1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Jonatan – Die Baie Wat Die Here Met My Bietjie Gedoen Het

Jonatan – Die Baie Wat Die Here Met My Bietjie Gedoen Het

Skriftuur:  1 Samuel 14:6

Een van die boeiendste verhale wat ons kan lees, is die verhale van mense. En die boek waar ons die eerlikste biografieë vind, is in die Bybel.

Ek stel ‘n pragtige held aan jou voor, sy naam is Jonatan.  Dit beteken: “Die Here het gegee.” Hy was die oudste seun van die eerste koning van Israel, koning Saul. En volgensdie koninklike wet van antieke tye, sou hy die volgende koning wees.

Terwyl ek sy verhaal in die Bybel gelees het, het ek op ‘n teks afgekom wat ‘n verskriklike diep indruk op my gemaak het.

1 Samuel 14:6 Jonatan dan het aan die dienaar wat sy wapens dra, gesê:  “Kom, ons gaan  oor na die wagpos van daardie onbesnedenes; miskien sal die Here vir ons optree, want by die Here is daar geen verhindering om deur baie of deur in te verlos nie.”

Het jy mooi gelees wat hierdie sê? Die Nuwe vertaling stel dit so:

_”Hy kan red, deur baie of deur min.”

Terwyl Jonatan na ‘n patrollie frisgeboude Filistyne kyk, sê hy vir sy wapendraer: “Fineas, sien jy daai ouens daar oorkant? Weet jy wat? Die Here kan ons tweetjies help om al daardie ouens ‘n pak slae te gaan gee.”

“Fineas, ek het nie so ‘n dik nek soos daardie Filisty nie.
En jou twee kuite saam is nie eers so dik soos een van daardie ouens se kuite nie.”

“Maar Fineas, weet jy wat. Die Here wat hierdie ons planeet
Deur Sy grote mag gemaak het, kan klein outjies soos ek en jy gebruik om die Filistyne te verslaan.”

“Hy kan red, deur baie of deur min.” Ek het nie juis ‘n vreeslike paar dik arms nie, en jy het nie juis kuite. Is jy baie of is jy min? Dit maak nie saak nie.  Wat saak my is wat die Here deur jou en deur my kan vermag.

Of jy ‘n dun draaitjie of ‘n duk draatjie is, maak nie saak nie.  Dis die elektrisiteit wat daardeur vloei wat die verskil maak.

Wanneer die Here vir ons iets vra om te doen, moet ons nie sukses in terme van ons bekwaamhede bereken nie, maar in terme van Sy instaatstellende krag.

Ek wil net vir jou sê:  Ons is klein, maar die Here is
baie groot.Ons is dwaas, Hy is alwetend. Ons is baie swak en baie broos; Hy is baie sterk en almagtig.

FISIESE EN GEESTELIKE WONDERWERK

Ons kyk na ‘n fisiese oorwinning in Jonatan se lewe.  Dis ‘n oorwinning wat hy behaal het omdat hy op die krag van die Here staat gemaak het.

JONATAN SE AGTERGROND

Voordat ons verder na die interessante oorwinning van Jonatan en sy wapendraer luister, sal dit goed wees om net na die Bybel se gegewens aangaande Jonatan te lees.

1 Samuel 13:1-4 Saul het ‘n jaar geregeer. En toe hy twee jaar oor Israel geregeer het, het Saul vir hom drieduisend man uit Israel uitgesoek; en by Saul was tweeduisend in Migmas en op die gebergte van Betel, en duisend was by Jonatan in Gibea in Benjamin; maar die orige manskappe het hy laat gaan, elkeen na sy tente toe. En Jonatan het die wagpos van die Filistyne verslaan wat in Geba was, en die Filistyne het dit gehoor. Daarop het Saul op die ramshoring laat blaas in die hele land om te sê: Laat die Hebreërs dit hoor! En die hele Israel het hoor sê: Saul het die wagpos van die Filistyne verslaan, en ook het Israel homself gehaat gemaak by die Filistyne. So is dan die manskappe opgeroep agter Saul aan na Gilgal toe.”

Kyk mooi na hierdie teks. Wie het die Filistynse wagpos by Gibea verslaan? Jonatan. Wie het die krediet daarvoor gekry? Saul.

AARDRYKSKUNDE

Kom ons doen ‘n bietjie aardrykskunde. Wanneer mens vanafJerusalem in ‘n noordelike rigting ry, kom jy na so ses kilometers by Tell el Ful uit. Dis die Gibea waar Saul sy hoofstad gebou het.

Koning Husein van Jordanië was besig om vir hom ‘n paleis bo-oor die ruïnes te bou, toe die 1967 oorlog uitgebreek het.

Jonatan was met ‘n duisend soldate hier gestasioneer, terwyl Saul met 2000 man by Migmas was. Wanneer mens ‘n verdere ses kilometers Noord-oos van Gibea reis, dis nou die voormalige hoofstad van Saul, kom jy by ‘n plek uit waar daar ‘n groot skeur in die grond is. Die Arabiere noem
hierdie skeur wadi Medinah.

Aan die duskant van die wadi het Geba gelê en aan die oorkant was Migmas. Jonatan het met die duisend soldate by hom na Geba opgeruk en die Filistynse wagpos daar verslaan.  Hoe dink jy het die Filistyne oor hierdie pak slae gevoel?

Hoe voel jy wanneer iemand jou verneder het? Jy wil weerwraak pleeg.  Kom ons lees hoe die Filistyne opgetree het:

Vers 5 Die Filistyne het bymekaargekom om teen Israel te veg: dertig afdelings strydwaens en ses afdelings perderuiters en manskappe so baie soos die sand van die see.  Hulle het opgetrek en kamp opgeslaan by Mikmas oos van Bet-Awen”

Het jy agtergekom waar die Filistyne kamp opgeslaan het?  Op dieselfde plek waar hulle ‘n pak slae gekry het.

Hoe sou jy teenoor hierdie oormag Filistyne gereageer het as jy destyds geleef het? Sê my. Het hierdie vyand bestaansreg in Israel gehad? Nee. Die Here wou hê dat Israel sy vyand moes verlsaan.

Die Here se plan vir jou en my vandag is nog steeds dieselfde. Hy wil hê ons moet die vyand in ons grondgebied, in ons harte verslaan.

Kom ons lees hoe Israel teenoor die vyand gereageer het.

Vers 6 Israel het gemerk dat hy in die moeilikheid is, want die volk was in ‘n hoek vasgekeer. Die volk het in spelonke, grotte, hol kranse, gate en droëputte gaan wegkruip. En sommige Hebreërs het deur die Jordaan gegaan na Gad en na Gilead toe. Saul was egter nog in Gilgal en al die manskappe by hom as doodbang.”

Wanneer laas was jy deur ‘n vyand in ‘n hoek vasgekeer?  Wanneer laas was jy doodbang?

Wanneer ‘n mens in Israel reis, sien jy orals in die koppies grotte. Droë putte is ook nog al volop.

Kan jy die klomp bang Israeliete hier sien wegkruip?  Bedags het hulle net hulle koppe uitgesteek en geloer waar die viand was. Saans het hulle uitgekom en gaan kos soek.

Jonatan het dit alles gesien en dit het hom iets hier in sy
binneste wakker gemaak.

OPTREDE

Sê my, waarom het Israel in spelonke, grotte, en skeure en droë putte gaan wegkruip?

Hulle het na die uitslag van die oorlog in terme van hulle eie krag gekyk en nie in terme van die krag van die Here nie.

Hoe kyk ek en jy na die Filistyne in ons lewe? In terme van ons eie krag, of in terme van die krag van die Here?

SAUL MOES VIR SAMUEL WAG

Nie ver vanaf Jerigo nie, het Saul en Jonatan by Gilgal met ‘n bevreesde weermag vir die profeet Samuel gewag. Kom ons lees daarvan:

1 Samuel 13:8,9 Hy het sewe dae gewag, die tyd soos afgespreek met Samuel, maar Samuel het nie by Gilgal opgedaag nie. Toe die manskappe wat by Saul was, begin dros het, het hy gesê: ‘Bring die brandoffer en die maaltydoffers na my toe.’ Hy het toe self die brandoffer geoffer.

Miskien het Saul vir sy seun Jonatan gesê: “My kind, kyk net na die soldate. Van die duisende is daar nou nog net ‘n 600 handjie vol oor. Ek wond er waar bly die profeet Samuel so lank weg. Hy is veronderstel om vandag te gekom het, maar hy kom nie My kind,ek dink ek gaan maar self die lam offer wat Samuel moes offer.”

“Ekskuus tog Pa. Kan pa nie nog so ‘n paar minute wag nie.  Ek is seker die profeet Samuel sal binne die volgende paar minute hier aankom. En Pa, Pa is nie geregtig om die werk van ‘n profeet te doen nie.”

Saul het skaars die groot sonde gepleeg, toe kom die profeet Samuel daaraan. Kom ons luister na die woorde van Samuel waarna beide en Jonatan geluister het:

Verse 13,14 Maar Samuel sê vir Saul: “Jy het dwaas gehandel. As jy maar die bevel van die Here jou God wat Hy jou gegee het, nagekom het! Waarlik, dan sou die Here nou jou koningskap oor Israel vir altyd bevestig het. Maar nou sal jou koningskap nie bestendig word nie. Die Here sal vir Hom ‘n man na sy hart soek. Die Here sal hom aanstel as regeerder oor sy volk, want jy het nie gedoen wat die Here jou beveel het nie.”

As jy in Jonatan se plek was, wat sou hierdie inligting jou geraak het as jy hoor jou pa is as koning verwerp. Jy hoor dat iemand anders sy plek gaan inneem.

Miskien was die versoeking daar om verbitterd teenoor die profeet Samuel te raak. Miskien was die versoeking daar om nie langer vir Israel te veg nie, want ‘n ander koning  sal tog uiteindelik die krediet daarvoor kry.

NEGATIEWE INLIGTING

Wat maak ek en jy met negatiewe inligting? Ons het twee keuses. Of ons vertolk dit in terme van ons eie kragte, of ons vertolk dit in terme van die Here se almag.

Ons lees in verse 15 en 16 hoe Saul en Jonatan met die 600 oorblywende soldate na Gibea teruggekeer het. Wat ‘n patetiese prentjie. Verslae koning Saul, met verslae soldate beur die steil bulte van Judese woestyn uit. Hulle het hulle oorlogsplanne laat vaar en stap terug huis toe by Gibea.  Dis nag.

Het jy al gesien hoe helder die sterre in ‘n donker maanlose nag skyn? Jesus die Blink Mörester skyn baie helderder wanneer ons nagte op hulle donkerste is. Kyk gerus op en sien hoe skitter Hy.

Dit was in hierdie donker oomblikke in Israel se geskiedenis, dat Jonatan besluit het dat Jesus die Morester die uitkoms kan gee. Jonatan het besluit dat ‘n saak nooit te hopeloos vir Here is om op te los nie. Glo jy dit wat Jonatan geglo het?  Ons kan maar net sê:  “Ag Here, ons
glo, kom ons ongeloof te hulp?

JONATAN SE VISIOEN

Jonatan kon nie aanvaar het dat die saak van die Here asgevolg van drosters moes skade lei nie. Jonatan kon nie aanvaar het dat daar niemand was wat die moed gehad het om die Filistyne aan te pak nie.

Die verleentheid en skande van Israel, het Jonatan met ‘n
onbeskryflike ywer vir die saak van die Here aangevuur. En pleks dat die skande en verleentheid van die kerk van die Here ons onverskillig maak, moet dit ons met ‘n onbeskryflike ywer besiel om vir Sy saak te presteer.

1 Samuel 14:1 Op ‘n dag sê Jonatan, seun van Saul toe vir sy wapendraer: “Kom ons gaan oor na die patrollie van die filistyne toe daar oorkant.”

Vers 2 sê dat Saul met sy 600 soldate onder ‘n granaatboom gesit het.

Ek wonder wat het Saul alles vir sy manskappe vertel.  “Kêrels,ek wil vir julle net een ding sê. As ons waag om daardie magtige Filistyne aan te val, sal ons die grootste pak slae van ons lewens kry.Kom ons bly net hier sit.”

Terwyl Saul en sy 600 papbroek soldate gesit het, het Jonatan opgestaan en die vyand gaan aandurf.

Jonatan het die volgende van die Here geglo: “Hy kan red, deur baie of deur min.” Toe Jonatan besef het dat die oorwinning in die krag van die Here behaal kan word, het hy die magtige vyand in die krag van die Here gaan aandurf.

Besef jy hoe  bekwaam die Here is om ons van ons vyande te verlos? Wanneer ons ons eie swakheid terdeë besef en wanneer ons die almag van die Here besef, is geen vyand vir ons te gedug nie.

PERSOONLIK

Sal jy my verskoon as ek ‘n persoonlike ondervinding met jou deel?

Van kleins af het ek net een groot begeerte gehad en dit was om eendag voltyds vir die Here te gaan werk. Maar terwyl ek in standerd 9 was, het my pa anders besluit. Op 16 jarige leeftyd beland ek in ‘n drukkery.

My droom is verpletter. Vir tien jaar het ek myself in ‘n droë put soos die bang Israeliete bevind. Maar die begeerte het my nooit gelos nie. Terselfdertyd het die Filistyne net
meer en meer geword.

Toe ek vir my eerste en enigste nooi ooit van my begeerte vertel om eendag vir ‘n predikant te gaan leer, het sy vir my gesê dan moet ek maar gaan en dit sal ook die einde van ons verhouding beteken.

Ek wil vir jou sê dat hierdie Filistyn my so bang gemaak het, dat ek nie uit my droë put uitgekom het nie, maar eerder met haar getrou het.

KOLPORTEUR

Op ‘n dag het ‘n vriend van my, Henry Landsdown my genooi om saam met hom te kom en te kyk hoe hy kolporteur. Hy het die Kinderbybel, Juwele uit die Bybelskatkis vir die man gewys en die prys genoem. Vyf pond en ‘n halfkroon.

Iets onbeskryfliks het in my binneste plaasgevind. Ek wou net met alle geweld dadelik vir die Here gaan werk het.  Maar die Filistyne het in hulle hordes verskyn.

Ek kon net nie uit daardie droë put kom nie. En toe gebeur met my wat met Jonatan gebeur het. Ek het ‘n sitaat gelees wat my fokus van my eie onbekwaamhede geneem het, en dit op die instaatstellende krag van die Here geplaas het.

“Dit is nie die bekwaamheid wat jy nou besit, of ooit sal besit, wat vir jou sukses sal gee nie. Dit is wat die Here vir u kan doen.
Ons moet minder vertroue plaas in wat die mens kan doen en meer vertroue in wat God vir elke gelowige siel kan doen.  Hy verlang dat jy in geloof tot Hom moet uitreik. Hy verlang dat u groot dinge van Hom moet verwag.” Colporteur Ministry bl. 119

Wat sê die sitaat, hoe haal ‘n mens sukses?  Huidige of
toekomstige bekwaamhede?  Nee.  Dit is wat die Here vir ons kan
doen.

Toe my fokus verander het, het my hele lewe verander.  Filistyne soos skugterheid en ‘n swak selfbeeld kon my nie meer keer om vir die Here te gaan werk nie.

Die heel eerste mense met wie ek my voorneme om kolporteur te word,gedeel het was my ouers. Baie taktvol het hulle my op my geaardheid gewys en liefdevol afgeraai.

Gelukkig het ek nie meer gekyk waar hulle gekyk het nie, ek het na Here gekyk wat vir my die sukses kon gee. Ek onthou nog die aand toe my leraar my kom besoek het. Hy was opreg besorgd oor my en het my daarop gewys dat ek nie die aanleg het om te verkoop nie. Hy was reg. Ek het dit nie gehad nie. Maar ek het iets anders gehad: geloof in wat die Here vir my kon doen.

En toe kom hierdie talentlose mens op nog ‘n kragtige
sitaat af.  Dit het my nog meer onverskrokke gemaak:

“Die Here skenk aan elke man of vrou die bekwaamheid om vir Hom te werk indien hulle gewillig is om met Sy goddelike krag saam te werk. Al die nodige gereedskap soos moed, deursettingsvermoë, ongeloof en tak, word aan ons gegee wanneer ons die wapenrusting aantrek.” 6 Testimonies 333.

Wat is die voorwaarde vir die ontvangs van bekwaamheid om vir Hom te werk? Gewilligheid om met Sy goddelike krag saam te werk.

Terwyl ek in die droë put van ongeloof gesit het, het ek nie een van hierdie talente gehad nie. Ek het nie moed gehad nie. Die Here het dit vir my gegee.

Ek het nie deursettingsvermoë gehad nie. Hy het dit vir my gegee. My geloof was pateties. Hy het my  baie gegee.

Ek was seker die ontaktvolste mens op aarde. Hy het my takt_gegee om te kolporteur. Hy is nog steeds besig om my voorraad takt op te bou.

1 Samuel 14:6-10 Jonatan het vir sy wapendraer gesê: “Kom ons gaan oor na die patrollie van hierdie heidene toe.  Miskien sal die Here ons help. Hy kan red, deur baie of deur min.’  En sy wapendraer sê vir hom: “Net soos u wil.  Ek is tot u diens.”

Jonatan sê toe vir hom: “Nou toe, kom ons gaan in hulle rigting sodat hulle ons kan sien. As hulle vir ons sê: Staan stil totdat ons by julle kom, bly ons hier onder staan. Ons gaan dan nie op ha ahulle toe nie. Maar as hulle vir ons sê: Kom op na ons toe, gaan ons na hulle toe, want dan sal dit vir ons die teken wees dat die Here hulle in ons mag gee.”

Kan jy vir Jonatan en sy wapendraer teen die steiltes sien afstap. Menslike gesproke is hulle op ‘n selfmoord ekspedisie.  Maar uit ‘n goddelike oogpunt is hulle op pad na ‘n groot oorwinning.

Verse 11,12 Toe die Filistynse patrollie die twee sien, het die Filistyne gesê: “Kyk daar! Party Hebreërs het uitgekom uit die gate waarin hulle weggekruip het.” En die manne van die patrollie het vir Jonatan en sy wapendraer uitgedaag: “Kom op na ons toe dat ons julle ‘n les kan leer.” Jonatan het vir sy wapenndraer gesê: “Klim agter my aan! Die Here het hulle in die mag van Israel oorgegee.”

Wat ‘n pragtige verhaal! “Klim agter my aan! Die Here het hulle in ons mag gegee. Hy hy reeds God se oorwinning sy eie gemaak. Ons noem dit “Profetiese perfektum”

Verse 13,14  “onatan het hande-viervoet opgeklouter met sy
wapendraer op sy hakke. Die vyand het voor Jonatan geval, en agter hom het sy wapendraer hulle doodgemaak. In hierdie eerste slagting deur Jonatan en sy wapendreaer het omtrent twintig man geval, en dit op ‘n klein stukkie grond.”

Die manne met die dun arms en dun kuite het die manne met die duk arms en die duk kuite verslaan. Hoe het hulle dit reggekry? Hulle fokus was op die God van Israel.

Toe Jonatan en sy wapendraer kapot was, poegaai was, het die Here oorgeneem en die volgende iets het gebeur:
Vers 15 Daar was ‘n aardbewing en God het hulle paniekbevange gemaak.

Jonatan het ‘n teken ontvang dat hy die oorwinning sou behaal. Het ek en jy ook ‘n teken ontvang dat ons die oorwinning sou behaal? Baie beslis. Kom ons lees daarvan:

Matteus 28:18-20 Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Wat is die opdrag? Ons moet gaan dissipels maak. Maar ons kyk na die swakhede in ons eie lewens. Ons kyk na die gevaarlike Filistyne rondom ons en ons kruip in die droë putte en grotte van ongeloof weg.

Moenie na die vyande kyk nie. Kyk na Jesus wat sê: “Alle mag is aan My gegee.”

Moenie na jou tekortkominge kyk nie. Kyk na Jesus wat sê: “Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

e-pos Navrae na questions@amazingdiscoveries.co.za

Was this article helpful?

Related Articles