1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Johannes Die Doper
  4. Johannes Die Doper – Deel 8
  1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Johannes Die Doper – Deel 8

Johannes Die Doper – Deel 8

Skriftuur: Matteus 3:1-3

Die profetiese horlosie van Jesaja het stadig maar seker sy lang en kort wysters na 12 uur aangeskyf. Die oomblik toe albei wysters op 12 kom staan, het een van die grootste profetiese klokke begin lui.

Die Vader was gereed om deur ‘n menslike spreekbuis die spoedige koms van Sy Seun, die Messias aan te kondig. Wie sou Hy vir hierdie baie belangrike werk gebruik? Sou dit  miskien Kajafas die hoëpriester wees?

Sou dit een van Esseners van Qumran wees wat vir Gods volk gaan vertel dat die Messias aanstonds Sy verskyning gaan maak?

Nee. Dis nie een van hulle nie.

Vir elke profetiese uur het God Sy gekose toegewyde mondstuk en vir elke taak het Hy Sy biddende menslike werktuie. God word nooit onvervoeds betrap nie.

JOHANNES DIE DOPER

Lank voor die geboorte van Johannes die Doper het God die Vader die harte van Sagaria en Elisabet vir die geboorte van hulle kind voorberei.

Nadat die wonderwerk gebeur het en die kindjie gebore is, het die ouers hom die beste godsdienstige opvoeding moontlik, gegee.

Na hulle dood het God vir Johannes na die woestyn geneem. Hier is hy geleer hoe om van Sy hemelse Vader afhanklik te wees.

Hier het hy in die lesboek van die natuur en die Ou Testmant aangaande die reddingswerk van die Messias geleer.ier  Hier

God soek in hierdie laat uur van die wêreld se geskiedenis,  net voor die wederkoms van Jesus na mense soos Johannes die Doper.

Mense wat die teleurstellings van die lewe sal transendeer. Mense wat soos Johannes in die woestyn van pyn gaan groei. Mense wat gaan vertel dat die koms van Jesus op hande is

PUBLIEKE DIENSTE BEGIN

Wanneer ek in die omgewing van Jerigo besoek, dan wonder ek altyd waar Johannes die Doper met sy eerste openbare lesing begin het.

Was dit naby die tolhuis waar die mense van Transjordanië oor die Jordaanrivier gekom het?

Was dit miskien by ‘n besige “souk” oosterse inkopiesentrum in Jerigo?

Op die pad tussen Jerusalem an Jerigo kan mens die ruïnes van ‘n antieke herberg besoek. Dis hier waar die rowers ‘n man aangeval en vir dood gelos het.

Was dit miskien hier waar Johannes die Doper begin preek het? Ek weet nie.

Johannes het presies geweet waar mense periodiek bymekaar kom. En toe die profetiese horlosie slaan, het hy sy verskyning gemaak.

Matteus 3:1 In daardie tyd het Johannes die Doper in die woestyn van Judea begin preek en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”

PASGA

Alhoewel ons nie presies weet waar hy in die Judese woestyn begin preek het nie, weet ons hoe oud Johannes was en wanneer hy sy kragtige boodskap begin verkondig het.

Dit was lente, hier by Aprilmaand rond van die jaar 27 n.C. Die laat reëns het die Judese woestyn in ‘n blommeparadys omskep.

Johannes het sopas 30 jaar oud geword.

Soos al die ander nagte van te vore, het hy iewers in sy grot ingestap, die Bybel gevat en die boek Jesaja begin lees.

Jesaja 40:1,2 Die uitkoms is hier! Die uitkoms is hier! Dit, sê julle God, moet julle vir my volk sê. Bring vir Jerusalem die goeie tyding, sê vir hom sy swaarkry is verby, hy het geboet vir sy sonde, hy het van die Here die volle straf ontvang vir al sy sondes.

“Here. U het my geroep om hierdie goeie tyding van die koms van die Messias aan die volk van Israel te verkondig. Sê my asseblief wanneer ek moet begin om hierdie boodskap te preek?“

Daardie selfde nag het Johannes die versekering gekry dat hy met sy openbare bediening moet begin.

VOORKOMS

Kom ons lees aangaande Johannes se voorkoms:

Matteus 3:4 Hierdie Johannes het klere van kameelhaar gedra met ‘n leerband om sy heupe, en hy het van sprinkane en veldheuning gelewe.

Die gedagtes van die mense wat na die kragtige prediker hier voor hulle kyk, gaan onwillekeurig na die profeet Elia uit.

Die woestynprediker is nie fyn uitgedos soos die Fariseërs en Skrifgeleerdes nie. Sy eenvoudige drag het ydele vertoon bestraf. Sy voorkoms het by sy boodskap gepas.

IEMAND ROEP

Kom ons luister hoe Markus die aanvang van Johannes die Doper se openbaring bediening beskryf:

Markus 1:1-3 In die boek van die profeet Jesaja staan daar geskrywe: “Kyk, ek stuur my boodskapper voor jou uit. Hy sal die pad vir jou regmaak. Iemand roep in die woestyn: Maak die pad vir die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit.”

EMOSIE

Wanneer mens na die Grieks van die boek Markus kyk, ontdek jy iets baie interessants. Geen ander Nuwe Testamentiese skrywer gee vir ons so ‘n ryke insig in die emosies van mense nie.

As jy Jesus se emosionele ervarings tydens Sy lydingsure wil ontdek, raadpleeg die Grieks van die boek Markus.

Markus 1:3 Iemand roep in die woestyn: Maak die pad vir die Here gereed.”

Daar is twee woorde vir “roep” in Griekse taal. Die een is “Kaleou”. Dit beteken om iemand vir ‘n spesifieke saak te roep.

Kom ek lees vir u een voorbeeld van die gebruik van hierdie spesifieke woord:

Matteus 20:8 Toe dit aand word, sê die eienaar van die wingerd vir sy voorman: “Roep (Kaleou) die arbeiders en betaal hulle hulle loon. Begin by die laastes en eindig by die eerstes.”

Die arbeiders word vir ‘n spesifieke doel geroep. Maar dan het die Griekse taal ook ‘n woord vir roep wat met patos, met emosie belaai is, en dis die woord “ba-a-ou”.

Kom ek lees vir u ‘n pragtige teks waar hierdie woord ‘n sekere emosie uitbring:

Galasiërs 4:27 Verbly jou, onvrugbare wat nie baar nie; breek uit en roep, (bo-a-ou) jy wat geen barensnood het nie, want die kinders van die eensame is meer as van haar wat ‘n man het.

Wat se geroep sou u sê is hierdie? Hoe klink die geroep van ‘n vrou wat jare lank vir ‘n ou kindjie gewag het en toe een kry?

Dis ‘n emosioneel-belaaide geroep wat van ongekende vreugde getuig.

JOHANNES DIE DOPER

Kom ons keer terug na Johannes die Doper. Iewers, hoog teen ‘n randjie, of op ‘n groot hoë rots staan hy vier en regop.

Ek glo dat hy mense persoonlik na sy heel eerste diens uitgenooi het. Nou wag hulle dat die man wat met sy kameelhaarklere en leerband om sy heupe moet begin preek.

En toe preek hy.

Markus 1:3 Iemand roep (bo-a-ou) in die woestyn.

Met ‘n stem vol goddelike emosies roep hy: “Liewe toehoorders. Sewe eeue gelede het die profeet Jesaja voorspel dat die Messias Sy swaar geteisterde volk gaan kom besoek.

“Ek het vir julle baie goeie nuus. Daardie aller-belangrikste dag het uiteindelik aangebreek. Die Messias gaan nou enige oomblik Sy verskyning maak.

“Besef julle hoe oneindig lief God die Vader julle het? Ek wens ek het die grammatika en die stemintonasie gehad om vir julle ‘n kykie op Sy onbegryplike groot hart van liefde te gee.”

Markus 1:3 Iemand roep in die woestyn.

Ek wil net weer ‘n keer vir u sê dat die stem van Johannes die Doper wat in die woestyn geroep het, ‘n stem vol goddelike emosie was.

Terwyl die volk na Johannes die Doper se pragtige   liefdevolle oproepe tot bekering geluister het, het hulle   ook die klanke van ‘n Ander Stem gehoor.

Hulle het die stem van God die Vader gehoor. ‘n Stem vol patos, ‘n Stem vol liefde, ‘n Stem wat pleitend geroep het: My seun, my dogter gee My jou hart.

GOD SE LIEFDE EN DIE MENS SE TOESTAND

Watter boodskap moet ons eerste hoor: Dat God ons liefhet of dat ons gevalle, slegte sondaars is?

Maak dit ‘n verskil wanneer iemand eers vir jou sê dat hy baie vir jou omgee en dan met jou oor ‘n swakheid praat.

Watter reaksie openbaar jy wanneer jou vyand jou oor ‘n iets kom uit trap?

Dit lok ‘n negatiewe reaksie by jou uit.

Die Here het ‘n baie unieke manier waarop Hy mense tot bekering lei. Kom ons hoor wat Paulus ons daarvan vertel:

Romeine 2:4 God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie?

Die mense het in groot getalle uitgekom om na Johannes te kom luister. Terwyl hy hulle va die spoedige koms van die Messias vertel, het die Heilige Gees met hulle harte gewerk. Hulle het besef dat hulle nie gereed was om die Messias te ontvang nie. Daar was fout in hulle lewens.

Lukas 3:10 Die mense vra hom toe: “Wat moet ons dan doen?”

VOORBEREIDING VIR DIE EERSTE EN TWEEDE KOMS

Kan ek en jy vanoggend dieselfde vraag vra? Wat is daar in ons lewens wat moet regkom voordat ons Jesus in vrede kan ontmoet?

Kom ons luister na Johannes se boodskap aan mense wat Jesus destyds verwag het. Kom ons kyk of dit ook op ons van toepassing is:

Lukas 4:11 Hy antwoord hulle: “Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat nie het nie, en wie kos het, moet dieselfde doen.”

Watter rol speel ander mense se behoeftes in my lewe? Is ek bereid om van my middele, ja maar meer nog, van my tyd en my liefde met mense te deel?

Voordat Johannes se toehoorders die Messias in vrede kon ontvang, moes hulle deur die genade van die Here die selfsug in hulle harte doodmaak.

Voordat ons Jesus binnekort in vrede kan ontmoet, sal ons die oorwinning oor ons onverskilligheid teenoor ander mense se behoeftes moet oorkom.

Lukas 3:12,13 Daar kom toe ook tollenaars om gedoop te word en hulle sê vir hom: “Meneer, wat moet ons doen?” En vir hulle sê hy: “Moenie meer invorder as wat vir julle vasgestel is nie.”

Ek is so bly die tollenaars het ook na die boodskap van Johannes die Doper kom luister. Omdat hierdie mense belasting vir die Romeinse Ryk ingesamel het, was as verraaiers deur hulle medemens beskou.

Daar was nie fout met die soort werk wat hulle gedoen het nie. Hulle moes net nie meer invorder as wat die belastingwet gestipuleer het nie.

Dit gaan hier oor eerlikheid. Voor die Messias kom moes die tollenaars hulle oneerlike praktyke versaak.

Voordat Jesus vir ‘n tweede keer na hierdie aarde toe kom, moet elkeen van Sy kinders enige oneerlike praktyk los.

Dit is weer ‘n saak van mense-verhoudings. Hoe behandel ek my medemens in besigheid?

Wanneer ek ‘n artiekel by iemand koop wat in die moeilikheid is, en ek betaal minder daarvoor as wat dit werd is, kom dit op diefstal neer.

Kom ons kry ons geestelike huis in orde. Jesus se koms is voor die deur en ons kan nie bekostig om verlore te gaan nie.

Lukas 3:14 Ook soldate het hom uitgevra: “En ons, wat moet ons doen?” Hy antwoord hulle: Moet van niemand deur geweld of vals aanklag geld afpers nie, maar wees tevrede met julle betaling.

Herodus die Viervors het sy soldate na Johannes die  Doper se dienste gestuur om seker te maak dat daar nie ‘n opstokery plaasvind nie.

Ek is so bly hulle was ook daar. Ek is so bly dat die Gees van die Here ook met hulle harte gepraat het.

Op ‘n baie mooi manier sê Johannes vir hulle om nie hulle mag te misbruik nie.

Dis so maklik om ‘n mens se mag of invloed vir selfsugtige redes aan te wend. Moenie dit doen nie.

Jesus se koms is baie naby. Mans mag nie hulle magsposisie gebruik om hulle gesinne leed aan te doen  nie. Werkgewers mag nie hulle magsposisie gebruik om hulle werknemers te benadeel nie. Superieure invloed mag nooit gebruik word om mense moedswillig seer te maak nie.

JOHANNES DOOP MENSE

In my geestesoog kan ek sien hoe Johannes ‘n oproep om sy toehoorders maak.

“Het die Heilige Gees jou vandag van sonde oortuig? Is jy gewillig om met daardie sonde te breek? Kan ek julle hande sien?”

Met trane in hulle oë steek die berouvolle sondaars hulle hande op.

Miskien het Johannes die volgende boodskap aan diegene gebring wat nie hulle besluit vir die Here kon neem nie:

Matteus 3:10 Die byl lê klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.

Elke keer wanneer ek die Jordaanrivier besoek, dink ek aan die groot gebeurtenisse wat daar plaasgevind het.

In my geestesoog sien ek hoe Johannes die woestynprofeet met die doopkandidate die rivier binne stap.

Hy lig sy hand op.

“My dierbare broer Simon. Omdat jy na die stem van die Heilige Gees geluister het en met jou sondes gebreek het, doop ek jou in die Naam van die Komende Messias.”

JESUS SE DOOP

Terwyl die son agter die Judese berge sak, stap Johannes na sy eensame slaap plekkie.

Die flikkerende liggie verdryf die donkerte van die grot. Hy neem die Bybel en lees uit die boek van Daniel:

Daniël 9:25 Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ‘n Gesalfde, ‘n Vors, is sewe sewetalle: en twee-en-sestig sewetalle.

Johannes werk die datum weer ‘n keer versigtig uit. Artasasta het die bevel om Jerusalem te herbou in 457 vC uitgereik.  69 weke of te wel 483 bring jou by die jaar 27 n.C. uit.

Die woestynprofeet val op sy knieë. “Hemelse Vader. Die langverwagte Messias kan enige oomblik hier by die Jordaanrivier opdaag. Hoe gaan ek Hom identifiseer?”

Matteus 3:13 In daardie tyd het Jesus van Galilea af na Johannes toe by die Jordaan gekom om deur hom gedoop te word.

Iemand stap by Jesus se skrynwinkel in en vertel hom die goeie nuus dat die langverwagte Messias binnekort gaan kom. Hy vertel vir Jesus hoe die skares na Johannes die Doper stroom om na die opwindende nuus van ‘n komende Verlosser te luister.

Volgende keer gaan ons hoor dat Jesus in die herfs van daardie jaar by die Jordaanrivier aangekom het. Die verhaal van Jesus en Johannes die Doper is aangrypend. Moet dit nie misloop nie. Baie van die gebeure gaan hulle self binnekort weer herhaal. Jesus se tweede koms is voor die deur.

Was this article helpful?

Related Articles