1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Jakob Deel 3 – Pa, Ek Is Esau
  1. Home
  2. Jakob
  3. Jakob Deel 3 – Pa, Ek Is Esau

Jakob Deel 3 – Pa, Ek Is Esau

JAKOB – DEEL 3. PA EK IS ESAU

Skriftuur: Genesis 27:28,29

In die vorige preek oor die lewe van Jakob het ons na twee voorbeelde gekyk wat sy pa Isak gestel het. Kan u nog onthou dat dit was?

In die eerste plek het hy ‘n voorbeeld gekry van hoe sy pa vir Abimelek lieg en sê dat Rebekka sy suster is. Jakob het ook die gevolge van hierdie leuen gesien. Hulle moes baie vinnig van Gerar af wegtrek.

Ek glo dat Isak groot berou oor hierdie leuen gehad het en die saak met die Here en met sy medemens uitgemaak het.

DIE PUTTE

Die mooi gesindheid wat Isak ten opsigte van die rusie oor die putte geopenbaar het, is baie beslis ‘n aanduiding dat hy ‘n geestelike vernuwing ondergaan het.

Elke keer wanneer hy ‘n put gegrawe het, het die Filistyne daaroor kom twis. En elke keer het Isak die put aan hulle geskenk en ‘n ander een gaan grawe.

Sy vyande was naderhand so oorbluf dat hulle ‘n amptelike afvaardiging na Isak gestuur het om ‘n verbond met hom te sluit.

Genesis 26:28. Hulle het geantwoord: “Ons het baie duidelik gesien die Here is by jou. Ons wil onder eed ‘n ooreenkoms met jou aangaan.”

In hierdie opsig is Isak ‘n tipe van Jesus. Tydens ‘n twis wat tussen Sy dissipels en die van Johannes die Doper ontstaan het, het Jesus Homself stil en ongemerk onttrek.

Rusies pas nie by die kind van die Here nie. Wanneer jy jou in ‘n rusie begeef, disintegreer jou kognitiewe en konatiewe funksies en jy verwoes mense met jou woorde en jou gesindheid.

DIE BEDROG WAT REBEKKA EN ESAU GEPLEEG HET

Isak het sopas sy 137ste verjaarsdag op Berseba gevier. Ek is seker die mense wat hom geluk gewens het, het vir hom gesê hoe goed hy nog vir sy ouderdom lyk. Maar Esau het gedink dat hy enige dag gaan sterf.

Waarom? Genesis 25:17 sê vir ons dat Ismael, sy halfbroer, 14 jaar vantevore op die ouderdom van 137 jaar, gesterf het.

Genesis 35:28 sê vir ons dat Isak na sy 137ste verjaarsdag nog 43 jaar geleef, en op die rype ouderdom van 180 jaar gesterf het.

GEVOEL JY GAAN DOOD

Het jy al die gevoel gekry dat jy wil doodgaan? Wat het jy in daardie omstandighede gedoen? Kom ons hoor hoe Isak opgetree het:

Genesis 27:1-4. “Toe Isak baie oud en al blind was, het hy sy oudste seun Esau, geroep en vir hom gesê: ‘My seun!’ en Esau het geantwoord: ‘Hier is ek!’ Isak het vir hom gesê: ‘Kyk, ek is al oud en ek weet nie wanneer ek gaan sterf nie. Vat nou jou skietgoed, jou pyl en boog, en gaan veld toe en skiet vir my ‘n stukkie wild. Kom maak dit dan vir my lekker gaar soos ek daarvan hou en bring dit vir my dat ek dit kan eet en jou kan seën voor ek sterf.’ ”
Het Isak die regte ding gedoen? Nee. Het hy geweet hy doen die verkeerde ding? Baie beslis.

Rebekka het hom jare terug vertel dat die Here haar meegedeel het dat Jakob die eersgeboorte reg moet kry. Hy het ook geweet van die keer toe Esau sy geboortereg vir ‘n pot lensiesop aan Jakob verkoop het.

Hy het ook geweet dat Esau hom verder vir die geboortereg gediskwalifiseer het deur die twee vrouens wat hy getrou het. Jehudit en Basemat was albei Hetiete wat aan die Kubabakerk behoort het.

Wanneer Isak byvoorbeeld op ‘n Sabbat ‘n diens vir sy mense gehou het, het hierdie twee die kamele gevat en gaan inkopies doen. En wanneer Isak op ‘n Sabbatmiddag by Esau gaan kuier het, het hulle na die rugby-uitsending tussen die Hetiete en die Filistyne gekyk. En pleks dat hulle vir Isak rooibostee gebring het, het hulle met opset vir hom ‘Vyf Rose’-tee gebring.

“Sakkie,” sê Rebekka op ‘n dag vir haar man, “Ek sit nie weer my voete op ‘n Sabbatmiddag by Esau en daardie twee vrouens van hom nie. Daar is absoluut geen Sabbatsatmosfeer in daardie huis nie. En nou die Sabbat toe jy vir Esau wou gaan kuier, het hy vir jou gesê hy is siek. Hy het gelieg. Hy en die twee vrouens was vendusie toe. Nee my ou man. Ek is baie jammer. Esau het homself oor en oor vir die eersgeboorte reg gediskwalifiseer.”

OORWIN SWAKHEDE TERWYL JY NOG JONK IS

‘n Mens leer baie groot lesse uit die lewens van die patriarge. As jy nie al in jou jongdae dieoorwinning kry oor sekere swakhede binne-in jou nie, is daar ‘n baie sterk moontlikheid dat jy dit ook nie op jou oudag sal regkry nie.

As wildsvleis Isak se swakheid as jongman was, gaan dit baie beslis sy swakheid op sy oudag wees.

“Esau, my ou seun,” sê Isak. “Hoe lyk dit met ‘n stukkie wildsvleis. Pa voel asof hy gaan sterf en ek wil hê ons twee moet vir oulaas saam braai. En as ons klaar lekker geëet het, wil pa jou seën.”

Isak het toegelaat dat sy aptyt vir ‘n stukkie wildsvleis sy sin van regverdigheid geskaad het.

Is daar ‘n selfsugtige selfbevrediging in my lewe wat my sin van regverdigheid skaad?

Kom ons luister hoe Rebekka hierop gereageer het: In Genesis 27:5,6 lees ons: “Rebekka het gehoor wat Isak met sy seun Esau praat en toe Esau veld toe is om te gaan jag, het sy met haar seun Jakob gepraat en vir hom gesê: Luister, ek het gehoor jou pa praat met jou broer Esau…”

Sy kon haar ore nie glo toe sy Isak hoor sê: “Esau my kind.Ek gaan jou seën voordat ek sterf.”

WAT MOES REBEKKA GEDOEN HET?

Wat moes Rebekka gedoen het toe sy hierdie skokkende nuus hoor? Dames. Wat moet julle doen wanneer julle agterkom dat julle mans met ‘n verkeerde ding besig is?Gaan praat met hom. En as jy dink dit sal nie help nie? Gaan praat nogtans met hom. En as hy nie luister nie? Gaan praat dan met die Here.

Dis die weg wat Rebekka moes loop, maar sy het nie. Miskien kon Rebekka en Isak nie meer met mekaar kommunikeer nie. Kommunikasie met die Here lei tot ‘n sinvolle godsdienstige lewe. Kommunikasie tussen man en vrou, lei tot ‘n sinvolle huwelik. Kom ons praat dikwels met die Here. Kom ons praat dikwels met mekaar.

Rebekka gaan praat met Jakob en vertel hom wat sy pa vir Esau gesê het:

Vers 6 Hy het vir hom gesê: “Gaan haal vir my ‘n stukkie wild en maak dit vir my lekker gaar dat ek dit kan eet en ek jou dan in die teenwoordigheid van die Here kan seën voor ek sterf…”

“Maar Ma”, vra Jakob, “Hoe kan pa dan so iets doen? Ek was by gewees toe Ma vir hom vertel het hoe die Here gesê het dat ek die eersgeboorte reg moet kry.”

“En onthou Ma daardie dag in Hebron toe Esau sy eersgeboorte reg vir ‘n pot lensiesop aan my verkoop het? Ek was nou wel baie slinks om dit op dié manier in die hande te gekry het, maar volgens die wetskode van Hamurabi was dit ‘n wettige transaksie.”

“En kyk net hoe gaan dit in Esau se huis. Jehudit en Basemat sit nie hulle voete in die kerk nie. Op ‘n Sabbat blêr radio Berseba harder as op enige ander dag. Ma, sê my: Wanneer laas het Esau ‘n diens bygewoon? Hy stel net so min in godsdiens belang as die man in die maan.”

“Kan pa dan nie insien dat ek die geestelike seëninge van die eersgeboorte reg met my hele hart begeer nie? Ek stel nie daarin belang om die trop kamele en beeste en skape eendag te erf nie. Hy kan dit alles aan Esau bemaak. Ek wil die priester van die huis wees.”

Kom ons luister na die menslike plan wat Rebekka vir Jakob uitgedink het om die beloofde geestelike seëninge te bekom:

Verse 8-10. “Nou moet jy na my luister, my seun, en doen wat ek jou sê. Gaan na die kleinvee toe en bring vir my twee vet bokkies. Dan sal ek hulle lekker gaarmaak soos jou pa daarvan hou. Jy moet dit dan vir hom vat dat hy dit kan eet en jou kan seën voor hy sterf.”

Wat moes Jakob gedoen het toe sy ma vir hom hierdie raad gegee het? Het jou ouers al vir jou verkeerde raad gegee?

Jakob moes op die beloftes van die Here staatgemaak het. Jakob moes nie met sy eie pogings die beloofde seën in die hande probeer kry het nie. Ons ook nie.

Kom ons luister na die regte manier waarop Jakob hierdie saak moes hanteer het:

“Baie dankie vir Ma se besorgdheid oor my. Maar Ma moet onthou dat die Here my die geboortereg belowe het en ek glo waaragtiglik dat Hy Sy Woord gestand sal doen.Ek weet nie presies hoe Hy dit onder hierdie krisis omstandighede gaan doen nie, maar ek vertrou Hom met my hele hart. Ek gaan gehoorsaam en wagtend op die Here bly vertrou, en dan die gevolge aan Hom oorlaat.”

Ongelukkig het Jakob se geloof in die beloftes van die Here in ‘n oomblik van krisis skipbreuk gelei.

Dit het gelyk of die omstandighede sdanig was dat die Here nie betyds sou kon ingryp nie. Esau kon immers net ‘n bokkie ‘n paar kilometers buite Berseba raakloop en binne ‘n uur terug wees en die seën van die geboortereg ontvang. Op hierdie spesifieke dag was die Here te stadig na Rebekka en Jakob se sin. Iets moet onmiddellik in hierdie krisisuur gedoen word.

Dit is juis in krisisure dat ons moet stil wees en die redding aanskou wat God vir ons bewerk.

ABRAHAM

Dis die fout wat Abraham gemaak het. Nadat hy Sara vir die hoeveelste keer by die ginekoloog gehad het, het hy besluit dis tyd om iets aan God se onvervulde beloftes te doen.

Die Here het belowe dat Abraham se nageslag soos die sterre van die hemel sou wees, maar na jare en jare se gewag het daar nog niks gebeur nie. Die bruidskat vir die kind van belofte wat gebore sou word, het al drie keer uit die mode geraak. Naderhand het twee mense moeg geraak om op God te wag en toe hulle eie plan gemaak.

Abraham en Sara het ‘n menslike plan gemaak om die Goddelike belofte te vervul. Ismael is uit hierdie plan gebore en die bitter gevolge sal tot die einde van die tyd voortbestaan. Daar is tot vandag toe ‘n voortdurende Midde-Oosterse krisis omdat Abraham en Sara versuim het om die Here se beloftes te glo.

SAUL

Die Here sê vir koning Saul deur die profeet Samuel om sewe dae by Gilgal te wag. ‘n Krisis ontstaan en die soldate begin te dros. Waarom daag die Here nie op? Net voor die laaste uur van die sewende dag verstryk, besluit koning Saul om in te gryp. Hy maak ‘n menslike plan om ‘n Goddelike funksie te verrig. Hy het skaars begin offer, toe kom Samuel daar aan.

Saul het sy koningskap verloor omdat hy nagelaat het om in ‘n krisissituasie op God te vertrou.

HOE REAGEER ONS OP DIE BELOFTES VAN DIE HERE?

Hoe reageer ek en jy in krisistye op die beloftes wat die Here in Sy Woord gemaak het? Vertrou ons Hom of doen ons, ons eie ding?

DIE BEDROG

Kom ons lees hoe Rebekka en Jakob te werk gegaan het om Isak te bedrieg.

Verse 11-13. Toe sê Jakob vir sy ma Rebekka: “Maar my broer Esau is harig en ek is glad. Miskien sal Pa aan my voel en dan dink ek skeer die gek met hom, en so sal ek ‘n vervloeking oor my bring en nie ‘n seën nie.” Sy ma het vir hom gesê: “As daar ‘n vervloeking is, sal dit oor my kom, my seun. Luister jy net na my en loop vang die bokkies vir my.”

Nou die dag sien ek hoe ‘n jong seun en meisie langs die pad sit en rook. Nadat ek so ‘n entjie verby gery het, het ek teruggedraai en met hulle gaan gesels oor die nadelige gevolge van rook.

Die seun het egter besluit om aan te hou met rook, omdat dit vir hom lekker was. Die uiteindelike gevolge van longkanker of emfiseem het hom nie juis afgesit nie. Ek wens ek kon vir hierdie brawe domkop wys hoe iemand lyk wat aan emfiseem of longkanker sterf.

En Rebekka sê vir Jakob dat sy gewillig is om die vervloeking van die bedrog op haar te laat neerkom.

As sy maar net geweet het dat sy haar geliefde seun vir ewig sou verloor. Dat sy sonder haar kind die dood tegemoet sou gaan.

Die Here vergewe die sondaar maar ongelukkig kan die konsekwensies nie uitgekanselleer word nie.

Verse 14-18. “Hy het die bokkies gaan vang en vir sy ma gebring, en sy het hulle lekker voorberei soos sy pa daarvan hou. Toe vat Rebekka haar oudste seun Esau se beste klere wat sy by haar in die huis gehad het en trek dit vir haar jongste seun Jakob aan. Sy het die bokvelletjies om sy hande en om sy kaal nek vasgemaak en die lekkerny en die kos wat sy voorberei het, vir Jakob gegee. Hy het toe na sy pa toe ingegaan en gesê: ‘Pa!’ Toe sê hy: ‘Ja, watter seun is jy?’”

Jakob moes seker baie snaaks met die bokvelle oor sy nek en arms gelyk het. Sy stem moes hy so ‘n bietjie dieper gemaak het. Ek dink hy het homself voorgeneem om so min as moontlik te lieg. Ons probeer partykeer ons sondes so klein as moontlik hou. Kom ons hoor hoe dit gegaan het:

Verse 19,20 Jakob het sy pa geantwoord: “Ek is Esau, Pa se oudste seun. Ek het gedoen wat Pa gesê het. Kom sit nou regop en eet van my wildvleis sodat Pa my dan kan seën.” Maar Isak het vir hom gevra: “Hoe het jy dan die wild so gou gekry, my seun?”

Arme Jakob. Hy is nou eenmaal in die ding en nou moet hy homself uit sy verleentheid lieg. Sy ma fluister iets in die agtergrond en Jakob antwoord:

Verse 20-23. “Die Here u God het my dit laat raakloop.” Toe sê Isak vir Jakob: ‘Kom nader dat ek aan jou kan voel, my seun, of jy my seun Esau is of nie.’ Jakob het nader gegaan na sy pa Isak toe, en toe hy aan hom voel, sê hy: ‘Die stem, dis Jakob se stem, maar die hande, dis Esau se hande.’ Isak het nie vir Jakob herken nie, want sy hande was harig soos sy broer Esau s’n. Isak het toe vir Jakob geseën.”

Hoe verskriklik pateties. Met ‘n klompie bokvelle oor sy arms en nek probeer Jakob die seën van die eersgeboorte in die hande kry. En dis hoe ons lyk wanneer ons God se belofte op ewige redding, met die bokvelle van ons eie geregtigheid wil verdien.

Kom ons aanvaar dat God beloof het om groot sondaars soos ons, sonder verdienste te vergewe en te red. En kom ons loof en prys Hom daarvoor.

Verse 28,29. ”God gee aan jou dou uit die hemel, die rykdom van die aarde: koring en wyn in oorvloed. Volke sal jou dien, nasies sal voor jou buig; oor jou familie sal jy heers, jou broers sal voor jou buig. Wie ‘n vervloeking oor jou uitspreek, sal self vervloek wees, wie jou seën, sal geseën wees.”

Isak het kwalik die laaste paar woorde gesê toe Esau daar aankom. Wat ‘n skok toe hy hoor dat Jakob voor hom daar was en die eersgeboorte seën met bedrog in die hande gekry het.

DIE GEVOLGE VAN DIE HERE TE WANTROU

Terwyl ‘n mens die res van die verhaal lees, breek jou hart behoorlik as jy na die hartseer gevolge van Jakob en Rebekka se bedrog kyk.

Verse 41,42. “Esau het vir Jakob gehaat oor die seën wat sy pa aan hom gegee het, en Esau het by homself gesê: ‘My pa se dood is nie meer ver nie, dan maak ek my broer Jakob dood.’ Daar is aan Rebekka vertel wat haar oudste seun gesê het. Sy het toe haar jongste seun Jakob laat roep en vir hom gesê: ‘Pas op! Jou broer Esau is op wraak uit. Hy wil jou vermoor.’ ”

Verse 43-45. “Luister, my seun! Vlug Haran toe, na my broer Laban toe, en bly ‘n ruk by hom tot jou broer se woede oor is. As sy bui oor jou gesak het en hy vergeet het wat jy hom aangedoen het, sal ek stuur en jou daarvandaan laat haal. Waarom moet ek julle altwee op een dag verloor?”

Vroeg die volgende more staan ‘n betraande ma en seun in die kombuis. “Tatta my skat. Ek is jammer.” “Totsiens my ou moedertjie. Ek is jammer.”

Lank staan Rebekka in die agterdeur en huil terwyl haar lieflingkind Jakob, uit haar lewe wegstap. Kort-kort draai hy om en waai vir sy ma. Haar sakdoek is papnat. Toe Jakob uiteindelik uit haar gesigsveld verdwyn, trek daar ‘n pynlike eensaamheid in haar hart in wat sy byna nie kan hanteer nie.

PRAAT MET ESAU

Op ‘n dag het sy die moed bymekaar geskraap om met Esau oor die bedrog te praat wat sy en Jakob gepleeg het.

“My kind, Ma wil vandag vir jou groot om verskoning vra oor dit wat ek en Jakob aan jou gedoen het. Sal jy asseblief vir Ma vergewe? Wil jy nie ook maar vir Jakob vergewe en hom nooi om terug te kom huis toe nie?”

Ons weet nie of Esau sy ma ooit vergewe het nie. Wat ons wel weet is dat hy nie sy broer Jakob vergewe het nie, want Rebekka het hom nie laat terugkom nie.

Ek wonder wat Rebekka se vroeë dood net hierna, veroorsaak het? Miskien was dit hartseer. Hartseer oor Esau se onversoenlikheid; hartseer oor haar kind Jakob wat weg was.

REBEKKA SE BEBRAFNIS

Terwyl ek die grot van Magpela in Hebron besoek het, het ek aan die mense gedink wat daar begrawe is. Eerste was dit Sara, toe Abraham en daarna Rebekka.

Voor haar dood het Rebekka en Isak die onenigheid wat daar tussen hulle was, reggemaak.

“Sakkie. Ek is jammer oor dit wat ek en Jakob jou aangedoen het. Sal jy my vergewe?”

“Ja my skat. Jy weet mos ek is nie ‘n mens wat met kwessies rondloop nie.”

Hoe het die Here vir Jakob, die bedrieër, behandel toe hy as gevolg van bedrog uit sy ouerhuis, in Berseba, moes vlug?

Volgende keer gaan ons na die Here se pragtige hantering van ‘n skuldbelaaide vlugteling kyk. Onthou net. As jy geval het, die Here het nog steeds ‘n plan vir jou lewe. Moenie toelaat dat skuldgevoelens so ‘n geraas in jou binneste maak dat jy nie die sagte stem van Jesus se vergifnis kan hoor nie. Hy is vír ons.

Was this article helpful?

Related Articles