1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Jakob Deel 21 – Benjamin En Die Silwer Beker
  1. Home
  2. Jakob
  3. Jakob Deel 21 – Benjamin En Die Silwer Beker

Jakob Deel 21 – Benjamin En Die Silwer Beker

21. JAKOB – DIE SILWER BEKER
Die broers het gemoedelik saam met die Regeerder geëet. Dit was so heerlik om Simeon weer by hulle gehad het. Hulle jubel want hulle kan Benjamin veilig in lewende lywe aan sy pa besorg.
Hulle sien al hoe oupa Jakob hulle en sy jongste seun met vreugde en trane van blydskap te verwelkom. Het jy al ‘n droom gehad wat jy geglo het sou uitkom en toe…
Genesis 44:1 Toe beveel Josef sy hoofamptenaar: “Maak die graansakke van die manne vol met net soveel kos as hulle kan vervoer, en sit elkeen se geld bo in sy sak.

Weer kan Josef dit nie oor sy hart kry om hulle geldjies te neem nie. Hy wonder wat hulle reaksie gaan wees wanneer hulle die geld gaan ontdek.

Maar toe doen Josef iets ongewoons. Dit sou die finale toets vir sy broers se integriteit wees.

Vers 2 En my beker, my silwerbeker, moet julle bo in die sak van die jongste sit saam met die geld vir sy graan.” Die hoofamptenaar het gedoen wat Josef gesê het.

Kan jy dink wat volgende gaan gebeur? Dit was die finale en deurslaggewende toets voordat Josef homself aan sy broers gaan bekendstel.

Sy doel was om ‘n situasie te skep waarvolgens hy wetlik Benjamin in Egipte kan agterhou. Dan het hulle ‘n verskoning gehad waarom hulle jongste broer nie saamgekom het nie.

Hierdeur sou hy bo enige twyfel kon vasstel watter kaliber mans hulle was. Of hulle gaan by Josef se besluit bly om Benjamin in Egipte agter te hou en die skokkende nuus aan Jakob vertel.

Dan sal Jakob hom met die gedagte moet versoen dat die oorblywende seun van Ragel verlore is. Of hulle gaan alles in hulle vermoë doen om so ‘n hartverskeurende ramp te voorkom.

Vers 3 Ligdag die volgende môre is die manne toe met hulle donkies daar weg.

Vers 4 Hulle was nog nie ver uit die stad uit nie, toe sê Josef vir sy hoofamptenaar: “Kom, sit die manne agterna. En as jy hulle ingehaal het, moet jy vir hulle vra: Waarom beantwoord julle die goeie met die slegte?

Vers 5 Dit is die beker waaruit Meneer drink en waarmee hy voorspellings doen. Dis ’n lelike ding wat julle gedoen het.”

Die beker was ‘n baie waardevolle item. Daar is geglo dat hy kon agterkom as daar gif in geplaas is. Klasieke skywers praat van Oosterse gebruik om water in die beker te gooi sodat hulle toekomstige gebeure kon waarneem. (Jamblichus De mysteriis iii. 14).

‘n Ander gebruik was om water in die beker te gooi en dan stukkies goud, silwer of kosbare stene daarna. Hy observer en interpreter die voorkoms van die water. (Pliny Natural History xxxvii. 73; Strabo Geography xvi. 2. 39).

Die feit dat die amptenaar hierdie dinge aan die broers gesê het, het nie geïmpliseer dat Josef hierdie bygelowe gepraktiseer het nie. Toe Josef hulle volgens hulle ouderdomme aan tafel laat sit, het hy toegelaat dat hulle gedink het dat hy hulle gedagtes kon lees.

Dit sou hulle ontsenu en gehelp om nie voor te gee wat hulle nie was nie. Asgevolg van Josef se uitsonderlike wysheid kon die Egiptenare dit aan die gebruik van towery toegeskryf het.

Josef het die sewe goeie en sewe slegte jare haarfyn voorspel en Egipte daarvoor voorberei. Natuurlik het hy asgevolg hiervan, die Egiptiese towenaars by verre oortref.

Dink jy dis moontlik dat sy faam as ‘n wyse man aan die antieke wêreld bekend was. Die veronderstelde diewe is gekonfroteer met die internasionale waarde van die beker.

Verse 6,7 Toe die hoofamptenaar hulle ingehaal het, het hy dit alles vir hulle gesê, 7maar hulle het vir hom gesê: “Waarom sê u so? Nie een van ons sal so iets aanvang nie.

Vers 8 Die geld wat ons die vorige keer in ons graansakke ontdek het, het ons uit Kanaän uit vir u teruggebring. Waarom sou ons dan goud of silwer uit die huis van u hoof steel?

Hoe dink jy het die broers op hierdie aantuiging gereageer? Ek hoop nie hulle gaan ‘n onverantwoordelike belofte maak nie.

Vers 9 Die een by wie iets van u hoof gekry word, kan doodgemaak word, en ons sal dan u slawe word.”

Met ‘n besef van hulle onskuld aarsel hulle nie om ‘n verskriklike vonnis op hulle self te vel as die beker by hulle gevind word nie.

Miskien het een van hulle uitgeroep: “Stadig met daardie belofte. Verlede keer was daar geld in ons sakke gevind. Wie weet of so iets nie weer kan gebeur nie.”

Die ongeveinsde vriendelikheid, die ongelooflike ete en gasvryheid deur die hooggeplaasdes het hulle twyfel oor Josef se eerlikheid besweer.

Vers 10 Die hoofamptenaar het geantwoord: “Goed en reg! Dit sal wees soos julle sê, maar net die een by wie die beker gekry word, sal my slaaf word. Julle ander sal onskuldig wees.”

Die hoofamptenaar gee voor dat hy ‘n sin van geregtigheid besit en dat net die een by die beker gevind word, gestraf sal word. Hier is ‘n les. Wanneer iemand praat voor hy gedink het, moet ons hulle nie uitbuit nie.

Dit kan ook met ons gebeur en dan sal ons die toegeeflikheid van ander waardeer.

Vers 11 Toe het elkeen gou sy sak op die grond neergesit en dit oopgemaak.

Vers 12 Die hoof-amptenaar het dit deurgesoek: hy het by die oudste s’n begin en by die jongste s’n laaste uitgekom en die beker in Benjamin se sak gekry.

Wat merk hulle op? Soos wat hulle aan tafel geplaas is, so word die sakke ondersoek. Die een sak na die ander word deursoek.

“Ag dankie tog dis nie in my sak nie,” sê hulle nadat hulle sakke deursoek is. Met opgehoue asem kyk hulle hoe Benjamin se sak oopbemaak word en die beker daar uitgehaal word.

Vers 13 Toe skeur hulle hulle klere. Elkeen het weer sy donkie gelaai en hulle het omgedraai stad toe.

Nou gaan ons sien hoe hulle regtig oor hulle pa se witbroodjie voel en hoe sy voortrekkery deur die regeerder hulle geraak het.

Gaan hulle Benjamin aan sy lot oorlaat soos vir Josef? Sal hulle toelaat dat hulle pa aan verdriet sterf of sal hulle hulle eie Vryheid prys gee sodat Benjamin na sy pa terugkeer?

Dis so ‘n mooi verhaal van slegte mense wat toegelaat het dat die Here hulle mooi gemaak het.

Vers 14 Juda en sy broers het by Josef se huis aangekom. Hy was nog daar, en toe val hulle op die grond voor hom neer.

Kan jy hulle voor Josef sien neerval? Hulle is omtrent in ‘n toestand. Kan die argeologie so ‘n neerval bevestig?

Egiptiese grafprente sê ja. Een muurprent wys hoe mense voor general Haremhab neerval (14de eeu vC.) party lê plat op hulle die grond met uitgestrekte arms terwyl hulle vir genade pleit.

Ander kniel voor hom met uitgestrekte arms om die general met die belangrikheid van hulle versoek te beïndruk. Hulle pleit om in Egipte te vestig omdat hulle uit hulle land verban is.

Vers 15 Josef het vir hulle gesê: “Waarom het julle dit aangevang? Julle weet tog dat ’n man soos ek voorspellings moet doen!”

Josef weer so kwaai soos wat hy was toe hulle die eerste keer kom kos koop het

Vers 16 Juda het geantwoord: “Wat kan ons vir Meneer sê? Wat kan ons antwoord en hoe kan ons onsself verontskuldig? God het ons sonde aan die lig gebring. Hier is ons, ons is Meneer se slawe: ons almal, saam met hom by wie die beker gekry is.”

Juda die spreekbuis probeer nie om hom en sy broers te veronskuldig nie. Hy bely hulle sonde. Watter sonde was dit? Dit was nie die steel van die beker nie maar mishandeling en verkoop van Josef.

Josef het hulle angs aangevoel met die oog op die straf wat vir hulle gewag het. Die plek waarheen hulle Josef as slaaf verkoop het, sou hulle verdiende loon wees.

Hoe het Josef hierop gereageer?

Vers 17 Toe sê Josef: “Dit laat ek nie toe nie. Dié een by wie die beker gekry is, sal my slaaf word, en julle kan ongehinderd na julle pa toe gaan.”

Vers 18 Maar Juda het nader gekom na Josef toe en gesê: “Asseblief tog, Meneer! Laat ek tog net nog een keer iets sê. Moet tog nie vir my kwaad word nie! U is soos die farao self.

Die volgende 17 verse herhaal die rede wat Juda namens sy broer Benjamin gemaak het. Dit word as een van die uitstaande meesterstukke van Hebreeuse literêre komposisies beskou.

Dis ook nie per toeval dat dit as een van die beste voorbeelde van natuurlike welsprekenheid in die wêreld beskou word nie. In hierdie pleidooi vir die vrylating en onskuldigbevinding van Benjamin, kry ons die pleidooi van ‘n ander Juda, Jesus, vir die vrylating van die sondaar.

Vers 18 Maar Juda het nader gekom na Josef toe en gesê: “Asseblief tog, Meneer! Laat ek tog net nog een keer iets sê. Moet tog nie vir my kwaad word nie! U is soos die farao self.

Sy voordrag begin met ‘n versoek dat die Regeerder hom genadiglik sal aanhoor. Hy praat met hom as een wat aan farao gelyk was, en wat die gesag besit om te veroordeel of om vry te spreek.

Farao was as ‘n god beskou, die toonbeeld van alle volmaaktheid. Die grootste eer en kompliment wat jy vir iemand kan gee, is om hom met die farao te vergelyk. Briljant Juda. Gaan voort

Verse 19,20 Meneer het ons gevra of ons pa nog leef en of ons nog ’n broer het, 20en ons het vir Meneer gesê: ‘Ja, ons pa is oud. En op sy oudag het hy nog ’n jong seun wie se broer dood is. Die seun is die enigste wat van sy ma oorgebly het, en sy pa het hom lief.

Juda begin om te vertel hoe Benjamin in hierdie dilemma betrokke geraak het. Josef het oor die familie uitgevra en hulle het hom van hulle jongste broer vertel.

Josef het daarop aangedring dat hulle nie na Egipte mag terugkom as Benjamin nie saamkom nie. Dit sou die waarheid van sy bestaan bevestig.

Verse 21,22 Maar u het gesê ons moet hom na u toe bring sodat u hom kan sien. 22Toe het ons vir Meneer gesê: ‘Die kind kan nie van sy pa af weggaan nie, en as hy sou weggaan, sou dit sy pa se dood beteken.’

Verse 23,24 Maar u het vir ons gesê u wil ons nie weer sien as ons jongste broer nie hierheen kom nie. 24En toe ons weer terug was by u onderdaan, ons pa, het ons hom vertel wat Meneer gesê het.

Verse 25,26 Toe ons pa ons later weer vra om vir ons ’n bietjie kos te gaan koop, 26het ons vir hom gesê: ‘Ons kan nie gaan as ons jongste broer nie by ons is nie. Net as hy saamgaan, kan ons gaan, want as ons jongste broer nie by ons is nie, sal die man ons nie weer daar ontvang nie.’

Baie hoflik, maar in duidelike terme, herinner hy Josef daaraan dat dit sy versoek was waarom Benjamin nou in Egipte was. Dan beskryf Juda in die mooiste, sagste taal die liefde van sy vader vir sy seun van sy ouderdom en sy ontsettende pyn dat hulle sonder Benjamin nie in Egipte kan gaan kos koop nie.

Hy vertel aan die Regeerder die ontsettende angs, na intense wroeging en worstelling, hoe sy pa toegelaat het om Benjamin te laat gaan. Met trane in sy oë sê hy dat hulle die ou grysaard met ‘n gebroke hart sal begrawe as sy seun Benjamin iets sou oorkom.

Vers 27 Toe het u onderdaan, ons pa, vir ons gesê: ‘Julle weet my lieflingvrou het net twee seuns vir my in die wêreld gebring.

Vir die eerste keer word daar melding van sy spesiale liefde vir Ragel gemaak.

Vers 28 Die een is van my af weg en ek moes aanvaar dat ’n roofdier hom opgevreet het, en ek het hom tot nou toe nog nie weer gesien nie.

Omdat Josef niks van homself laat hoor het nie, het Jakob veronderstel dat hy dood is. Ons kyk hier na ‘n groot onmeetbare liefde tussen Josef en sy pa.

Vers 29 As julle nou ook nog hierdie jongste van my af wegvat en hy kom iets oor, sal julle my in my ouderdom laat sterf van verdriet.’

Verse 30,31 Wanneer ons dus by ons pa terugkom en die seun aan wie hy so geheg is, is nie by ons nie, 31ja, as hy moet sien die seun is nie daar nie, sal hy sterf. So sal ons ons pa wat ’n ou man is, van kommer laat sterf.”

Vers 32 Juda het verder gesê: “Ek het vir my pa gewaarborg dat die seun sal terugkom. Ek het belowe ek sal vir altyd by my pa in die skuld wees as ek die seun nie terugbring nie.

Verse 33,34 Hou my daarom dan nou hier as Meneer se slaaf in die plek van die seun, maar laat hý saam met sy broers teruggaan. 34Hoe kan ek sonder die seun by my pa aankom? Ek sal dit nie kan verdra om te sien dat so ’n smart hom tref nie.”

Juda se selfopoffering is voorwaar prysenswaardig. Om vrywillig ‘n slaaf in die plek van ‘n broer te word wat deur sy pa voorgetrek word, ten einde sy pa hartverskeurende pyn te spaar, kannie nie oorbeklemtoon word nie.

Juda se grootmoedige, onselfsugtige daad is nog nooit oortref nie en selde geëewenaar. Wat ‘n waardige voorsaad van die Beloofde Saad, Jesus die Messias. En wat ‘n waardige voorbeeld word aan die uitverkore volk van God gegee – Judah.

Kan jy jouself indink in watter emosionele toestand Josef op hierdie oomblik verkeer het? Hy kon nie langer die verandering in sy broers betwyfel nie. En veral in Juda wat lankgelede met welsprekenheid die verkoop van Josef as slaaf aangemoedig het nie.

Lauretta sê hier waar die drama afgespeel het: Josef se briljante strategie was geslaagd. Hy was finaal van hulle hulle mooi houding oortuig en tevrede dat hulle bekering opreg en eg was.

Die groot en dramatiese oomblik het aangebreek. Josef was gereed om homself aan sy broers vir wie hy so lief was, te openbaar.

Het iemand jou vir goedkoop verkoop? Volgende keer gaan ons sien hoe ons grootste verwerping, ons grootste pyn in die heerlikste ondervinding omskep kan word.

Was this article helpful?

Related Articles