1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Jakob Deel 1 – Sy Geboorte
  1. Home
  2. Jakob
  3. Jakob Deel 1 – Sy Geboorte

Jakob Deel 1 – Sy Geboorte

JAKOB – Deel 1 Sy geboorte

Skriftuur: Genesis 25:24-28

Een van die grootste ontdekkings in hierdie lewe, is die ontdekking van die wonder van die mens. Daar is niks so kompleks en so interessant soos die mens nie. Die grootste hartseer wat jy nog ooit beleef het, is deur ‘n mens veroorsaak. Maar die grootste vreugde en geluk wat ek en jy gesmaak het, is ook deur ‘n mens(e) gebring.

Met tye wanneer ons nie selfverloënend is nie, is ons die liederlikste van alle geskape wesens. Met ander tye wanneer ons toelaat dat die gesindheid van Jesus in ons woon, is ons weer die mooiste van al God se geskape wesens.

BIOGRAFIEë

Wanneer jy die lewensverhale van die Bybelkarakters versigtig deurlees, ontdek jy dat hulle, net soos jyself sekere sterk en swak punte gehad het. Met tye was hulle baie mooi en ander kere baie lelik.

Party van die biografieë wat mens lees, vertel van mense wat nooit hulle swakhede oorwin het nie. Dit is tragies. Maar dan vind ons ander pragtige biografieë waar mense deur die genade van die Here hulle swakhede oorwin het.

JAKOB SE BEGIN

In die bestudering van Jakob se lewe gaan ons in sommige van sy swakhede ons eie swakhede ontdek. Ons gaan ook met sy stryd en versoeking en sy diepe worstelinge kennis maak. In die lewe van Jakob gaan ons opnuut ontdek hoe verskriklik swak die mens is. Maar ons gaan ook weer opnuut ontdek hoe genadig die Here is.

Genesis 25:19,20. “Hier volg besonderhede oor Isak, seun van Abraham: Abraham was Isak se pa, en toe Isak veertig jaar oud was, het hy met Rebekka getrou. Sy was die dogter van Betuel, ‘n Arameër uit Paddan-Aram, en ‘n suster van Laban, die Arameër”.

Die Arameërs het in die noordelike gedeelte van Mesopotamië gewoon. Ons lees vir die eerste keer van Aramees in Genesis 31:47 waar Laban die woorde ‘Jegar-Sahaduta’ gebruik. Dit was 17 eeue voor Christus. ‘Jegar-Sahaduta’ beteken kliphoop. Jakob het dit Galed genoem, die Hebreeus vir kliphoop.

Gedurende die tydperk van koning Hiskia het sy hofdienaars buiten Hebreeus ook Aramees gepraat. (2 Konings 18:26.) Ons lees in Daniël 2:4 dat die sterrekykers koning Nebukadnesar in Aramees aangespreek het. Ons vind ook die gebruik van Aramees in die boek Ester.

Kan jy aan plekke in die Nuwe Testament dink waar Jesus Aramees gebruik het?

Mattheus 27:46. “Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: ‘Eli, eli, lema sabagtani?’ (Aramees). Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?”

Kom ons lees nog een teks waar Jesus sy moedertaal, Aramees gebruik het.

Markus 7:34. “Daarna het hy na die hemel opgekyk, gesug en vir hom gesê: ‘Effata!’ (Aramees). Dit beteken: Gaan oop!”

Alles wat die Bybel aangaande die internasionale gebruik van Aramees skryf, is deur die argeologie en die antieke geskiedenis bevestig.

Vers 21. “Isak het tot die Here gebid oor sy vrou, want sy was kinderloos. Die Here het sy gebed verhoor, en sy vrou Rebekka het swanger geword.”

ISAK HET OP DIE HERE GEWAG

Vir byna 20 jaar het Isak op die kinders van die belofte gewag en niks het gebeur nie. Hoe lank bid jy al oor ‘n saak?

Uiteindelik kom hy by die plek in sy geestelike ondervinding waar hy besef dat niks vanselfsprekend gebeur nie. Alles wat gebeur, is ‘n genadegawe van God.

Een nag onder die sterrehemel het Isak in gebed met die God van sy vader Abraham, gaan worstel:

“Ag Here. U het beloof dat ons nageslag soos die sterre van die hemel sal wees. Op hierdie stadium is daar nie eers een sterretjie in ons lewens nie. Wees ons asseblief tog genadig en skenk ons ‘n kindjie.”

En toe gebeur dit. Een oggend toe Rebekka wakker word, sê sy vir haar man. “Sakkie, ek is naar. Kyk of jy vir my iets by die apteek kan kry.” Toe sy die volgende dag en die dag daarna weer naar word, het Isak besef dat hierdie naar die naar van ‘n wonderwerk was.

Maar dit was nie die einde van die opwinding nie. Op ‘n dag het Rebekka vir haar man die volgende vertel:

“Sakkie, ek het opwindende nuus vir jou. Die sonar sê dis ‘n tweeling. Pa Abraham gaan uit sy vel uit spring as hy dit hoor. Ons donker hemel gaan met twee sterretjies begin skitter.”

Daardie outydse sonars kon nie sê of dit seuntjies of dogtertjies was nie. Rebekka het maar pienk en blou sokkies en kleertjies gebrei.

DIE PROFESIE

Kom ons lees wat met Rebekka in hierdie nege maande gebeur het: Genesis 25:22. “Die kinders het in haar teen mekaar gestamp, en toe sê sy: ‘Waarom gebeur so iets met my?’”

Een nag het Rebekka wakker geword van hierdie gestamp van die tweeling. ”Sakkie hier is fout. Dis kompleet of die tweeling met mekaar baklei.” “Rebekka, miskien moet jy more met pa of Melgisedek oor die saak praat. Dis miskien profeties maar ek sal regtig nie weet nie.”

DIE HERE GEE DIE ANTWOORD

Dit lyk nie of sy by hulle ‘n antwoord kon kry nie. Rebekka het toe die saak na die Here toe geneem. Onthou, as mense nie die antwoord het nie, gaan praat met die Here daaroor.

Vers 22,23. “Sy het toe die Here gaan raadpleeg, en Hy het vir haar gesê: Daar is twee nasies in jou, twee volke uit jou sal van mekaar geskei word. Een sal sterker wees as die ander, die oudste sal die jongste dien.”

Wat ‘n interessante profesie. Een nag onder skitterende sterrehemel het die God van Abraham en Isak ook met Rebekka gepraat.

DIE JONGSTE SAL DIE OUDSTE DIEN

“My kind, die twee seuns wat uit jou gebore gaan word, sal uiteindelik twee groot nasies word. Die gestamp van die tweeling is profeties van die toekomstige stampe wat hulle mekaar nog deur die eeue sal gee. Maar Rebekka, daar is nog iets anders wat jy moet weet. Die jongste kindjie sal uiteindelik die magtigste nasie word.”

Rebekka het hierdie persoonlike ervaring met die Here nooit vergeet nie. Voor haar man Isak die oggend gaan werk het, het sy hom alles meegedeel.

“Sakkie, kom ek vertel jou wat die Here laas nag aan my geopenbaar het. Die gestamp van die tweeling dui op ‘n toekomstige konfrontasie tussen ons kinders. Maar die Here het ook aan my geopenbaar dat hulle uiteindelik twee nasies gaan word. En dan het Hy nog iets interessants gesê. Die nasie wat uit die jongste kind sal kom, sal uiteindelik die sterkste wees en die nasie wat uit ons oudste kind sal voortkom, sal deur die afstammelinge van die jongste broer oorheers word.”

Ek wonder of Isak baie mooi geluister het wat Rebekka vir hom vertel het. “Met ander woorde Sakkie, ons jongste kind sal die verantwoordelikhede en seëninge van die eersgebore reg ontvang.”

Ek wil herhaal wat ek vroeër gesê het. Isak het nie mooi geluister wat Rebekka vir hom gesê het nie. En dis nog steeds die probleem van mans vandag. Ons luister nie mooi wat ons vrouens vir ons sê nie. Partykeer wil ons nie mooi luister nie. Net soos Isak later in groot moeilikheid beland het omdat hy hom doof gehou het, so beland ons mans ook in groot moeilikheid omdat ons nie luister wat ons vrouens vir ons sê nie.

DIE GEBOORTE VAN DIE TWEELING

Genesis 25:24-26. “Toe Rebekka haar kinders in die wêreld bring, was dit tweelingseuntjies. Die eerste is gebore: rooi, vol hare soos ‘n veljas, en hy is Esau genoem. Sy broer is nâ hom gebore en dié se hand het aan Esau se hakskeen vasgehou. Hy is Jakob genoem. Isak was sestig jaar oud toe hulle gebore is.”

Dit was ‘n groot dag toe daar ‘n tweeling vir Isak en Rebekka gebore is. Die Here het hulle gebede verhoor en die gehuil van die twee seuntjies was soos musiek in hulle ore.

Ek weet nie hoe lank julle vir ‘n kindjie gewag het nie. Ons het 9 jaar vir Lauretta gewag. Die dag toe ek my eie kind in Klerksdorp se hospitaal gesien het, sal ek nooit vergeet nie. Haar twee oupas en oumas was verskriklik opgewonde.

En net so opgewonde as wat my ouers oor hulle eerste kleindogter was, net so opgewonde was Oupa Abraham oor die tweeling. Hoe oud dink u was hy toe hulle gebore is?

Isak is gedurende die honderdste lewensjaar van Abraham gebore. Op 40-jarige leeftyd trou Isak met Rebekka. Hoe oud was oupa Abraham toe? 140 Jaar. Twintig jaar later is Esau en Jakob gebore. Hoe oud was oupa Abraham nou? 160 jaar. Genesis 25:26 sê vir ons Isak was toe 60 jaar oud.

ESAU SE VOORKOMS

Maar een van die tweeling is met ‘n vel-defek gebore. In mediese terme word dit HIPERTRIGOSIS genoem. Die oudste seuntjie was oortrek van haartjies. Maar dis nie al nie. Daar was ook ‘n pigmentiese verskynsel. Sy vel was uitermatig rooi.

Terwyl oupa Abraham die seuntjie bekyk, praat hy met Isak: “My seun, wat gaan julle hierdie mannetjie noem?”

“Pa, ek en Rebekka het gedink ons sal hom Esau noem, omdat hy so harig is.”
“My kind, ek dink dis ‘n paslike naam. En wat gaan julle die ander outjie noem?”

“Pa, ‘n snaakse ding het gebeur. Met geboorte het hy aan sy ouboet se hakskeen vasgehou. Rebekka en ek het toe besluit om hom Jakob te noem.”

Die Hebreeuse woord vir “hakskeen” is ‘aqeb’ en is verwant aan die werkwoord ‘aqab’ wat beteken om aan die hakskeen te gryp.

Wanneer mens na die destydse kultuur en taalgebruik kyk, ontdek jy dat die naam Jakob ook BEDRIEëR kan beteken.

Oupa Abraham begin te praat: “My kind julle noem nou die ou kleintjie Jakob. Maar weet julle wat? Figuurlik gesproke beteken dit bedrieër. Ek hoop nie die mannetjie gaan eendag ‘n slim skelm wees nie. Ek sal hom maar goed onderrig terwyl ek nog lewe.”

ABRAHAM EN JAKOB

Ek glo oupa Abraham en sy kleinkinders, Jakob en Esau het baie by mekaar gekuier. Maar omdat Jakob meer geestelik as Esau ingestel is, het oupa Abraham meer met Jakob oor die ewige dinge gesels.

Hoe lank het Jakob die voorreg gehad om sy oupa te leer ken as sy oupa op 175-jarige leeftyd gesterf het? Vyftien jaar.

Ek wonder waaroor die twee alles gesels het. Ek is seker hy moes vir Jakob vertel het hoe hy en Isak by Moria gaan offer het.

“En weet jy Jakob. Toe ek vir jou pa sê dat ek hom gaan offer, het jou pa nie weggehardloop nie. Hy het my nog gehelp om die hout op die altaar te pak en toe het hy bo-op die hout gaan lê.”

“Oupa Abraham, sê my, het Oupa gehuil toe Oupa vir Pappa moes offer? En Oupa, het Pappa ook gehuil?”

Oupa haal ‘n sakdoek uit die sak. Met ‘n hand wat baie bewe, vee hy die trane af wat oor sy verrimpelde gesig begin loop.

“Jakob my kind. Dit was die swaarste hartseer wat Oupa in sy hele lewe deurgemaak het. Maar dit was ook die swaarste hartseer wat jou pa deurgemaak het. Ons het mekaar vir oulaas gegroet.”

“En toe Oupa? Wat het toe gebeur?”

“My kind, Oupa het die mes opgelig om jou pa te slag. Maar Oupa het so gehuil, ek kon nie eers die mes of jou pa raaksien nie. Maar net voordat ek jou pa geslag het, was daar ‘n stem.”

“En wat het die stem gesê?” vra klein Jakob, terwyl hy intens na oupa Abraham luister.

“My kind, die stem het my naam genoem. Abraham. Abraham.” Oupa het toe geantwoord: “Hier is ek.” Dit was die stem van Here wat met my gepraat het. Wil jy hoor wat Hy vir my gesê het?”

Genesis 22:12. “Los jou seun! Moenie iets aan hom doen nie. Nou weet Ek dat jy My dien: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie.”

“My kind. Iewers in die toekoms gaan God die Vader ook met Sy Seun teen ‘n heuwel uitstap soos Oupa en Pappa gedoen het. Maar wanneer ons hemelse Vader vir Sy Seun gaan offer, sal daar nie ‘n ram wees om in Sy plek te sterf nie. Sy Seun, die Messias sal dan vir die sondes van die hele wêreld geoffer word.”
Miskien het oupa Abraham vir Jakob nader getrek en intiem met hom begin praat. “My kind as jy eendag hemel toe wil gaan, is daar iets wat jy dwarsdeur jou hele lewe sal moet doen. As die Heilige Gees vir jou sê dat jy gesondig het, moet jy luister.”

“Miskien sal die Stem van die Heilige Gees vir jou sê dat jy oneerlik was. Jy moet dan dadelik op jou knieë gaan en vir die Here sê dat jy baie jammer is en dat Hy asseblief tog al jou sondes moet vergewe.”

Soos enige godvresende oupa, glo ek dat Abraham diep geestelike lesse met sy kleinseun Jakob gedeel het. Ek glo ook dat hy op ‘n dag vir Jakob gevra het om sy hart aan die Here te gee.

ABRAHAM SE BEGRAFNIS

Die Bybel sê vir ons dat Abraham in Hebron in die grot van Magpela begrawe is. In my geestesoog kan ek hierdie groot begrafnis prosessie in Hebron sien. Die 15-jarige tweeling, Esau en Jakob is ook daar. ‘n Mens wonder wat alles deur hulle gedagtes gegaan het. Ek onthou nog hoe hartseer ek was toe my oupa die dag begrawe is.

By elke begrafnis dring die finaliteit van die dood tot ‘n mens deur. Ek glo die Heilige Gees het baie pertinent tot die harte van die tweeling gespreek. Jakob het gereageer, maar Esau het sy hart verhard.

DIE KINDERS WORD VOORGETREK – ISAK EN ESAU

Kom ons lees aangaande ‘n vreeslike fout wat Isak en Rebekka met die opvoeding van hulle kinders gemaak het.

Genesis 25:27,28. “Die seuns het grootgeword. Esau was ‘n ervare jagter, ‘n man van die veld; Jakob was ‘n rustige mens, hy het tuis gebly. Isak het vir Esau voorgetrek, want Isak het van wildsvleis gehou. Rebekka weer het vir Jakob voorgetrek.”

Ek sê altyd vir my kind dat ek vir haar die liefste van al my kinders is. Feit is, ek het net een kind. Sê nou maar ek het nog anders kinders gehad? Sou ek haar voorgetrek het?

Kan ek vir die ouers met meer as een kind ‘n vraag vra? Het jy een van hulle ‘n bietjie liewer as die ander? ‘n Mens kan dit seker nie help nie. Maar as jy een kind bo die ander begin voortrek, het jy ‘n probleem. Dis seker die grootste onreg wat ‘n mens ‘n kind kan aandoen. Deur die jare het ek met die swartskaap-kinders gepraat en na hulle pyn geluister.

As jy miskien vir een van jou kinders net so ‘n bietjie liewer is, moenie dit baie prominent wys nie. Hou dit heimlik vir jouself. Vra die Here om jou te help om deur sy genade onpartydig te wees.

Omdat Isak ‘n vredeliewende veeboer was, het sy seun Esau se teenoorgestelde geaardheid en jagtersgees hom geweldig aangetrek.

“Pa ek het die afgelope week by Petra gaan jag. Net toe ek deur die klofie in die stad inloop, was daar twee herte wat rustig in die koelte gestaan het. Ek het my pyl en boog gevat en die grootste ram met die eerste skoot morsdood geskiet.”

Pa Isak luister aandagtig hoe sy seun alles van sy jagtogte vertel. “Pa, proe net hoe lekker smaak hierdie stukkie wildsvleis wat ek spesiaal vir pa gaargemaak het.”

Isak en sy seun Esau het nader en nader aanmekaar beweeg. Maar ongelukkig het Esau verder en verder van die Here en sy ma beweeg. Hy het ‘n lelike, selfgesentreerde mens geword. Hy het by die plek gekom waar hy net sy eie vleeslike behoeftes geraadpleeg het.

REBEKKA EN JAKOB

Jakob het ‘n teenoorgestelde geaardheid gehad. Hy het in die dieper geestelike dinge belang gestel. Esau het nooit vir sy ma iets spesiaals gedoen nie. Maar Jakob het nooit haar verjaarsdag vergeet nie. Elke jaar met Moedersdag het hy vir haar ‘n pragtige bos blomme en ‘n mooi kaartjie gegee.

Op ‘n dag het Rebekka vir haar witbroodjie-seun Jakob, vertel dat die Here aan haar geopenbaar het dat hy eendag die seëning van die geboortereg sou ontvang.

“Ma, wat behels dit alles?” wou hy weet. “My kind, gaan vra vir jou pa, hy sal jou alles vertel.”

Isak het aan sy seuns verduidelik dat dit die volgende behels, naamlik:

1. Die ontvangs van die amptelike gesag van die vader.

2. ‘n Dubbele gedeelte van die vader se eiendom.

3. Die voorreg om die gesinspriester te word.

4. Erfgenaam van die beloofde land, Kanaän.

5. Die eer om die voorvader van die beloofde Messias te word.

Vandat Jakob van die seëninge van die geboortereg gehoor het, het hy ‘n vreeslike obsessie ontwikkel om dit eendag te ontvang.

Maar hoewel hy die ewige seëninge van meer waarde as die tydelike geag het, het Jakob geen proefondervindelike kennis van die God gehad wat hy eerbiedig het nie. Sy hart was nog nie deur Goddelike genade verander nie.

PROBREER DIE EERSGEBORE REG BEKOM

Hoewel Jakob die Goddelike bevestiging ontvang het dat hy die eersgebore reg sou ontvang, het hy deur menslike pogings probeer om dit in die hande te kry.

Deur sy menslike pogings om geestelike seën te bekom, het Jakob homself van sy dierbares vervreem en jare-lange selfverwyt gemaai.

Die Here beloof aan elke mens die seëninge van verlossing. As ons dit deur eie pogings probeer verdien, gaan ons net soos Jakob, mense van onsself vervreem en met selfverwyt sit.

Volgende keer gaan ons die hartseer gevolge van ‘n gesinstragedie bestudeer. Dit het alles gebeur omdat Jakob nie kon aanvaar dat die geestelike seëning van die Here ‘n geskenk is en nie iets wat deur menslike poging verdien kan word nie.

Was this article helpful?

Related Articles