1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Johannes Die Doper
  4. Johannes Die Doper – Deel 1: Sy Geboorte En Opvoeding
  1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Johannes Die Doper – Deel 1: Sy Geboorte En Opvoeding

Johannes Die Doper – Deel 1: Sy Geboorte En Opvoeding

Skriftuur: Maleagi 3:1; 4:5,6

Voordat ons met Johannes die Doper gaan kennis maak,  sal dit goed wees om sy pa en ma te ontmoet.  Hoe meer ons aangaande iemand weet, hoe makliker is dit om hom of haar  te waardeer.

1. Hoe meer ons van mekaar weet, hoe groter is ons begrip vir mekaar se swakhede; hoe meer kan ons mekaar se goeie hoedanighede waardeer.

SAGARIA EN ELISABET

2. Lukas 1:5,6 In die tyd van koning Herodus van Judea was daar ‘n priester met die naam Sagaria, uit die diensgroep van Abia.  Ook sy vrou het van Aäron afgestam, en haar naam was Elisabet.  Hulle was albei getrou aan die wet van God en het onberispelik al die gebooie en voorskrifte van die Here onderhou.

Wat ‘n pragtige egpaar.  Die Bybel noem die feit dat hulle aan die wet gehoorsaam was.  God se genade het hulle in staat gestel om oorwinnend te lewe. Hoe oud dink julle was Sagaria en Elisabet?

Kom ons lees dit: 

3. Numeri 8:25,26 As ‘n Leviet egter vyftig jaar oud is, moet hy sy amp neerlê en mag hy nie verder dien nie.  Hy mag sy mede-Leviete nog met hulle ampswerk in die tent van ontmoeting behulpsaam wees, maar self mag hy die diens nie behartig nie.

In hedendaagse taal kan ons sê dat Sagaria nog nie ‘n pakket gevat het nie.  Sy annuïteit of pensioen het nog nie in werking getree nie. Maar hy was baie na aan aftrede.  Sommige kommentators sê hy was naby aan die 70.

4. Sagaria se naam het ‘n besondere betekenis: “Die Here het onthou.”

Is dit nie pragtig nie?  So dikwels dink ons die Here het vergeet.  Dit mag wees dat die kinderlose Sagaria wat vir baie jare vir ‘n kind gebid het ook so gevoel het.

Die Bybel sê nie vir ons hoe oud Elisabet was nie maar sy moes so tussen vyftig en sestig jaar oud gewees het.  Haar naam het net so ‘n mooi betekenis:

5. Elisabet beteken: “God is oorvloedig.”

Hulle was goeie mense. Israeliete wat die verlossingsplan van die Here begryp het.  Luister hoe beskryf die Ou Vertaling hulle:

6. Vers 6 En hulle was altwee regverdig voor God en het in al die gebooie…van die Here onberispelik gewandel.

7. Hoe word ‘n mens regverdig voor die Here?  Jy moet aanvaar dat jy geen geregtigheid van jou eie het nie, en dat jy dit alles by die Here deur geloof kan ontvang.

Wanneer jy hierdie groot waarheid begryp, sal jy vrugte dra wat by jou bekering pas.

KINDERLOOS

Maar daar was ‘n groot gemis in hierdie twee ou mense se lewe. Kom ons lees daarvan:

8. Vers 7 Hulle het geen kind gehad nie, omdat Elisabet onvrugbaar was.  Buitendien was albei reeds op ver gevorderde leeftyd.

SKANDE

9. Die samelewing waarin Sagaria en Elisabet gewoon het, het op kinderlose ouers gefrons.

As jy nie kinders gehad het nie, het mense geglo dat God  besig was om jou vir sekere sondes te straf.

“Bettie”, sê Sagaria een middag toe hy by die huis kom. 

10. “Ek het vandag vreeslik sleg gevoel.  Iemand van Galilea wat hier by die tempel in Jerusalem kom offer het, het my oor my vrou en kinders uitgevra.  Tot my skande moes ek vir hom sê dat ons geen kinders het nie.  Skielik het die man se houding teenoor my verander.  ‘n Mens kan maar net raai wat hy van ons gedink het.”

11. Arme Elisabet was baie ongemaklik.  Dit was nie haar skuld dat hulle nog nie kinders gehad het nie.  Deur die jare het sy al die ou tannies se boere rate gevolg, maar niks het gehelp nie.

12. “Sagaria.  My buurvrou vertel my vanoggend dat ‘n nuwe dokter ‘n spreekkamer in Jerusalem oopgemaak het.  Sal jy omgee as ek ‘n afspraak met hom maak?  Hy het glo in Rome en Atene in ginekologie gaan spesialiseer en behandel vrouens oor die vyftig.”

Elisabet is die volgende oggend van Hebron weg om die nuwe spesialis in Jerusalem te gaan spreek.

‘n Paar weke later vra Sagaria: “Sê my Bettie.  Werk die dokter se medisyne?”

REDE VIR EGSKEIDING

13. Een van die redes waarop mans destyds van hulle vrouens kon skei, was op grond van onvrugbaarheid.  En as jy nie hieroor van haar wou skei nie, kon jy vir jou ‘n tweede vrou vat sodat jy ‘n nageslag kon verwek.

Maar hierdie twee mense, Sagaria en Elisabet was godvresend. Ten spyte van hulle verleentheid en huweliksfrustrasies het hulle die God van Israel met toewyding gedien.

NIKS IS VIR GOD ONMOONTLIK NIE

Daar is iets wat Gabriël vir die Elisabet se jong niggie  Maria, in Nasaret gesê het mens baie diep laat dink:

14. Verse 36,37  Kyk, ‘n bloedverwant van jou, Elisabet, het in haar ouderdom self ook ‘n seun ontvang, en sy wat as onvrugbaar bekend was, is nou al in haar sesde maand.  Niks is vir God onmoontlik nie.”

Pragtige woorde!  Toe daar vir Abraham en Sara geen moontlikheid was om ‘n kind te verwek nie, is Isak gebore.

Dit was onmoontlik vir Ragel om kinders te hê.  Maar die Here doen ‘n wonderwerk en Josef word gebore.

Hanna was ook onvrugbaar. Maar die God van wonderwerke raak haar aan, en Samuel word gebore.

GEESTELIKE ONVRUGBAARHEID

Terwyl ek oor hierdie besondere wonderwerke gepeins het, het ek aan ‘n ander soort kinderloosheid gedink.  Die Here wil hê dat Sy onvrugbare volgelinge vir Hom geestelike kinders in die wêreld moet bring.

15. Is jy kinderloos?  Sou jy graag vir die Here ‘n geestelike kind in die wêreld wil bring?  Hy kan ‘n wonderwerk verrig en jou onaktiewe evangelistiese skoot oopsluit sodat jy ook vir Hom ‘n geestelike nageslag kan voortbring.

Al het jy oud geword soos Sagaria en Elisabet kan dit nog gebeur dat jy vir die Here ‘n siel sal kan wen.

Onthou net:  Niks is vir God onmoontlik nie.

GABRIEL VERSKYN AAN SAGARIA

16. Verse 8 en 9. Op ‘n keer toe Sagaria in die beurt van sy diensgroep besig was om die priesterdiens voor God te verrig, is hy volgens die priesterlike gebruik deur die lot aangewys om in die tempel van die Here in te gaan en die wierook op die altaar te brand.

17. Die dienswerk van priesters het volgens Josefus van Sabbat tot Sabbat gestrek.  Met ander woorde, as ek dit reg verstaan, het dit wat met Sagaria gebeur het, het op die Sabbat gebeur.

WERP VAN DIE LOT

18. Vroeg daardie oggend het ’n groot groep priesters in ‘n semi-sirkel by die Tempel gestaan.  Die lot is gewerp om vas te stel wie die oggend- en aandoffer diens sou verrig.

19. Die eerste groep is geloot om die brandofferaltaar skoon te maak en die offer voor te berei.

Die tweede loot sou weer priesters aanwys wat die kandelaar en die reukofferaltaar skoon maak en die lam offer.

20. ‘n Derde lot het priesters aangewys om reukwerk te offer.  Dit was ‘n baie belangrike werk.

‘n Vierde lot het bepaal wie die lam sou offer.

REUKOFFERALTAAR

21. Vers 10  Terwyl die wierookoffer gebring is, was die hele volksmenigte buite besig om te bid.

22. Sagaria stap saam met twee ander priesters die eerste afdeling van die tempel binne.

Een van hulle verwyder die ou kole wat flouerig op die reukofferaltaar brand.  Daarna stap hy uit.

Die ander een plaas vars kole op die goue reukofferaltaar wat hy vanaf die brandofferaltaar in die voorhof saamgebring het.

Sodra hy sy werk afgehandel het, verlaat hy ook die heilige plek.

EEN KEER IN ‘N LEEFTYD

Voordat ons verder lees oor wat Sagaria by die reukofferaltaar gedoen het, wil ek net iets baie belangrik noem.

‘n Priester het net een keer in ‘n leeftyd die geleentheid gekry om reukwerk op die altaar te offer.  Sommige priesters het dit nooit gekry nie.

23. Van die oggenddienste en die aanddienste wat in die heiligdom verrig is, was die brand van reukwerk op die goue altaar, as die heiligste en die belangrikste werk beskou.

DRIE GELYKTYDIGE AKSIES

Terwyl Sagaria reukwerk op die goue wierookaltaar geoffer het, het twee ander aksies plaasgevind.

In die voorhof is die lam geoffer. Wat het dit gesimboliseer?

24. Die daaglikse offer van die lam het die daaglikse toewyding van die nasie aan die Here voorgestel. Dit het ook op hulle volgehoue afhanklikheid van die versoenende bloed van die komende Messias gedui.

Die volgende iets wat op hierdie oomblik plaasgevind het, was baie interessant.  Kom ons lees dit weer ‘n keer:

25. Vers 10 Terwyl die wierookoffer gebring is, was die hele volksmenigte buite besig om te bid.

Van die vroegste tye af was dit die gebruik dat aanbidders tydens die oggend- en aandoffers by die tabernakel vergader het.  Waarom het die volk 9 uur in die oggend en 3 uur in die middag daar vergader?

IN GOD SE TEENWOORDIGHEID

26. In die persoon van die dienende priester, het hulle binne-in die teenwoordigheid van God gekom.  Omdat dit so ‘n verskriklike plegtige oomblik was, het hulle in ernstige gebed en diepe hartsondersoek verkeer.

27. Net agter die goue wierookaltaar het die swaar, pragtige geborduurde voorhangsel gehang.  Agter dit, was die ark met die tien gebooie in.

Die heerlikheid van God het bokant die versoendeksel op die ark gerus.  Omdat die voorhangsel nie tot heel bo gestrek het nie, kon ‘n gedeelte van God se heerlikheid in die eerste afdeling gesien word.

Wanneer die dienende priester die wierook voor die Here verbrand het, het hy in die rigting van die ark gekyk. 

Terwyl die welriekende wolk van reukwerk opstyg, het die goddelike glorie op die versoendeksel neergedaal en die allerheiligste grasieus gevul.

28. Met tye is die allerheiligste en die heilige so oorweldigend met God se verblindende glorie gevul dat die priesters die tabernakel moes verlaat.

OPSTYGENDE WIEROOK

Terwyl Sagaria die wierook oor die brandende kole strooi, sien hy hoe die rook na bo styg.  Die simboliek is aangrypend.

29. “Ag Here,” bid Sagaria, “soos wat hierdie wierook na bo styg, so wil ons as volk ook ons gebede na U laat opstyg.  In die eerste plek bid ek U dat U ons sondes sal vergewe.  En dan bid ek ook dat U die komende Messias spoedig sal stuur op  wie al hierdie simbole dui.”

MERIETE EN BEMIDDELING VAN JESUS

Op die eiland van Patmos het Johannes die geliefde apostel ‘n visioen van die hemelse reukofferaltaar gehad.  Luister wat skryf hy:

30. Openbaring 8:3,4 ‘n Ander engel het toe gekom en by die altaar gaan staan met ‘n goue wierookbak.  Daar is baie wierook aan hom gegee om dit saam met die gebede van al die gelowiges op die goue altaar voor die troon te offer.  Die rook van die wierook wat deur die engel geoffer is, het saam met die gebede van die gelowiges opgestyg voor God.

31. Ons moet altyd daarvan bewus wees dat ons gebede tot die Vader met die volmaakte geregtigheid van Jesus gegeur word. Dit alleen maak sondaars soos ek en jy by God aanneemlik.

VOORTDURENDE INTERSESSIE EN VERSOENING

Terwyl Sagaria hier voor die allerheiligste besig is om reukwerk te offer, besef hy dat daar voortdurende bemiddeling, intersessie by God vir die sondaar is. 

Die lam wat op daardie selfde oomblik op die brandofferaltaar geoffer is, het die beskikbaarheid van voortdurende versoening vir die sondaar gesimboliseer.

32. Net deur Jesus se voortdurende bemiddeling en versoening kan genade en verlossing aan die boetvaardige sondaar geskenk word.

GABRIEL MAAK SY VERSKYNING

Terwyl die toegewyde Sagaria met die pragtige gedagtes aangaande God se reddende genade besig is, het die engel Gabriël aan hom verskyn.

Dis dieselfde Gabriël wat ongeveer ses eeue gelede aan Daniël verskyn het en die datum van die komende Messias aangekondig het.

Eendag in die hemel sal ek graag met hierdie belangrike interessante engel wil gesels.

33. Verse 11-13 Toe verskyn daar aan die regterkant van die wierookaltaar ‘n engel van die Here aan hom.  Sagaria het geskrik toe hy hom daar sien staan en hy het baie bang geword, maar die engel sê vir hom:  “Moenie bang wees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor.  Jou vrou,  Elisabet, sal aan jou ‘n seun skenk, en jy moet hom Johannes noem.

DIE HERE IS GENADIG

Kan u nog onthou wat Sagaria se naam beteken? 

34. Die Here het onthou.

En wat beteken sy vrou Elisabet se naam?

35. God is oorvloedig.

En nou sê Gabriël dat hulle ‘n seuntjie gaan kry en dat sy naam moet Johannes wees.  Wat sou u sê beteken hierdie naam?  Die Grieks, Ionnys kom van die Hebreeus Yochanan en dit beteken:

36. Die Here is genadig.

Daar is soveel pragtige verlossingsklanke in die name van die Bybelkarakters.  Kom ons luister weer ‘n keer:

37. Sagaria = Die Here onthou; Elisabet = God is oorvloedig; Johannes = Die Here is genadig.

Partykeer voel dit vir ons asof die Here ons vergeet het.  Dink net aan die naam van Sagaria.  “Die Here onthou.” Hy vergeet ons nie. 

38. Partykeer wonder ons of die Here ons regtig van al ons sondes kan reinig.

Die naam Elisabet sê vir ons “God is oorvloedig.” Oorvloedig in vergifnis, oorvloedig in redding.

39. En as jy somtyds wonder of die Here ‘n vallende sondaar soos jy nog ‘n kans wil gee, dink net aan die naam van Johannes.  “Die Here is genadig.”

Volgende keer gaan ons meer aangaande die profesie oor Johannes se karaktertrekke hoor.

Ons gaan hoor watter soort karaktertrekke nodig was om mense vir die eerste koms van Jesus na die aarde voor te berei.

Dit gaan ons help om te weet watter karaktertrekke ons moet besit wat besig is om vir die wederkoms van Jesus voor te berei.

40. Mag die studie van die grootste profeet van alle tye vir jou my met ‘n baie groter sending ywer as ooit van te vore besiel.

Was this article helpful?

Related Articles