1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Jakob Deel 11 – Ragel Se Dood
  1. Home
  2. Jakob
  3. Jakob Deel 11 – Ragel Se Dood

Jakob Deel 11 – Ragel Se Dood

JAKOB – DEEL 11 RAGEL STERF

Skriftuur: Genesis 35:6,7

In ons vorige studie van die lewe van Jakob was ons by Sigem. Kan jy nog onthou wat alles daar gebeur het? Dit was by Sigem waar die Here aan Jakob met ʼn spesifieke boodskap verskyn het. Hy moes wegtrek en ʼn altaar by Bet-El gaan bou. Met ander woorde, die Here het hom tot nuwe toewyding geroep.

Nadat Jakob ʼn roerende preek gegee het, het hy sy mense tot hervorming geroep. Hulle het gereageer en dinge in hulle lewe reg gemaak. ʼn Gat is onder ʼn groot boom gegrawe en daar het hulle sekere items gaan begrawe.

Genesis 35:2-4. “ Toe sê Jakob vir sy hele huis en vir almal by hom: Haal uit al die afgodsbeelde wat by julle is. Reinig julle en trek ander klere aan. Ons moet klaarmaak en Bet-El toe gaan. Daar moet ek ʼn altaar gaan bou vir die God wat my gebed verhoor het toe ek in die moeilikheid was en wat by my was waar ek ook al gegaan het. Hulle het toe al die afgodsbeelde in hulle besit vir Jakob gegee en ook hulle oorringe. Hy het dit onder die groot boom by Sigem begrawe.”

Baie jare gelede het ʼn dame my na haar huis laat kom. Sy het sommer baie vinnig met die deur in die huis geval en my van haar probleem vertel. Sy het op ʼn poliesman verlief geraak en dit het haar verskriklik gehinder. Sy wou met hom breek en wou by my weet hoe? My raad aan haar was om die verhouding en alles wat daarmee saamgaan, ook onder die “groot boom” by Sigem te begrawe. Sy het toe ʼn paar aandenkings van die man gaan haal en vir my gegee om weg te neem.

Ons het saam gebid en die Here gedank vir die oorwinning wat sy behaal het. Ek ken nie jou hart nie. Maar as daar iets in jou lewe is wat nie daar moet wees nie, raak daarvan ontslae en begrawe dit onder die groot boom van Sy vergifnis.

DIE HERVORMING IS RYKLIK BELOON

Wanneer mens die volgende teks lees, merk jy dat die Here se spesiale beskerming op Jakob se wegtrekkende laer gerus het. En dis vir my ʼn groot les. Wanneer ek alles in my lewe regmaak wat verkeerd is, kan ek seker wees dat die Here se seën op my doen en late sal rus. En ek wil net vir u sê dat daar niks so heerlik is as die wete dat jy alles doen wat die Here van jou verwag.

Vers 5. Toe Jakob-hulle wegtrek, het God die mense van die stede in daardie omgewing so bang gemaak vir Jakob en sy seuns dat hulle nie agtervolg is nie.

Wanneer ons doen wat reg is, kan ons, ons hele toekoms met gerustheid aan die Here oorlaat.

OP PAD NA BET-EL

Baie gedagtes maal deur Jakob se kop terwyl hy na Bet-El op pad is. Dit was die plek waar hy so absoluut verlore gevoel het. Dit was die plek waar hy op ʼn keer gevoel het dis nie die moeite werd om te leef nie. Kom ons luister hoe Moses hierdie ondervinding beskryf:

Genesis 35:6,7. “Jakob en al die mense by hom, het by Lus aangekom. Dit is die Lus wat in Kanaän geleë is, nou bekend as Bet-El. Hy het daar ʼn altaar gebou en die plek El-Bet-El genoem, want God het daar aan hom verskyn toe hy vir sy broer gevlug het.”

Kan jy sien hoe die klippe aangedra word en die altaar hoër en hoër styg. Daar word miskien ʼn paar koorde gesing, terwyl hulle daarmee besig is.

Uiteindelik word die lam geoffer. Jakob verduidelik weer ʼn keer hoe ʼn God van liefde eendag Sy Seun, die Messias sal stuur om in die plek van verlore sondaars te sterf. Jakob maak weer eens ʼn beroep op al sy mense om die verlossing van die Here wat deur die onskuldige lam gesimboliseer word, aan te neem.

Jakob maak ook ʼn beroep op sy mense om nie alleen die verlossingswerk van God NAMENS hulle aan te aanvaar nie. Hy maak ook ʼn beroep op hulle om die Here toe te laat om ʼn verlossingswerk IN hulle te doen.

HERHALING VAN VERLOSSINGSBOODSKAP

Daar kom kere in ʼn mens se lewe dat jy ver van die Here af voel. Daar kom kere wanneer ʼn mens wonder of die Here jou nog regtig lief het en regtig verlos het. Miskien het die sondes van sy vrouens en kinders hom so skuldig laat voel dat hy ʼn groot behoefte aan die herversekering van God se genade nodig gehad het.

En dis presies wat gebeur het:

Vers 10. God het vir hom gesê: “Jy is Jakob, maar jy sal nie langer Jakob genoem word nie. Jou naam sal Israel wees. God het hom toe Israel genoem.”

Miskien het hy homself maar weer Jakob begin noem; die ou sondaar, die ou skelm. Miskien het jy ook al in moedeloosheid besluit dat jy tog nooit iets anders as ʼn verlore Jakob, ʼn bedrieër sal wees nie.

Miskien is dit wat mense of die duiwel ook al vir jou gesê het. Wat die Here destyds vir Jakob by Bet-El herhaal het, herhaal Hy vanoggend weer aan jou en my: Deur My genade is jy nie ’n Jakob nie. Jy is nie ʼn verloorder nie. In My is jy ʼn Israel, ʼn oorwinnaar.

DIE REIS NA BETLEHEM

Een oggend het Jakob baie goeie nuus ontvang. Ragel wat vir hom die goeie nuus gebring het: “Pappa, ek verwag. Ek is so dankbaar. Dit was my grootste begeerte om vir jou nog ʼn kind in die wêreld te kon bring. Jy weet, dis nou amper 17 jaar na Josef se geboorte. Met kere het ek getwyfel of ek ooit weer swanger sou word. Jakob, is die Here nie goed vir jou en my nie?”

Kan jy die geluk uit Jakob se gesig sien straal? Trane van blydskap vloei oor sy wange. Maar hierdie goeie nuus kon nie stilgehou word nie. Josef moes daarvan hoor. “Josef my skat,” roep Ragel, “kom hoor gou hier. Pappa en Mamma het vir jou goeie nuus. Jy het al so lank vir ʼn boetie gebid en Jesus het nou jou gebede beantwoord. Jy gaan binnekort ʼn boetie of ʼn sussie kry. Ons hoop maar dis ʼn boetie.”

Ragel, Jakob en Josef het die dae van hierdie groot dag begin aftel. Kom ons lees wat gebeur het:

Vers 16. Jakob-hulle het van Bet-El getrek na Efrata toe. Hulle was nog ʼn ent daarvandaan toe bring Ragel ʼn kind in die wêreld. Dit was ʼn moeilik geboorte. Met die dat Ragel so swaar ly by die bevalling, sê die vroedvrou vir haar: “Moenie bekommerd wees nie. Ook hierdie keer het jy ʼn seun!”

RAGEL SE DOOD

Daar is paniek. Daar is benoudheid. Arme Ragel is besig om die laaste groot trauma van haar lewe binne te gaan. Arme Jakob bid deurentyd. “Ag Here. U wat my so baie keer uit groot benoudheid gehelp het, help my tog ook hierdie keer. Spaar my dierbare Ragel.”

Het jy al ernstig met die Here gepleit dat Hy een van jou dierbares se lewe moet spaar? En is jy al deur die vreeslike hartseer van onbeantwoorde gebed? Baie moeders het al by hulle sterwende kinders met die Here gepleit: “Ag Here, spaar my kind se lewe.” Baie kinders het al by hulle ouers se sterfbed gebid: “Ag Here spaar my pa/ ma se lewe.” En dan die onbeheerste snikke wanneer ’n dierbare sterf.

En dan die waaroms? “Hoekom het die Here nie ons gebede beantwoord nie. Ek het Hom so mooi gesoebat?”

Vers 18 “Maar Ragel was aan die sterf en terwyl sy haar laaste asem uitblaas, noem sy die seuntjie Ben-Oni. Sy pa het hom egter Benjamin genoem.”

Wat ʼn droewige oomblik in die lewe van Jakob. Hy sien hoe sy liefling Ragel in haar doodsnikke van haar pasgebore, huilende babatjie afskeid neem. Sal hy ooit sy vrou se pleitende, sterwende oë vergeet? Sal hy ooit haar laaste paar woorde vergeet? “Jakob. Noem hom Ben-Oni, seun van my sterwenspyn.” Sal hy ooit die lewelose Ragel en die huilende ou seuntjie vergeet? Sal hy ooit die pyn van daardie oomblik vergeet? Nee.

Verse 19,20 “Ragel het gesterf, en sy is begrawe langs die pad na Efrata toe, dit is Betlehem. Jakob het ʼn groot klip op haar graf gesit. Dit is die klip wat nou nog op haar graf is.”

Wanneer ʼn mens vanaf Jerusalem na Betlehem ry, kom jy by ʼn plek waar die pad vurk. Op die regterkant is daar ʼn kapelletjie wat ter ere van Ragel se dood opgerig is. Die eerste keer toe ek hier besoek het, was ek beïndruk met die plegtige atmosfeer van die plek.

My gedagtes het na Jakob uitgegaan wat gesien het hoe sy vrou hier begrawe is. In my geestesoog kan ek die 106-jarige patriarg by die begrafnis van sy vrou sien: Hy sê totsiens vir die nooi wat hy 30 jaar gelede ʼn skelm soentjie gegee het.

Nou is daardie lippe koud en styf. Hulle sal nooit weer met hom praat nie. Hy neem afskeid van die vrou vir wie hy 14 jaar gewerk het. Hy sê totsiens vir die vrou wat net na hulle troue, 15 jaar lank vir ʼn kind gebid het. Hy dink terug aan die dag toe Josef gebore is.

“Pa,” vra ʼn hartseer Josef, “sal ons eendag weer vir Ma sien?” Terwyl die begrafnisrede aan die gang is, huil ʼn babaseuntjie. ʼn Seuntjie wat sonder sy biologiese ma sal grootword. Met ʼn stukkende hart en onbeskryflike pyn neem Jakob afskeid van die vrou wat hy met sy hele hart lief gehad het. Met ʼn onbeskryflike eensaamheid stap hy terug na ʼn leë, eensame huis.

BEN-ONI = BENJAMIN

Na die begrafnis het Jakob klein Ben-Oni se naam na Benjamin verander. Van “Swaarkryseun” na “Regterhandseun.”

“Josef, ons gaan nie vir boetie Ben-Oni noem nie. Dit sal nie goed wees as almal hom ‘Swaarkryseun’ noem nie. Hy kan ʼn kompleks ontwikkel. Kom ons noem hom Benjamin, ‘Regterhandseun.’ Klink dit nie vir jou beter nie? Ons dink liewer aan die vreugde van ons nuwe boetie as aan die dood van ons geliefde ou moedertjie.”

VERANDER DIE NEGATIEWE NA DIE POSITIEWE

Dit wat Jakob gedoen het, is vir my pragtig. Hy verander Ben-Oni na Benjamin. Hy verander die negatiewe na die positiewe. Hy verander die hartseer na ʼn blydskap.

Van “Swaarkryseun” of “weeskind,” word Benjamin “Seun van my regterhand.”

REGTERHAND

Wanneer mens deur die kunsgalery van die Bybel stap, ontdek jy dat die skildery met die benaming “Regterhand” in ʼn baie duur portretraam gemonteer is. Weet jy hoekom? Regterhand word met die magtige verlossing van die Here verbind. En wat Jakob eintlik met die naamsverandering van Ben-oni na Benjamin gedoen het, was om die seuntjie aan die verlossing wat daar in die Here is, te herinner.

Kom ons verander ons Ben-oni’s na Benjamins. Kom ons verander die hartseer-ondervindings van die lewe na vreugdesondervindings. Kom ons sien eerder die verlossingsgenade van die Here raak, as wat ons die smarte van die lewe raaksien.

NAOMI

Jakob was ʼn bietjie anders as wat Naomi was wat ook op ʼn keer hier by Betlehem aangekom het. Die naam Naomi beteken “aangenaamheid”. Maar iets het in haar lewe gebeur. Toe sy van Moab teruggekeer het, het sy vir die mense gesê om haar “Mara” te noem. U weet seker wat “mara” beteken? Dit beteken bitterheid.
ʼn Engelse digter skryf: “Two men behind the bars: one saw mud, the other stars.”

Moenie doen wat Naomi gedoen het nie. Moenie jou naam van “aangenaamheid” na “bitterheid” verander nie. Daar is soveel mooi dinge in die lewe. Kom ons weier om bitter te raak. Kom ons doen wat Jakob gedoen het. Kom ons verander ons Ben-oni’s na Benjamin. Ons hartseer na vreugde.

OBED – DAWID – JESUS

Eeue later het Rut, die Moabitiese vrou, ook by Betlehem aangekom. Sy het met Boas getrou. Die seuntjie wat vir hulle gebore is, is Obed genoem. Dit beteken “Dienskneg”. Etlike jare later is daar op dieselfde plek ʼn kleinseun vir Obed gebore. Kan u raai wie dit was? Dawid. En Dawid beteken “Geliefde”.

DIE GEBOORTE VAN JESUS

En toe, ongeveer ʼn 1000 jaar later het ʼn verwagtende vrou van Nasaret, net soos Ragel eeue vantevore, in Betlehem aangekom. Terwyl sy by Ragel se graf verbystap, wonder sy hoe haar bevalling sal verloop. Maar alles het vlot verloop en die seuntjie wat gebore is, is Jesus genoem. Dit is Hy wat Sy volk van hulle sondes sou verlos.

Soos wat Ben-Oni Jakob se Benjamin “Regterhandseun” geword het, so het Jesus ook vir elke sondaar ʼn Benjamin kom word, ʼn Regterhandseun. En net soos Dawid die Betlehemiet, ʼn “Geliefde” genoem is, net so is Jesus die Betlehemiet, ook ʼn “Geliefde van God” genoem.

AANKOMS IN HEBRON

Kom ons hoor wat volgende met Jakob gebeur het:

Vers 27. “Jakob is na sy pa Isak toe in Mamre by Kirjat-Arba, dit is Hebron, waar Isak gebly het, en vroeër ook Abraham.” Wat ʼn aankoms. Jakob sien weer ʼn keer die omgewing waar hy grootgeword het. Gebeure uit sy kinderjare doem voor hom op. Hy sien weer sy oupa Abraham wat hom van die verlossingsplan vertel het.

Hy sien weer ʼn keer die kombuis waar sy oorlede ma, Rebekka vir hom kos gemaak het. Hy sien die plekke waar hy en Esau saamgespeel het. Dit was seker ʼn baie emosiebelaaide oomblik toe ʼn blinde ou vader sy seun na 30 jaar se afwesigheid weer omhels.

Op hierdie stadium was Jakob 106 jaar oud en Isak 166. Vir die volgende 14 jaar het Jakob sy pa Isak gehad om hom in sy groot, eensame hartseer te ondersteun.

JAKOB EN ESAU SKEI

Esau het aan en af in Petra gaan woon. Met Jakob se aankoms in Hebron, het hy finaal na Petra verhuis. Kom ons hoor waarom:

Genesis 36:6-8 “Maar Esau het met sy vrouens en sy seuns en dogters en al die mense by hom en met sy kleinvee en grootvee en al sy besittings wat hy in Kanaän bymekaar gemaak het, weggetrek na ʼn ander land toe, weg van sy broer Jakob af. Hulle twee se besittings was te veel, hulle kon nie saam boer nie, en die land waar hulle as vreemdelinge gebly het, kon nie hulle vee dra nie. Esau, dit is Edom, het in die Seïrberge gaan woon.”

JOSEF SE DROME

En nou kom ons by die verhaal van Jakob se grootste hartseer en sy grootste vreugde. Ek sal nie oor sy swakhede praat nie. Jy kan gerus self daaroor lees.
Op ʼn wonderbaarlike wyse gaan ons ontdek hoe die gebeure in die lewe van Jakob en Josef die werk van die komende Messias gaan illustreer. Ons noem dit tipologie. Die verhale van die Ou Testament het net een heerlike tema en dit is Jesus Christus, die Sondaarsvriend en Redder.

Genesis 37:1,2. “Jakob het in Kanaän gebly, die land waar sy voorvaders ook as vreemdelinge gebly het. Hier volg die familiegeskiedenis van Jakob. Josef was nog jonk, sewentien, toe hy kleinvee opgepas het saam met sy broers, die seuns van Bilha en Silpa, sy pa se vrouens. Josef het slegte stories oor sy broers by hulle pa aangedra.”

Volgende keer gaan ons na die ryke geskiedenis van Jakob en Josef luister. Mag die Here ons harte voorberei om die geestelike en praktiese lesse te leer wat in Sy Woord opgeteken staan.

Was this article helpful?

Related Articles