1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Johannes Die Doper
  4. Johannes Die Doper – Deel 15
  1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Johannes Die Doper – Deel 15

Johannes Die Doper – Deel 15

Skriftuurlesing: Matteus 14:6-12

‘n Week nadat Johannes sy dissipels met ‘n vraag na Jesus oor Sy Messiaskap gestuur het, het hulle teruggerappor-teer.

Lukas 7:22 Sy antwoord aan die boodskappers was: “Gaan vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het: blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig.”

“Julle het my reeds van al die wonderwerke vertel wat Jesus gedoen het. Maar was daar nie nog ‘n boodskappie wat Hy vir my gestuur het nie?” Die manne is doodstil.

“Julle kan maar met my praat. Dit maak nie saak wat Jesus gesê het, ek wil dit graag hoor.”

Lukas 7:23 “En gelukkig is die man wat nie aan My begin twyfel nie.”

Eendag in die hemel wil ek lank met die eensame woestynprofeet gaan praat. Soos Petrus ‘n rukkie later het Hy ook Sy Meester skandelik verloën. Hoe kon hy so ‘n laakbare iets doen.

Die Heilige Gees het die doel van Jesus se koms na die aarde vir Johannes verduidelik. Nou besef hy dat Jesus  nie gekom het om die Romeinse juk te verbreek nie.

Jesus het gekom om ‘n ander juk, die juk van sonde in die lewens van mense te breek.

Jesus het nie noodwendig gekom om die mense se waaroms te beantwoord nie. Hy het gekom om hulle gemoedsrus ten spyte van die waaroms te gee. Hy het nie gekom om die mensdom se lot noodwendig te verander nie maar om vrede met die onregverdige behandeling te maak.

Johannes het Jesus se skynbare onbetrokkenheid in sy tronkondervinding aanvaar. As Jesus hom wou kom verlos, sou hy baie dankbaar wees. Maar as Jesus wou hê dat hy sy lewe in die tronk moes sluit, sou hy dit  blymoedig doen.

Lukas 7:23 “En gelukkig is die man wat nie aan My begin twyfel nie.”

Miskien sit jy vanoggend in ‘n tronk van onregverdige behandeling.

Jy het die Here miskien al baie keer gevra om jou uit hierdie verskriklike omstandighede te verlos. Maar tot dusver het niks gebeur nie.

EENSAAMHEID

Haar man het haar verlaat en sy het in die tronk van verwerping en eensaamheid beland. Tydens my besoek aan haar het sy vir my gesê dat sy daarvan oortuig is dat die Here haar man sou terugbring.

Hierdie vrou het vir maande in haar Mukawirtronk gesit en gehoop dat die Here ‘n wonderwerk sou verrig.

Op ‘n dag moes sy hoor dat hy weer getroud is.

Tenspyte van die baie gebede dat die Here haar uit haar tronk van eensame verlange na haar gewese man moes bevry, het dit nooit gebeur nie.

Miskien is jy vanoggend in ‘n tronk van eensame verlange. Miskien glo jy vas soos hierdie vrou waarvan ek gepraat het, dat die Here jou gaan verlos.

Maar sê nou dit gebeur nie? Hoe gaan jy teenoor die Here reageer?

Luister na hierdie boodskap wat die Here vir jou stuur:

Lukas 7:23 “En gelukkig is die man wat nie aan My begin twyfel nie.”

As die Here my nie uit my spesifieke tronk verlos nie, het Hy ‘n goeie rede daarvoor. Dis belangrik om te bid: “Laat U wil geskied.”

Alhoewel die Here my nie noodwendig uit die tronk van my omstandighede verlos nie, is Hy meer as gewillig om my uit die tronk van opstand teen my omstandighede te verlos.

SIEKTE

Hoe dikwels het ek en jy nie al vir iemand by ‘n siekbed gestaan en bid nie. “Ag Here, genees tog my dierbare.”

Maar niks gebeur nie.

Die kettings van pyn en siekte het jou geliefde aan die hospitaalbed vasgeketting. Die medikasie is eenvoudig net te magteloos om die tronkdeur van die dodesel oop te breek.

Hierdie siek mens het geglo dat die Here hom sou gesondmaak. Hy het groot ooreenkomste met die Here aangegaan wanneer hy die dag van sy siekbed sou opstaan. Dit het nooit gebeur nie.

Net soos Johannes die Doper sou hy nooit uit daardie sel van terminale siekte bevry word nie.

Miskien sit jy op hierdie oomblik in die tronk van siekte. Jy bid dat die Here jou moet genees. Maar sê nou maar net dit gebeur nie? Hoe gaan dit jou verhouding met die Here beïnvloed?

Ons mors kosbare energie wanneer ons weier om die onaangename omstandighede van die lewe te aanvaar en  gedurig daarteen te baklei.

Pleks om die Here dag en nag te smeek dat Hy ons uit ons omstandigheidstronk moet verlos, bid eerder: “Here. Wat ek meer nodig het as beter omstandighede, is ‘n beter gesindheid onder moeilike omstandighede.

Een van die tekste wat die meeste uit verband geruk word, staan in Filipense 4:13:

Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.

Paulus kwalifiseer presies wat hierdie “alles” is waarvoor die Here ons krag gee. Weet u wat dit is?

Dis die moeilike omstandighede van die lewe. Dis die Mukawirtronk waarin ons so dikwels beland. Kom ons lees dit:

Filippense 4:11,12 “…Ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is. Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly.

En dan eindig Paulus hierdie gedeelte oor aanpassing onder moeilike omstandighede en hy sê:

Vers 13 Ek is tot alles in staat (met verwysing na die onaangename tronkondervindings van vernedering, honger, gebrek en verleentheid) deur Christus wat my krag gee.

Dis Francis van Assisi wat gebid: Here, help my om te aanvaar wat ek nie kan verander nie; help my om die dinge te verander wat ek kan. En help my om die verskil te sien.”

Hoe meer ek teen bitter omstandighede veg hoe bitterder word hulle. Eers wanneer ek bitter omstandighede aanvaar word hulle draagbaar en soet.

AANVAARDING

Ek het groot geskrik toe die vrou tydens ‘n beradingsessie vir my sê dat sy wens haar man moet doodgaan. (Sy het ‘n sterker woord gebruik.)

Dit mag wees dat jy ‘n soortgelyke wens koester. Ek het nuus vir jou. Jy sal moontlik vir die res van jou lewe in hierdie huwelikstronk moet deurbring.

‘n Tronk verander nie. Dis net die mens se gesindheid binne in die tronk wat kan verander.

Naby die koliseum in Rome kan ‘n mens die Mamertimumtronk besoek. Terwyl ek hierdie donker klam mistroostige plek besoek het, sou ek met Paulus kon identifiseer indien hy die plek vervloek het.

Maar Paulus druk sy pen in die ink van aanvaarding en hy skryf een van die mooiste briewe in die Nuwe Testament. Die woordjie “Verbly” kom tien keer in die kort briefie  aan die Filippense voor.

Luister na troos wat Johannes se tronkondervinding gebring het:

“…Ter wille van duisende wat in die komende jare die gevangenis en dood tegemoet sou gaan, moes Johannes die martelarsbeker drink. Terwyl die volgelinge van jesus in eensame selle moes wegkwyn, of omkom deur die swaard, die pynbank of brandstapel,…watter anker sou dit nie vir hulle harte wees om te dink dat Johannes die Doper, van wie se trou Christus self getuig het, deur soortgelyke waters gegaan het nie!” Die Koning van die Eeue, 189

Moenie in opstand deur die lewe gaan omdat jy in die een of ander tronk van onregverdig behandel beland het nie.

Loof die Here vir kettings wat jou bind, pleks om hulle te vervloek.

Kom ons luister weer ‘n keer na die sagte bestraffing wat Jesus vir Johannes en vir jou en my stuur:

Lukas 7:23 En gelukkig is die man wat nie aan My begin twyfel nie.”

Moenie aan Hom begin twyfel wanneer dit nie meer met jou goed gaan nie. Onthou. Hy is nog net so lief vir jou soos altyd.

Hy laat uitsluitlik omstandighede toe wat tot Sy en ons voordeel strek. En al is dit hoe onaangenaam, kom ons dank Hom daarvoor pleks om ons daaroor te verknies.

‘n Boom wat nie gesnoei word nie, dra nie goeie vrugte nie.

JOHANNES SE ONTHOOFDING

Die evangelie van Markus sê dat Herodus vir Johannes in die tronk gaan besoek het. Hy het gehoop om Johannes later vry te stel. Kom ons lees daaroor:

Markus 6:20 Hy het vir Johannes onder sy beskerming geneem en elke keer wanneer hy hom aangehoor het, het hy in ‘n ernstige tweestryd geraak. Tog het hy graag na hom geluister.

Hierdie optrede van Herodus was ‘n ontsettende bedryging  vir Herodias sy minares. Hoekom? As hy die Eliaboodskap van Johannes ter harte sou neem, sou dit die einde van haar verhouding met Herodus wees.

ISEBEL

Ons kry ‘n interessante parallel tussen Herodias van Rome  en Isebel van Tirus.

Die apokaliptiese boeke verwys na hulle as vyande van die oorblyfselkerk.

Beide Isebel en Herodias wou van die profeet van die Here ontslae raak. Die hoer van die boek Openbaring wil ook van die profeet van Here ontslae raak want sy is bang dat haar minnaars, die konings van die aarde, die Eliaboodskap sal aanneem.

Deur die eeue het die duiwel deur sy bose menslike agente gewerk om die stem van die ware profeet stil te maak. In hierdie laat uur van die wêreld se geskiedenis gaan hy dit weer doen.

Markus 6:19 Herodias het daarna ‘n wrok teen hom gekoester en wou hom laat doodmaak, maar sy kon nie.

Die Hoer van Openbaring 17 haat vir jou en my en wil ons  baie graag vernietig.

Mag die Here ons help om nie deur haar geïntimideer te word terwyl ons die eindtyd boodskap verkondig nie.

Markus 6:21,22 Op ‘n dag het Herodias ‘n goeie kans gekry. Toe Herodus op sy verjaarsdag vir sy hoogamptenare en die opperbevelhebbers en die hoëlui van Galilea ‘n feesmaal gegee het, het die dogter van Herodias daar ingekom en vir hulle gedans. Dit het groot byval by Herodus en sy gaste gevind. Die koning het toe vir die meisie gesê: “Vra my net wat jy wil hê, en ek sal dit vir jou gee.”

Op ‘n dag het Johannes vir die laaste keer in sy Makuwirtronksel wakker geword. Met volkome gemoedsrus het hy sy toewyding met die Here gehad.

Later die dag hoor hy hoe mense op hulle musiekinstru-mente begin oefen en slawe erdekruide van  kamele aflaai.

Toe die bewaarder Johannes se sel besoek, wou hy weet wat se bedryfwigheid aan die gang is.

“Johannes dis die koning se verjaarsdag. Herodias het die ‘Jericho Pops’ gekry om vanaand musiek te kom maak.

“Maar dis nie al nie. Sy het die Madaba Caterers gevra om ‘n baie deftige ete voor te sit. Volgens die drank wat hier aangekom het, gaan dit ‘n groot partytjie wees. Miskien word jy nog vanaand uit die tronk gehaal.”

Johannes vat die bord kos by die bewaarder, bedank hom soos gewoonlik en toe praat hy met hom:

“Simon. Dit sal ‘n blye dag wees as ek uit hierdie sel verlos word. Maar as hulle my onthoof, sal ek dit as die leiding van die Here aanvaar.”

SALOME

Die musiek en die gelag van die dronk gaste kon daardie aand lank en ver gehoor word.

Dronk Herodus wou sy gaste met sy stiefdogter Salome se dansery beïndruk. Met ‘n sleeptong sê hy:

Markus 6:23 “Net wat jy my vra, sal ek vir jou gee, tot selfs die helfte van my koninkryk.”

Dis net wat die vrou van Rome, die vrou van Babilon wou hê. Sy het alles baie fyn beplan. Luister na die volgende gebeurtenis in hierdie wrede drama:

Verse 24,25 Sy het toe uitgegaan en vir haar ma gesê: “Wat moet ek vra?” die het gesê: “Die kop van Johannes die doper.” Sy het haastig reguit na die koning toe geloop en vir hom gevra: “Ek wil hê u moet vir my dadelik in ‘n skottel die kop gee van Johannes die Doper.”

EMOSIES

Ek staan met groot emosies in die Omayadmoskee in Damaskus. Voor my is daar ‘n praalgraf. Volgens oorlewering is dit waar die kop van Johannes die Doper bewaar word.

In my geestesoog sien ek hoe Simon die bewaarder in die vroeë ure van die oggend Johannes se seldeur oopsluit.

“Word ek einde ten laaste vrygelaat?” vra hy opgewonde.

Simon vertel keelskoonmakend vir die woestynprofeet dat hy hom moet onthoof. Daar is ‘n doodse stilte.

Johannes kyk vir die laaste maal na die sterre wat teen die swart agtergrond van die nag vir hom totsien skitter.

Oomblikke later word die woestynprofeet na die donker tronksel van die dood oorgeplaas.

In Sultanamet in Istanbul, staan ek in die Topkapimuseum na ‘n verdroogde hand en kyk. Die opskrif sê dis die van Johannes die Doper.

In my geestesoog sien ek hoe daardie hand mense tot bekering geroep het, mense gedoop het, mense op die skouer geklop het.

Ek sien hoe daardie aktiewe hand leweloos en slap hang na die onthoofding.

Ek dink aan ‘n setaat in die Koning van die Eeue bl. 189:

God lei Sy kinders nooit anders as wat hulle sou verkies het om gelei te word as hulle maar van die begin af die einde kon sien en die heerlike doel kon verstaan wat hulle as Sy medewerkers vervul nie.

Ek staan tussen die ruïnes by Mukawir waar Johannes die Doper in skande onthoof is. Ek dink aan die pyn van een van die eensaamste profete wat nog ooit geleef het omdat hy Christus gepreek het. Die teks in Filippense 1:29 kom by my op.

God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly.

Wanneer ek onregverdig ly omdat ek ‘n reguit pad geloop het, moet ek dit as ‘n voorreg beskou. As jy vanoggend onregverdiglik in ‘n tronk van onaangenaamheid sit, is jy besig om ‘n baie groot geskenk van die hemel te ontvang:

Van al die gawes wat die hemel aan die mens kan gee, is deelname in die lyding van Christus die grootste pand en die hoogste eer. Die Koning van die Eeue, bl. 188

Dit sal goed wees om te sien hoe Johannes se onthoofding Jesus geraaak het.

Matteus 14:11-13 Hulle het sy kop in ‘n skottel ingebring en aan die meisie gegee, wat dit na haar ma toe gevat het. Sy dissipels het sy liggaam kom haal en begrawe; en hulle het dit vir Jesus gaan vertel. Toe Jesus dit hoor, het Hy met ‘n skuit daarvandaan weggegaan na ‘n stil plek om alleen te wees.

‘n Ontsettende hartseer pak vir Jesus toe die verslae hartseer dissipels van Johannes by Hom aankom.

“Jesus. Herodus het ons meester laat onthoof.”

Iewers op ‘n stil plek het Jesus die dood van die grootste en eensaamste van alle profete gaan beween. Iewers op ‘n stil plek in die hemel beween Jesus nog vandag nog die Eliaboodskappers se onregverdige pyn en dood. Wat ‘n  simpatieke Heiland! Kom ons vertrou Hom blymoedig met die omstandighede waarin ons is.

Was this article helpful?

Related Articles