DOOPDIENS – HUIS TOE KOM
Skriftuur: Lukas 15:17-19
Die seun het ‘n baie mooi kamer met ‘n toilet, ‘n stort en warmwater gehad. Hy het op ‘n posturepeadic matras met ‘n elektriese kombers geslaap. Elke oggend het sy pa vir hom ‘n koppie rooibostee kamer toe gevat.
Soggens wanneer hy die volk gaan roep om te kom werk, kon hy nie help om sy kamer met hulle strooise te vergelyk nie. Hulle het nie ‘n stort, warmwater, elektriese lig of ‘n toilet gehad nie.
Op ‘n dag moes die plaasvolk sy Porsch met Carnu laat blink en die wiele met swart Nugget skoenpolitoer swart maak.
“Waar gaan die kleinbaas Willie heen?” wou een van die ouer skepsels weet wat hom help grootmaak het.
“Kleinbooi. Voor ek vir my ‘n komputerwinkel in Johannesburg gaan koop, gaan ek eers die stadslewe geniet. As jy my weer sien, ry ek met ‘n Rolls Royce.”
HARTSEER PA
Die plaasvolk het agtergekom dat die oubaas al stiller begin raak. Liesbet het vir hulle vertel hoe sy nou die oggend gesien het hoe hy lank na sy kind se portret gekyk het.
Hy het toe sy bril afgehaal en die trane met die agterkant van sy hand afgevee.
BANKROT GESPEEL
Willie het die stadslewe so geniet dat hy nooit by die aankoop van komputerwinkel uitgekom het nie. Nadat die prys van die Ecstasy pille opgegaan het, het Willie kontantvloeiprobleme ondervind.
Toe die munisipaliteit sy krag afgesny het, het hy agter in mense se garage in Hilrow gaan intrek en as waiter by die Spur gaan werk.
Dit het ook net ‘n rukkie gehou toe jaag die baas hom weg want hy het asgevolg van ‘n kwaai babalas ‘n bord kos op iemand laat val.
Willie sit platsak voor ‘n vuil kafee wat hulle pap en vleis verkoop. Hy is so honger dat hy kan doodgaan.
Lukas 15:17 “Toe kom hy tot inkeer en sê: ‘My pa het wie weet hoeveel dagloners, en hulle het almal oorgenoeg kos, en hier vergaan ek van die honger.”
Dis harde musiek wat saam met die reuk van pap en vleis by die kafee se deur uitkom.
Maar daar is ‘n ander musiek wat nog harder in Willie se ore begin klink. Dis die musiek van pa se stem.
“Willie my kind, dit maak nie saak wat gebeur nie, jou kamer wag vir jou. Jy kan enigtyd weer terugkom huistoe.”
Die droom oor die huis en sy pa liefde is heerliker as die droom wat die ecstasy tablette hom gegee het.
Lukas 15:18-20 Ek sal dadelik na my pa toe teruggaan en vir hom sê: Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig! Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie. Behandel my soos een van Pa se dagloners. En hy het sonder versuim na sy pa toe teruggegaan.”
TERUG HUIS TOE
Gelukkig het ‘n ou Datsunbakkie op pad na Warmbad toe vir Willie opgelaai en hom by Pienaarsrivier afgelaai.
Terwyl Willie met moeite na die plaas toe aanslinger het mense gewonder wat hierdie boemelaar in hierdie deel van die wêreld kom soek.
Die klere wat hy by die Salvation Army gekry het, was stukkend en stinkend.
SPYT
Terwyl hy die plaashek nader, dink hy aan die dag toe hy vir Kleinbooi gesê het dat hy met ‘n Rolls Royce sou terug kom.
Hy is so skaam, so vol skuld. Hy voel om terug te gaan en te gaan kyk of hy nie maar weer by die Spur kan gaan werk nie.
Maar op daardie oomblik sien hy iets wat sy oë nie kan glo nie. Sy pa kom na hom aangehardloop.
Vers 20 “Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom.”
Die omhelsing van vergifnis en die soen van aanvaarding was ‘n duisend keer heerliker as die soene van meisies of die “high” van die pille.
Willie is natgehuil van sy pa se vreugdestrane. Hy begin hakkelend met sy belydenis.
“Pa. Ek weet ek het ons naam weggegooi. Pa hoef my nie meer as ‘n kind te beskou nie. As ek maar net die stroois langs kleinbooi kan intrek, sal ek Pa ewig dankbaar wees. Ek sal vir die res van my lewe baie hard werk om te kyk of ek Pa se guns weer kan terug te wen.”
Willie is nog besig om te praat, toe skreeu sy pa hom morsdood:
“Kleinbooi. Hardloop dan gaan haal jy daardie nuwe pak klere wat ek in baas Willie se kamer gaan ophang het. En moenie vergeet om die nuwe Watson skoene saam te bring nie. En Kleinbooi die ingevoerde Rolls Royce se sleutels is bo op die yskas. Bring dit saam met die selfoon vir baas Willie.”
DIE HUIS – NIE DIE STROOIS NIE
Willie het nie in die stroois langs Kleinbooi gaan intrek nie. Hy is na sy luukse kamer met die stort, die toilet en die warmwater.
SONDAARS WAT NA DIE VADER TERUGKEER
Ek en jy is Willie wat met ‘n Porche van die Vader se plaas af weggery het en vandag te voet in vuil, stinkende vodde terrugkom.
Maar die gelykenis van Willie en die goeie Vader het ‘n boodskap van bemoediging vir ons.
Ons hoef nie die Vader se guns en vergifnis te verdien nie. Dit is reeds in Sy hart. Ons het dit.
Wanneer ons na ons hemelse Vader terugkom, hoef ons nie in die donker stink stroois van selfverwyt te gaan intrek nie.
Ons hemelse Vader wil ons by Hom in die huis hê. Hy wil vir ons ‘n kamer met die elektriese lig van Sy aanvaarding gee.
Hy wil vir ons ‘n kamer met toilet, ‘n stort en warm water gee. ‘n Posterpeudic matras met ‘n elektriese kombers. Hy wil vir ons ‘n ingevoerde Rolls Royce en ‘n selfoon van Sy liefde gee.
Ons Hemelse Vader wil ons sonder enige verdienste in die kamer van Sy hart van liefde laat intrek waar al ons behoeftes vervul kan word.
Baie welkom aan die Willies wat huis toe gekom het. Julle kamer wat binne in die hart van God ingerig is, is gereed. Mag die luuksheid van die Vader se liefde julle lewenslank in Sy Huis laat bly.