus die grootste van alle koninkryke word.

Min het die Fariseërs besef dat skaars 200 jaar later die koninkryk van die evangelie magtiger as die hele Romeinse Ryk sou word. Hulle het nie op daardie stadium besef dat die koninkryk van genade sou staan lank nadat die magtige Romeinse Ryk tot ‘n einde gekom het nie.

Hulle het nie besef dat die koninkryk wat Jesus op daardie oomblik kom verkondig het eendag in die koninkryk van heerlikheid sal oorgaan terwyl al die ander koninkryke vir ewig vernietig sal word nie.

POTENSIAAL

Jesus wou vir hulle die les leer dat in daardie klein ou saadjie iets groots ingebou is. Dit is nie wat mens nou sien nie, maar wat later te voorskyn sal kom.

Ons sien die mosterdsaadjie, Jesus sien ‘n 12 voet hoë struik waarin voëls nes maak.

DIE SKRIF

Die Skrif, eenvoudige woorde, word ook met saak vergelyk. En in hierdie eenvoudige woorde is daar ‘n beginsel van ewige lewe ingebou.

“Want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende Woord van God wat tot in ewigheid bly.” 1 Pet 1:23.

WAARDEER

O, hoe moet ons nie elke mosterdsaadjie van die Woord waardeer nie. Ons moet toelaat dat hierdie woorde in sagte vrugbare, ontvanklike harte gesaai word sodat dit kan groei en uiteindelik in die groot oes van die wederkoms ingesamel kan word.

EWIG

Terwyl Jesus daardie dag besig was om hierdie gelykenis te vertel, het Hy saad gesaai wat in vrugbare harte geval het en wat aangehou groei het. Die gevolge van wat Jesus destyds geleer het, word vandag gevoel. Dit sal deur die ewigheid gevoel word.

POTENSIAAL

Elke gedagte uit die Skrif, hoe klein dit ookal mag wees, het die potensiaal, die moontlikheid om grootheid te bereik. Groei ek?

SEKONDERE TOEPASSING

Maar hierdie gelykenis het ook ‘n tweede, ‘n sekondêre toepassing. Die skynbaar klein dingetjies in die lewe is baie belangriker as wat ons ooit kan besef. Die lewe se grootheid, bestaan in die klein dingetjies.

Sagaria 4:10 Want wie verag die dag van klein dinge.

Ons is so geneig om die klein dingetjies van die lewe te ignoreer.

CARLTON SENTRUM

Ek het langs die groot Carlton sentrum gestaan en opgekyk. Dis oorweldigend, dis ‘n magtige gebou. Maar in die muur hier langs my kyk ek na die klein korreltjies sand wat in die stene vas gemessel is. Die gebou is so groot soos die korreltjie sand in hom.

Ons luister na ‘n groot koor en dis pragtig. Maar die koor is opgemaak uit verskillende mense stemme. En elke stem dra tot die sukses van die koor by.

HUWELIK

Twee mense staan voor ‘n kansel. Dis ‘n groot gebeurtenis, maar hoe dikwels het dit met net ‘n eenvoudige glimlag of een enkele woordjie begin.

HERVORMING

Kyk na Martin Luther. Een geringe mens teen die magtige wêreldkerk van Rome. Met ‘n paar woorde uit die Skrif trek hy op teen die Keiser en die Pous en verklaar: “Die regverdige sal deur die geloof in Jesus Christus alleen lewe.” En die eggo van daardie woorde weerklink deur die gange van tyd tot op ons dag.

WAARSKUWING

Hooglied 2:15 Vang julle vir ons die jakkalse, die klein jakkalse wat die wingerde verniel, want ons wingerde staan in die bloei.

In die lewe van elke mens is daar klein dingetjies wat die wingerd van ons lewe wil vernietig. Wat is hierdie skynbare onbenullige ou dingetjies.

Jakobus 3:5 Net so is die tong ook ’n klein lid en beroem hom op groot dinge – kyk hoe ’n groot hoop hout steek ’n klein vuurtjie aan die brand.

Ons sal nooit besef hoeveel skade ‘n klein woordjie kan berokken nie.

Sy Pa sê vir sy Pa. “Ek haat jou”

Die ma sê vir haar dogter: “Ek wou jou nooit gehad het nie.”

Daar is woorde wat ons gesê het, wat ons nooit weer kan terug roep nie. Soos ‘n vuurhoutjie wat ‘n groot hoop hout aan die brand gesteek het.

Kolossense 4:6 Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe julle iedereen moet antwoord.

Mag die Here ons help om baie versigtig te wees hoe ons klein woordjies gebruik.

Sagaria 4:10: “Want wie verag die dag van klein dinge.”

TYD

‘n Ander belangrike iets wat ons ontvang het, is tyd.

Tyd kom na ons soos klein mosterdsaadjies. Die sekondes kan mens kwalik sien en agterkom.

Spreuke 6:6-11 Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë en word wys!7 Hy wat geen aanvoerder, opsigter of heerser het nie,8 maak sy brood klaar in die somer, bere sy voedsel weg in die oestyd.9 Hoe lank, luiaard, sal jy bly lê, wanneer sal jy opstaan uit jou slaap?10 Nog ’n bietjie slaap, nog ’n bietJie sluimer, nog ’n bietjie hande-vou om uit te rus!11 So kom dan jou armoede soos ’n rondloper en jou gebrek soos ’n gewapende man.

‘n Mens word nie net stoflik arm wanneer jy nie jou tyd reg gebruik nie, maar ons word geestelik arm wanneer ons nalaat om ons tyd nuttig te gebruik.

Wat maak ons met die mosterdsaadjies van die oggend ure, daardie kosbare minute. Gebruik hierdie tyd om jou vir die dag voor te berei.

Weet jy dat die sukses of die mislukking van ‘n dag baie maal net afhang van hoeveel tyd u met die Here deurgebring het.

Daar was ‘n stadium in my lewe wat ek gevoel het dat ek besig was om die stryd te verloor. Ek kon net nie groei soos ek moes nie.

Ek het die wekker geneem en hom ‘n halfuur vroeër gestel. En in daardie tyd het ek die Here gesoek en Hom op ‘n spesiale wyse gevind.

Dawid sê in Ps. 108:3 “Ek wil die dageraad wakker maak.”

Met ander woorde voordat die son uitkom, voordat die voëls die Skepper met hulle sang begroet, wil Dawid Sy Skepper met gebed en lof en toewyding begroet.

Miskien is dit net daardie paar minute ekstra in die oggend wat ons nodig het om suksesvoller in ons Christelike lewe te wees.

Paulus sê: “Koop die tyd uit.” Kolossense 4:5

Mag die Here gee dat ons baie groter waarde sal heg aan die mosterdsaadjies, die minute wat ons elke dag ontvang.

As daar ‘n oomblikkie oop is, lees uit die Skrif, of uit Skrede na Christus. Of bid. Gebruik elke oomblik om jou lewe vir die ewigheid voor te berei.

Dit hang baie daarvan af hoe ons onse minute nou gebruik waar ons eendag die ewigheid sal deurbring.

Tyd word aan ons geleen om te sien of die Here ons met die ewigheid kan vertrou.

Markus 4:31,32 Dit is soos ’n mosterdsaad, wat die kleinste is van al die soorte saad op die aarde wanneer dit in die grond gesaai is; 32 en wanneer dit gesaai is, kom dit op en word groter as al die groentesoorte en maak groot takke, sodat die voëls van die hemel onder sy skaduwee nes kan maak.

Mag dit wees dat die boodskap van die mosterdsaadjie diep in ons harte sal insink. Laat ons nooit enigiets te gering ag nie. En mag dit wees dat ons sal besef dat die hele lewe uit klein dingetjies opgemaak word. Mag ons besef dat dit somtyds net ‘n klein gedagtetjie uit die Woord is wat die groot geestelike oorwinning in ons lewens kan gee. Dat dit die minuut is wat ek met Hom verkeer wat in ‘n ewigheid kan uitloop.

Was this article helpful?

Related Articles