1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Jakob Deel 5 – Dit Was Toe Lea
  1. Home
  2. Jakob
  3. Jakob Deel 5 – Dit Was Toe Lea

Jakob Deel 5 – Dit Was Toe Lea

JAKOB – DEEL 5

Skriftuur: Genesis 32:28

Baie welkom by die vyfde aflewering in die reeks oor die lewe van Jakob.

Verlede keer het ons hom tot by Bet-el (Luz) gevolg. Hy was bang dat die inwoners miskien vir sy broer Esau sou vertel dat hy daar is, dat hy sommer maar die nag in die veld deurgebring het.

Daardie nag het sy skuldgevoelens hom heeltemal verpletter. Moedeloos het hy ʼn klip vir ʼn kopkussing nadergesleep en oor sy haglike toestand gepeins. Eintlik het hy alles verloor. Die bietjie vriendskap wat daar nog tussen hom en Esau was, is nou totaal verwoes.

Hy het sy pa se respek verloor. As gevolg van Jakob se bedrog het hy ook sy selfrespek verloor. ʼn Oomblik vantevore was hy ʼn rykmanskind, met baie sekuriteit. Nou lê hy moedeloos onder die sterrehemel, met net ʼn kierie as sy besitting.

En toe Jakob op ʼn laagtepunt was, alle hoop vir homself laat vaar het, het die God van sy vadere die Leer Jesus langs hom kom neersit. Jakob is uitgenooi om met hierdie Leer terug te klim na God se guns en vergifnis.

God die Vader gebruik nog steeds vir Jesus die Leer om vir jou en my te nooi om na Hom toe te klim. Dit maak nie saak hoe laag die sondaar geval het nie, Jesus die Leer kan hom bereik. Met hierdie Leer kan ek klim tot by God self. Wat ʼn heerlike gedagte. Deur Jesus gaan ons binnekort in die teenwoordigheid van die Vader kan staan. Met die laaste sportjie gaan ons uit ons sondige natuur in die sondelose natuur van Jesus instap.

Eers word ons van die skuldelas verlos, daarna word ons van die mag van sonde verlos. En uiteindelik word ons van die teenwoordigheid van sonde verlos.
“Daar is ʼn plek van troos, so soet, digby die hart van God;
die plek waar ons die Heer ontmoet, digby die hart van God.”

“O Jesus, my Verlosser, kom van die hart van God, en voer ons, wagtend voor U, tot by die troon van God.” (Lied 252, Sing Saam.)

In die droom hoor Jakob hoe die Here met hom praat. Luister na hierdie pragtige boodskap:
Genesis 28:15,16. “Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan. Ek sal jou na hierdie land toe terugbring. Ek sal jou nie in die steek laat nie. Ek sal doen wat Ek jou beloof het.”

Wat ʼn heerlike gedagte. Die God van die sterre sê Hy is by ons. Hy wat reg is, is by ons wat verkeerd is. Hy wat rein is, is by ons wat onrein is. Hy wat mooi is, is by ons wat lelik is. Hy wat ewig is, is by ons wat tydelik is. Wat ʼn heerlike gedagte. Hy wil by ons wees.

Kom ons hoor wat Jakob sê toe hy wakker geword het:

Genesis 28:16. Jakob het wakker geskrik en gesê: “Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie.”

Wat ʼn heerlike gedagte. So dikwels beland ons teen die grond in selfverwyt, vernedering en hulpeloosheid. Onthou wanneer dit gebeur, die Here is op daardie plek. Die Vader is gereed om Jesus, Sy Leer langs elke verslae mens te kom neersit.

JAKOB SE BESLUIT OM ‘N TIENDE TE GEE

Luister na die mooi besluit wat Jakob geneem het:

Genesis 28:22. “Van alles wat U my gee, sal ek vir U ʼn tiende gee.” Jakob was daarvan bewus dat sy oupa Abraham, en sy pa Isak, hulle tiendes aan Melgisedek, die priester gegee het. Vir een of ander rede het hy nooit hierdie heerlike seëning van die gee van tiendes, geniet nie. Maar toe die Here Sy onbeskryflike goedheid en vergifnis aan Jakob openbaar het, was dit sy spontane reaksie om die Here se heilige tiende aan Hom te gee.
“Tiende vir Christus! Ag hoe skamel die beloninkie, wat ʼn skandelike vergoeding vir iets wat so baie kos. Van die kruis van Golgota af roep Christus om ʼn onvoorwaardelike toewyding. Alles wat ons het, alles wat ons is, behoort aan God gewy te word.” (Patriarge en Profete bl. 188.)

Ek is so dankbaar vir die pragtige instelling van die tiende. Die Here het nie my paar sente nodig nie, maar Hy gun my die voorreg om op hierdie manier vir Hom te kom dankie sê.

DIE REIS NA LABAN

ʼn Moedelose Jakob het die vorige nag aan die slaap geraak, maar ʼn vol-moed-Jakob het die volgende oggend wakker geword. Dis nog steeds die plan van Here dat ʼn moedelose mens met nuwe moed moet wakker word. Luister hoe mooi stel Jeremia dit:

Klaagliedere 3:21-23. “Maar dit sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U Trou is groot.”

Wanneer u more-oggend wakker word, lê ʼn rukkie stil en dink daaraan hoe goed die Here vir u is. Tel jou seëninge een vir een. Begin die dag met die oorweldigende besef van die goedheid van die Here.

Kom ons hoor wat Jakob die volgende oggend gedoen het. Genesis 29:1. Jakob het sy reis voortgesit na die land van die mense in die ooste. Wanneer mens na die grondteks kyk, sê dit: “Jakob het sy voete opgelig en gegaan.” Dit beteken dat hy met ʼn nuwe opgeruimdheid sy weg voortgesit het. Die vorige aand was al vier sy wiele pap. Nou was elke wiel van voorneme so ongeveer 3 bar gepomp.

RAAK VERLIEF OP RAGEL

Jakob neem drie weke om die ongeveer 800-kilometer-reis af te lê. Uiteindelik kom hy in die omgewing van Haran aan. Hy sien ʼn meisie na die put aangestap kom.

Ek wil vir die getroude mans ʼn vraag vra. Het jy geweet sy sal jou vrou word, toe jy haar vir die eerste keer gesien het? Dis een van die groot wonders van die lewe. Ek het al met hoeveel mans en vrouens oor hierdie saak gepraat. Hulle woorde was dat toe hulle mekaar sien, het hulle geweet dat hulle vir mekaar bedoel is.

En toe Jakob vir Ragel sien, het iets hier in sy binneste begin roer en hy sê vir homself: “Dis my vrou daardie.” By die put het Jakob dan ook sy eerste soentjie gesteel. Genesis 29:10,11. “Toe Jakob vir Ragel, die dogter van sy ma se broer Laban, sien met haar pa se kleinvee, het Jakob nader gekom en die klip van die put af weggerol en Laban se kleinvee laat suip. Daarna het Jakob vir Ragel gesoen.”

Met ʼn hart wat in haar keel klop, hardloop Ragel huis toe om vir haar pa van hierdie fantastiese ou te vertel wat sy ontmoet het.

“En weet Pa wat? Hy is tannie Rebekka, pa se eie suster, se seun. Met ander woorde hy is ook my neef. Ek het lanklaas so ʼn gawe ou gesien. Hy is so hoflik. Hy het die klip van die put verwyder sodat ons vee kon water suip. Ek wil net vir pa sê dat die meisie wat so ʼn man kry, ʼn fantastiese man gekry het.”

LABAN SOEK WINSKOPE

Soos ons ʼn bietjie later sal sien, was Laban ʼn man wat altyd na ʼn winskoop gesoek het. En toe hy hoor van hierdie gawe kêrel het hy baie vinnig vir Jakob by die put gaan opsoek.

Die Bybel sê hy het gehardloop. Toe hy vir Jakob sien, het hy hom omhels en gesoen en huis toe geneem. Jakob moes hom toe alles van homself en sy familie vertel.
Genesis 29:14,15. Nadat Jakob ʼn maand lank by hom gebly het, het Laban vir Jakob gesê: “Jy is bloedfamilie, maar dit beteken nie dat jy vir my verniet moet werk nie. Sê vir my wat moet ek jou betaal.”

Een oggend aan tafel, terwyl hulle ontbyt gehad het, het Laban met Jakob begin praat:

“Jakob, sê my, waar het jy jou kennis van boerdery opgedoen? Was jy op een of ander landboukollege? Dink jy, jy kan die gehalte van my kudde verbeter? En Jakob, sê my, wil jy nie saam met my begin boer nie? Jy moet net sê wat ek jou moet betaal.”

Ragel sit so skuins oorkant hom. Hulle loer vir mekaar. Gedurende hierdie maand het hulle mekaar baie beter leer ken. Een aand, terwyl hulle bymekaar gekuier het, het Jakob vir haar gesê dat hy baie graag met haar wil trou, maar dat hy nie vir haar pa ʼn bruidskat sal kan gee nie. En nou hoop sy maar dat Jakob genoeg geld by haar pa sal kan verdien sodat hulle binnekort kan trou.

Genesis 29:16. “Laban het twee dogters gehad. Die oudste was Lea en die jongste Ragel. Lea het sagte oë gehad, maar Ragel was mooi gebou. Sy was beeldskoon. Jakob het haar liefgehad en hy het vir Laban gesê: Ek sal sewe jaar vir u werk vir u jongste dogter Ragel.”

Ragel se hart begin klop. “Is ek regtig so baie werd vir Jakob? Sal hy regtig sewe jaar lank vir my werk? Ek het gedink as hy ʼn jaar lank vir my werk sal dit oorgenoeg wees.”

VRAAG AAN JONGMENSE

Ek wil vir die jongmanne vra: Is jy bereid om sewe jaar vir jou meisie te werk om met haar te kan trou? As jy haar waarlik liefhet, sal jy. Maar as jy haar nie baie lief het nie, sal jy vir jou ʼn ander meisie in die hande kry vir wie jy nie so lank sal hoef te wag nie.

En jongedames, ek wil ook vir julle ʼn vraag vra: Sal julle bereid wees om sewe jaar vir ʼn kêrel te wag? As jy JA sê, beteken dit dat jy hom baie lief het.

DIE WAGTYDPERK

Eers het Jakob en Ragel die jare afgetel. En in die sewende jaar het hulle die maande begin aftel. Hulle het mekaar se swakhede en sterk punte beter leer ken.

“Dit gebeur dikwels dat mense voor hul huwelik nie die geleentheid benut om mekaar se gewoontes en geaardhede goed te leer ken nie. Wat die alledaagse lewe betref, is hulle feitlik nog vreemdelinge vir mekaar wanneer hulle in die eg verbind word. Te laat ontdek talle dat hulle nie by mekaar pas nie, en die gevolg is lewenslange ellende.” (Patriarge en Profete, bl. 189.)

As jy dit oorweeg om met iemand te trou, moenie te haastig wees. Maak baie seker van jou besluit. Dis beter om alleen deur die lewe te gaan as om die res van jou lewe ongelukkig getroud te wees. Kom ons vra vir Jakob om te vertel hoe hy dit reggekry het om so lank vir Ragel te gewag het:

Vers 20. “Jakob het toe sewe jaar gewerk vir Ragel, en dit was vir hom soos ʼn paar dae, want hy het haar liefgehad.”

LABAN PLEEG BEDROG

Die Here vergewe ons, ons sondes, maar ongelukkig maai ons dikwels wat ons gesaai het. Nadat Jakob vir die skelm Laban daaraan herinner het dat die sewe jaar verstryk het, is daar ʼn groot fees gereël. Die Bybel sê dat Laban al die mense van die omgewing na die bruilof uitgenooi het.

Maar voor die troue het hy en Lea agteraf gekonkel. “Luister my kind”, sê Laban “Ek wil hê jy moet jouself soos Ragel vermom wanneer ek jou by die kerk inbring. Begin aan jou figuur werk.
Verloor so ʼn paar kilogram. Ons maak vir jou ʼn dikkerige sluier sodat Jakob nie sal agterkom dat jy nie Ragel is nie. En dan maak ons die sluier met ʼn haakspeld aan jou trourok vas sodat Jakob dit nie kan oplig nie. Hy moet regtig dink jy is Ragel.”

“Ag Pa, maar dis ʼn wonderlike gedagte. Dis al ʼn paar jaar wat ek so mal is oor Jakob. Ek sal nie omgee om sy vrou te wees nie.”

Toe Laban vir Lea daardie aand met haar lang, wit trourok by die kerk inbring, kon Jakob nie agterkom dis Lea nie. Laban het ook gesorg dat die olielampies so flou as moontlik brand. Die ou skelm Laban het ook gesorg dat al die lampies in Jakob se huis verwyder is, sodat hy nie miskien een kon aansteek en agterkom dis Lea nie. En ek is seker hy het vir Lea gesê sy moet maak of haar keel seer is, sodat haar stem haar nie so weggee nie.

Vroeg die volgende more toe Jakob wakker word, dink hy dat hy uiteindelik, na sewe jaar, langs die meisie van sy drome lê. “Ragel my Skat.” Hy stamp aan haar. Hoe het jy geslaap?” Maar die vrou hier langs hom maak of sy nie hoor wat haar bruidegom vir haar sê nie.

Ek wonder wat sou jy gedoen het as jy in Jakob se skoene was en jy ontdek dis die verkeerde vrou wat hier langs jou lê.

Vers 25. “Die môre sien Jakob toe dis al die tyd Lea. Toe vra hy vir Laban: “Wat het u my aangedoen? Het ek nie by u gewerk vir Ragel nie? Waarom het u my bedrieg?”

Presies wat Jakob en sy ma met Isak en Esau gedoen het, het Laban en Lea met Jakob gedoen.

En Jakob gaan deur dieselfde emosies van bitter teleurstelling en vernedering waardeur hy sy pa en broer laat gaan het. En vir die eerste keer besef hy watter pyn en vernedering hy hulle aangedoen het.

Spreuke 20:17. “Kos wat oneerlik verkry is, smaak miskien goed, maar agterna sal jy klippe kou.”

KONSEKWENSIES EN PSEUDO-SKULDGEVOELENS

Daar is sekere dinge in ʼn mens se geestelike lewe wat baie problematies kan raak, byvoorbeeld:

In jou woede skiet jy ʼn man dood. Hy laat ʼn vrou en vyf kinders na. Vir een of ander rede spreek die regter jou vry. Jou gewete begin jou dag en nag te pla. Jy dink aan die man wat jy geskiet het.

Jy sien sy vrou en die vyf kinders by die begrafnis. Die Heilige Gees vertel vir jou hoe verskriklik die sonde is wat jy gepleeg het. Maar die Heilige Gees trag ook om berou en vergifnis in jou hart te bewerk. In hierdie vreeslike worsteling met jou sondeskuld, kom daar uiteindelik ʼn deurbraak. Jy ervaar die Here se onverdiende vergifnis.

Maar die weduwee met haar vyf kinders is nog daar. Die kinders draai misdadigers uit en die vrou beland in ʼn gestig. Daar is ʼn sterk moontlikheid dat jy met tye gaan wonder of die Here jou werklik vergewe het. Jy sal oor en oor moet seker maak of jou sondebelydenis eg was.

En dit is wat met Jakob gebeur het. Die gevolge van sy sonde was so aanhoudend dat dit vir hom ʼn pyniging was. Hy moes seker maak dat sy bekering opreg was.

JAKOB VERLAAT LABAN SE DIENS

Daar was tye dat Jakob gevoel het hy nie ʼn dag langer vir sy skelm skoonpa kon werk nie. Hy wou teruggaan na sy land toe, maar hy het gevrees dat Esau hom sou doodmaak. Jakob het lank oor hierdie saak gebid en toe antwoord die Here hom.

Genesis 31:3. “Toe sê die Here vir Jakob: Gaan terug na jou vaderland, na jou familie toe. Ek sal by jou wees.”

Jakob het toe al sy besittings bymekaar gemaak en hy is daar weg. Drie dae later het Laban hom ingehaal en Jakob probeer dwing om na hom terug te kom. Dit was tydens hierdie ontmoeting dat Jakob van al sy opgekropte gevoelens teen Laban ontslae geraak het.

Genesis 31:38-41. “Dis nou twintig jaar dat ek by u was. U skaapooie en u bokooie het gereeld gelam, en ek het nie u skaapramme geslag nie. Wat deur wilde diere verskeur is, het ek nie na u toe gebring nie, ek moes dit vervang. Wat oordag of in die nag gesteel is, het u van my geëis. Bedags het die hitte my verrinneweer en snags die koue, ek kon nie slaap nie. Dis nou twintig jaar dat ek in u huis is: veertien jaar het ek vir u gewerk vir u twee dogters en ses jaar vir die kleinvee uit u trop, en u het my betaling kort-kort verander.”

Dink jy dis goed om jou hart teenoor iemand uit te praat? Dit hang baie af in watter gesindheid ʼn mens dit doen. Wanneer Jesus mense bestraf het, het Hy dit gewoonlik met trane in Sy oë gedoen.

Vers 42 “As die God van my voorvaders, die God van Abraham, die Beskermer van Isak, nie by my was nie, sou u my met leë hande weggestuur het. Maar God het gesien hoe swaar ek gekry het en hoe hard ek gewerk het en Hy het verlede nag in my guns uitspraak gelewer.”

Dit was ʼn goeie gesprek wat Jakob en Laban gehad het want dit het op ʼn versoening uitgeloop. As Jakob nie gepraat het nie, kon hy vir die res van sy lewe met hierdie ongemaklikheid teenoor Laban rondgeloop het. Dis belangrik dat ons met mekaar oor die dinge praat wat hinder.

JESUS SE RAAD

Luister na hierdie raad wat Jesus ons gee oor die hantering van negatiewe gevoelens tussen mense. Matteus 5:23,24. “As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.”

As Jakob nie die kwessies tussen hom en Laban uit die weg geruim het nie, sou hy nie die volgende nag van benoudheid oorleef het nie. As ons nie sake tussen mekaar regmaak nie, weet ek nie of ons die komende tyd van benoudheid gaan oorleef nie. Kom ons gaan maak dinge tussen ons en ander mense reg sodat ons die vrede van die hemel kan geniet.

Was this article helpful?

Related Articles