1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Johannes Die Doper
  4. Johannes Die Doper – Deel 3
  1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Johannes Die Doper – Deel 3

Johannes Die Doper – Deel 3

Skriftuur: Lukas 1:17

Dis baie besiellend om oor die grootste profeet van alle tye te studeer.  Dit bring jou in kontak met God se verlossingsgedagtes vir die mens.

In die vorige preek het ons na die profesie gekyk wat die ses karaktertrekke van Johannes die Doper geskets het.

Ek wil net vir ‘n oomblikkie weer by die sesde karaktertrek stilstaan:

Lukas 1:17 En hy sal voor die Here uit gaan in dieselfde gees en krag as Elia, om vaders en kinders met mekaar te versoen, om ongehoorsames op die regte pad terug te bring en om so vir die koms van die Here ‘n volk voor te berei.

Dis baie belankgrik om mooi te verstaan wat hierdie teks vir ons sê.  Weet u hoekom? 

Die boodskap  wat Johannes die Doper voor die eerste koms van Jesus verkondig het, sal ek en jy voor die tweede koms van Jesus na hierdie aarde moet verkondig.

Die lewe wat Johannes die Doper voor die eerste koms van Jesus na die aarde geleef het, sal ek en jy ook voor die wederkoms van Jesus na hierdie aarde moet leef.

Vers 17 Hy sal voor die Here uit gaan in dieselfde gees en krag as Elia.

Wat se gees en wat se krag het Elia besit?

Elia stap voor by die gewapende paleiswagte en sekuriteitsmense by die paleishek verby. Hy loop reguit na koning Agab wat met sy lyfwagte om hom op sy troon in sy ivoorpaleis sit en begin praat:

“Koning Agab julle aanbid die god Baäl want julle dink dat dit hy is wat vir julle reën gee. So seker as wat die Here leef, daar vir die volgende paar jaar geen reën of geen dou val nie.  Ek wil jou aanraai om met jou sondes te breek en na die Here terug te keer.”

MOEILIKHEID MET ‘N VROU

Asgevolg van hierdie liefdevolle maar onverskrokke boodskap het Elia moeilikheid met Agab se vrou opgetel.

Wat was haar naam?  Isebel.  Was sy ‘n goeie of ‘n slegte vrou?  Sleg.  En slegte vrouens gee moeilikheid.

Asgevolg van Johannes die Doper se liefdevolle maar onverskrokke boodskap aan koning Herodus Antipas het hy ook probleme met sy vrou opgetel.  Wie was sy?  Herodias.  Was sy ‘n slegte vrou of ‘n goeie vrou?  Sleg.

En slegte vrouens gee moeilikheid.

Asgevolg van die liefdevolle en onverskrokke boodskap wat die eindtyd Elias, die eindtyd Johannesse gaan verkondig gaan hulle ook probleme met ‘n vrou optel. 

Wie is sy? Openbaring 17 skets haar as ‘n prostituut wat op ‘n skarlakenrooi dier sit.  Sy is dronk van die bloed van die heiliges.  Sy en haar dogters strel die gevalle godsdienste van die laaste dae voor.

OPROEP TOT DIE SKARES

Vers 17  Hy sal voor die Here uitgaan in dieselfe gees en krag as Elia.

Elia het nie alleen die koning aangespreek nie, hy het ook die volk op die berg Karmel aangespreek.

1 Konings 18:21  Elia het voor die hele volk gaan staan en gesê:  “Hoe lank hou julle aan met hink op twee gedagtes?  As die Here God is, volg hom; maar as dit Baäl is, volg hom.”

Elia het in ‘n tyd geleef toe die wet van God geminag was.  Hy het in ‘n tyd geleef toe die ware godsdiens met die valse godsdiens van Baäl vermeng geraak het.

Elia het mense terug geroep om die Here in gehoorsaamheid te kom aanbid.

Johannes het in daardie selfde krag en gees van Elia gepreek.  Hy staan langs die Jordaanrivier.  Sy klere kom nie uit ‘n luukse manswinkel van Jerusalem nie.  Dis van kameelhaar gemaak en hy het ‘n leerband om sy heupe.

Markus 1:4,5 So het Johannes die Doper in die woestyn opgetree.  Hy het verkondig dat die mense hulle moet bekeer sodat God hulle sondes kan vergewe, en dat hulle hulle moet laat doop.  Die hele landstreek van Judea en al die inwoners van Jerusalem het na hom toe gestroom. Hulle het hulle sondes bely en is deur hom in die Jordaanrivier gedoop.

Waarvan moes die mense hulle bekeer?  Van hulle sondes.  Wat is die definisie van sonde?  Die oortreding van die wet van God.

Soos wat Elia mense na God en Sy gebod teruggeroep het, so het Johannes die Doper dit ook gedoen.

Wat van die eindtyd Elias?  Sal hulle ‘n soortgelyke boodskap verkondig?  Beslis.  Kom ons lees dit:

Openbaring 14:6,7 Toe het ek ‘n engel hoog in die lug sien vlieg.  Hy het ‘n goeie boodskap gehad wat vir ewig van krag bly. Hy moes dit aan die bewoners van die aarde, aan elke nasie, stam, taal en volk verkondig, en hy het met ‘n harde stem uitgeroep:  “Vrees God en gee aan Hom die eer, want die tyd het aangebreek vir sy oordeel.  Aanbid Hom wat die hemel en die aarde, die see en die waterbronne gemaak het.”

Die taal wat Johannes hier gebruik kom uit Eksodus 20:8-11 waar dit van die Sabbat praat.  Die eindtyd Elias gaan die wêreld roep om weer die pragtige instelling van die Sabbat te vier.

Is daar ‘n waarskuwingsboodskap indien die mens hierdie boodskap sou verwerp?  Ja.  In Sy groot liefde vertel die Here elke keer vir die sondaar wat die gevolge van  sy ongehoorsaamheid sal wees.

Ons moet weet wat die uiteinde van ons keuse sal wees.

Vers 8-10 ‘n Tweede engel het agter die eerste aan gevlieg en uitgeroep:  “Geval, geval het die grote Babilon wat al die nasies van die dwelmdrank aan haar onsedelikheid laat drink het. ‘n Derde engel het agter die eerste twee aan gevlieg en hard uitgeroep:  “Wie die dier en sy beeld aanbid en ‘n merk op sy voorkop of op sy hand aanvaar, sal van die wyn van God se toorn moet drink.  Dit word onverdun in die beker van sy oordeel ingeskink.”

‘n Bruid val wanneer sy die huwelikswet oortree.  ‘n Kerk val wanneer sy die gebooie van die Here oortree. 

Soos ‘n Elia se stem mense op hulle gevalle toestand attend gemaak het, so het Johannes die Doper dit ook gedoen.

En net so sal die eindtyd Elias dit ook doen.

Verwerping van die laaste boodskap beteken die ige dood.

JOHANNES SE ELIA BOODSKAP IS 7 EEUE VOOR DIE TYD VOORSPEL

Sewe eeue voordat Johannes die Doper gebore is, het die profeet Jesaja die aard van sy boodskap voorspel.  Kom ons luister daarna:

Jesaja 40:3-5 Iemand roep:  “Maak vir die Here ‘n pad in die woestyn, maak in die barre wêreld ‘n grootpad vir ons God!  Elke laagte moet opgevul word, elke berg en rant moet gelykgrond word.  Elke bult moet ‘n gelykte word,  en elke koppie ‘n vlakte.  Dan sal die mag van die Here geopenbaar word; al wat leef, sal dit sien.  Die Here self het dit gesê.”

Mense wat die profesieë van die ou Testament studeer het, het geweet dat Johannes se boodskap ‘n vervulling van Bybelprofesie was.

Mense wat tans die profesieë bestudeer, sal weet wanneer hulle die profetiese boodskap van die drie engele hoor dat dit van die Here afkom.

OM VADERS MET KINDERS TE VERSOEN

Vers 17 En hy sal voor die Here uit gaan in dieselfde gees en krag van Elia, om vaders en kinders met mekaar te versoen…

Is jy kwaad vir jou pa of jou ma?  Het hulle jou te na gekom?

Ek het vir baie jare met ‘n kwaad-seer gevoel teen my pa rondgeloop.  Om die waarheid te sê het ek net voor sy dood met hom daaroor gepraat.

Ek was 16 jaar oud en in standerd nege.  Vir die eerste keer het skool vir my begin lekker word.  Vir die eerste keer het ek begin huiswerk doen en vir die eerste keer het ek goeie punte begin kry.  Hy was te besig om dit te kon agterkom.

Die laaste Saterdagaand van die eerste kwartaal het ek saam met maats uitgegaan en laat teruggekom.  My pa het my ‘n verskriklike pak slae gegee.

En sonder dat hy enigiets met my bespreek het, het hy my aangesê om die Maandagoggend in die drukkery te begin werk.

In een naweek het hy al my toekomsdrome om vir ‘n predikant te gaan studeer, verwoes. 

Vir tien lange jare het ek met ‘n seer-kwaad gevoel teenoor my pa in die drukkersbedryf gebly.  Toe ek die dag besluit om te gaan kolporteur, het hy my afgeraai.  Hy het nie gevoel ek sou ‘n sukses maak nie.

Na ‘n suksesvolle loopbaan as kolporteur het ek besluit om kweekskool toe te gaan.  Weer het hy my afgeraai om met my standerd 8 so iets te gaan aanpak.

Terwyl ek die predikant van Helderberg Kollege was het my pa vir ons kom kuier.  Vir die eerste keer het hy in my wêreld inbeweeg en van my akademiese vriende ontmoet.

Dit was na hierdie besoek dat die tyd ryp was om met my pa oor die seer hier in my binneste te praat.  Dit was baie troumaties maar dit was nodig.

Na afloop van die gesprek het my hart na my pa se hart teruggekeer.  Na die gesprek het my pa se hart op ‘n nuwe wyse na sy seun teruggekeer.

Ons het vir mekaar omverskoning gevra.

Die Eliaboodskap en die Johannes die Doper boodskap, versoen ouers en kinders.

My suster het my laat weet dat Pa baie siek is.  Ek het  dadelik op die vliegtuig geklim en my sterwende pa kom ondersteun.

Gedurende sy laaste nag op aarde was dit net ek en hy.  Hy het my herken.  Sy stem was so swak dat ek nie kon hoor wat hy gesê het nie.

Deur die nag het ek vir hom van die liedere gesing wat hy vertaal het.  Vroeg daardie volgende oggend is hy dood.

DIE ELIABOODSKAP

Die Eliaboodskap, die Johannes die Doper boodskap en die eindtyd Eliaboodskap praat met elke ouer en elke kind wat ‘n kwessie ronddra. 

Kinders. Gaan maak dinge tussen jou en jou ouers reg.  Ouers. Gaan maak dinge tussen jou en jou kind reg.  Dis die moeilikste iets onder die son maar die beloning aan vrede is onmeetbaar.

METAFORIESE VADER

Maar die versoening tussen ouer en kind sluit meer as net die aardse familie in.

Dit dui ook op die geestelike voorvaders van die Ou Testament.  Wanneer ons na hulle geloof en gehoorsaam terugkeer, kom ons by ons Hemelse Vader uit.

Romeine 4:1-3 Wat moet ons nou sê was die geval met on stamvader Abraham?  As Abraham op grond van sy dade vrygespreek is, dan het hy ‘n rede gehad om te roem.  Maar nie by God nie!  Wat sê die Skrif?  “Abraham het in God geglo, en daarom het God hom vrygespreek.”

Toe Abraham met sy seun Isak teen berg Moria uitstap, het hy ‘n kykie in die hart van ‘n ander Vader gekry.  Ons Hemelse Vader.

Toe Abraham vir Isak sê dat hy hom gaan offer, en Isak instem, het Abraham ‘n kykie in die hart van ‘n ander Seun gekry.  Die hart van die Seun van God.

Op die berg Moria het Abraham en Isak die verlossingsdrama van ‘n ander berg beleef, Golgotasberg.

Abraham het geglo dat ‘n mens sonder enige verdienste God se guns besit.  Abraham het geglo dat God ‘n groot sondaar soos hy sonder menslike verdienste kan red.

Die begrip van God se reddende genade het van Abraham ‘n mooi mens gemaak, ‘n gasvrye mens, ‘n mens wat God met volle oorgawe en goeie werke gedien het.

Die Eliaboodskap, die Johannes die Doper boodskap en die eindtyd Eliaboodskap, roep mense om met ‘n wettiese godsdiens te breek en terug te keer na die godsdiens van goeie werke van hulle vader Abraham.

Lukas 1:17 En hy sal voor die Here uit gaan in dieselfde gees en krag as Elia, om vaders en kinders met mekaar te versoen, om ongegehoorsames op die regte pad terug te bring en om so vir die koms van die Here ‘n volk voor te berei.

VOORBEREIDING IN JOHANNES SE DAG VIR JESUS SE KOMS

Hoe moes Johannes die Doper mense vir die eerste koms van Jesus na die aarde voorberei?  En hoe beei ek voor?

Om dit te verstaan, moet ons kyk hoe die Here in die verlede met mense gewerk het.

Wanneer mens na die heilsgeskiedenis kyk, ontdek jy dat Hy voor elke groot gebeurtenis ‘n spesiale boodskap deur Sy spesiale boodskappers gestuur het.

NOAG

Vir ‘n 120 jaar het Noag die wêreld van sy dag gewaarsku dat daar ‘n vloed gaan kom.

Ek kan hom voor die ark sien staan en preek:

“Mense!  Die Here het vir my gewys dat ‘n vloed hierdie aarde gaan vernietig.  Breek met julle sondes. En die dag wanneer julle sien dat die diere na die ark toe aangestap kom, moet julle ook na die ark toe kom vir redding.”

Soos Elia en Johannes die Doper het Noag ook teenswoordige waarheid verkondig.

Selfs deur die name van die regverdige mense van Noag se dag het die Here die mensdom geroep om hulle sake met Hom reg te maak.

MATUSALEM

Die naam Matusalem beteken:  Die jaar wanneer ek sterf sal die vloed kom.

Die jaar van die vloed het hierdie godsman op 967 jarige leeftyd gesterf.  Miskien was daar mense wat vir ‘n oomblikkie gewonder het of hulle nie maar hulle lewe in order moes kry nie, maar toe verslap hulle weer.

Die jaar van die vloed het Noag sy laaste veldtog geloods.

Net sewe mense het die eindtyd boodskap aangeneem.  Een van hulle was sy vrou.  Miskien was Sem Gam en Jafet op ‘n stadium onverskillig.  Gelukkig was hulle pa en ma se gebede nie tevergeefs nie.

Dit was ‘n groot dag toe die drie seuns met hulle vrouens vir Noag van hulle mooi besluit vertel het.

Wat ‘n hartseer dag vir miljoene mense toe die ark veilig op die stormwaters gedryf het en hulle verdrink het.

Matteus 24:37-39 Soos dit in die dae van Noag was, sal dit ook wees by die koms van die Seun van die mens.  In daardie dae voor die sondvloed het hulle soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het.  Hulle het nie besef wat aan die gang was nie, totdat die sondvloed gekom en hulle almal weggesleur het.  Net so sal dit gaan by die koms van die Seun van die mens.

Noag het vir die komende verwoesting voorberei deur die mense van sy dag te waarsku.

Ek en jy berei vir die wederkoms van Jesus voor deur vir die mense van ons dag teenswoordige waarheid te verkondig.

REINIGENDE EFFEK VAN WEDERKOMS VERWAGTING

Langs my bed is daar ‘n portret van my kind wat onder in die Kaap woon.  Ek kyk dikwels daarna.  En dan praat ek met haar. Wat dink julle sê ek vir Laurettatjie? 

“Pappa verlang na jou.  Wanneer gaan jy vir my kom kuier?  Ek wil jou so graag styf vashou.”

My kind se foto wek in my ‘n verlange om by haar te wees.

1 Johannes 3:2,3 Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God.  Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees.  Ons sal Hom sien soos Hy werklik is.  Elkeen wat hierdie verwagting in verband met Hom koester, hou homself rein soos Jesus rein is.

Hang ‘n portret van Jesus in een van die kamers van jou hart. Hom meer jy na Hom kyk, hoe liewer sal jy Hom kry, en hoe meer sal jy met Hom wil praat.

Hoe meer jy na Jesus kyk, hoe meer gaan jy verlang dat Hy spoedig aarde toe moet kom.

Die verkondiging van Jesus se eerste koms, het ‘n reinigende effek op Johannes die Doper se gehad.

Die verkondiging van Jesus se wederkoms gaan ‘n reinigende effek op ons lewens hê.

Kom ons raak meer betrokke in die grootste verkondiging van alle eeue – die verkondiging dat Jesus binnekort gaan terugkom.

Was this article helpful?

Related Articles