1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Johannes Die Doper
  4. Johannes Die Doper – Deel 9
  1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Johannes Die Doper – Deel 9

Johannes Die Doper – Deel 9

JOHANNES DIE DOPER – DEEL 9

Skriftuurlesing: Matteus 3:13-17

Dit was die jaar 27 nC. Jesus het Sy timmermanswinkel finaal gesluit en Sy ma gegroet.

“Maar my Kind. Waar gaan jy heen?”

“Ma die Messiaanse van Daniël 9:25 het in vervulling gegaan. Die tyd het aangebreek dat Ek met My openbare bediening moet begin. Dankie vir wat Ma vir my al hierdie jare beteken het.”

‘n Mens wonder watter gedagtes daar alles deur Jesus se kop gemaal het toe Hy hartseer opgewonde van Nasaret weggestap het.

Uiteindelik nader Hy die plek waar Johannes besig is om te preek. Jesus stap ongemerk tussen die skare mense in.

Johannes het vroeër gebid dat wanneer die Messias kom, die Vader vir hom ‘n duidelike teken van identifikasie sou gee.

Sy gebed is beantwoord. Die Messias sou vir Johannes vra om deur hom gedoop te word.

JESUS SE VOORKOMS

Matteus 3:13 In daardie tyd het Jesus van Galilea af na Johannes toe by die Jordaan gekom om deur hom gedoop te word.

Jesus kyk vir Johannes vol in sy oë en begin praat:

“Sal jy my asseblief doop?”

Ek wens ek was daar naby om Johannes se gesigsuitdrukking te kon gesien het.

Elke liewe dag het hy in die gesigte van sondaars vasgekyk, maar nou kyk hy in die gesig van Iemand wat sondeloos is.

Hy het in sy lewe nog nooit so ‘n reinheid gesien nie.

Die goddelike, hemelse atmosfeer wat die Man hier voor hom uitstraal is heilig en ontsagwekkend.

Skielik besef hy dat die Persoon hier voor hom niemand anders as die langverwagte Messias is nie. Alles wat Hy aangaande Sy heilige karakter in die profete gelees het, word deur die absolute heiligheid van Jesus bevestig.

JOHANNES SE REAKSIE OP JESUS SE DOOPVERSOEK

Kom ons hoor hoe Johannes gereageer het toe Jesus hom vra om Hom te doop:

Matteus 3:14 Maar Johannes het dit probeer verhinder deur te sê: “Ek moet eintlik deur U gedoop word, en u kom na my toe?”

Jesus luister aandagtig na Johannes se terugdeinsende beswaar. “Meester. Hoe kan ek, ‘n sondaar vir U die Sondelose doop? U het nie nodig om gedoop te word nie.”

Vers 15 Jesus het hom geantwoord: “Nogtans moet jy dit nou doen, want op hierdie manier moet ons aan die wil van God voldoen.” Daarna het Johannes ingestem.

Daar is iets wat Johannes miskien nie op daardie oomblik besef het nie. Jesus het as die verteenwoordiger van die mensdom in die doopwaters ingestap om deur Johannes gedoop te word.

Jesus het Hom op daardie oomblik met sondaars vereenselwig en gedoen wat elkeen van ons moet doen.

DIE DOOP

Twee mense staan in die bruin waters van die Jordaan. Johannes die voorloper van die Messias en Jesus die Messias.

Toe Johannes Jesus onder die water dompel het hy die kruisdood van Jesus verkondig.

Drie-en-‘n-halwe jaar later sou Jesus aan die kruis van Golgota onder die donker waters van die dood verdwyn.

Nadat Johannes Jesus onder die waters geplaas het, het hy Hom weer uit die water gelig.

Met die opstanding sou God die Vader Sy Seun uit die donker waters van die ewige dood lig en sodoende die mag van die dood vir ewig te breek.

Jesus vee die water uit Sy gesig en stadig stap Hy na rivieroewer. Johannes drink elke beweging in.

Hy besef dat Hy deel is van een van die grootste historiese oomblikke van alle tye. Wat sou Jesus se volgende beweging wees?

Lukas 3;21 En toe die hele volk gedoop en Jesus ook gedoop is, en Hy besig was om te bid, het die hemel oopgegaan.

WAAROM HET JESUS GEBID?

Waarom dink u het Jesus daar op die oewers van die Jordaanrivier gebid?

Hy, die Sondelose moes die wrang smaak van my skande, vernedering en sonde kom proe. Hy moes met Sy mensheid die stryd teen die helse magte aanpak.

Die redding van ‘n sondige mensdom het van Jesus afgehang. Daar op die oewers van die Jordaanrivier het Hy Sy hand van volkome afhanklikheid na Sy Vader uitgestrek en gebid: “Ag My Vader. Salf My vir die groot taak om die mensdom te red.”

Jesus het die hardheid van die mens se bose natuur geken. Hy besef hoe moeilik dit vir die mensdom gaan wees om Sy sending van genade te begryp en die gawe van verlossing te aanvaar.

Jesus smeek by die Vader vir hemelse krag om sondaars se ongeloof te oorwin. Hy pleit by die Vader vir die krag om die Satan se mag in die lewens van mense te verbreek.

Weet u wat het Jesus nog daar op die oewers van die Jordaanrivier gebid:

Hy bid dat die Vader die mensdom, jou en my, in die persoon van Sy Seun moet aanneem. Wat ‘n gebed!

Nog nooit het die engele na so ‘n intense smeekgebed ten behoewe van die mensdom geluister nie. Hulle is bereid om enige boodskap van troos en gerusstelling na hulle geliefde Aanvoeder te neem.  Mag hulle dit maar doen?

Nee. Die Vader gaan self op Sy Seun se versoek reageer. Kom ons lees meer daaroor:

Lukas 3:21,22 Toe al die mense hulle laat doop het, is Jesus ook gedoop, en terwyl Hy staan en bid, het die hemel oopgegaan en het die Heilige Gees in sigbare gestalte soos ‘n duif op Hom neergedaal. Daar was ook ‘n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor jou verheug Ek My.”

JESUS STAAN IN ONS PLEK

Wat ‘n boodskap van die Vader aan jou en my!

“Jy is my geliefde Seun. Oor jou verheug Ek My.”

Op daardie historiese oomblik toe Jesus op die oewer van die Jordaanrivier kniel, het God die Vader vir jou en my in Jesus as Sy spesiale geliefde Seun aanvaar.

Wanneer die sondaar homself deur geloof in Jesus se hande plaas, verheug die Vader Hom oor ons.

Die woorde wat by die Jordaan aan Jesus gerig is: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het,” sluit die ganse mensdom. God het met ons deur Jesus ons Verteenwoordiger gepraat.

Ondanks ons sonde en swakhede word ons nie verstoot nie, maar word “ons begenadig…in die Geliefde” Efesiërs 1:6

Johannes staan en kyk na die heerlikheid van God die Vader en die Heilige Gees wat op Jesus rus. Die besef dring tot hom deur dat dit die waarborg van God se liefde vir die mens is.

BELOFTE VAN HULP

Toe Jesus, ons verteenwoordiger Sy Vader om genade gesmeek het, het Hy Hom uit die hemel geantwoord. Kan ons verwag dat Hy dieselfde vir ons sal doen? Baie beslis.

Luister na hierdie pragtige bemoedigende setaat uit die boek, “Die Koning van die Eeue”:

Die lig wat uit die geopende poorte op die hoof van ons Heiland geval het, sal op ons val as ons om krag bid om versoeking te weerstaan. Die stem wat met Jesus gepraat het, sê aan elke gelowige siel: dit is my geliefde kind, in wie Ek ‘n welbehae het. Bl. 82.

JOHANNES WORD DEUR DIE SANHEDRIN VERSOEK

Johannes sien hoe Jesus al kleiner word terwyl die Judese woestyn binnestap. Vir ‘n lang ruk het hy die nagloed van daardie heerlike doopdiens van Jesus geniet.

BETABARA

Tydens Jesus se 40 dae van vas in die woestyn, het Johannes mense by Betabara, aan die anderkant die Jordaanrivier gedoop. Die naam Betabara beteken die plek waar mens oorgaan.

Dit was naby waar Israel destyds deur die Jordaanrivier getrek het. Dis hier waar God ‘n baie groot wonderwerk verrig het deurdat Hy ‘n pad deur die vol rivier gemaak het.

Nie ver hiervandaan nie, het die ruïnes van antieke Jerigo gelê. Op God se bevel het die magtige mure van die destyds stad inmekaar getuimel.

Hierdie geskiedenisryke omgewing het die gedagtes van Johannes se toehoorders na God se verlossingsdade van die verlede geneem.

Terwyl die skare na Johannes luister, wonder hulle of die Here nie op die punt staan om weer ‘n keer vir Sy volk groot dinge te doen nie.

JOHANNES SE INVLOED

Die nuus van die woestynproefeet het soos ‘n veldbrand deur die droeë stoppels van Israel getrek. Die Sanhedrin kon nie langer stilbly nie. Hulle was genoop om met Johannes die Doper oor sy missie te gaan praat.

Kom ons luister na die vrae wat die amptelike afvaardiging hom gevra het:

Johannes 1:19,20 Die Jode het priesters en Leviete van Jerusalem af na Johannes toe gestuur om hom te vra: “Wie is jy? Toe het hy hierdie getuienis afgelê en dit duidelik en ondubbelsinnig gestel en openlik verklaar: “Ek is nie die Christus nie.”

Kan u hierdie deftige, briljante manne sien? Dis met groot respek wat grens aan vrees dat die skare padgee sodat die invloedryke leiers by Johannes kan uitkom.

Hulle wou weet of Johannes die Christus was. “Nee ek is nie.” Antwoord hy hulle.

Johannes 1:21 Hulle vra hom toe: “Wie is jy dan? Is jy Elia?” “Nee, ek is nie,” sê hy. “Is jy dan die Profeet?” “Nee!” het hy geantwoord.

Die Joodse leiers het besef dat die Eliaboodskap weer verkondig moes word. Hulle wou uitvind of Johannes nie dalk hierdie besondere boodskapper was nie.

Toe hy nee sê wou hulle weet of hy miskien Moses was.

Vers 22 “Nou maar wie is jy dan? Ons moet ‘n antwoord gaan gee aan die wat ons gestuur het,” sê hulle vir hom. “Wat het jy oor jouself te sê?”

As iemand vir jou sou vra waaraan jy glo en waarom jy dit verkondig, wat sal jou antwoord wees?

As iemand vir jou sou vra of jou kerk en sy boodskap ‘n profetiese bestaansreg het, wat sal jou antwoord wees?

Vers 23 Hy antwoord toe: “Ek is die een wat in die woestyn roep: Maak die pad vir die Here reguit.” Dit is soos die profeet Jesaja gesê het.

Is dit nie treffend nie! Johannes die Doper kon vir die mense van sy dag vertel dat hy ‘n profetiese boodskap verkondig. 

Sewehonderd jaar voordat Johannes begin preek het, het Jesaja voorspel watter soort profetiese boodskap hy sou verkondig.

DRIE ENGELE BOODSKAP

Weet u waarom ek ‘n Sewendedag-Adventis is? Tweeduisend jaar gelede het die profeet Johannes die aard en die inhoud van die  eindtyd profetiese boodskap voorspel.

Hierdie boodskap is in Openbaring 14:6-11 opgeteken. Saam met miljoene ander mense verkondig ek ook hierdie profetiese eindtyd boodskap.

Kom ons lees net weer ‘n keer wat Jesaja aangaande die boodskap van Johannes die Doper voorspel het:

Jesaja 40:3,4 Iemand roep: “Maak vir die Here ‘n pad in die woestyn, maak in die barre wêreld ‘n grootpad vir ons God! Elke laagte moet opgevul word, elke berg en rant moet gelykgrond word. Elke bult moet ‘n gelykte word en elke koppie ‘n vlakte.“

GELYKGEMAAK WORD

Voordat antieke heersers die afgesonderde gedeeltes van hulle ryk kon besoek, moes daar eers ‘n pad vir die koninklike strydwaens gemaak word.

Die gate en holtes moes opgevul word. Johannes gebruik hierdie beeld om die verlossingswerk van die evangelieboodskap te beskryf.

Daar is baie mense wat in die gate en holtes van vernedering en skande beland het. Die evangelie roep hierdie mense uit die donker klowe van ellende en gee hulle nuwe menswaardigheid.

Hoor jy hoe die Here jou vanoggend uit jou vernedering roep? Staan op!

In antieke tye moes die voorgangers van die koning ook die hoë rante gelykmaak.

Johannes die Doper se boodskap het mense aangespreek wat deur valse trots te groot vir hulle skoene geword het.

Net soos die koning van destyds nie met sy strydwa oor die steil bulte kon ry nie, net so kan die Messias nie oor die bulte van menslike hoogmoed beweeg nie.

Is daar vanoggend miskien ‘n lelike bult van hoogmoed in ons lewens? Kom ons laat toe dat die Eliaboodskap van Johannes die Doper dit verwyder.

Die woestynprofeet staan nederig met sy fiets langs die pad van die mensdom. Die Sanhedrin stop met ‘n Maserati langs hom, draai die venster af en praat met die woestynprofeet uit die hoogte.

“Haai jou hierjy. Wat se storiejies vertel jy die ouens. Wie dink jy nou eintlik is jy? Waar het jy afstudeer?”

“Menere. Ek vertel vir die wêreld dat Koning van die Heelal op ons planeet aangekom het. Hy het Sy kleed van goddelike glans en glorie uitgetrek en ‘n dowwe verslete kleed van menslikheid kom aantrek.”

Terwyl Johannes op sy fiets met die trotse manne in die Maserati praat, kom Jesus net daar aan. Nie uit die glans van die troonkamer van god nie. Hy het sopas sy 40 dae vas in die woestyn voltooi. Kom ons lees wat die Woord ons vertel:

Vers 24-27 Johannes het hulle geantwoord: “Ek doop met water, maar tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie. Dit is Hy wat na my kom, wie se skoene ek nie werd is om los te maak nie.”

Skielik verskyn Jesus in hulle midde. Hy is in ‘n haglike toestand. Veertig dae se vas het sy tol op Jesus geëis.

Die Sanhedrin se oë deursoek die skare om hierdie skitterende God-mens te sien. Maar daar is niemand wat  aan hulle Messiaanse vereistes voldoen nie.

Hulle het na ‘n Messias gesoek wat met ‘n blink Masserati na die aarde sou neerdaal. Iemand wat die Romeinse Ryk met kernwapens sou verwoes.

Hoe het Jesus gereageer toe Johannes Hom as die Messias geïdentifiseer het? Het Hy Sy hand in erkenning opgelig, ‘n groot glimlag gegee en ‘n dawerende applous uitgelok?

Ek staan verbaas wanneer ek die absolute neerbuigende  nederigheid van die Vleesgewonde Seun van God bestudeer. Die “Koning van die Eeue” bld. 104.

Toe hy (Joahnnes die Doper) Jesus by Sy terugkeer uit die woestyn onder die skare sien, het hy werklik gehoop dat Hy die volk ‘n teken van Sy ware aard sou gee. Hy het byna ongeduldig gewag dat die Heiland Sy sending moet aankondig; maar geen woord is gesê nie, geen teken gegee nie. Jesus het nie gereageer op die Doper se aankondiging nie, maar het tussen Johannes se dissipels beweeg en geen uiterlike aanduiding van Sy besondere sending verstrek, en niks gedoen om die aandag op hom te vestig nie.

Jesus het niks gedoen om die aandag op Homself te vestig nie. Hoe vergelyk ek en jy met Jesus? Mag die Here ons  genadiglik van die vloek van egosentrisme verlos.

Pleks dat ons onsself die middelpunt maak en verwag dat mense om ons en ons behoeftes wentel, moet ons hulle die middelpunt van belangstelling maak en om hulle behoeftes wentel.

Mag die toegewyde nederigheid wat Jesus en Johannes se lewe gekenmerk het, ook ons lewens kenmerk.

Was this article helpful?

Related Articles