1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Johannes Die Doper
  4. Johannes Die Doper – Deel 14
  1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Johannes Die Doper – Deel 14

Johannes Die Doper – Deel 14

Skriftuur: Lukas 7:24-28

Hoe beskou jy iemand wat moedeloos geword het? Wat se soort geduld het jy met iemand wat aan depressie ly?

Twee neerslagtige dissipels van Johannes kom by Jesus aan. Hulle openbaar dieselfde twyfel as die woestyn- profeet. Terwyl hy in die tronk gesit het, het hy  geknak. En nou stuur hy twee van sy dissipels na Jesus om te hoor of hulle of hulle nie miskien ‘n ander Messias moet verwag nie.

Jesus het nie die dissipels van Johannes dadelike geantwoord nie. Nadat Hy die heeldag mense genees het, het Hy met hulle gepraat.

Lukas 7:22,23 Sy antwoord aan die boodskappers was: “Gaan vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het: blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig. En gelukkig is die man wat nie aan My begin twyfel nie.”

Wat sou jy gemaak het as jy in Jesus se plek was?

Johannes het onder die kragtige invloed van die Heilige Gees verkondig dat Jesus die Messias was. Baie mense het tot bekering gekom en talle is gedoop.

Nou wil dieselfde woestynprofeet weet of hy nie miskien ‘n fout gemaak het nie. Kan jy dit glo?

Jesus kon baie maklik vir die skare mense gesê het:

“Weet julle ouens. Hierdie man, Johannes die Doper, het net ‘n paar weke gelede selfs vir die afvaardiging van die Sanhedrin gesê dat ek die langverwagte Messias was.

“En nou kom hy en hy wil hy weet of Ek regtig die Messias is van wie hy gepreek het.”

Dis hoe ek sou optree. Ek sou vir mense gesê het hoe teleurgestel ek in die een is wat in my begin twyfel het.

Jesus kyk met ander oë na die swakhede van mense as wat ek en jy na hulle kyk. In Sy blik is daar goddelike begrip. Hy sien die intense worstelling in die mens se gemoed raak wat ek en jy nie raaksien nie. Hy bespeur ‘n  verswakte gewilligheid wat my oog nie kan raaksien nie.

Jesus kyk lank in die rigting van Johannes se dissipels wat na hulle moedelose meester terugstap.  In Sy hart wel daar ‘n ontsettende jammerte vir die eensame, mensverlate, moedelose woestynprofeet op.

Hy weet van die woestynprofeet se verlange om deur die Messias vrygelaat te word sodat hy weer kan gaan preek.

Jesus sien die vroeëre mooi voornemens van elke moedelose mens raak en Hy gee erkenning daaraan.

En nou was Jesus gereed om met die mense oor Johannes die Doper te praat.

Dit wat ons nou gaan hoor is een van die aangrypendste,  bemoedigendste gedeeltes in die hele Bybel. Dit is met onsettende troosvolle dinamika gelaai. Jesus se woorde is soos ‘n genesende, verblydende skag lig wat in die donker tronk van elke verslae mens se siel inskyn:

Lukas 7:24,25 Nadat die boodskappers van Johannes vertrek het, het Jesus met die mense oor Johannes begin praat en gesê: “Waarna het julle in die woestyn gaan kyk? Na ‘n riet wat deur die wind heen en weer gewaai word? Nee? Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? ‘n Man met deftige klere aan? Nee, kyk, die wat swierig klere dra en in weelde lewe, kry ‘n mens in koninklike paleise.

Pleks om Johannes se insinking te betreur en daaroor te skinker, doen Jesus iets pragtigs. Hy verwys die mense na die geestelike hoogtepunte wat die woestynprofeet in die verlede behaal het.

Wat ‘n Liefdevolle, bedagsame Heiland.

Indien die duiwel en die ander aanklaers van die broeders jou op hierdie oomblik by Jesus oor jou ellende aankla, sal Hy presies dieselfde doen. Hy sal van jou goeie hoedanigheide begin praat.

Is daar ‘n les wat ek en jy uit die voorbeeld van Jesus kan leer?

Baie van die mense met wie Jesus op daardie oomblik gepraat het, het saam met die priesters en Fariseërs na Johannes by Betabara gaan luister.

Jesus vergelyk die geestelikes van Sy dag met die riete van die Jordaanrivier wat in verskillende rigtings deur die wind rondgewaai word.

Wanneer die volk gesê het dat Herodus die Viervors ‘n fantastiese heerser was, het priesters en die Fariseërs dieselfde gesê.

Wanneer die volk oor Pontius Pilatus gekla het, het die priesters en die Fariseërs dieselfde gedoen.

Hierdie selfde geestelike was bang om Johannes openlik te weerstaan en aan te val want die volk was agter hom. Nogtans was hulle te trots om hulle self te verneder en deur hom gedoop te word.

Die mense wat na Jesus geluister het, was getuies van die   toegewyde werk wat Johannes gedoen het.

Die wind van populêre menslike opinies het te flou gewaai om Johannes se oortuigings soos ‘n Jordaanriet te laat buig.

Hy het die sonde van elkeen in sy gehoor vreesloos aangespreek. Die eie-geregtige fariseers, die priester-like Saduseërs, koning Herodus en sy hofamptenare, prinse en soldate is almal onder die selfde kam geskeer.

Weet u wat sê Jesus van Johannes, die voormalige kollos wat op hierdie stadium ‘n moedelose sissie geword het? “HY IS ‘N MAN.”

Jesus verkies om nie na Johannes se oomblik van swakheid  te kyk nie. Hy kyk na Johannes se vreeslose bediening langs die Jordaanrivier.

Ek het ontsettende goeie nuus vir u.

Jesus meet jou nie wanneer jy moedeloos, vertwyfelend in  jou Mukawir tronk sit nie. Hy ignoreer diefeit dat jy onder moeilike omstandighede gevou het nie. y sienJHHy

Hy onthou net die kere toe jy deur Sy genade geseëvier het. Jesus sien ons nie as verloorders nie, maar as oorwinnaars.

Wat ‘n bemoeding! Wat ‘n genadige Verlosser!

Dink jy ons kan na mekaar kyk soos wat Jesus na ons kyk? Kan ons verby mekaar se Mukawir ondervindings van swakheid kyk en mekaar se mooi Jordaanrivier oorwinnings raak sien?

Iemand het jou bitter teleurgstel. Dink jy dis moontlik om liewer van die soet as van die bitter oomblikke te praat?

DAWID SE OORWINNING

Dawid het baie swakhede gehad en die Bybel praat daarvan. Dit word nie verskoon nie.

Maar Dawid het ook baie goeie karaktertrekke gehad. Toe Saul sy aardsvyand op die berg Gilboa sterf, het Dawid hom nie daarin verlekker nie.

Hy het nie vir sy manne gesê dat dit die ou vloek se verdiende loon was nie. Nee.

Luister hoe besing hy die mooi karaktrekke van sy aardsvyand:

2 Samuel 1:19,20 “Jou trots, Israel – op jou hoogtes lê dit verslaan. Hoe het die helde geval! Moet dit nie in Gat vertel nie; moet dit ook nie bekend maak in Askelon se strate nie, anders sal die Filistynse meisies bly wees en die dogters van die heidene jubel. Gilboaberge! Offerland! Nog dou, nog reën vir julle!

Wat ‘n lofbetuiging uit die hart van ‘n groot man. Hy kyk verby die gedrag van ‘n neurotiese, paranoïese ou koning wat hom wou doodmaak.

Hy gaan haal die mooi dae uit Saul se verre verlede en hy praat van hom as ‘n held.

Is dit moontlik dat die Here vir jou en my ook kan help om die mooi uit mense se verlede te gaan haal en daarvan te praat?

Vers 23 Saul en Jonatan, geliefde en beminde mense – in lewe en sterwe nie geskei nie. Hulle was vinniger as arende, sterker as leeus.

Dawid praat nie van Saul se besoek aan die heks van Endor nie. Nee. Hy kyk terug na die dae toe hy ‘n beminde koning was.

Is dit moontlik dat ek en jy dit ook kan doen?

Vers 24 Israelitiese dogters, julle moet huil oor Saul! Hy het julle beklee met sierlike klere, goue sierade het hy daarop laat aanbring.

Pleks dat Dawid hom verbly oor die dood van iemand wat hom dag en nag agtervolg het, huil hy. En hy doen ‘n beroep op ander mense om ook saam met hom te huil.

G’n wonder dat Jesus die Seun van Dawid genoem word nie. Kom ons vra die Here vir dieselde soort gesindheid

Vers 25 Hoe het die helde geval? In die hitte van die stryd!

Dawid verwys nie na Saul as die lafaard wat nie die moed gehad het om Goliat aan te durf nie. Nee. Hy praat van hom as ‘n held.

Hy dink terug aan die heerlike oorwinning wat Saul oor die Ammoniete by Jabes Gilead behaal het.

Is dit moontlik dat ek en jy eerder oor die oorwinnings van mense wil dink en praat as wat ons oor hulle mislukkings wil dink en praat?

NOOIT ‘N SKEWE WOORD NIE

Net agter ons in Parys het twee dowerige ou mense gewoon. Wanneer hulle met mekaar baklei, kon hulle nie mooi hoor nie. Dan moes hulle die desibelle opstoot sodat hulle mooi kon hoor hoe sleg die een die ander een maak.

Die dag na die oom se dood het ons die tannie gaan besoek. Weet u wat sê sy vir ons? “Ek en die oom het vir al die jare wat ons getroud was nooit een skewe woord vir mekaar gesê nie.”

Ek het behoefte om na swak mense te kyk soos wat Jesus en Dawid en die ou tannie van Parys na hulle kyk. Wat van jou?

Miskien sal dit goed wees om sommer nou vir ‘n oomblikkie ons hoofde te buig en die Here te vra om ons meer soos Dawid en Jesus in hierdie opsig te maak.

Kom ons lees verder oor Jesus se beskrywing van Johannes:

Lukas 7:25 “Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? ‘n Man met deftige klere aan? Nee, kyk, die wat swierige klere dra en in weelde lewe, kry ‘n mens in koninklike paleise.”

Dis ‘n baie besondere teks. Die Here neem kennis van die  beskie klere wat ons aantrek en spreek selfs Sy waardering daaroor uit.

As jy jou daarop toelê om duur uitspattige modes te vermy, en jouself sinvol te klee, merk Jesus dit op en  komplimenteer jou.

HARODS

Dis vir my baie interessant om Harods in London te besoek. Jy sien hoe die swart Rolls Royce voor die deftige winkel stilhou wat ‘n hele blok in beslag neem.

Die shauffeur maak die agterdeur vir die man of die vrou oop en hulle stap die duurste winkel in die wêreld binne.

Dis nie snaaks om ‘n manspak van oor die R10,000 en ‘n wit hemp van oor ‘n R1000 te sien nie.

By die dames afdeling. Die bestuur van Harods weet dat ‘n vrou enigiets sal betaal om haar mooier, deftiger en ydelere te laat lyk.

En toe vang die ydelheid my ook. Vir minder as een Engelse pond het ek iets baie kleins gekoop. Die hoflike Engelse dame het dit vir my in ‘n groot deftige Harod plastiese sak gesit.

Saam met die ander miljoenêrs het ek uit Harods met my sak na buite gestap. Die ander het in die swart Rolls Royces weggerei en ek is na die moltrein.

KAMEELHAAR EN ‘N LEERGORDEL

Jesus vestig Sy luisteraars se aandag op die kontras tussen Johannes se kleredrag en die van die leiers van die volk.

Waarom het Johannes kameelhaarklere en ‘n leergordel gedra?

Johannes is geroep om die sondes en buitenspoorigheid van sy tyd te bestraf, en sy eenvoudige klere en selfverloëning het by die aard van sy sending gepas.

Watter les kan ek uit Jesus se verwysing na Johannes se kleredrag leer?

Terwyl ek met my Harrods plastieke sak en valse trots tussen die ander mense met hulle Woolleys sakke gesit het, het ek gedink:

Al dra ‘n aap ‘n goue ring, tog bly hy maar ‘n snaakse ding.

Ek het nie ‘n indruk met my Harods pakkie op die moltrein gemaak nie. Kom ons vertoon ‘n Woolleys pakkie op die moltrein wat op pad na die Heathrow lughawe is.

Ons is almal op pad na die wederkoms van Jesus. Kom ons lyk soos mense wat vir die wederkoms gereedmaak.

Die boek “Die Koning van die Eeue” bld 184 het hierdie interessante opmerking oor die rede waarom die volksleiers destyds so deftig aangetrek het:

“Hierdie ampsdraers het duur klere en kosbare ornamente gedra. Hulle was lief vir vertoon en het gehoop om die volk tot groter agting te beïndruk. Hulle was meer gesteld op die bewondering van die mens as om die reinheid van hart te bereik wat die goedkeuring van God sou wegdra.

Dis ‘n baie interessante opmerking. Wat is my grootste prioriteit? Die bewondering van mense of reinheid van hart wat die goedkeuring van God wegdra?

En dan eindig die setaat met die volgende beskrywing van hierdie weeldebehepte mense se motiewe:

“Daardeur het hulle verraai dat hulle trou nie aan God behoort het nie, maar aan die koninkryk van hierdie wêreld.”

Waar koop ek my klere? By Harods van London, die duurste winkel in die wêreld of op Woolleys? En ek verwys veral na Woolleys se uitverkopings?

MEER AS ‘N PROFEET

Ek wens ek was teenwoordig toe Jesus oor die goeie hoedanighede van Johannes die Doper gepraat het.

Lukas 7:26 “Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? ‘n Profeet? Ja, ek verseker julle, nog meer as ‘n profeet.”

Op wie nog in hierdie eindtyd kan hierdie woorde: “Meer as ‘n profeet” toegepas word?

Waarom noem Jesus Johannes die Doper “meer as ‘n profeet”? Kom lees die rede:

Lukas 7:27 Dit is hy van wie daar geskrywe staan: ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit; hy sal die pad vir jou regmaak.’

Die grootheid en die belangrikheid van Johannes se boodskap lê in ‘n profetiese verband. Sewe eeue voor dat die woestynprofeet op die toneel verskyn het, het die profeet Jesaja die presiese boodskap voorspel wat hy sou preek.

Johannes die Doper se grootheid het nie in homself gelê nie maar in die boodskap wat hy verkondig het.

Ons grootheid lê nie in onsself nie, maar in die kragtige, dinamiese eindtyd boodskap wat ons verkondig.

Jesus sê vir die verkondigers van die drie engele boodskap dieselfde woorde:

“Ek verseker julle, (julle, die eindtyd boodskappers) is nog meer as ‘n profeet.”

Soos wat Johannes die nabyheid van Jesus se eerste koms  verkondig het, so verkondig die Sewendedag-Adventiste Kerk die tweede koms van Jesus na hierdie aarde.

Lukas 7:28 “Ek sê vir julle: Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter as Johannes is nie.”

Hoe meet die hemel grootheid? Terwyl ons na na die  volgende definisie van ware grootheid luister, moet ons onsself afvra of ons kwalifiseer:

“Liefde en reinheid is die eienskappe wat by Hom die meestel tel. Johannes was groot in die oë van God toe hy voor die booskappers van die Sanhedrin, voor die volk en voor sy eie dissipels geweier het om sy eie eer te soek maar die aandag op Jesus as die Beloofde gevestig het. Sy onselfsugtige vreugde in die bediening van Christus getuig van die hoogste adel wat nog in die mens geopenbaar is.” Die Koning van die Eeue, bld. 184

Het ek en jy liefde in ons harte vir mense? Koester ons rein gedagtes?  DIS WARE GROOTHEID.

Weier ons om aandag op onsself te trek? Trag ons om mense se aandag op Jesus te vestig? DIS WARE GROOTHEID.

Mag ek en jy met groter toewyding streef om Jesus, die komende Koning in al sy heerlikheid in ons daaglikse lewe te verkondig. DIS WARE GROOTHEID.

Was this article helpful?

Related Articles