1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Johannes Die Doper
  4. Johannes Die Doper – Deel 2
  1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Johannes Die Doper – Deel 2

Johannes Die Doper – Deel 2

Lukas 1:14-17

In die vorige preek het ons die betekenis van die name van Sagaria, Elisabet en Johannes ontdek.  Kan u dit nog onthou?

1. Sagaria = Die Here onthou. Elisabet = God is oorvloedig. Johannes = Die Here is genadig.

2. Terwyl Sagaria besig was om wierook in die tempel te brand, het die engel Gabriël skielik aan hom verskyn.  Hy het verskriklik groot geskrik.

Miskien het dit ook al met jou gebeur.  As jy weer sien, staan hier iemand onverwags hier voor jou. En dan skrik jy. Dit kan jou man of vrou of wie ook al wees. 

Luister hoe kalmerend taktvol die engel Gabriël die bevreesde Sagaria hanteer het:

3. Lukas 1:13 Moenie bang wees, Sagaria.

4. Dieselfde boodskap kom vanoggend weer na ons toe.  Die magtige engel Gabriël wat die plek van Lucifer ingeneem het, sê vir jou en my om nie bang te wees nie.

Gabriël is vertroud met die almag van die Here en Sy kosmiese kontrole kamer.  Hy weet waarvan hy praat.  Moenie bang wees nie.

Jy is miskien bang oor jou finansies.  Daar is miskien mens wat jou vervolg.  Jy is bang oor jou toekoms of jou gesondheid.

Gabriël, die engel met die hoogste gesag, die engel wat  seker die meeste van God weet, sê vanoggend vir jou en my:

5. Moenie bang wees nie.

6. Die verskrikte Sagaria raak kalm en hy hoor die goeie nuus dat sy gebed vir ‘n seuntjie verhoor is en dat die kind se naam Johannes moet wees.

Sagaria deins effens terug terwyl die glansende engel Gabriël meer aangaande die kindjie vertel. 

Kom ons luister versigtig na die volgende poeties-profetiese beskrywing van die grootste profeet wat nog ooit geleef het:

7. Lukas 1:14-17 “Hy sal ‘n bron van blydskap en vreugde vir jou wees, en baie sal bly wees oor sy geboorte, want hy sal groot wees in die oë van die Here.  Wyn en bier sal hy glad nie drink nie, en reeds van sy geboorte af sal hy met die Heilige Gees vervul wees.  Hy sal baie uit die volk Israel laat terugkeer tot die Here hulle God.  En hy sal voof die Here uit gaan in dieselfde gees en krag as Elia, om vaders en kinders met mekaar te versoen, om ongehoorsames op die regte pad terug te bring en om so vir die koms van die Here ‘n volk voor te berei.”

SES KARAKTERTREKKE

Ons het hier met ‘n merkwaardige profesie te make.  Die engel Gabriël gee vir Sagaria ‘n beskrywing van watter soort karaktereienskappe sy seun eendag gaan hê.

En terwyl ek hieroor nagedink het, het ek gewonder of dit nie ook die karaktereienskappe is wat die Here van elke ongebore kind verwag nie?

8. Net soos Johannes die Doper die eerste koms van die Here na die aarde verkondig het, so verkondig ons ook die spoedige koms van die Here na hierdie aarde. Derhalwe moet ons streef om dieselfde soort karakter te ontwikkel.

Kom ons kyk na die voorspelling van die heel eerste karaktertrek van Johannes die Doper wat Gabriël noem:

  • BRON VAN BLYDSKAP EN VREUGDE

Verse 14 tot 18 is in tipiese Hebreeuse poësie geskryf waarin dieselfde gedagtes herhaal word.

Kyk of jy dit in hierdie teks kan raaksien:

9. Vers 14 “Hy sal ‘n bron van blydskap en vreugde vir jou wees, en baie sal bly wees oor sy geboorte.”

Die persoonlike blydskap wat Sagaria en Elisabet gaan ervaar, sal baie ander ook ervaar.

Van watter soort blydskap praat Lukas in sy evangelie?

Ons kry die antwoord in hoofstuk 15 waar hy drie keer van blydskap praat:

10. Lukas 15:7 Ek sê vir julle.  Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie.

11. Dis die verhaal van die een verlore skaap wat weggedwaal het.  Aan die ooste kant van die Jordaanrivier kry mens diep wadis, klowe.

Hierdie skaap het verdwaal en in een van die hierdie wadis beland.  Gelukkig het die herder die flou sterwende geblêr gehoor en die skaap uit die diep afgrond gaan uitred.

Die skaap word nie kraal toe gesleep nie, maar gedra.  Die herder hou hom styf teen sy hart.  Hy is vol vreugde want die skaap was weg en nou is hy gevind.

12. Wanneer die sondaar wegdwaal en verlore raak, en nie weet hoe om na die kraal toe terug te kom nie, begin Jesus die Goeie Herder hom te soek.  En wanneer Hy jou sterwende blêrgeluid om hulp hoor, kom tel Hy jou op.

Dit is die vreugde waarvan Lukas in sy evangelie praat. 

13. Johannes die Doper sou die verlore volk van Israel van die Goeie Herder vertel wat na hulle op soek is.  En elkeen van hulle wat sou toelaat dat die Herder hulle vind, sal ‘n ongekende vreugde ondervind.

Terloops.  Dis ook die boodskap wat ons moet verkondig.

Die tweede teks oor vreugde is net so pragtig:

14. Lukas 15:10 “Net so is daar blydskap onder die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.”

Die munstuk het nie geweet dat hy verlore is nie.  Met ‘n lamp en ‘n besem het die eienares hom gesoek en teruggekry. 

15. Baie sondaars lê diep onder die donker stof van onverskilligheid begrawe. Met die lig van die evangelie soek die Here na ons. Met die besem van Sy groot omgee vee en vee Hy totdat Hy by my uitkom.

Daar is ongekende blydskap in die hart nie net van die Here nie, maar ook van die engele wanneer ons gevind word.

16. Baie mense wat na Johannes die Doper kom luister het, het nie besef dat hulle verlore was nie.

Toe hy hulle verlore toestand vir hulle uitwys, en hulle hulle bekeer, was daar ongekende blydskap.

Terloops. Dis ook die boodskap wat ons moet verkondig.

Die derde teks wat Lukas in verband met vreugde gebruik, vind ons in die verhaal van die verlore seun wat huistoe gekom het.

17. Lukas 15:32 “Maar ons kan tog nie anders as om fees te vier en bly te wees nie, want hierdie broer van jou was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ons het hom teruggekry.”

Die Here se vreugde lê in sondaars wat hulle bekeer.

Die verlore seun en die meisie met wie hy saamgebly het, het op ‘n vinnige kameel na Johannes die Doper kom luister.  Hy het vir hulle gesê hulle doen verkeerd.  Die Gees van die Here het met hulle gepraat. Hy het uitgetrek en toe ‘n maand of wat later met haar getrou.

18. Daar was vreugde in Johannes die Doper se hart.  Daar was vreugde in die twee jongmense se harte.  Daar was vreugde in hulle ouers se harte.  Daar was vreugde in die hart van God die Vader.

Terloops.  As ons sonde bestraf en mense tot bekering kom, is daar groot blydskap in die hemel en op aarde.

19. Lukas 1:14 “Hy sal ‘n bron van blydskap en vreugde vir jou wees, en baie sal bly wees oor sy geboorte.”

Baie sondaars wat deur Johannes die Doper in die Jordaan gedoop is, het met groot blydskap daar weggestap. “Dankie Here,” sê hulle, “dat daar so ‘n mens gebore is.”

Die grootste vreugde wat ek en jy vir mense kan bring, is die vreugde wat volg wanneer ons dinge met die Here en met hulle medemens regmaak.

20. VRAAG Het jy daardie vreugde?  Is jou saak met die Here reg?  Het jy met mense gaan regmaak waar jy fouteer het?

Gaan doen dit en vertel dan met deernis vir ander sondaars van die groot vreugde wat jy nou ervaar.

  • HY SAL GROOT WEES IN DIE Oë VAN DIE HERE

21. Die tweede profetiese karaktertrek van Johannes die Doper is die feit dat hy groot sal wees in die oë van die Here.

Toe Sagaria hierdie boodskap van die engel ontvang het, was Herodus die Grote op die kruin van sy mag, rykdom en grootheid.

Die tempel waarin Sagaria diens gedoen het, is deur hierdie groot man gebou.

22. Toe ek onlangs die Koteltonnel in Jerusalem besoek het, het ek na die nuutontdekte tempelmuur gekyk wat hierdie man gebou het. Een van die reuse rotsblokke weeg 570 ton.

23. By Seserea aan die kus het hy vir hom ‘n vesting gebou.  By Masada het Herodus die Grote vir hom twee pragtige paleise gebou. 

24. Aan die oorkant van die dooie see het hy ‘n vesting gebou en dit Mukawir genoem.

Hoewel Herodus die Grote in baie opsigte groot was, was hy in baie opsigte ‘n dwerg.  Hy het nie ander mens iets gegun nie. 

25. Hy alleen wou die mooiste, die rykste en die sterkste wees.  En toe Jesus gebore is, het hy sommer al die babaseuntjies om die lewe gebring. 

Hy wou nie ‘n ander koning naby hom toelaat nie.

Herodus die Grote was groot in die oë van die mens wat na rang, rykdom en mag gestreef het.

26. Johannes was groot in die oë van die Here omdat hy sy medemens met die evangelie bedien het.

27. Herodus die Grote het as tiran oor sy mense geheers; Johannes die Doper was groot omdat hy in die behoeftes van sondaars voorsien het.

Wanneer ek na die ruïnes van Herodus die Grote se bouwerk kyk, dink ek aan hom en Johannes die Doper.  Herodus het vir homself geleef, Johannes het vir ander mense geleef.

NIMRUT

28. In Mesopotamië kom jy op ‘n paar reuse konstruksies af.  In die noorde naby Mosul, antieke Nineve het ek die oorblyfsels van die Bybelse stad Kalag besoek.

29. Die Assiries-Babiloniese naam van die plek is Nimrut.  Hy was ‘n groot naam in die antieke geskiedenis en ‘n magtige bouer en jagter.

30. Die Ziggoerat by Nimrud wat Nimrot soveel duisende jare gelede gebou het, staan nog.

Naby Babilon is daar nog ‘n ziggoerat met die naam van Birs Nimrut.  Toeriste en studente word aangegryp deur die grootheid van hierdie Nimrod wat in die antieke geboue voortleef.

31. Die naam Nimrot kom van die stam “marad” wat “rebeleer” beteken. Die naam Johannes beteken “Die Here is genadig.”

Johannes was groot in die oë van die Here omdat hy nie toegelaat het dat sy rebelse gevalle natuur oor hom heers nie.

32. Die hemel meet grootheid nie in terme van rykdom, rang, edel herkoms of intellek nie.  Die Here ag sedelike waardes baie hoog. Die eienskappe van liefde en reinheid het Johannes die Doper ware grootheid gegee.

Moenie probeer om groot te wees nie; probeer om goed te wees.  Moenie komplimente soek nie, gee dit.  Moenie jouself prys nie, prys ander.  Dit is baie makliker en bring baie groot bevrediging.

  • GEHEEL ONTHOUER

33. Lukas 1:15 “Wyn en bier sal hy glad nie drink nie.”

Johannes die Doper sou ‘n geheelonthouer wees.  Sy maag en gevalle aptyt sou nie vir hom voorskryf wat hy moet eet of drink nie.  Onder die beheer van die Heilige Gees sou sy rede vir sy aptyt voorskryf.

Ons lees in die Bybel van die Nasireërs.  Dit was mense wat getrag het om baie toegewyd te leef.  Om aan die veilige kant te wees, het hulle geen druiwe of druiweverwante produkte gebruik nie.

Die naam Nasireër kom van die woord “Nazur” wat “afgesonder” of “toegewy” beteken.

Johannes moes aan die mense van sy dag verkondig dat die lang verwagte Messias op pad was en dat hulle gereed moes maak om Hom te ontmoet.  

Johannes se baie belangrike taak het vir verstandelike krag en geestelike insig gevra.  Hy moes vir die mense van sy dag ‘n voorbeeld wees.

Ek en jy het die grootste taak van alle take ooit.  Ons moet die wêreld vertel dat Jesus binnekort in al Sy glorie gaan kom.  Soos Johannes moet ons toegewyde, afgesondere, geheel onthouers wees.

Mense wat na Johannes die Doper gekyk en geluister het, het agtergekom dat hy soos die profeet Elia geëet, aangetrek en opgetree het.

  • GEESVERVULD

Die vierde kenmerk van die komende profeet is baie belangrik.  Hy sou Geesvervuld gewees het.

Lukas 1:15 “En reeds van sy geboorte af sal hy met die Heilige Gees vervul wees.”

Lukas 1:41 sê dat Elizabet met die Heilige Gees vervul was.  Vers 67 sê dat Sagaria ook met die Heilige Gees vervul was.

Hulle toegewydheid is op die ongebore Johannes oorgedra.  Verwagtende moeders moet toegewyd en Geesvervuld wees want dit beïnvloed die ongebore baba.

In hierdie laat uur net voordat Armageddon in al sy woede  gaan uitbars, het ons die invulling van die Heilige Gees ontsettend nodig.

In die verkondiging van die laaste boodskap, het ons nodig om meer en meer vir die uitstorting van die Heilige Gees te bid sodat die karakter van Jesus meer en meer in ons lewens weerkaats word.

(5) BAIE UIT DIE VOLK ISRAEL LAAT TERUGKEER TOT GOD

Die tydsgleuf waarin Johannes gebore en grootgeword het, was ‘n goddelose tyd.  Dit was ‘n baie donker tyd in die geskiedenis van hierdie wêreld en die mensdom was baie  baie ver van die Here.  Johannes het die groot taak gehad om mense na die Here terug te lei.

Lukas 1:16 “Hy sal baie uit die volk Israel laat terugkeer tot die Here hulle God.”

Net soos Elia, sou Johannes die Doper ook baie mense na die Here toe teruglei.  Hierdie profesie is op ‘n wonderbaarlike wyse vervul.

Die eindtyd Elias en Johannesse sal dieselfde doen.  Hulle sal mense terug roep na gehoorsaamheid aan die wil van God.

Luister na hierdie merkwaardige vervulling van profesie:

Markus 1:5 Die hele landstreek van Judea en al die inwoners van Jerusalem het na hom toe gestroom.  Hulle het hulle sondes bely en is deur hom in die Jordaanrivier gedoop.

Wat ‘n toneel!  Kan u die prentjie sien?  Wat ‘n godsman!  Mag hierdie toneel binnekort herhaal word.

(6) VOORLOPER VAN DIE MESSIAS

Die laaste profetiese kenmerk wat Gabriël van Johannes gegee het, is aangrypend. 

Lukas 1:17 En hy sal voor die Here uit gaan in dieselfde gees en krag as Elia, om vaders en kinders met mekaar te versoen, om ongehoorsames op die regte pad terug te bring en om so vir die koms van die Here ‘n volk voor te berei.

Die ou vertaling praat van die ongehoorsames wat tot die gesindheid van die regverdiges gebring moet word.

In die volgende paar boodskappe gaan ons na die werk en lewe van die grootste profeet van alle tye kyk.

Ons gaan na die interessante verband tussen sy bediening  die bediening van Elia en ons bediening kyk.

Mag dit wees dat ek en jy met selfde vuur van toewyding as hierdie godsmanne sal brand.

Mag dit wees dat ons in die krag van die God van Elia en Johannes oorwinnend sal leef en vir die spoedige wederkoms van Jesus sal voorberei.

Mag ons intieme omgang met die Woord en die bepeinsing van die lewe van Jesus ons met nuwe toewyding besiel en ons met groter ywer vir Sy saak sal laat werk.

Was this article helpful?

Related Articles