1. Home
  2. Jesus
  3. Gelykenisse Van Christus
  4. Gelykenisse Van Christus 8 – Die Verlore Skaap, Penning en Seun

Gelykenisse Van Christus 8 – Die Verlore Skaap, Penning en Seun

VERLORE SKAAP, PENNING, SEUN

Skriftuur: Lukas 15:1-24

In hierdie drie gelykenisse is daar twee baie belangrike dinge wat die Here wil hê ons moet baie goed begryp. Die eerste iets wat ons deeglik moet besef, is dat ons in ‘n verlore toestand is, en die tweede, baie belangrike iets, is dat God die Vader ons lief het met ‘n oneindige en onpeilbare liefde. ‘n Liefde wat ons sal soek totdat dit ons sal vind en ‘n liefde wat nooit sal verwyt nie.

God se ideaal vir ons is volmaaktheid. Die mens was so. Miskien het ons in sekere opsigte ook volmaaktheid in ons Christelike bereik, maar op een of ander wyse weggedwaal van daardie mooi beginsel, daardie mooi gewoonte, daardie intieme omgang met God.

Die Seun van die mens het kom soek en red wat verlore is.

Die eerste gelykenis praat van mense wat op een of ander wyse, onverklaarbaar, miskien deur nalatigheid verlore geraak het.

Die tweede klas wat verlore is, is mense wat glad nie weet dat hulle verlore is nie. Dit kom nie eers in hulle gedagte op nie. Miskien is daar dinge wat u en ek doen wat heeltemal teen Gods ideaal vir ons is, en ons doen dit sonder om te besef dat dit ons in ‘n toestand van verlorenheid plaas.

Die derde klas is mense wat doelbewus van God weggedwaal het. Miskien weggedwaal van hulle eerste liefde vir God, van die egte waardes, die mooi beginsels, en nou sit hulle tussen die verfoeilike vrugte van hulle eie keuse, tussen die varke.

Maar die groot boodskap van hierdie gelykenisse is dat God u liefhet. Dat dit nie saak maak in watter hopelose toestand u u in bevind nie. Hy kan red.

VERLORE SKAAP

(Tereg word hierdie hoofstuk die “evangelie in die evangelie” genoem)

Die vertelling van hierdie gelykenisse is aangespoor deur ‘n beskuldiging wat die Fariseërs en Skrifgeleerdes gemaak het. Dit is een van die grootste waarhede wat nog ooit geuiter is.

“Hierdie man ontvang sondaars en eet saam met hulle.” Vers 2

In hierdie gelykenisse bou Jesus hierdie groot waarheid op ‘n pragtige wyse uit.

Die eerste gelykenis is van ‘n herder wat een van sy honderd skape gaan soek, en dit vind.

Verlore skaap, penning, seun (2)

Al is dit net een, nogtans gaan soek hy hom. Dit leer ons dat al was daar net een sondaar, Jesus vir hom sou kom sterf het.

‘n Skaap wat van die trop weggedwaal het, is die hopelose van alle diere. Die herder moet hom net soek, want op sy eie kan hy nooit weer terug kom nie. Net so met iemand wat van God weggedwaal het, uit sy eie kan hy nie die weg terug vind nie. En tensy die Goddelike liefde hom nie kom red nie, is hy vir ewig verlore.

Dit is ‘n bekende feit dat die herder in die ooste selfs sy lewe vir sy skape sal gee. Hy sal enige gevare trotseer, solank as wat hy net sy verlore skaap terug vind.

Watter verligting ondervind so ‘n herder nie as hy einde ten laaste daar in die verte die geblêr van sy skaap hoor nie. Hy klim teen die gevaarlike kranse uit, gaan tot by die steil afgronde, klouter oor gevaarlike rotse.

So soek hy sy skaap terwyl hy hoor hoedat die geblêr al flouer word. Hy haas hom want hy weet dat die skaap besig is om dood te gaan.

Wanneer hy uiteindelik by die skaap uitkom, skreeu hy nie op die dier wat hom soveel moeite aangedoen het nie. Hy dryf hom nie met ‘n sweep terug kraal toe nie, en hy probeer ook nie eers om hom terug te jaag nie.

In sy vreugde tel hy die bewende dier op sy skouers; as dit gekneus of verwond is, druk hy dit styf teen sy bors sodat die hitte van sy eie hart dit kan lewe gee. Met dankbaarheid dat sy soektog nie vergeefs was nie, dra hy die skaap terug na die kudde.

Dank die Here dat Hy nie vir ons verbeelding ‘n prentjie van mislukking gelaat het nie, van ‘n herder wat hartseer sonder sy skaap terugkeer nie. Die gelykenis praat van sukses en vreugde in die vind van die skaap.

Hier is die waarborg dat die goeie Herder elke verlore skaap sal vind. Jesus het die gevaarlike pad gekom en ons bereik waar ons besig was om te sterf. Sy reddende liefde verskyn aan almal en dit is net wanneer ons dit doelbewus versmaai, dat die goeie Herder bedroef sal weggaan.

Verde leer hierdie gelykenis ons dat verlossing nie kom deur ons soeke daarna nie, maar as gevolg van God se soeke na ons.

Faber het gesê:

“Daar is dieptes in Gods liefde, soos die dieptes van die see; daar is volheid van verlossing in die gawe wat Hy gee.”

Die Verlore Penning

Verlore skaap, penning, seun (3)

Die verlore penning

Hier lees ons van ‘n vrou wat tien pennings gehad het en een verloor het. Sy soek deeglik totdat sy dit kry. Die penning is eintlik ‘n silwermuntstuk wat ongeveer 10c werd was. ‘n Bietjie meer as een dag se loon.

Die vrou se trougeskenk het gewoonlik uit ‘n string muntstukkies bestaan wat sy versigtig vir haar dogters bewaar het. Om een van hierdie silwer muntstukkkies te verloor, is as ‘n groot verlies beskou en die herontdekking daarvan was ‘n geleentheid van groot blydskap. Vermoedelik is dit wat met die vrou gebeur het.

In die Ooste het die huise van die arm mense gewoonlik net een vertrek gehad en dit nog sonder vensters. Die vertrek is selde uitgevee en enigiets wat op die grond val is baie gou onder die stof en ander vullis bedek. Ten einde dit te vind, moes ‘n kers opgesteek word en die huis deeglik uitgevee word.

Die teks sê: “En as sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: “ Wees saam met my bly, want ek het die penning gekry wat ek verloor het. So sê ek vir julle, is daar blydskap voor die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.” V. 9,10

Net soos die vorige gelykenis leer hierdie een dat dit wat verlore is, deur deeglik soek, gevind kan word. Hulle stel egter verskillende klasse voor. Die skaat weet hy is verlore. Hy het die kudde verlaat en kan nie terugkom nie. Dit verteenwoordig die klas wat in verslaentheid verkeer, wat in vernedering is en wat swaar versoek word.

Die verlore penning stel mense voor wat verlore is in hulle sonde en geen besef van hulle toestand het nie. Hulle is vervreemd van God, maar weet dit nie. Hulle siele is in gevaar maar hulle is onbewus en onbesorg.

In hierdie gelykenis leer Christus dat selfs hulle wat onverskillig teenoor God se eise staan, voorwerpe van Sy groot liefde is. Hulle moet gesoek word sodat hulle na God teruggebring kan word.

Die skaap het van die kudde weggedwaal. Hy was iewers in die wildernis of op die berge. Die silwerstukkie is in die huis verloor. Dit was byderhand tog kon dit alleen deur deeglike soek gevind word.

Hierdie gelykenis het ‘n les vir gesinne. Baie maal is ons onverskillig teenoor die siele van ons huishouding. Miskien is daar een wat vervreemd geraak het van God. Gee ons om?

Daardie muntstuk, hoewel hy in die stof en vuilis lê, is nog ‘n stukkie silwer. Die vrou soek dit omdat dit waardevol is. So is elke siel, afgesien van hoe ver

Verlore Skaap, penning, seun (4)

hy of sy in die sonde geval het, nog waardevol in die oë van God. Net soos die muntstuk die kop van die koning dra, net so het die mens die beeld van sy Maker aan die begin gedra en alhoewel sonde daardie beeld byna heeltemal uitgewis het, is daar nog trekke van die Skepper. God wil daardie siel terug wen en weer Sy beeld in heiligheid en geregtigheid herstel.

Net soos daardie vrou alles in die huis verskuif het en alles deursoek het, so moet niks onaangeroerd gelaat word wanneer een van ons geliefdes verlore is nie.

Self moet ondersoek word. Ons moet kyk of daar nie miskien iets in ons lewe is wat die oorsaak was nie. Soos die vrou die kers geneem en gesoek het, moet ons ook Gods Woord neem, die lig, en ons harte en huise deursoek. As dit ‘n kind is, ons as ouers het hulle as erfdeel ontvang, en die Here hou ons verantwoordelik vir die versorging van Sy eiendom.

Onlangs het iemand my besoek en oor die dae gesels toe sy seuntjie nog klein was. Hy het my vertel van sy groot sorg wat hy vir die kind gehad het. En toe het hy skielik stilgebly. Sy kop laat sak en ‘n sakdoek uitgehaal. Nadat hy die trane van sy oë afgevee het, het hy vir my gesê dat hy elke dag nog vir sy kind bid en dat hy glo die Here sal sy kind weer terugbring.

Maar as u skuldig is aan verwaarlosing van ‘n kind of geliefde, moenie moed verloor nie. Die vrou wat die muntstuk verloor het, het gesoek totdat sy dit gevind het. Net so moet ouers in liefde en geloof vir hulle kinders bid totdat hulle met vreugde na die Here kan kom en sê: “Hier is ek en die kinders wat die Here vir my gegee het.” Jes. 8:18

Ons gebede staan soos ‘n monument voor die genadetroon, selfs na ons dood.

O, die waarde van een siel, wie kan dit bereken? As u die waarde wil weet, gaan na Getsémané , waak saam met Hom deur daardie ure van foltering, toe die sweet soos groot bloeddruppels op Sy voorhoof uitgeslaan het. Aanskou Hom aan die kruis en luister hoe Hy uitroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” Markus 15:34.

Aanskou Sy verwonde hoof, Sy deurboorde sy, Sy geskende voete. Onthou, Christus het alles gewaag. Vir ons verlossing, is selfs die hemel in gevaar gestel. Wanneer u aan die voet van die kruis staan en onthou dat Hy vir net een siel sou kom ster, kan u die waarde van een siel vasstel.

O, mag die Here ons ‘n groter liefde vir siele gee. Veral vir daardie mense wat vir ons as hopeloos voorkom. Die wêreld het ‘n behoefte aan mense wat omgee.

Ek het onlangs verneem van ‘n sekere kerk in Amerika waar die predikant so ‘n las gehad het. Hy het dit oorgedra na sy gemeente en toe vriendskaps-
Verlore skaap, penning, seun (5)

spanne uitgestuur. Al wat hulle gedoen het was om uit te geen en vriende met mense te maak. Binne vyf jaar het hulle nog ‘n gemeente in daardie stad gehad met ‘n ledetal van 10 000. Hoeveel gee u om, en hoeveel gee ek om.

Die Verlore Seun (Die liefdevolle vader)

Vir ‘n geruime tyd moes die jongste seun seker baie nukkerig gevoel het. Iets was nie reg nie. Sy ouerhuis was nie meer wat dit vir hom vroeër was nie. Sy pa en ma en sommer almal het op sy senuwees begin werk. Hy het begin verlang na ‘n ander omgewing – een waar hy homself in kon uitleef. Hier by die huis het hy gebonde gevoel.

In sy verbeelding het die vreemde vir hom meer aanlokliker begin word en terselfdertyd het sy vaderhuis vir hom meer en meer soos ‘n gevangenis begin word. Hy wou weg. O, die towermag van die verbeelding!

Op ‘n dag het hy na sy vader gegaan, en sy saak aan hom gestel. Ek is seker dat sy vader dit verwag het, maar dit moes hom nogtans geskok het. Ek kan in my verbeelding sien hoe die vader met sy seun pleit. Hoe hy hom op die verkeerdheid van sy planne probeer wys. Maar die seun was vasberade. Hy gaan.

Dit was die gebruik destyds dat ‘n kind sy erfdeel voor die tyd kon ontvang mits die ouer daartoe instem. Hierdie vader was nie verplig om sy seun enigiets te gee nie, maar nogtans het hy hom die volle derde van sy besittings gegee. (Dit is wat die jongste ontvang het).

Wat ‘n gelukkige jongman, wat ‘n hartseer vader. Met baie geld in sy sak is hy swierig daar weg. O, die ver land. Hy kon nie gou genoeg daar aankom
nie.

Ongelukkig het die vreugde van die vreemde land net in die aanloklikheid daarvan bestaan. Hy het al sy besittings verkwis om daardie plesier en geluk te vind, maar dit het niks gebaat nie.

Die verlore seun het net een instansie geraadpleeg, en dit was sy sintuie, sy wellus. Miljoene mense is tans op dieselfde weg, maar hoe meer mens jou met die plesiere vul, hoe leër raak jy.

In sy sonnet, The Expense of Spirit, meld Shakespeare dat mens kwalik die plesier geniet het of jy verag dit.

Alles wat die verlore seun besit het, is in die vure van sy wellus verteer. En toe hy alles verloor het, sy manlikheid, sy reinheid en sy besittings, het daar ‘n hongersnood in die land gekom. Maar nie net in die land nie, maar ook in sy eie leë siel.

Verlore skaap, penning, seun (6)

Daar tussen die varke het hy vir die eerste keer kans gekry om oor dinge te dink. Die droom wat voor hom gelê het, het nou in ‘n nagmerrie verander. Sy liggaam is so verswak en geskend dat hy geen ander werk kan doen as om varke op te pas nie.

Die ware toedrag van sake is, dat die varke in ‘n gunstiger posisie as hy verkeer. Hulle kos is van so ‘n aard dat hy verlang om dit te eet. Syne was minderwaardiger.

Ek dink sy werkgewer het hom maar varke toe gestuur sodat die arme ou boemelaar daar kon sterf om miskien dan sommer deur die varke opgeëet word.

Wat ‘n tragiese prentjie van ‘n totale wrak. Dit is wat met elkeen gebeur wat van die Vader se liefde af wegdwaal. Dis ‘n afdraande pad wat op totale selfvernietiging uitloop.

Iewers ver daarvandaan het ‘n vader elke dag vir sy seun gebid. War sy seun se liefde afgekoel het, het sy liefde steeds groter gegroei. Hoe het hy nie gewens dat sy seun moes terugkom nie. Die ondervinding van die lewe en kennis van sy seun het hom vertel watter lot hom sou tref. Die vader het net vir een ding gebid, en dit was die terugkeer van sy seun. Hy het besef in watter haglike toestand sy kind sou wees, hy het onthou hoe ondankbaar hy was. Maar o, sy liefde vir sy kind was groter as al hierdie oorwegings.

Luk 15:17 sê: “Maar hy het tot homself gekom”

Nie alvorens die mens sy algehele verlore toestand besef, kan God vir hom iets doen nie.

Terwyl die verlore seun sy verlore toestand besef het, het hy terselfdertyd gevoel hoe sy vader se liefde hom huis toe trek. So ellendig as wat hy was, het hy nuwe hoop in die oortuiging van sy vader se liefde gevind. Dit was die oortuiging dat sy vader hom liefhet, wat hom laat besluit het om terug te gaan huis toe.

Dit as ‘n ander soort toespraak wat hy hierdie keer voorberei het. Toe hy van die huis weggegaan het, het hy vir sy vader gesê gee, hierdie keer wou hy hê sy ader moes hom maak.

“Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u, en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie; maak my soos een van u huurlinge.” 17,18

‘n Huurling was nie deel van die huishouding nie. Selfs ‘n slaaf was in ‘n gunstiger posisie. ‘n Huurling kon ter eniger tyd afgedank word en was daagliks beloon.

Verlore skaap, penning, seun (7)

‘n Mens kan hom in jou geestesoog sien toe hy daar tussen die varke opstaan. Hy bewe van swakheid en is flou van die honger, maar hy strompel aan. Daar is net een iets in sy gedagte en dit is terug na sy vader. ‘n Paar stukkies vodde bedek sy skraal liggaam maar sy groot begeerte huis toe het sy trots oorweldig. Oor en oor oefen hy sy toesprakie. “Vader, asseblief. Ek weet ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie. Almal weet wat ek aangevang het. Ek is ook nie eers werd om ‘n slaaf te wees nie, maar maak my asseblief tog net ‘n huurling. Dis al wat ek vra vader, asb. vader.”

Elke dag het die vader die pad dopgehou. Op hierdie groot dag was die vader weer besig om die pad daar in die verte dop te hou. Die Bybel sê dat toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en hom innig jammer gekry. Hy het nie bly sit nie, maar opgestaan en na sy seun begin hardloop.

O, die oog van liefde is gou om raak te sien. Nie eers die jare van verlaging kon sy seun se vorm vermom nie. In die verwaarloosde boemelaar wat daar in die verte gestrompel het, het die vader die vorm van sy seun bespeur.

En o, wat ‘n ontmoeting toe die vader uiteindelik by sy seun uitkom. Hoeveel dae en nagte het hy nie hiervoor gebid nie. Hy val die seun om die hals en soen hom. Trane van blydskap vloei. Die seun is halfpad met sy toesprakie, maar die vader smoor dit in sy omhelsing. Hy druk daardie vervalle liggaam styf teen sy groot hart van liefde om duidelik vir sy seun te laat verstaan dat sy liefde nog net so groot is.

Hy laat ook nie toe dat die huismense sy seun se flenter klere sien nie. Hy haal sy eie pragtige duur mantel af en plaas dit om sy seun. Met ‘n snikkende seun aan sy sy stap die vader met trane van blydskap terug huis toe.

Toe hulle naby die huis kom, roep die vader uit: “Bring die beste kleed en trek hom dit aan, en gee ‘n ring vir sy hand en skoene vir sy voete. En bring die vetgemaakte kalf en slag dit, en laat ons eet en vrolik wees.” 22,23.

Ek wil hê u moet let op die ontvangs wat die seun kry. Die kleed staan vir eer, die skoene vir seunskap (slawe het nie skoene gedra nie), en die ring het ‘n magsposisie aangedui.

O, wat ‘n openbaring van die liefde van ons Hemelse Vader het Jesus nie hier gegee nie. Die Jode het God anders voorgestel. Vir hulle was Hy Iemand wat met wraak op die sondaar neergesien het. Alleenlik wanneer die sondaar na God terugkruip, sou Hy hom miskien aanneem.

In die gelykenis sien ons net ‘n liefdevolle vader. Geen verwyt nie. Die seun voel dat sy sondes vergewe is. En so werk God met die sondaar.

Die Here stel dit so:

Verlore skaap, penning, seun (8)

“Ek delg jou oortredinge uit soos ‘n newel en jou sondes soos ‘n wolk; keer terug na My, want Ek het jou verlos.” Jes. 44:22.

“Want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie.” Jer. 31:34.

“Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik.” Jes. 55:7.

Watter lieflike beloftes. Watter versekering van Gods liefde vir die sondaar.

Het u miskien van u Hemelse Vader afgedwaal? Het u Hom teleurgestel? Het u oneer op Sy saak gebring? Is u jammer?

Staan op en gaan na u Vader. Hy sal u ontmoet terwyl u nog ver weg is.

As u een tree in bekering na Hom toe neem, sal Hy u tegemoet hardloop en Sy arms van liefde om u slaag. Daardie heel eerste verlange na Hom, is by Hom bekend. Nooit word daar ‘n gebed opgestuur, hoe swak ookal, nooit word n traan gestort al is dit in die geheim, nooit word daar ‘n begeerte na God gekoester, hoe swak ookal nie, of die Gees van God gaan vooruit om dit te ontmoet nie. Selfs voordat ‘n gebed geuiter word of die verlange van die hart bekend gemaak word, gaan die genade van Christus vooruit om die genade te ontmoet wat op die menslike hart werk.

U Hemelse Vader sal die vuil klere wat deur sonde besoedel is, van u wegneem, en u met Sy eie kleed van geregtigheid beklee. Wil u nie vanoggend weer terugkom na die Vader se liefde nie? O, as u dit nog nie gedoen het nie, Hy wag vir u, moenie Hom teleurstel nie. Staan op, en gaan na Hom.

Was this article helpful?

Related Articles