1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Jakob Deel 9 – Broers Versoen
  1. Home
  2. Jakob
  3. Jakob Deel 9 – Broers Versoen

Jakob Deel 9 – Broers Versoen

JAKOB – DEEL 9 IN GOD SE ARMS EN TOE IN ESAU SE ARMS

Skriftuur: Genesis 33:3

In ons vorige studie oor die lewe van Jakob het ons ʼn paar baie interessante ontdekkings gemaak. Eerstens, as Jakob nie opreg vir Esau om verskoning gevra het nie, sou hy nie die nag van worsteling met die Engel oorleef het nie. Jakob het eers alles gedoen om met sy broer te versoen, en toe daarna die oorwinning oor die Engel behaal.

As ek en jy nie alles doen om met mense te versoen wat ons te na gekom het nie, sal ons nie tydens die komende tyd van benoudheid oorleef nie.

As die volk van God in die tyd van benoudheid onbelyde sondes het wat voor hulle opdoem terwyl hulle deur vrees en smart gepynig word, sal hulle oorweldig word. Wanhoop sal hulle geloof oormeester en hulle sal nie vertroue hê om te pleit dat God hulle moet verlos nie. (Patriarge en Profete, bl. 202.)

GOD SIEN NIE ONBELYDE SONDES OOR NIE

Ons leef in ʼn tyd waarin sonde nie meer so ʼn groot skande is nie. Dis nie meer ʼn skandaal om bietjie oneerlik in besigheid te wees nie. Wanneer mense iets verkeerds doen, troos hulle hulself deur te sê dat almal dit doen. Byvoorbeeld: Al hoe meer mense ignoreer die rooilig en jaag oor. Maak dit die spesifieke verkeerswet minder belangrik? Nee.

Dan is daar Fletcher se situasie-etiek wat sê dat jy onder sekere omstandighede ʼn leuen kan vertel. Die situasie waarin jy verkeer, moet bepaal of dit nodig en veilig is om die waarheid te praat.

GEVRA

Die Here soek na mense wat Hom met ʼn onverdeelde hart wil dien. Mense wat nie gekoop of verkoop kan word nie. Mense wat so getrou aan beginsel is, soos wat die naald van die kompas aan die noordpool is.

2 Kronieke 16:9. “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.” Ons hoef nie op ons eie slimmigheid staat te maak om suksesvol deur die lewe te gaan nie. Ons hoef nie op leuens staat te maak om die guns van mense te wen nie. Die veiligste beleid om te volg, is om altyd reguit te loop en te praat en op die Here vir beskerming te vertrou.

In sy handeling met Jakob toon die Here aan dat Hy boosheid nooit kan goedkeur of duld nie. Almal wat hulle sondes probeer goed praat en verberg en dit onbely en onvergewe op die boeke van die hemel laat bly, sal deur die Satan oorwin word. (Patriarge en Profete, bl. 202.)

SONDAARS KAN OORWIN

Kom ek vertel jou van die grootste les wat ek uit die lewe van Jakob geleer het: Daar is hoop vir elke tipe sondaar. Geen sondaar se saak is vir die Here te hopeloos om te hanteer nie. Terwyl Jakob die oorwinning in eie krag probeer behaal het, het hy in vrees en verwarring verkeer.

Hy het die goddelike besoeker as ʼn vyand beskou en so met Hom gestoei totdat hy totaal uitgeput was. Maar toe hy homself op die genade van God verlaat het, het hy ontdek dat hy nie in die hande van ʼn vyand is nie, maar in die arms van oneindige liefde. Hy het God van aangesig tot aangesig gesien en sy sondes is vergewe.

’n BABA WAT PROTESTEER

Ek het op ʼn keer ‘n baba in my arms geneem wat verskriklik geprotesteer het. Die outjie het my as ʼn vyand beskou. Nadat sy haarself moeg gespook het,het sy ontdek dat ek haar liefde wil gee Later het sy in my arms aan die slaap geraak. En dis ook hoe ons met tye optree.

Ons spook en spartel teen ons eie sondigheid in die hoop dat ons dit sal oorwin en verlossing sal kry. Maar ons moet een ding onthou. Verlossing is gewis, gewaarborg, verseker wanneer ons onsself geheel en al aan die liefdevolle genade van die Here oorgee.

JAKOB IN DIE ARMS VAN DIE ENGEL

Die Bybel gee vir ons pragtige beeldmateriaal om die Here se verlossing van die mens te verduidelik. In die skemerlig van die vroeë oggend, sien ons vir Jakob aan die Engel vashou. Die trane rol oor sy wange terwyl hy pleit en sê: “Ek sal U nie laat gaan nie, tensy U my seën nie.”

Vir ʼn oomblik is daar doodse stilte. En toe hoor Jakob die mooiste woorde. Dis woorde wat hy verlang het om te hoor. Genesis 32:28 “Jy sal nie meer Jakob (die onderkruiper) genoem word nie, maar Israel, want jy het teen God en teen mense ʼn stryd gevoer en jy het dit enduit volgehou.”

VREDE

Terwyl Jakob na die woorde van Jesus luister, slaak hy ʼn sug van verligting. Die stryd is verby. Hy het intens na hierdie verklaring van verlossing verlang en dit nou ontvang. Die bitter smaak van twyfel, verleentheid, en selfverwyt word met die soet smaak van vrede en versoening vervang.

Jakob was nie meer bang om sy broer Esau in die oë te kyk nie. Dieselfde God wat hom sy sonde vergewe het, kon ook vir Esau beïndruk om sy broer se berou te aanvaar.

ESAU SE DROOM

Terwyl Jakob met die Engel geworstel het, is ʼn ander hemelse boodskapper na Esau gestuur.

Iewers langs die Koningsweg waar hy die nag geslaap het, het hy ʼn droom van sy broer Jakob gehad. Hy sien duidelik hoe hy die afgelope 20 jaar in ballingskap gely het. Hy sien die pynuitdrukking toe hy hoor sy ma Rebekka is dood. Hy het so intens daarna uitgesien om haar nog net een maal in sy arms te neem, en nou is sy weg. En dan sien Esau in die droom hoe engele van God sy broer omring.

ESAU SE OPDRAG

Die volgende oggend roep Esau sy 400 soldate byeen. Die manne is reg vir die slagting wat binne ʼn paar uur sou plaasvind. Die spiese blink en die pyle en boë is gereed om afgeskiet te word.
“Kêrels,” sê die geharde vors van die woestyn, “Ek het gisteraand ʼn droom gehad wat ek met julle wil deel.”

Die manne staan nader om goed te luister. Terwyl hulle stip na Esau kyk, merk hulle ʼn verandering in sy lyftaal. Hy is nie meer so aggressief gedetermineerd om sy broer te gaan uitwis nie.

“Manne. Ek het in my droom gesien watter hel my boetie die afgelope 20 jaar deurgemaak het. Oor ʼn rukkie sal ek hom moet vertel dat ons ou moedertjie onlangs oorlede is. Hy gaan dit baie swaar vat. In my droom het ek gesien hoe dit hom gaan affekteer.

“Maar kêrels. Ek het ook iets anders gesien. My broer en sy geselskap is met magtige engele van God omring. Dit vertel my dat Jakob eg berou het en dat die God van sy vader hom gaan beskerm. Ek belet julle om eers te probeer om hom enige leed aan te doen. Dit mag miskien ons almal se dood kos.”

JAKOB SE OPTREDE

Kom ons lees wat Jakob na die nag van worsteling gedoen het; nadat hy ʼn skoon nuwe naam ontvang het:

Genesis 32:29,30.Toe sê Jakob: Sê my tog jou naam,” en die man vra: “Waarom vra jy my naam?” Hy het vir Jakob net daar geseën, en Jakob het die plek Pniël genoem, “want,” het hy gesê, “ek het God van aangesig tot aangesig gesien en tog het ek nie omgekom nie. Net toe Jakob by Pniël verbygaan, het die son opgekom. Jakob het mank gebly aan sy heup…”

Wanneer mens hierdie geskiedkundige plekke besoek, kom daar baie gedagtes by jou op. In my verbeelding kon ek sien hoe Jakob mank mank daar weggestap het.

Met ʼn nuwe lied in sy hart roep hy die slapende mense in die kamp. “Opstaan, opstaan. Kom ons gaan Kanaän toe.” “Mamma, hoor hoe vrolik klink Pappa,” sê klein Josef. “Gister nog was hy so bang en ongelukkig.” “Jy is reg my kind. Dis omdat Pappa die heel nag met die Here gepraat het.”

Genesis 33:1 Toe Jakob deur die spruit was, het hy vir Esau in die verte sien aankom met vier honderd man by hom.”

Na 20 jaar sien hy weer sy broer vir die eerste keer. Gister was hy nog doodsbenoud. Maar nadat hy ʼn nag met die Engel deurgeworstel het, het hy sy vrees verloor.

JAKOB EN ESAU ONTMOET

Kom ons kyk hoe Jakob die laer na hierdie ontmoeting met die Here ingedeel het. Die vorige dag het hy hulle in twee kampe verdeel maar nou was daar net een. Hy het nie meer op sy slimheid vir beskerming staat gemaak nie, maar uitsluitlik net op die Here vir beskerming vertrou.

Genesis 33:1,2. “…Jakob het die kinders onder Lea en Ragel en die twee persoonlike slavinne verdeel en die slavinne met hulle kinders op die voorpunt gesit. Lea met haar kinders was agter hulle en Ragel en Josef heel agter.”

Waarom dink jy het hy vir Ragel en Josef heel agter laat loop? Omdat hulle Jakob se gunstelinge was en hy hulle heel laaste aan Esau wou voorstel.

Ek dink die mense in hierdie groot laer was ʼn bietjie senuweeagtig om in die rigting te stap vanwaar hulle die vyandige Esau verwag het. Maar Jakob praat hulle moed in:

“Die Here wat gisteraand my naam van Jakob na Israel verander het, is by ons. Kom ons beweeg vorentoe.”
Eers het Jakob heel agter gestap. Maar nou was hy heel voor.

Vers 3 Hy self het verbygegaan tot heel voor en toe hy nader na sy broer toe kom, het hy sewe keer diep gebuig.

Siestog. Kan u sien hoe hy pynlik en mank-mank met sy kierie aansukkel? Hy loop by almal verby tot hy heel voor is.

En dan buk hy sewe keer laag voor sy broer Esau neer. Daar is nie ʼn sweem van selfbelangrikheid by Jakob nie. Tydens die nag van worsteling met Jesus het dit heeltemal verdwyn.

BETEKENIS VAN SEWE BUIGINGS

Sir Flinters Petrie het ʼn baie interessante argeologiese ontdekking by Tel el Amarna, langs die Nyl in Egipte, gemaak. Op een van hierdie waardevolle kleitablette meld dit hoe ʼn groep Palestynse prinse sewe keer voor die Farao neergebuig het. Wat beteken dit? Sewe buigings is ʼn teken van volmaakte nederigheid en volkome onderdanigheid.

Toe Jakob voor sy broer Esau neergebuig het, het hy hierdeur vir hom gesê dat hy enige eise op spesiale seëninge wat hy vroeër deur bedrog bekom het, opsê. Dis wat ʼn nag van worsteling vir ʼn mens kan doen. Dink u nie ons het meer nagte van worstelinge met die Here nodig nie?

ESAU SE REAKSIE

En nou kom ons by die pragtige klimaks in die verhaal van die tweeling, Jakob en Esau. Die gebed wat Jakob vir 20 jaar gebid het, word nou beantwoord.

Vers 4 “Esau het hom tegemoet gehardloop en hom omhels. Esau het sy arms om Jakob se nek gesit en hom gesoen, en hulle het gehuil.”

As gevolg van die vorige nag se worsteling het Jakob met groot moeite en pyn, leunend op sy kierie tot voor Esau en sy 400 soldate gestap. Die gevolge van die stryd wat hy deurgemaak het, kon duidelik op sy bleek gesig gesien word. Maar terselfdertyd het daar hemelse blydskap en vrede uit sy gesig gestraal.

DIE OMHELSING

Toe Esau sy broer Jakob sien, het die bitterheid van 20 jaar in ʼn oomblik verdwyn. Hy hardloop vorentoe en gryp vir Jakob in sy arms. Klein Josef stamp aan sy ma Ragel. “Hoekom huil pappa en daardie oom so hard en so lank?” “My kind, dis pappa se broer wat eers vir hom kwaad was. Maar is hy nie meer kwaad vir pappa nie. Hy is baie bly om pappa te sien. So bly dat hy sommer huil.”

EERS IN GODS ARMS EN TOE IN ESAU SE ARMS

Wat ʼn pragtige toneel daar langs die Jabbokrivier. Twee vervreemde broers omhels mekaar. Maar voordat dit kon gebeur moes Jakob eers in ʼn intieme omhelsing met die Here betrokke raak. Eers het hy volkome hemelse vergifnis ontvang. Nou ontvang hy volkome menslike vergifnis.

Dit mag net wees dat ek en jy nog nie met mense kan versoen nie, omdat ons nog nie heeltemal met die Here versoen het nie. Miskien moet ek eers weer ʼn keer in die arms van die Here beland voordat ek in die arms van my vyandige broer kan beland.

DIE GESPREK

Nadat die tweeling goed in mekaar se arms gehuil het, het hulle weer met mekaar begin praat. Vir 20 jaar het hulle dit nie gedoen. Maar nou het hulle losgetrek.

Vers 5. Esau het opgekyk en die vrouens en kinders gesien en toe sê hy: “Wie is al hierdie mense by jou?” Jakob het geantwoord: “Dit is die kinders wat God in sy liefde aan my gegee het.”

Jakob glimlag breed terwyl hy vir die gesin wink om nader te kom. Ons hou mos daarvan om met ons dierbares te spog.

Is dit nie hemels nie. Skielik is die atmosfeer tussen die twee broers nou anders. Eers wou Esau sy broer doodmaak, nou toon hy belangstelling in sy gesin. Wat ʼn mooi les. So dikwels wil ons mekaar seermaak. Kom ons vra liewer uit hoe dit met mekaar se dierbares gaan.

Verse 6,7. Die persoonlike slavinne het met hulle kinders nader gekom en gebuig en toe het ook Lea met haar kinders nader gekom en gebuig. Josef en Ragel was heel agter en ook hulle het nader gekom en gebuig.

Klein Josef steek sy linkerhand uit om oom Esau te groet. Sy pa sê vir hom: “Nee, my skat, gee vir oom Esau die ander hand en gee hom sommer ʼn lekker ou soentjie.” Na die soen lag die twee broers lekker saam.

Psalm 133:1. “Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon!” Die atmosfeer is ontspanne en die broers lag saam. En nou praat Esau oor daardie klomp bokke en skape en kamele en koeie en donkies wat Jakob vir hom gestuur het.

Verse 8,9. Toe vra Esau: “En wat is jou bedoeling met al daardie goed wat ek gekry het?” en Jakob antwoord: “Dit is om vriendskap te wen.” Maar Esau sê vir hom: “Broer, ek besit self baie. Wat joune is, moet joune bly.”

Waarom het Jakob so by sy broer aangedring om die geskenk in ontvangs te neem? ʼn Mens kry die antwoord wanneer jy die Oosterse kultuur bestudeer. As Esau die geskenk aanvaar, sou dit as ʼn konkrete bewys dien dat hy ook Jakob se apologie aanvaar het. Dit sou ook beteken dat Esau vir Jakob voortaan sy vriendskap en beskerming sou gee.

Verse 10,11. Toe sê Jakob: “Nee, as u my goedgesind is, moet u my geskenk aanvaar. Ek het na u toe gekom om u goedgesindheid te wen net soos wanneer ʼn mens in die teenwoordigheid van God verskyn. En u het my vriendelik ontvang. Aanvaar tog my geskenk wat vir u gebring is, want God was goed vir my en ek het oorgenoeg.”

Jakob het by Esau daarop aangedring, en toe aanvaar hy die geskenk. “Ag baie dankie Esau,” sê Jakob. “Ek is so bly jy het die geskenk aanvaar en daardeur bewys het dat jy my finaal vergewe het.”

GESKENKE

Dis te pragtig om te sien watter mooi effek geskenke op die lewe van mense het.

Spreuke 21:14. “ʼn Geskenk in die stilte paai ʼn man wat kwaad is; as dit versigtig aangebied word, laat dit heftige woede bedaar.” Een van die aangenaamste ervarings in hierdie lewe is om ʼn geskenk te gee of te ontvang.

Wanneer ek aan Langkloof dink, dink ek aan oorlede oom Jack Kritzinger. Elke keer wanneer ek hom gesien het, het hy vir my of twee plastiekbottels dikmelk, of heuning, of ʼn paar appels gegee.
En dis hoe God die Vader teenoor ons optree.

Jakobus 1:17. “Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo.”

Kom ons lees van die kosbare geskenke wat die Here ons gee. Handelinge 2:38. Toe antwoord Petrus hulle: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus. Dan sal God julle sondes vergewe, en sal julle die Heilige Gees ontvang.”

Duur geskenke van bekering, vergifnis van al ons sondes, en die Heilige Gees. Wat ʼn vrygewige Vader! Romeine 6:23. “Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.”

Die grootste van alle gawes wat die Vader skenk, is die geskenk van Jesus. 2 Korintiërs 9:15. Ons dank God vir sy onuitspreeklike gawe. Kom ons maak soos Jakob en soos God, die Vader. Kom ons gee vir mekaar so ʼn bietjie meer geskenke.
Nie net tasbare geskenke nie, maar geskenke van vriendelikheid, van aanvaarding van vergifnis. Kom ons oorlaai mekaar met die hemelse geskenk van liefde.

Ons hemelse Vader verlang met ʼn intense verlange na ʼn spesifieke geskenk wat net die mens vir Hom kan gee. Weet jy wat daardie geskenk is? Ons harte. As jy Hom reeds jou hart gegee het, kan jy dit maar weer ʼn keer gee. As jy dit nog nie gedoen het nie, nooi ek jou uit om dit nou te doen.

Was this article helpful?

Related Articles