1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Johannes Die Doper
  4. Johannes Die Doper – Deel 11
  1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Johannes Die Doper – Deel 11

Johannes Die Doper – Deel 11

Skriftuur: Johannes 3:25-30

Johannes sien hoe Jesus met ‘n paar van sy disippels wegstap. Naderhand is hulle net stippeltjies en toe verdwyn hulle op pad na Galilea.

Daardie nag het Johannes weer sy olielampie opgesteek en die profesieë aangaande die komende Messias bestudeer.

‘n Nuwe entoesiasme pak hom beet. Die volgende dag preek hy met nog groter oortuiging en roep die mense tot bekering.

As Johannes op hierdie tydstip homself as die nuwe Messias uitgeroep het en ‘n opstand teen Rome georganiseer het, sou die hele volk agter hom gestaan het.

Daar was selfs mense wat bereid was om hom om te koop om so iets te doen, maar die woestynprofeet het volhardend geweier.

Die aandag wat mense op hom geplaas het, het hy na Iemand Anders oorgeplaas.

DIE GETY VERANDER

Het u al by die see gestaan en kyk hoe die gety inkom? Dis aangrypend. Die branders stoot elke keer verder en verder oor die strand en laat hulle gekartelde strepies van vordering op die wit sand.

Dit is wat met Johannes die Doper gebeur het. Sy gewildheid het soos hooggety diep in die harte van mense ingespoel.

Maar na elke hoog-gety, is daar ook ‘n laag-gety. Die branders stoot nie meer so ver uit nie.

Het jy al die nare ondervinding van kwynende gewildheid ervaar?

Johannes 3:22 Hierna het Jesus en sy dissipels na die platteland van Judea toe gegaan. Hulle het ‘n rukkie daar gebly en mense gedoop.

Jesus se gewildheid het al hoe meer toegeneem en Hy het mense na die Jordaan gebring om daar gedoop te word.

As ek nie goed kan sing nie, raak dit my nie as jy soos ‘n nagtegaal sing nie. Maar as ons amper ewe mooi sing, en ons tree gesamentlik op en jy kry ‘n groter applous as ek, dan mag ek ‘n probleem optel.

Dit sou nie saak gemaak het as Jesus ver weg van Johannes gedoop het nie. Die probleem het onstaan omdat Jesus se dissipels naby Johannes die Doper kom doop het.

Johannes 3:23-25 Johannes was ook besig om te doop, by Enon naby Salim, waar daar baie water was. Die mense het na hom toe gekom en is deur hom gedoop. Johannes was nog nie in die tronk gesit nie. Daar het toe tussen Johannes se volgelinge en ‘n Jood ‘n woordewisseling ontstaan oor die reiniging.

Hier kom moeilikeid. Johannes se dissipels het geglo dat niemand die reg gehad het om te doop soos hulle woestynprofeet dit gedoen het nie.

En toe stry hulle met Jesus se dissipels:

“Wie gee julle die reg om soos ons meester Johannes mense in die Jordaanrivier te doop? Ons was heel eerste hier.”

En die dissipels van Jesus is ook nie links nie, en die stryery begin.

Die redes wat gewoonlik vir ‘n rusie aangegee word, is nie altyd die regte rede nie. Kom ons luister na die eintlike rede:

Johannes 3:26 Hulle het na Johannes toe gekom en vir hom gesê: “Rabbi, Hy wat oorkant die Jordaan by u was, van wie u getuig het, weet u, Hy doop ook, en almal gaan na Hom toe.

VERSOEKING

Wie dink u was regtig agter hierdie woorde? Die duiwel self. Een van die beste maniere om ‘n mens mee te versoek, is om sy ego aan te tas.

Kan u die onstelte gesigte van hierdie dissipels sien? Vroeër het hulle met groot skares mense gespog, en nou sien hulle hoe die mense na Jesus stroom.

Het jy al gevoel hoe dit voel om gewildheid te verloor? Het mense al iemand anders bokant jou verkies? Dis nie maklik nie.

Johannes se dissipels voel vernederd en onbekwaam. Hulle aandag is intens op hulle verleentheid gevestig. Wat gaan die woestynprofeet vir hulle sê?

Johannes het toegelaat dat goddelike liefde sy lewe verander het. Die nagte in die grot met sy bybel, het hierdie man se lewe verander.

Hy het bokant die giftige atmosfeer van jaloesie geleef. Hy het in die varslug van ‘n onselfsugtige, ambisievrye atmosfeer geleef.

Hy het geen simpatie met sy ontevrede dissipels getoon nie. Die antwoord wat hy hulle gegee het, het duidelik getoon watter verhouding hy met die Messias gehad het.

Johannes 3:27 Johannes het hulle geantwoord: “Niemand besit enige bevoegdheid om iets te doen as dit nie uit die hemel aan hom gegee is nie.

“My liewe vriende,” sê Johannes vir sy dissipels. “Die werk wat Jesus se dissipels doen, doen hulle met met dieselfde Bonatuurlike krag waarmee ons werk.”

Vers 28,29 Julle is self my getuies dat ek gesê het: ‘Ek is nie die Christus nie. Ek is maar net voor Hom uitgestuur.’ Die bruidegom is die een aan wie die bruid behoort; maar die vriend van die bruidegom staan en luister of hy kom en is baie bly wanneer hy die stem van die bruidegom hoor. Daarom is ek nou met blydskap vervul.

JALOESIE

Ons sal nooit kan besef hoeveel hartseer en verdeeldheid   afgunstigheid veroorsaak het nie.

Die saad van afguns groei welig wanneer dit in die grond van my selfsugtige natuur geplant is.

Dit sal darem hemel op aarde wees wanneer ons almal gaan bly raak oor iemand anders se sukses pleks dat ons afgunstig raak.

Dit sal darem hemel op aarde wees wanneer ons vir mekaar meer komplimente as kritiek kan gee.

HY MOET MEER WORD

Van die mooiste woorde in die hele Bybel het uit die mond van Johannes die Doper gekom:

Johannes 3:30 Hy moet meer word en ek minder.

Wat ‘n verklaring! Wat ‘n gebed! Wat ‘n gesonde, geballanseerde, ontspanne uitkyk op die lewe!

Johannes se grootste verlange is dat die aandag van mense meer en meer op Jesus gevestig moet word en minder en minder op hom. Dit vat nogal baie spanning van ‘n mens weg.

Mag dit ook ons gebed wees dat die lieflike karakter van Jesus meer en meer in ons lewe gesien sal word.

Mag dit wees dat ons almal se gebed sal wees dat ons lelike selfsugtige karaktertrekke minder en minder sal word.

Wanneer iemand ons beledig moet die mooi karakter van Jesus meer en meer in ons optrede gesien word.

Wanneer iemand ons verwerp, moet ons negatiewe optrede van weerwraak minder en minder word.

Terwyl Johannes die prag van die Verlosser in geloof aanskou het, het hy tot by die hoogste vlak van selfverloëning gestyg.

Hy het die Koning in Sy heerlikheid aanskou en hom self vergeet.

Die woestynprofeet het van homself weggekyk terwyl hy die nederige Jesus peinsend aanskou het.

Johannes het nie die aandag van mense op homself getrek nie. In elke preek het hy getrag om die konsentrasie van sy toehoorders hoër en hoër en hoër te neem totdat dit op die Lam van God gefokus was.

Die toegewyde woestynprofeet was gereed om in onbekendheid te verdwyn sodat alle oë na Jesus die Lig van die lewe kon kyk.

POSISIESOEKERS

Deur die jare het ek gesien hoe lidmate aan posisies vasklou. Met kere het dit vir my amper gelyk of mense se toegang tot die hemel van ‘n kerkamp afgehang het.

En miskien weet jy ook van mense wat die kerk verlaat het omdat hulle nie weer in ‘n sekere amp aangestel is nie.

Ons het die Here tog so nodig. Ons geestelike sekuriteit moenie in van ‘n kerkamp of die aanvaarding van ons medegelowiges lê nie.

Ons geestelike sekuriteit moet in ‘n volgehoue, selfverlonende verhouding met Jesus lê.

Jesus moet elke dag meer weer word sodat die lelik in my elke dag minder en minder word.

Johannes was van die selfsugtige “self” geledig en met die lig van die hemel gevul.

KAHLIL GIBRAN

Ek sal my besoek aan die Kahlil Gibranmuseum nooit vergeet nie. Ons was op pad na die magtige Seders van Libanon toe ons by hierdie historiese plek stilgehou en ingestap het.

Ek wil vir u iets kosbaars lees wat hy geskryf het:

Like sheaves of corn he gathers you unto himself. He threshes you to make you naked. He sifts you to free you from your husks. He grinds you to whiteness. He kneads you until your are pliant; and then he assigns you to his sacred fire, that you may become sacred bread for God’s sacred feast. “The Prophet” bld. 11.

STOOTSKAPERS

Het jy al gesien hoe ‘n stootskraper te werk gaan? In ‘n japtrap stoot hy groot klippe en doringbome uit sy pad uit. En wanneer ‘n “front-end loader” bykom, maak hulle baie vinnig ‘n groot holte sodat ‘n dam kan vorm.

Ons moet toelaat dat die stootskrapers en die “frond-end loaders” van die lewe die klippe, doringbome en grond van selfbelangrikheid wegneem sodat daar spasie vir ‘n dam van God se skoon waters gemaak kan word.

LEEGMAAK

Ons is partykeer so vol van ons eie pyn en selfbelangrikheid dat daar nie plek vir Here in ons lewens is nie.

Die tede waarom dit met kere so donker in ons lewens  is, is omdat die rommel van selfbelangrikheid die lig van hemel uithou.

Ons kan alleenlik die lig van die hemel ontvang indien ons bereid is om die selfsugtige “ek” af te sterf.

HERODUS DIE VIERVORS

Herodus die Viervors of Herodus Antipas soos hy ook genoem word, het op twee plekke gebly – Tiberias en Mukawir.

By Tiberias het hy ‘n pragtige See van Galilea uitsig gehad. Orals waar sy oog geval het, was dit groen en welig.

By sy ander ampswoning het met ‘n pragtige woestynskoonheid gespog. Die vesting van Mukawir is deur sy pa, Herodus die Grote gebou en het aan die ooste kant van die dooie see gelê.

Wanneer mens bo-op Mukawir staan, het jy ‘n pragtige uitsig van die dooie see wat verskille kleure deur die dag vertoon. Dis ‘n anderse soort skoonheid wat mens hier tussen die hoë berge van Moab sien.

Elke keer wanneer ek hier besoek, dink ek aan die man  wat Johannes die Doper gevang en hierheen gebring het.

SOLDATE

Op ‘n dag het sy soldate hom vertel wat Johannes die Doper gepreek het. Hy kon sien dat sommige van hulle se lewens ten goede verander het.

“Koning Herodus die woestynprofeet het nie geskroom om vir ons ons sondes uit te wys nie. Die Heilige Gees het met ons harte gepraat. Ons het besluit om nooit weer van iemand geld af te pers nie. En Koning ons sal ook nooit weer oor ons swak soldy by u kla nie.”

Herodus die Viervors is beïndruk met wat sy soldate hom vertel.

“Manne. Wat dink julle. Sal dit die moeite werd wees om na hierdie woestynprofeet te gaan luister? Wat het julle nou weer gesê is sy naam?”

HERODUS LUISTER NA JOHANNES

Op ‘n dag het die waardige Viervors met sy amptelike geselskap by Johannes aangekom. Kom ons luister na so ‘n stukkie van die preek waarna hulle die dag geluister het:

Lukas 3:15 Die volk was vol verwagting, en almal het hulle begin afvra of Johannes nie miskien die Christus is nie. Daarop gee Johannes aan hulle almal die antwoord: “Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. Hy het sy skop in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Die koring sal Hy in sy skuur bymekaar bring, maar die kaf sal Hy met onblusbare vuur verbrand.”

Nog nooit in sy lewe het Herodus die Viervors so ‘n kragtige boodskap gehoor nie.

Hy peins oor die komende Messias wat mense met die Heilige Gees en met vuur gaan doop.

“Dis eintlik wat ek nodig het,” dink hy in sy enigheid. “Hierdie buite-egtelike verhouding met Herodias hinder my. Ek sal dit waardeer as die Messias die kaf van hierdie sensuele verhouding uit my lewe uit brand.”

Lukas 3:18 Ook oor baie ander dinge het hy dikwels die volk vermaan en die goeie boodskap aan hulle verkondig.

Herodus luister hoe die woestynprofeet die goeie boodskap verkondig. Hy vertel vir sy toehoorders dat God hulle baie lief het en dat Hy graag hulle van hulle sondes wil reinig.

Lukas 3:19 Hy het ook vir Herodus, die heerser, tereggewys oor Herodias die vrou van sy broer, en oor al die ander slegte dinge wat Herodus gedoen het.

Op ‘n dag toe Herodus weer na Johannes kom luister het, het hy hom aangespreek:

“U edele. Ek het ook ‘n boodskap vir u. Die feit dat u vir Huldu, die dogter van koning Harid V van Petra geskei het, is ‘n gruwel in die oë van die Here.

“Wat nog erger is, is die feit dat u besig is om u broer Filippus se vrou Herodias van haar man af te rokkel.

“Ek pleit met u in die Naam van die God van Israel, breek met u sondes. Volg die Here in gehoorsaamheid. En geniet  dan die hemelse vrede wat die verstand te bowe gaan en laat u doop.”

Daar woed ‘n stryd in die hart van hierdie heerser. Terug by die huis praat hy met Herodias.

“Meisiekind ek wil met jou praat. Dit wat ons doen, is nie reg nie. Die woestynprofeet het my vroeër vandag baie streng aangespreek.”

Herdias het hom baie gou omgepraat om nie die buite egtelike verhouding te verbreek nie. Maar dis nie al nie. Sy het ook vir Herodus omgepraat om Johannes die Doper te arresteer.

Matteus 14:3-5 Vroeër het Herodus vir Johannes laat vang, laat boei en in die tronk laat opsluit. Dit het hy gedoen oor Herodias die vrou van sy broer Filippus, want Johannes het vir Herodes gesê: U mag haar nie as vrou vat nie.” Herodus wou hom daaroor doodmaak maar was tog bang vir die mense, omdat hulle hom as ‘n profeet beskou het.

Johannes het vir oulaas sy olielampie in die grot opgesteek. Vir oulaas lees hy uit die boek van Jesaja. Hy blaas die vlammetjie dood. Voor hy gaan slaap kyk hy op na die skitterende sterre hier bo hom.

Min het hy besef dat dit sy laaste nag as vry man op aarde sou wees.

Die volgende oggend het Herodus se soldate die woestynprofeet kom arresteer.

Met sy hande agter sy rug, stap hy in vernedering van die verdwaasde skare mense weg wat na hom kom luister het.

Van die mense skreeu op die soldate: “Julle mag hom nie tronk toe vat nie. Laat hom onmiddellike vry.”

Volgende keer gaan ons hoor hoe die man wat aan die vars lug van die woestyn gewoond was, in die bedompige tronk van Mukawir geknak het.

Ons gaan hoor hoe mooi Jesus van mense praat wat iewers in hulle dopnker tronk van teleurstelling geknak het.

Mag die verhaal van Jesus en Johannes ons help en meer en meer in ons geestelike lewe te groei. Mag hierdie studie ons help om te sê:

Jesus moet meer word en ek minder.

Was this article helpful?

Related Articles