1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Jakob Deel 4 – Die Leer en Engele
  1. Home
  2. Jakob
  3. Jakob Deel 4 – Die Leer en Engele

Jakob Deel 4 – Die Leer en Engele

JAKOB – DEEL 4 DIE LEER EN ENGELE

Skriftuur: Genesis 28:11,12

Het jy al die volgende ondervinding gehad? Jy sien vreeslik uit na ‘n spesifieke iets. Jy droom oor daardie 4 X 4 of Honda Civic. Of dis ‘n droom oor ‘n pragtige huis; ‘n mooi man of meisie.

Die strewe om iets te bekom is heerlik. En dan gebeur iets baie eienaardig. Wanneer jy dit kry waarna jy so naarstiglik gesoek het, is die verkryging daarvan nie so bevredigend as wat die strewe daarna was nie. Dikwels is dit wat ons in ons verbeelding ervaar, ‘n groter werklikheid as die werklikheid self.

Ek onthou nog toe ek vir my eerste ou Mercedes Benz gespaar het. Ek het myself agter daardie drie ster gesien. Ek het gevoel hoe heerlik ry ek in hierdie Duitse Prins. Maar toe kom die antiklimaks. Ek kon die ou kar nie in die oggend aan die gang kry nie. Die tweede Benz wat ek gekoop het, het so gerook dat ek baie vinnig van hom ontslae moes raak.

SONDE IS ‘N KLUG

Sonde is seker die grootste klug wat daar is. Dit lyk baie lekkerder as wat dit regtig is. Lees maar gerus die verhaal van Ammon en Tamar in 2 Samuel 13.

Dis baie beter om ‘n paar oomblikke in die hel van selfbeheersing deur te bring as wat dit is om ‘n leeftyd in die hel van selfverwyt te brand.

Jakob het gedink hy sal groot geluk ervaar wanneer hy die eersgeboortereg deur bedrog in die hande kry. In plaas daarvan is hy vir baie jare deur die verskriklikste selfverwyt geteister.

Genesis 28:10. “Jakob is van Berseba af weg na Haran toe. Teen sononder het hy by ‘n plek gekom waar hy kon oornag. Hy het daar ‘n klip vir ‘n kopkussing gebruik en gaan lê en slaap.”

Wanneer mens na die afstand tussen Berseba en Bet-el kyk, merk jy dis ongeveer 80 kilometer. Met ander woorde, die ondervinding waarvan ons hier lees, het tydens Jakob se tweede nag op die pad gebeur.

Daar bestaan ‘n baie sterk moontlikheid dat Jakob die eerste nag op sy geboorte dorp Hebron, gaan slaap het. Dit was die laaste bekende omgewing waar Jakob, die vlugteling. geslaap het.

JAKOB SE GEMOEDSTOESTAND

Kom ons kyk vir ‘n oomblik na die verskillende emosies wat Jakob ervaar het toe hy van sy ouerhuis af moes wegvlug.

Kan u sien hoe hy haastig loop en kort-kort omkyk. Waarom? Hy is bang sy broer Esau agtervolg hom en kom maak hom dood.

Maar behalwe sy vrees vir die dood, is daar ook ‘n verskriklike gevoel van selfverwyt. Hy het sy pa bedrieg en hom bitter teleurgestel. Ken jy daardie ongemaklike gevoel van selfverwyt omdat jy iemand anders te na gekom het?

Selfverwyt is een van die vernietigendste emosies wat ‘n mens in jou binneste kan ronddra. Ervaar jy dit op hierdie oomblik?

Jakob is ook in homself teleurgesteld, omdat hy die Here teleurgestel het. Hy moes die goddelike belofte van die eersgeboortereg in geloof aanvaar het en op die Here gewag het.

Kyk net wat hy alles verloor het: Sy broer se vriendskap; verblyf in sy ouerhuis; sy pa se vertroue en ma se vertroetelende teenwoordigheid. Die kroniese emosie van verloor, is sleg.

Iewers in Hebron lê Jakob na die sterbelaaide hemel hier bo hom en kyk. “Ag Here. Wil u nog met my praat? Ek het alles verloor. My pa en ma en broer. Ook my integriteit en selfbeeld. Praat met my en sê vir my of daar nog hoop is vir ‘n skelm sondaar soos ek?”

Hy onthou nog hoe hy hier in Hebron op ‘n laakbare, skelm manier sy broer Esau se eersgeboortereg met ‘n pot lensiesop in die hande gekry het. Waarom het hy so iets gedoen? Waarom het ek en jy gedoen wat ons gedoen het? Spyt is ‘n goeie ding, sê die spreekwoord, maar dit kom gewoonlik te laat.

DIE HERE HET NIE GEPRAAT NIE

Tydens daardie eerste nag van Jakob se soeke na vertroosting en vergifnis, het die Here nie met hom gepraat nie. Die sterre was skitterend, maar die God van die sterre was swygend, dof.

Waarom bly die Here soms stil as ons Hom vra om met ons te praat? Dit mag wees dat Hy toelaat dat die rasende warboel van ons deurmekaar gedagtes en emosies tot bedaring moet kom. Miskien het Hy al probeer praat, maar dit raas so hier in ons binneste dat ons Hom nie kan hoor nie.

Met kere gebruik die Here die pynlike, eensame, verwarrende sieleworstelling om ons te suiwer.
As die Here nie op hierdie oomblik met jou praat nie, moenie moed verloor nie. Op die regte tyd sal jy weer Sy stem hoor.

Herbert, die groot Engelse predikant-digter het ‘n pragtige gedig uit sy pen laat vloei. Hy vertel van sy sieleworsteling met mense, met homself en met God:

“I struck the board and cried ‘No more.’”

Hy slaan met sy vuis op sy preekstoel en roep uit: “Ek kan die lewe nie meer vat nie. Dinge het vir my net te veel geword.”

Nadat hy homself uitgewoed het, skryf hy die volgende woorde in die laaste twee versreëls:

“Me thought me heard a voice say: My child; and I replied my, Lord.”

Iewers vorentoe, wanneer die sieleworstelling ‘n sekere intensiteit bereik, gaan die Here sê: “My kind” en ons sal kan antwoord “My Heer.”

DIE REIS NA LUZ (BET-EL)

Met vrees en bekommernis sit Jakob sy reis die volgende dag voort. Hy vermy vreemdelinge op die pad, want hy is bang dat vyande miskien vir Esau mag sê waar hy is. Daar is ‘n leegheid in sy binneste. ‘n Paar uur later die oggend, stap hy by Betlehem verby. Later die middag bereik hy die Kidronvallei naby die berg Moria. Dis hier waar sy oupa Abraham vir sy pa Isak kom offer het.

Teen sonsondergang kom Jakob by die stad Luz aan. Maar hy gaan nie in die stad slaap nie. Josefus, die Joodse historikus, sê vir ons die rede hiervoor is dat Jakob die Kanaäniete gehaat het. Die arme Jakob. Behalwe vir al die ander negatiewe emosies in sy binneste, sukkel hy ook nog met ‘n haat wat hy teen die Kanaäniete koester. Hulle moes hom seker op een of ander tyd bitter teleurgestel het.

Het jy ‘n probleem met die Kanaäniete, mense wat jou onregverdig behandel het? Onthou! Haat teenoor iemand anders doen jouself baie meer skade as aan hulle. Haat is ‘n huurkoop wat jy nooit sal kan aflos nie. Jy verkwis elke dag ‘n paaiement prima tyd en energie waarvoor jy niks goeds kan wys nie. Daar is net een manier om hierdie huurkoop te beëindig. Skryf ‘n groot tjek goddelike vergifnis uit en gee dit vir die persoon wat jou seergemaak het.

DIE TWEEDE AAND

Daardie tweede aand was Jakob al baie ver van sy pa se tente en sy ma se liefde. Hy het verskriklik alleen en verstote gevoel. Hy is bang en onseker.
Terwyl die son agter die randjies wegsak, oorweldig ‘n donker wanhoop sy siel. Hy voel te skaam om bid. Hy het die Here dan so diep teleurgestel. Sy behoefte aan goddelike troos en beskerming is groter as ooit vantevore.

Terwyl die sterre hier bokant die skuldbelaaide bedrieër begin skitter, val hy op sy knieë neer.

“Ag Here. Ek is so verskriklik eensaam. Die vingers van my skuldgevoelens is besig om my geestelik te verwurg. As U nie met my praat nie, dan wil ek liewer nie meer lewe nie.”

Met trane en diepe vernedering het hy sy sonde bely en om ‘n teken gesmeek dat hy nie heeltemal verlate was nie. Maar nog was daar geen verligting vir sy beswaarde gemoed nie. Hy het alle vertroue in homself verloor en gevrees dat die God van sy vaders hom verwerp het. ( Patriarge en Profete, bl. 183.)

Was jy al by die plek waar jy gevoel het dat die Here nie meer met jou wil praat nie? Daar het iets in jou lewe gebeur wat die laaste bietjie selfvertroue wat jy nog gehad het, heeltemal vernietig het.

OORWELDIG DEUR ‘N BESEF VAN SONDE

Daar is sekere ondervindings in my lewe wat ek nooit sal vergeet nie. Jare gelede kry ek ‘n oproep van iemand. “Leraar. Kan die Here ‘n groot sondaar soos ek vergewe. Is daar hoop vir iemand soos ek wat so diep in die sonde geval het?”

Soos Jakob van ouds het hierdie man ook by die plek gekom waar hy gevoel het asof die Here nooit weer met hom wil praat nie. Voel jy op hierdie oomblik miskien so? Jy het so bietjie gestruikel en nou voel jy so ver van die Here af. Jy moes beter geweet het. En jy wonder miskien op hierdie oomblik of die Here met jou wil praat. Ek is so bly die Here is groter as ons gevoelens.

Jakob sleep ‘n klip nader en gaan lê met sy kop daarop. Dis moontlik dat hy die vorige aand glad nie aan die slaap kon raak nie. Ek glo hy was geestelik en fisies so uitgeput dat die klip onder sy kop soos ‘n sagte kussing gevoel het.

DIE LEER

Kom ons lees hoe die Here met die mens werk wat gesondig het en moedeloos, verneder en verlate langs die lewenspad uitgesak het:

Verse 11,12. “Teen sononder het hy by ‘n plek gekom waar hy kon oornag. Hy het daar ‘n klip vir ‘n kopkussing gebruik en gaan lê en slaap. Hy het gedroom: ‘n leer staan op die aarde en die punt van die leer raak aan die hemel, en engele van God klim op en af met die leer.”

Wat ‘n hemelse toneel. Hier langs hom sien Jakob iets wat soos ‘n leer lyk. Hy volg die leer vanaf sy voetenent en sien hoe dit hoër en hoër die hoogte in ryk. Hy loop dwarsdeur die melkweg, verby nog ‘n klomp ander galaksies. En dan verdwyn die bopunt van die leër in die hoogste hemel. Jakob sien hoe engele hier vlak by hom kom staan, en dan met die leër na die hemel klim. Kan dit wees dat hulle sy smeekbede om vergifnis en herstel na die hart van God, die Vader, neem?

Hy sien hoe engele met die leer afkom. Kan dit wees dat hulle vir hom ‘n boodskap van hoop van die genadetroon bring?

DIE GOD VAN DIE STERRE

‘n Liefdevolle, genadige, vergewende God kyk in die rigting van ons galaksie, dan na ons sonnestelsel, na ons planeet, na Palestina, na ‘n dorp met die naam van Luz.

En iewers op hierdie oneindige klein stukkie kosmiese stoff van Sy groot heelal, sien Hy ‘n stukkende, skuldbelaaide, hartseer sondaar wat met sy kop op ‘n harde klip lê. En die God van die sterre by wie Jakob om vergifnis smeek, verlaat die glorie van ster en melkweg en kwasar. En in Sy onbegryplike liefde kom staan Hy langs ‘n slapende, skuldbelaaide, dwalende, wantrouige sondaar.

Vers 13. Toe kom staan die Here by Jakob en sê: “Ek is die Here die God van jou voorvader Abraham, die God van Isak…”

Kan u die toneel sien. God die Vader kom buk by Jakob en tik hom op die skouer. “Jakob. Dis jou oupa Abraham se God wat met jou praat. Soos jou oupa gesondig het en Ek hom vergewe het, so het ek na jou toe gekom om vir jou te sê dat Ek jou vergewe. En Jakob. Ek is ook die God van jou vader Isak. Soos wat ek hom sy sondes vergewe het, so wil Ek ook jou sondes vergewe.”

DIE BOODSKAP AAN VANDAG SE SONDAAR

En as jy soos Jakob as gevolg van jou sondes moes vlug, kom dieselfde liefdevolle hemelse Vader ook vandag na jou toe. Hy buk langs jou en praat met jou. Luister na Sy Woorde in Matttheus 22:32: “Ek is die God van Abraham, die God van Isak, en die God van Jakob…”

Die eerste twee karakters het nie te sleg gevaar nie. Abraham het van die begin af geestelik goed presteer. Die offerdaad op Moria het vir Abraham en vir Isak in ‘n geestelike kategorie geplaas wat nie maklik geëwenaar kan word nie.

Maar arme Jakob. Sy rekord lyk maar baie sleg. As hy sy CV vir ‘n werk sou ingee, sou hy baie gesukkel het. Firmas neem nie sommer skelms in diens nie. Dis vir my moeilik om met Abraham en Isak te identifiseer. Dis vir my makliker om met arme Jakob te identifiseer.

Ek is so dankbaar dat die Nuwe Testament vir my vertel dat die Here ook die God van Jakob wil wees. En as jy op hierdie oomblik soos ‘n weghardloper Jakob voel, as jy voel dat jy te veel skuld het om te dra, onthou Hy is ook die God van die Jakobs.

DIE ENGELE

Terwyl Jakob hierdie skitterende leer sien wat van die grond tot in die hemel strek, sien hy hoe engele op en af beweeg. Hulle kom tot hier by hom en dan verdwyn hulle weer in die hemelse howe daar heel bo.

In wie stel die engele belang? In die skuldbelaaide, moedverlore Jakob wat in die oop veld met sy kop op ‘n klip lê. Hulle bring vir hom ‘n boodskap van redding. Hulle vertel vir hom dat hulle sy fisiese en geestelike belange op die hart dra. Hulle vertel vir Jakob dat hulle met diepe belangstelling sy behoeftes na die hart van God die Vader neem, en dat hulle boodskappe van troos vanaf Sy genadetroon na hom toe bring.

Engele van God neem die gebede van die behoeftige en noodlydende mens na die Vader daarbo. Hulle keer terug van die genadetroon en oorlaai die mens met God se seëninge van moed, ondersteuning en lewe.

Kom ons lees ‘n teks wat ons nog meer van die belangstelling van die engele in ons redding vertel. Hebreërs 1:14. “Is hulle nie almal geeste in diens van God, wat Hy uitstuur om die te dien wat die saligheid gaan beërf nie?”

Wat ‘n heerlike troosvolle gedagte! Onthou. Wanneer jy in sonde val en die duiwel sê jou saak is te hopeloos om te beredder, moet hom nie glo nie. Hy lieg. Sodra iemand in sonde geval het, is die engele daar om te kom help. Wat ‘n heerlike troos.

In die visioen wat Jakob van die engele gehad het, kry ons ‘n baie belangrike boodskap. Die Here sal liewer elke engel in die hemel na die gevalle sondaar stuur voordat Hy sal toelaat dat hy deur skuldgevoelens oorweldig word.

Die hele Bybel is vol van insidente waar engele tot die hulp van mense gekom het. In die boek Openbaring alleen is daar meer as 70 verwysings na engele.

ENGELE EN DIE WEDERKOMS

Die onsienlike engele wat ons tans geestelik ondersteun, gaan hulle self binnekort in al hulle glorie aan ons vertoon.

Matteus 25:31 Die groot trompet sal weerklink, en Hy sal sy engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te maak uit die vier windstreke, van elke uithoek van die aarde af.

Binnekort gaan ons nuwe vriende maak. Die engele wat ons deur ons hele aardse reis opgepas het, gaan met ons gesels. Deur die ewigheid sal ons ‘n heerlike vriendskap met hulle opbou. Die engele gaan ons vertel hoe hulle ons dikwels uit die versoekings gelei het. Hoe hulle in menslike gedaantes aan ons verskyn het. Hoe hulle ons uit die bekke van leeus verlos het.

DIE LEER

Maar die belangrikste item wat Jakob in daardie nagvisioen gesien het, was die leer. Waarom? Dit het die brug tussen die hemel en die aarde gespan. Hierdie leer was die enigste middel waardeur die mens in sy gevallenheid na die hemel kon terugkeer. Wie is hierdie leer?

Johannes 1:51. “En Hy sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, van nou af sal julle die hemel geopend sien en die engele van God opklim en neerdaal op die Seun van die mens.”

Jakob het seker een van die mooiste voorstellings van Jesus in die hele Bybel gesien. Eintlik het God die Vader, vir Jakob die volgende gesê: “Jakob. Ek het jou so lief dat Ek My enigste Leer by jou kom neersit het sodat jy nie deur jou sonde en verdriet verlore hoef te gaan nie. As jy met hierdie Leer na My kom opklim sal jy die ewige lewe beërwe.”

Indien jy op hierdie oomblik skuldbelaai en moedverlore met jou kop op ‘n harde klip lê, het ek goeie nuus vir jou. Die Vader het ‘n Leer langs jou kom neersit. Daardie leer se naam is Jesus Christus.

Met die Leer, Jesus, kan ons uit ons geestelike armoede na God se rykdom van genade klim. Met Jesus die Leer, kan ons uit ons skuldgevoelens na God se vergifnis klim.

Vers 16. Jakob het wakker geskrik en gesê: “Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie.”

Dit maak nie saak op watter geestelike “plek” ek en jy as sondaar is nie. Die Here se reddende genade is op daardie plek. Hy kom sit sy Leer van verlossing langs elke moeilike “plek” in my geestelike lewe neer. Wat ‘n dierbare Heiland. Hoe sê ‘n mens vir Hom dankie?

Luister hoe Jakob begin dankie sê het. En as u dit nog nie voorheen beoefen het nie, wil ek u nooi om dit te begin doen:

Vers 22. “Van alles wat U my gee, sal ek vir U ‘n tiende gee.”

Die enigste manier waarop ons, ons dankbaarheid teenoor Hom kan toon, is deur die vrywillige skenking van ons tiendes en offergawes. Kom ons gee dit aan Hom net so oorvloedig as wat Hy Sy genade en vergifnis oorvloedig aan ons gee.

Was this article helpful?

Related Articles