1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Jakob Deel 24 – Jakob En Josef Se Dood
  1. Home
  2. Jakob
  3. Jakob Deel 24 – Jakob En Josef Se Dood

Jakob Deel 24 – Jakob En Josef Se Dood

24. JAKOB – SY EN JOSEF SE DOOD
Josef het vyf van sy broers na farao geneem om hulle grond in besit te neem. Uit dankbaarheid vir Josef sou hy hulle in hoë poste aangestel het. Dit sou hulle aan ‘n gevaarlike politeïstiese omgewing blootstel.
Genesis 47:6 laat jou vader en jou broers in die beste deel van die land woon

Kort na hulle aankoms het Josef sy pa aan die farao gaan voorstel. Die luukse wat hy in die paleis gesien het, was nie iets waaraan hy gewoond was nie. Maar temidde van die skoonheid van die natuur het hy met ‘n magtiger Koning gemeenskap gehou. Bewus van sy oortreflikheid het hy sy hande opgehef en farao geseën.
Jakob het nog 17 jaar van soete rus in Goosen deurgebring. Wat dink jy het hy alles waargeneem? Toe hy die dood voel naderkom, het hy Josef laat roep.
Genesis 47:30 Wanneer ek met my vaders ontslaap het, bring my dan weg uit Egipte en begrawe my in hulle graf. En hy antwoord: Ek sal handel ooreenkomstig u woord.

Toe Josef sy vader vir die laaste keer gaan besoek, het hy sy twee seuns Efraim en Mannasse saamgeneem. Aan moederkant was hulle aan die hoogste priesterorde in Egipte verbind.
Hulle pa se amp kon vir hulle rykdom en aansien bekom as hulle sou verkies om Egiptenaars te word. Josef se wens was dat hulle hulle by sy familie moes aansluit.
Hy het sy geloof in die verbondsbelofte bewys deur namens sy seuns van die hoogste eer afstand doen en liewer tussen die veragte herderstamme te wees aan wie die orakels van God toevertrou is.
Vers 5 Nou dan, jou twee seuns wat vir jou in Egipteland gebore is voordat ek in Egipte na jou gekom het, is myne. Efraim en Manasse sal myne wees net soos Ruben en Símeon.

Hy sou hulle as sy eie aanneem en hulle sou die hoofde van afsondelike stamme word. Een van die voorregte van die geboortereg wat Ruben verbeur het, sou dus op Josef val – naamlik om n dubbele deel in Israel te ontvang.

Weens sy hoë ouderdom kon Jakob nie meer so goed sien nie, en hy was aanvanklik onbewus van die teenwoordigheid van die jongmanne, toe hy hulle egter dofweg opmerk, vra hy:
Vers 8,9 Wie is dit?9 En Josef antwoord sy vader: Dit is my seuns wat God my hier gegee het. En hy sê: Bring hulle tog by my, dat ek hulle kan seën.

Toe hulle nader kom, het die patriarge hulle omhels en gesoen en toe lê hy sy hande plegtig op hulle hoofde om hulle te seën en hy bid:

Vers 15,16 Die God voor wie se aangesig my vaders Abraham en Isak gewandel het, die God wat my as Herder my lewe lank gelei het tot vandag toe,16 die Engel wat my uit elke teëspoed verlos het – mag Hy die seuns seën.

Geen selfvertrou, geen steun op menslike krag of slim planne nie. God het hom bewaar en onderhou. Hy het nie oor die swaar verlede gekla nie. Hy het die beproewinge en verdriet nie meer as dinge beskou wat “teen” hom was nie. Het het net aan die Here se genade en goedheid gedink wat hom op sy pelgrimspad vergesel het.
Nadat hy die seen uitgespreek het, het hy aan sy seun die versekering gegee – en daardeur ook aan toekomstige geslagte deur die jare van slawerny en verdriet ‘n getuienis van sy geloof – Kyk, ek gaan sterwe, maar God sal met julle wees, en Hy sal julle terug laat gaan na die land van julle vaders. Vers 21
Die seuns van Jakob het by sy sterfbed saamgekom. Genesis 49:2 “Versamel en hoor, seuns van Jakob, en luister na Israel, julle vader!” “dat ek julle kan verkondig wat julle aan die einde van die dae sal wedervaar.” Vers 1.
Dikwels en met besorgheid het hy al aan hulle toekoms gedink en hy het probeer om hom die toekomstige geskiedenis van die verskeie stamme voor te stel.
Terwyl sy kinders gewag het om sy laaste seën te ontvang, het die Gees van Ingewing oor hom gekom. Hy het die toekoms van sy nakomelinge is in ‘n profetiese gesig aan hom geopenbaar.
Een na die ander is sy seuns se name genoem: die karakters van elkeen is beskryf en die toekomstige geskiedenis van elke stam is kortliks voorspel.
Vers 3 Ruben, jy is my eersgeborene, my krag en die eersteling van my sterkte; die vernaamste in hoogheid en die vernaamste in mag!

So het die vader die plek beskilder wat Ruben as eersgeborne seun moes beklee het; maar sy gruwelike sonde het hom onwaardig vir die seen van die eersgeborene gemaak.
Jakob het vervolg: Vers 4 Opbruising soos van waters – jy sal die vernaamste nie wees nie
Die priesterskap is aan Levi toegeken, die koningskap en die belofte van die Messais aan Juda. Josef het die dubbele erfdeel ontvang. Die stam van Ruben het nooit in Israel belangrik geword nie; dit was nooit so talryk soos Juda, Josef of Dan nie en wat een van die eerste stamme wat in ballingskap weggevoer is.
Naas Ruben was Simeon en Levi die oudstes. Hulle het saamgespan in hulle wrede verradeliheid teenoor die Sigemente en was ook die voorbokke in die verkoping van Josef. Van hulle is daar gesê:
Vers 7 Ek sal hulle verdeel in Jakob en hulle verstrooi in Israel.

Toe Israel net voor hulle intrek in Kanaän getel is, was Simeon die kleinste stam. In sy laaste seen het Moses van Simeon geen melding gemaak nie.

Toe die stamgebiedes in Kanaän uitgedeel is, het hierdie stam net ‘n klein gedeeltetjie van Juda se aandeel gekry. en die families wat later sterk geword het, het hulle buite die grense van die Heilige Land gevestig.

Levi het ook geen erfdeel behalwe agt-en-veertig stede gekry nie en die wat in verskillende dele van die land geleë. Toe die ander stamme by Sinai afvallig geword het, het hulle aan die Here getrou gebly.

Asgevolg hiervan is hulle vir dienswerk in die heiligdom aangestel. Dit het die vloek in ‘n seen verander.

Die voortreflikste seëninge van die geboortereg is op Juda oorgedra. Die naam beteken lof, en die profetiese geskiedenis van die stam is soos volg uiteengesit:

Verse 8-10 Juda, jy is dit! Jou sal jou broers loof. Jou hand sal op die nek van jou vyande wees; voor jou sal die seuns van jou vader hulle neerbuig. 9 Juda is ’n jong leeu; van die roof af het jy opgeklim, my seun. Hy buig hom, hy gaan lê soos ’n leeu en soos ’n leeuin; wie sal hom opjaag? 10 Die septer sal van Juda nie wyk nie, nòg die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees.

Die leeu, die koning van die woud, is ‘n paslike sinnebeeld van hierdie stam uit wie Dawid gekom het, en na hom die Seun van Dawid, Silo, die ware “Leeu van die stam van Juda,” voor wie al die magte sal neerbuig en aan wie die volke hulde sal bewys.

Vir die meeste van sy kinders het Jakob ‘n voorpoedige toekoms voorspel. Uiteindelik het hy by Josef se naam uitgekom, en die vader se gemoed het vol geskiet toe hy die seen uitgespreek het oor “die hoofskedel van die uitverkorene onder sy broers”:
Verse 22-26 Josef is ’n jong vrugteboom, ’n jong vrugteboom by ’n fontein; sy takke klim oor die muur.23 Die boogskutters het hom wel geprikkel en hom beskiet en hom bestry,24 maar sy boog het sterk gebly, en die arms van sy hande was buigsaam, deur die hande van die Magtige van Jakob – daarvandaan waar die Herder, die Steen van Israel, is,25 van die God van jou vader, wat jou help, en met die hulp van die Almagtige wat jou seën met seëninge van die hemel daarbo, met seëninge van die watervloed wat daaronder lê, met seëninge van borste en moederskoot.26 Die seëninge wat jou vader ontvang het, oortref die seëninge van die ewige berge, die kostelike gawes van die ewige heuwels. Dit sal wees op die hoof van Josef en op die hoofskedel van die uitverkorene onder sy broers.

Jakob was altyd ‘n man van diepe en brandende liefde; sy liefde vir sy seuns was sterk en teder en sy strewende getuienis aan hulle was nie die uitinge van partydigheid of onvergewensgesindheid nie.
Hy het almal vergewe en tot die laaste toe liefgehad. Sy vaderlike teerheid kon net met woorde van bemoediging en hoop uiting vind; maar die krag van God het op hom gerus, en onder die invloed van Ingewing is hy gedwing om die waarheid te praat, al was dit ook hoe pynlik.
Nadat hy die laaste seen uitgespreek het, het Jakob die bevel aangaande sy begrafnis herhaal:

Verse 29-33 Ek word versamel by my volk. Begrawe my by my vaders in die spelonk wat op die stuk grond van Efron, die Hetiet, is;30 in die spelonk wat op die stuk grond van Magpéla is…31 Daar het hulle Abraham begrawe en Sara, sy vrou; daar het hulle Isak begrawe en Rebekka, sy vrou; en daar het ek Lea begrawe

Sy laaste lewensdaad was dus om sy vertroue in die beloftes van God te openbaar.

In die aand van sy lewe het Jakob stilte en rus geniet na ‘n lang en moeitevolle dag. Donker wolke het die middaghemel bedek, nogtans het sy son helder ondergegaan en die glans van die hemel het sy afskeidsure verlig.

Die skrifwoord sê: “Teen die aand sal dit lig word.” Sagaria 14:7. “Let op die vrome en kyk na die opregte, want daar is ‘n toekoms vir die man van vrede.” Psalms 37:37.

Jakob het gesondig en hy het baie gely. Baie jare van diensbaarheid, moeite en verdriet het oor sy hoof gegaan sedert die dag toe hy weens sy groot sonde van sy vader se tente moes vlug.

‘n Vlugteling sonder woning, geskei van sy ma wat hy nooit weer gesien het nie; bedrieg nadat hy sewe jaar lank vir sy beminde gearbei het; twintig jaar in diens van sy inhalige bloedverwant; die vreugde wat hy geput het uit die aanwas van sy rykdom en die seuns wat by hom grootword, is versuur deur sy dogter se skande en haar broers se wraakneming, Ragel se dood, Ruben se bloedskande.

Juda se sonde, hatigheid wat teenoor Josef gepleeg is – hoe lank en duister is die lys van onheil wat hom getref het!

Keer op keer het hy die wrange vrugte van daardie eerste misdaad gepluk. Herhaaldelik het hy sy seuns die sondes sien doen waaraan hy skuldig was. Maar al was die tug ook hoe swaar, dit was nie tevergeefs nie.

Al was die kastyding ook hoe straf, dit het “’n vredevolle vrug van geregtigheid” gelewer (Hebreërs 12:11)

Die Woord van God laat nie na om die foute van goeie manne, die wat die guns van die Here geniet het, op te teken nie; trouens daar word meer op hulle foute gewys as ophulle deugde.

Vele het hulle al daaroor verwonder, en dit het aan die godloënaars die geleentheid gegee om met die Bybel te spot. Dit is egter een van die sterkste bewyse van die geloofwaardigheid van die Bybel dat die misdade van sy hooffigure nie verbloem en hulle sondes nie verswyg word nie.

Mense is in so ‘n mate tot vooroordeel geneig dat dit onmoontlik is vir menslike geskiedenisboeke om heeltemaal onpartydig te wees.

As die Bybel deur ongewyde skrywers geskryf was, sou dit die karakters van sy geërde manne ongetwyfeld in ‘n gunstiger lig gestel het. Maar nou het ons ’n ware verslag van lewenswandel.

Mense wat grootliks deur God begunstig was en aan wie Hy groot verantwoordelikhede toevertrou het, het soms voor die versoeking geswig en sonde gedoen, net soos ons deesdae ook maar worstel, wankel en dikwels in die sonde val.

Hulle lewens met al hulle foute en dwalinge is voor ons oop om ons aan te moedig en te waarsku. Indien hulle foutloos aan ons voorgestel was, kan ons met ons sondige natuur miskien wanhopig oor ons foute en mislukkings raak.

Maar wanneer ons sien hoe ander deur dieselfde wanhoop as ons geworstel en soos ons, voor versoekings geswig het en tog weer moed geskep en deur die genade van God oorwin het, skep ons opnuut moed om geregtigheid na te streef.

En soos hulle, hoewel hulle dikwels uit die veld geslaan is, tog hlle grond herwin en die seën van God ontvang het, so kan ons ook in die krag van Jesus oorwinnaars word.

Daarenteen kan hulle lewensverhaal vir ons as waarskuwing dien. Dit bewys dat God die skuldiges geensins onskuldig sal hou nie.
Hy let op die sonde van diegene wat Hy die meeste begunstig, en teenoor hulle tree Hy selfs strenger op as teenoor diegene wat minder lig en verantwoordelikheid het.

Na Jakob se begrafnis het Josef se broers opnuut bang geword. Ondanks sy welwillenheid teenoor hulle het die bewustheid van hulle misdad hulle wantrouig en agterdogtig gemaak.

Miskien het hy sy weerwraak uit agting vir hulle pa uitgestel en sou hy nou die uitgestelde straf voltrek. Hulle het nie gewaag ompersoonlik na hom te gaan nie, maar ‘n boodskap aan hom gestuur.

Verse 16-18 U vader het voor sy dood bevel gegee met hierdie woorde: 17 So moet julle vir Josef sê: Ag, vergewe tog die oortreding van jou broers en hulle sonde, want hulle het jou kwaad aangedoen. Maar nou, vergewe tog die oortreding van ons wat die God van u vader dien. En Josef het geween toe hulle met hom spreek.18 En sy broers het ook self gegaan en voor hom neergeval en gesê: Kyk, ons is u slawe.

Josef se liefde vir sy broers was diep en onselfsugtig en dit hom baie seergmaak om daaraan te dink dat hulle hom van wraaksug verdink het.

Hy het geantwoord:

Verse 19-21 Moenie bevrees wees nie; want is ek in die plek van God?20 Want julle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ’n groot volk in die lewe te hou.21 Wees dan nou nie bevrees nie: ék sal julle en julle kinders onderhou.

Die lewe van Christus word in die lewe van Josef uitgebeeld. Dit was afguns wat Josef se broers aangespoor het omhom as slaaf te verkoop; hulle wou verhoed dat hy belangriker as hulle word.

En toe hy na Egipte geneem is, het hulle hulle gerusgestel met die gedagte dat hulle geen verdere las van sy drome sou hê nie, dat hulle die vervulling daarvan onmoontlik gemaak het.

Maar God het hulle daad gebruik om juis die geberutenis te bewerkstellig wat hulle probeer verhinder het. Eweneens was die Joodse priesters en owerstes jaloers op Christus en het hulle gevrees dat Hy die aandag van die volk van hulle wegtrek.

Hulle het Hom doodgemaak om te voorkom dat Hy koning word, maar sodoende het hulle Hom juis Koning gemaak.

Deur sy gevangenskap in Egipte het Josef die verlosser van sy vader se nageslag geword; maar hierdie feit het sy broers se skuld geensins verminder nie.

So het Christus vanweë Sy kruisiging deur Sy vyande die Verlosser van die mensdom, die Saligmaker van die gevalle geslag, die Heerser van die hele wêreld geword; die misdaad van Sy moordenaars was so erg dat mens nie kon dink dat dit tot eer God en die redding van die mensdom kon lei nie.

Soos wat Josef deur sy eie broers aan heidene verkoop is, is Christus deur een van Sy dissipels aan sy vyande verkoop. Josef is vals beskuldig en weens sy onkreukbaarheid in die gevangenis gewerp.

Jesus is deur Kajafas verag en verwerp omdat Sy regverdige, selfverloënde lewe sonde bestraf het. En alhoewel Hy aan geen misdaad skuldig was nie, is Hy tog op grond van valse getuienis veroordeel.

Toe hy onregverdig verdruk was, was Josef was geduldig en sagmoedig. Hy het sy broers vergewe en vir hulle goed gewees. Dit openbaar die Heiland se geduldige lyding onder die haat en mishandeling van goddelose mense en Sy vergifnis van, nie net Sy moordenars nie, maar ook van almal wat hulle sondes bely en Sy vergifnis vra

Josef het vir 24 jaar na sy pa geleef. Hy het van “Efraim kinders gesien van die derde geslag. Ook die kinders van Magir, die seun van Manasse, is op Josef se knieë gebore. Vers 23.
Hy het sy volk sien aanwas en voorspoed geniet, en deur al daardie jare was sy geloof onwankelbaar dat God Israel na die Beloofde Land sou terugbring.
Toe hy sien dat sy einde naby is, het hy sy familie na hom geroep. Ondanks hy in die land van die faraos hoog vereer is, was Egipte vir hom die plek van sy ballingskap.
Sy laaste daad woode was: “Ek gaan sterwe, maar God sal gewis op julle ag gee en julle uit hierdie land laat optrek na die land wat Hy aan Abraham, Isak en Jakob met ’n eed beloof het.” Vers 24.
En hy het die kinders van Israel plegtig laat sweer dat hulle sy gebeente saam met hule na Kanaän sou nee.
Vers 26 En Josef het gesterwe, honderd-en-tien jaar oud. En hulle het hom gebalsem, en hy is in ’n kis gesit in Egipte.

En gedurende die jare van diensbaarheid wat gevolg het, het daardie kis, ‘n herinnering aan Josef se sterwenswoorde, aan Israel getuig dat hulle vreemdelinge in Egipte was, en dit het hulle aangemoedig om hulle hoop op die Beloofde Land te vestig, want die tyd van hulle verlossing sou gewis aanbreek.

En my liewe vriend. Die tyd van ons verlossing gaan binnekort aanbreek. Is daar iets in jou lewe wat reggemaak moet word. Moenie dat ‘n simpel ou sonde jou van ‘n ewigheid in die geselskap van die Vader en die Seun weerhou nie.

Was this article helpful?

Related Articles