1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Jakob Deel 8 – Sy Nag Van Benoudheid
  1. Home
  2. Jakob
  3. Jakob Deel 8 – Sy Nag Van Benoudheid

Jakob Deel 8 – Sy Nag Van Benoudheid

JAKOB – DEEL 8

Skriftuur: Genesis 32:28

In ons vorige studie oor Jakob het ons ‘n paar baie belangrike lesse geleer. Een hiervan is die erns wat hy aan die dag gelê het om met sy broer te versoen.

Hy het nie net een keer “ekskuus” gesê nie. Hy het dit oor en oor gesê. Nie net met woorde nie. Hy het ook vir Esau ‘n groot geskenk gestuur om te sê hoe jammer hy is.

VRA OM VERSKONING

Hoe het ek en jy om verskoning gevra? Was dit sommer so ‘n flou verskoning, of was dit diep en opreg? Baie mense vra glad nie om verskoning vir die pyn en skade wat hulle in ander se lewens veroorsaak het nie. Hulle gaan maar net aan asof daar niks gebeur het nie. Dan is daar mense wat eers om verskoning vra wanneer hulle soos Agan, uitgevang word.

BELYDENIS GAAN OORWINNING VOORAF

As Jakob nie sy sonde bely het nie, sou hy nooit die nag van worstelling met die Engel oorleef het nie. Hy moes eers vir Esau laat weet dat hy jammer is oor wat hy aan hom gedoen het. En as ek en jy nie ons sondes bely en mense om verskoning vra teenoor wie ons oortree het nie, sal ons nie die komende tyd van benoudheid oorleef nie.

Een van die beste onkruid-doders om die vuilgoed van valse eie-belangrikheid en eie-geregtigheid uit te roei, is die onkruid-doder van belydenis teenoor die mens wat jy te na gekom het. Een van die redes waarom ons nie vir mekaar kan gaan sê dat ons jammer is nie, is omdat ons weet dat daar nie ‘n stukkie van ons trotse ego sal oorbly nie.

Maar is dit nie juis wat die Here wil hê ons moet doen nie?

Lukas 14:11 “Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word.”

Ek wil jou nooi om een van die moeilikste vernederings te gaan deurmaak, die vernedering van “ekskuus” sê. Gaan doen dit nederig en weet dat die vrede wat jy sal ervaar nadat jy om verskoning gevra het, ‘n duisend keer vir die pyn van belydenis sal vergoed.

WEIER OM TE BELY

Dit was lank gelede tydens ‘n beradingsessie. Al wat die vrou van haar man wou hoor, is dat hy jammer is oor wat hy verkeerd gedoen het.
Ek het met hom gepleit en vir hom gevra of hy nie maar net vir sy vrou wil sê dat jy jammer is nie. Ek sal daardie toneel nooit vergeet nie. Hy het net sy kop geskud en stil gebly.

Die enigste salf wat hierdie vrou se seer wond sou genees, was die salf van “ekskuus, ek is jammer”. Haar man was te trots om hierdie buisie salf se knoppie af te skroef en op sy vrou se seer te smeer. Die seer in daardie huwelik het nooit herstel nie.

DRAAI DIE KNOPPIE AF

Die Here het vir elkeen van ons ‘n buisie genesende salf gegee. Daardie salf se naam is “Ekskuus. Ek is baie jammer dat ek jou seergemaak het.” Die aanwysings op hierdie buisie salf sê: “Wend aan so dikwels as wat dit nodig is.”

Ek nooi jou om die proppie van die buisie salf af te draai en na jou vrou, jou man, jou kind, jou ouer, jou vriend en jou vyand toe te gaan. Smeer dan van die salf van “ekskuus” op die seerplekkie en kyk net hoe vinnig word die wond gesond.

JAKOB SE WORSTELING

Kom ons hoor wat gebeur het nadat Jakob sy broer Esau van kop tot tone met die salf van “ekskuus” gesmeer het: Genesis 23:22. Die nag het hy opgestaan en sy twee vrouens en sy twee persoonlike slavinne en sy elf kinders gevat en deur Jabbokdrif gegaan. Nadat hy hulle deur die rivier gevat het, het hy ook alles wat hy besit, laat deurgaan.

Die Jabbokrivier in Jordanië word tans Nahr ez-Zerqa genoem. Dit beteken “die blou rivier”. Twee van die mense in die groot groep wat Jakob oor die Jabbok geneem het, was baie spesiaal vir hom – Ragel en die ses-jarige Josef. Ek dink hy het hulle so ‘n rukkie styf vasgehou en hulle goeie wense toegewens.

Vers 24. “Jakob het alleen daar agtergebly.” Terwyl ek onlangs die Jabbokrivier besoek het, het ek aan daardie spesifieke nag van Jakob se worstelling gedink. Nadat hy vir Ragel en Josef gegroet het, het hy weer oor die drif na die anderkant gestap.

Die waters van die Jabbok het vrolike musiek gemaak terwyl dit kabbelend oor die klippe gespoel het. Daar was ook musiek in Jakob se hart, maar dit was die musiek van die dodemars. Tot dusver het sy pogings om met sy broer te versoen, misluk en nou wag hy op ‘n moontlike menseslagting.

Iewers naby die blou rivier, tussen die kliprandjies en onder die sterre van die nag, worstel die 97-jarige patriarg.

“Ag Here, as gevolg van my gebrekkige geloof in U beloftes dat ek die eersgeboortereg sal ontvang, het ek dit van my broer Esau gesteel. Hy kan nou enige tyd op ons laer afkom en ons almal uitmoor. Ek bid U, spaar asseblief ons lewens, en ek vra U weer eens om my broer Esau se hart te versag.”

Kan jy sien hoe Jakob dieper en dieper die nag in, bid. Soos wat Jesus een nag met die sondes van die Jakob in Getsemane geworstel het, so worstel Jakob met die vreeslike verwyt van sy eie sondes. Terwyl hy in benoudheid, met trane en diepe berou langs ‘n groot rots kniel, gebeur die volgende met hom:

Vers 24. “Jakob het alleen daar agtergebly, en ‘n man het tot dagbreek met hom gestoei.”

Kan u in u verbeelding sien wat in die dowwe maanlig plaasvind? Terwyl Jakob in gebed worstel, voel hy skielik ‘n hand op sy skouer druk.

WIE WAS DIE MAN WAT MET JAKOB GEWORSTEL HET?

Wie was hierdie man? Wie is dit wat ons besoek wanneer ons in eensaamheid met ons sondes worstel? Die Here self. Kom ons lees hoe ‘n ander profeet van hierdie nag van Jakob se benoudheid en worstelling geskryf het:

Hosea 12:3-5. “Die Here het ook ‘n twis met Juda, en Hy sal oor Jakob besoeking doen volgens sy weë, hom vergelde na sy dade. In die moederskoot het hy sy broer by die hakskeen gehou, en in sy manlike krag het hy met God geworstel. Ja, hy het met die Engel geworstel en die oorhand gekry, hy het geween en Hom gesmeek.”

Wat ‘n heerlike openbaring van die onbegryplike liefde van die Here. Jesus die tweede Persoon van die Godheid, lê Sy heerlike glans neer en kom besoek vir Jakob in die gedaante van ‘n mens wat in diepe benoudheid verkeer.

DIE GEVEG

Jakob dink dis ‘n vyand wat hom in die donkerte bekruip het en wil doodmaak. Hy stoei met al sy krag teen hierdie vreemdeling. Terwyl hy so om sy lewe veg, druk sy skuld swaar op sy gemoed. Die sonde wat hy in die verlede gedoen het, doem voor hom op en wil hom met alle geweld van God skei. Maar in sy vreeslike benoudheid, herinner hy hom aan die kosbare beloftes van die Here, en sy hele wese smeek om genade.

ESKATOLOGIES

Dis baie belangrik dat ons mooi moet verstaan wat Jakob alles daardie nag deurgemaak het. Weet u waarom? Jakob se nag van benoudheid is ‘n tipe, ‘n voorbeeld van die tyd van benoudheid waardeur die oorblyfselkerk binnekort sal moet gaan. Die profeet Jeremia sien hierdie tyd en hy skryf:

Jeremia 30:5-7. “So sê die Here: Ek hoor angskrete; daar is vrees, nie vrede nie. Gaan kyk self, vra gerus: Kan ‘n man ‘n kind in die wêreld bring? Waarom sien ek dan elke man met sy hand op sy maag soos ‘n vrou wat in kraam is? Waarom het elke gesig doodsbleek geword? Daar wag ellende! Dis ‘n vreeslike dag, sonder gelyke. Dit is ‘n tyd van swaarkry vir Jakob, maar hy sal daaruit gered word.”

HISTORIESE KONTEKS

In ‘n historiese konteks verwys Jeremia na die verskriklike benoudheid wat Israel sou deurmaak net voor die koning van Babel Jerusalem gaan verwoes. Die inwoners van destyds het gesien hoe hierdie wrede Babiloniërs hulle stormramme teen die mure kom plaas. Die aanhoudende gestamp van die stormramme teen die muur het ‘n doodse vrees by hulle ingeboesem.

Die profeet Jeremia vergelyk die benoudheid van die beleërdes met die benoudheidspyne van ‘n vrou in kraam.

ESKATOLOGIESE KONTEKS

Maar die profeet Jeremia gebruik die nag van Jakob se benoude wortstelling ook in ‘n eskatologiese konteks. Mett ander woorde, die ondervinding wat Jakob daardie nag deurgemaak het, sal God se volk ook aan die einde van die tyd deurmaak.

Esau was ‘n tipe van die koning van Babel wat Gods volk destyds wou uitwis. En die koning van Babilon word ook ‘n tipe van die eindtyd-koning van Babilon, die duiwel en sy trawante wat die kinders van die Here wil uitwis.

“Net soos die Satan Esau beïnvloed het om teen Jakob op te trek, so sal hy ook die goddeloses opwek om God se volk in die tyd van benoudheid te vernietig.” (Klimaks van die Eeue, bl. 356.)

Die koning van Babilon het destyds die wêreld gedwing om sy goue beeld te aanbid. Mense wat geweier het om die wet van die Here ten gunste van die wet van die staat te oortree, is met die dood gedreig. Die koning van Babilon, die duiwel en sy werktuie, gaan binnekort ‘n universele wet uitvaardig. Dit gaan bepaal dat almal op die eerste dag van die week moet aanbid. Diegene wat weier, sal hulle aan die doodstraf blootstel.

DOODSBENOUD

Hoe gaan ons in die toekomstige tyd van benoudheid oorleef? Sal ons in die grynslag van die dood nog aan die Here getrou bly? As ons die les leer wat Jakob in sy nag van benoudheid geleer het, sal ons weet wat ons binnekort in benoudheid moet doen om te oorleef.

DIE TIK OP DIE HEUP

Twee figure worstel in die donker nag langs die Jabbokrivier. Jakob is onder die indruk dis ‘n vyand wat hom wil verwoes, terwyl dit al die tyd Jesus self is. Die dag begin te breek en die Man wat met Jakob worstel het besluit die worstelling moet beëindig word.

Genesis 32:25. “Toe die man agterkom dat hy nie vir Jakob kan wen nie, het die man, terwyl hy met hom stoei, vir Jakob teen die heup geslaan sodat dit uit die potjie gespring het.”

Skielik verander die Iemand wat met Jakob stoei, in ‘n bomenslike wese. Met een ligte tikkie op sy heup, spring Jakob se potjie uit en hy is onmiddelik kreupel. Jakob krul van die pyn.

EK SAL U NIE LAAT GAAN TENSY U MY SEëN NIE

Kan u vir Jakob sien? Hy is doodmoeg en papnat gesweet. Sy hele gesig is van pyn vertrek. Vir die eerste keer praat hierdie bonatuurlike wese.

Vers 26. “Die man het vir Jakob gesê: Los my, want die dag breek.” Jakob herken die stem wat by Bet-el met hom gepraat en vir hom gesê het: Ek sal jou nie in die steek laat nie.”

Hoe dink jy het Jakob reageer? Wat sou jy gemaak het as jy in sy plek was en jy besef skielik dis Jesus wat hier voor jou staan?

Toe Jakob besef met wie hy geworstel het, het hy eenvoudig net in trane uitgebars en Jesus met al sy mag vasgeklem.

Hosea 12:5. “Jakob het met ‘n Engel (Jesus) gestoei en gewen. Jakob het gehuil en van God hulp verwag.”

Vir jare het hy na ‘n goddelike versekering verlang dat al sy sondes vergewe is. En hier in die skemerte van ‘n vroeë oggend hou hy die Een vas wat daardie versekering kan gee.

Vers 26 Die man het vir Jakob gesê: “Los my, want die dag breek.” Jakob het geantwoord: “Ek sal jou net los as jy my seën.”

Die beste kommentaar oor daardie dramatiese nag van worstelling, kom uit die boek, Patriarge en Profete. Op bladsy 202 het ek hierdie interessante beskrywing gelees:

“Toe Jakob die Engel in sy verskriklike benoudheid aangegryp het en met trane om vergifnis gesmeek het, het die hemelse Boodskapper sy geloof op die proef gestel, deur hom aan sy sonde te herinner en van hom te probeer loskom. Jakob het hom egter nie laat wegwys nie. Hy het ontdek dat God genadig is en het homself op daardie genade verlaat. Hy het na sy boetvardigheid verwys en om verlossing gepleit. Toe hy aan sy lewe terug gedink het, het hy byna wanhopig geraak. Maar hy het aan die Engel vasgehou en ernstig, hartverskeurend geween, gepleit totdat sy gebed verhoor is.”

NIE VERWAANDE AANSPRAAK NIE

Terwyl mens hierdie historiese plekke besoek, wonder jy waar die worsteling kon plaasvind. Die eerste keer toe ek die Jabbokrivier besoek het, was dit skemeraand. My gedagtes was by Jakob wat een nag lank gelede sy saak met die Here in hierdie omgewing uitgeworstel het. Hosea 12:5 sê dat Jakob met die Engel, met Jesus gestoei het, en die oorhand gekry het.

Ons moenie dink dat hy in verwaandheid die Here aangegryp het en net eenvoudig op vergifnis aangedring het nie. Nee. Dit was in nederige berou en self-oorgawe dat hierdie skelm sondaar vir Jesus vasgeklem het. Met trane van berou het hy snikkend om vergifnis gesmeek.

Dit was met sy besef van verlorenheid dat Jakob die Majesteit van die hemel oorweldig het. Hy het met sy bewende hand die beloftes van God aangegryp en daarom kon die hart van Oneindige Liefde die smeekbede van die sondaar nie ignoreer nie.

Jakob se enigste pleidooi vir hulp was sy desperate verleentheid. En weet u, dis nog steeds die enigste menslike offer wat ons kan bring. Ons mag die Here nooit in die verwaandheid van ‘n trotse ego nader nie. Wanneer jy jou ware gevalle sondige toestand besef, nader jy Hom met diepe verootmoediging.

Psalm 51:19 “Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging: U sal ‘n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie.”

MAAK JOU SAAK MET DIE HERE REG

As jou saak nie met die Here reg is nie, gaan maak dit baie vinnig reg. Gaan worstel met Hom totdat jy weet alles is reg. Soos wat Jakob geweldige pyn in sy worstelling met die Here ervaar het, so mag ek en jy ook geweldige pyn ervaar. Maar laat ons liewer in hierdie proses pyn ervaar en seker maak van ons saligheid, as om verlore te gaan.

Hebreërs 12:4 sê dat ons nog nie ten bloede toe weerstand gebied het in ons stryd teen die sonde nie. Ons mag nie die Here los voordat ons die versekering gekry het dat al ons sondes vergewe is nie.

Verse 27,28. Toe vra die man: “Wat is jou naam?” en hy antwoord: “Jakob.” Die man het gesê: “Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel, want jy het teen God en teen mense ‘n stryd gevoer en jy het dit end-uit volgehou.”

NAAM VERLOOR?

Het jy jou goeie naam verloor? Is daar mense wat seerkry of kwaad word wanneer hulle jou naam hoor? Sal jy graag ‘n naam wil hê waaraan daar geen stigma kleef nie?

Dit is die geskenk wat die God van Jakob vir elkeen van ons wil gee. Hy wil ons naam van “Bedrieër” na “Israel” verander. Van “sondaar” na “heilige.”

TOMMIE SE VAL

Ek was een van sy geestelike en intellektuele bewonderaars. As daar ooit ‘n model predikant was, was dit hy. Maar tydens ernstige niersiekte het hy fisies en geestelik geknak en sy vrou en die bediening gelos. Later het hy sy tweede vrou ook gelos en ‘n derde gevat. In die jare wat hy in ‘n geestelike woestyn was, het ek in verbinding met hierdie oud-kollega van my gebly.

Hy het van ‘n baie hoë geestelike vlak tot in die laagste modder van owerspel geval. Dit was in 1987 dat ek hierdie dierbare vriend van my in die Kaap raakgeloop het en by die Helderberg Kollege gedoop het. In sy getuienis het hy van ‘n God vertel wat selfs die sondes van ‘n gevalle predikant kan vergewe.

Een donker nag het hy ook soos Jakob met die grusaamheid van die gevolge van sy sonde geworstel. Een donker nag het Hy Jesus Christus aangegryp en gepleit dat Hy hom nie moet los voordat hy die volle versekering van sy vergifnis ontvang het nie. Daardie nag het ‘n gevalle predikant die versekering ontvang dat die Here hom ook vergewe het.

Terwyl ek predikant in die Kaap was het ek hom dikwels laat preek. Weet jy wat was sy boodskap? Die Here vergewe selfs die grootste sondes wat ‘n mens kan pleeg. Het jy al ‘n nag met die Here deurgeworstel en al jou sondes bely? Het jy Hom al aangegryp en gesmeek: “Ek sal U nie laat gaan voordat U my met die versekering van verlossing geseën het nie.”

Hy is gereed om jou gestigmatiseerde naam van Jakob die Skelm na Israel die Oorwinnaar te verander. Ek nooi jou uit om soos Jakob met die Here te gaan worstel totdat jy daardie salige versekering ontvang het. Hy is gereed om jou naam van Jakob na Israel te verander. Is jy gereed om ‘n nag met Hom oor jou saligheid te gaan worstel?

Was this article helpful?

Related Articles