1. Home
  2. Algemeen
  3. Korag Deel: 2 Numeri 16:12-50

Korag Deel: 2 Numeri 16:12-50

Korag en sy geselskap is uitgenooi om ‘n baie belangrike plig te voer vir die posisie wat hulle voor geaspireer het.

Datan en Abiram het hulle nie so hardnekkig verset soos Korag nie. Met die hoop dat hulle miskien by die sameswering betrokke geraak het sonder om heeltemaal kurup te wees, het Moses hulle laat roep om voor hom te verskyn sodat hy hulle besware teen hom kon aanhoor.

Maar hulle wou nie kom nie en het onbeskof geweier om sy gesag te erken.

Numeri 16:12 Daarna het Moses vir Datan en Abiram, seuns van Eliab, laat roep. Maar hulle het gesê: “Ons sal nie kom nie.

Hoe jammer. Hulle ontken die wettige gesag van Moses.

Kom ons luister na nog van hulle onbeskofte arrogansie:

Verse 13,14 Is dit nie genoeg dat jy ons laat trek het uit ’n land wat oorloop van melk en heuning om ons in die woestyn te laat omkom nie? En nou wil jy ook nog gedurig oor ons baasspeel! 14Bowendien het jy ons nie gebring na ’n land toe wat oorloop van melk en heuning nie, en ook nie vir ons lande en wingerde gegee nie. Wil jy hierdie mense aanhou mislei? Ons sal nie kom nie!”

Het jy al met sulke mense toene gehad? Selfsug maak ons arrogant, onselfsugtigheid maak ons nederig mooi.

Hulle het Moses wat soos ‘n tedere vader, ‘n lankmoedige herder vir die gemeenste tiran en indringer uitgekryt. Hulle het hom die skuld gegee dat hulle weens hulle sondes Kanaän verbied is.

Dit was voordiehandliggend dat die volk met die rebelle geheul het. Maar Moses het geen poging aangewend om homself te verdedig nie.

In die teenwoordigheid van die vergadering het hy hom plegtig p God beroep om te getuig dat sy motiewe rein en sy gedrag opreg was. Hy het God gevra om te oordeel.

Vers 15 Moses het baie kwaad geword en vir die Here gesê: “U moet hulle offergawe nie aanneem nie! Ek het nie ’n enkele donkie van hulle gevat nie en nie een van hulle benadeel nie.”

Die Septuaginta vertaal “kwaad geword” as “verskriklik hartseer geword.”

Verse 16,17 Verder het Moses vir Korag gesê: Jy en jou hele bende, sorg dat julle môre voor die aangesig van die Here is, jy en hulle en Aäron.17En neem julle elkeen sy vuurpan en gooi daar reukwerk op, en bring voor die aangesig van die Here elkeen sy vuurpan, tweehonderd-en-vyftig vuurpanne, ook jy en Aäron elkeen sy vuurpan.

Ons het hier met ‘n baie belangrike oomblik in die geskiedenis van Moses en die volk te make.

Hulle moes in die binnehof van die tabernakel verskyn. Voor die Regter van alle mense.

Vers 18 Toe het hulle elkeen sy vuurpan geneem en daar vuur op gegooi en reukwerk op gelê; en hulle het gaan staan by die ingang van die tent van samekoms, ook Moses en Aäron.

Waar het hulle die vuur gekry? Van die altaar van brandoffer wat in die voorhof van die tabernakel was.

Vers 19 En Korag het die hele vergadering teen hulle bymekaar laat kom by die ingang van die tent van samekoms. Toe verskyn die heerlikheid van die Here aan die hele vergadering.

Dit was nie Moses wat die vergadering byeengeroep het om die neerlaag van Korag en sy volgeling te aanskou nie, maar in hulle blinde verwaandheid het die rebelle hulle daar byeengeroep om hulle oorwinning te aanskou.

‘n Groot deel van die volk was aan Korag se kant – het hy dan nie groot verwagtinge gekoester om sy saak teen Aäron te stel nie?

Die heerlikheid van die Here verskuif stadig vanaf die allerheiligste na waar die mense is.

Verse 20,21 En die Here het met Moses en Aäron gespreek en gesê:21Skei julle af van hierdie vergadering, en Ek sal hulle in ’n oomblik verteer.

Daar kom tye wanneer ons onsself van opstandige mense moet distansieer anders word ons saam met hulle verwoes.

Verse 22-24 Maar hulle het op hul aangesig geval en gesê: o God, God van die geeste van alle vlees! Sal een man sondig en U op die hele vergadering toornig word?

Korag het homself van die vergadering afgeskei en na Datan en Abiram gegaan toe Moses, vergesel van die 70 oudstes, uitgegaan het met ‘n laaste waarskuwing aan die manne wat geweier het om na hom toe te kom.

Die skare het gevolg, en voordat hy sy boodskap afgelewer het, het die Here vir Moses ‘n opdrag gegee:

Verse 23-26 En die Here het met Moses gespreek en gesê:24Spreek met die vergadering en sê: Maak dat julle wegkom rondom die woning van Korag, Datan en Abíram!25Toe het Moses opgestaan en na Datan en Abíram gegaan, en die oudstes van Israel het agter hom aan gegaan. Daarop het hy die vergadering toegespreek en gesê: Verwyder julle tog van die tente van hierdie goddelose manne en raak nie aan iets wat aan hulle behoort nie, dat julle nie weens al hulle sondes omkom nie.

Die oproeriges het gemerk dat die mense wat hulle mislei het, hulle verlaat, maar hulle het saam met hulle gesinne in die deur van hulle tente gestaan asof hulle die Goddelike waarskuwing geminag.

Vers 27 En hulle het gemaak dat hulle wegkom rondom die woning van Korag, Datan en Abíram; maar Datan en Abíram het uitgekom en gaan staan by die deur van hulle tente saam met hulle vroue en seuns en kindertjies.

Die Here het nie ‘n doodsvonnis op die kinders gevel nie. Maar dit gebeur dikwels dat die onskuldige kinders onder die hardnekkigheid van hulle ouers lei wat weier om tot bekering te kom en die waarskuwing om te vlug ignoreer.

Het daar van Korag se kinders oorleef?

Numeri 26:10,11 En die aarde het sy mond oopgemaak en hulle verslind, saam met Korag, toe die bende gesterf het deurdat die vuur die tweehonderd-en-vyftig man verteer het; en hulle het tot ’n teken geword.Maar die seuns van Korag het nie gesterf nie.

Van die kinders moes besef het dat hulle ouers fouteer het en toe van die tente af weggevlug.

Wat ‘n les vir kinders wat met bose ouers sit.

Verse 28-30 Toe se Moses: Hieraan sal julle weet dat die HERE my gestuur het om al hierdie werke te doen, dat hulle nie uit my eie hart is nie:29 as hierdie mense sterwe soos alle mense sterwe en met die besoeking van alle mense besoek word, dan het die HERE my nie gestuur nie.

30 Maar as die HERE iets nuuts skep en die grond sy mond oopmaak en hulle verslind met alles wat aan hulle behoort, en hulle lewendig na die doderyk afdaal, dan sal julle weet dat hierdie manne die HERE verag het.

Alle oë was op Moses terwyl hulle in vrees en verwagting die gebeurtenis afgewag het. Toe hy klaar gepraat het, het die grond onder die oproermakers oopgegaan en hulle het lewendig in die grond afgedaal, saam met alles wat aan hulle behoort het.

Verse 31,32 En toe hy al hierdie woorde klaar gespreek het, skeur die grond wat onder hulle was,32 en die aarde het sy mond oopgemaak en hulle verslind saam met hul huisgesinne en al die mense wat aan Korag behoort het en al die goed.

Die volk het gevlug omdat hulle gevoel het dat hulle  aan dieselfde sonde skuldig was.

Die blitsvinnige optrede van God was nodig om die verspreiding van rebelsheid wat die hele vergadering besoedel het, hok te slaan.

Vers 33 So het hulle dan met alles wat hulle s’n was, lewendig na die doderyk afgedaal; en die aarde het hulle oordek, en hulle het omgekom uit die vergadering.

Wat ‘n merkwaardige getuie van direkte goddelike ingryping.

Vers 34 En die hele Israel wat rondom hulle was, het gevlug vir hulle geroep; want hulle het gesê: Dalk verslind die aarde ons!

Alhoewel die volk op ‘n afstand gestaan het, het die gedreun van die aarde en die geraas toe dit oopskeur en die vreesvervulde gille van die slagoffers, het hulle genoop om nog verder weg te vlug.

Toe Moses ‘n beroep op die vergadering gemaak het om van die dreigende oordeel te vlug, kon dit afgewend word. Korag en sy geselskap kon tot inkeer gekom en vergifnis gevra het.

Maar hulle opsetlike rebelsheid het tot hulle dood gelei. Die hele vergadering was medepligtig wat hule het tot ‘n meerdere of mindere mate met die rebelle gesimpatiseer.

Nogtans het God in Sy genade ‘n verskil gemaak tussen die wat in die opstand voortgegaan en die wat gevolg het. Aan die volk wat verlei is, is nog ‘n geleentheid gegun om hulle te bekeer.

Hulle het oorweldigende bewyse gekry dat hulle verkeerd was en dat Moses reg was. Die geweldige manifestasie van God se mag het alle onsekerheid uit die weg geruim.

Jesus, die Engel wat voor die hebreërs getrek het, het hulle van verdelging probeer red, vergifnis is aangebied. Die oordeel van God het baie na aan hulle gekom en gesmeek dat hulle hulle moes bekeer.

‘n Spesiale, onweerstaanbare tussenkoms uit die hemel het hulle opstand gestuit. As die volk aan die tussentrede van God wou toegee, kon daar vir hulle redding wees.

Maar terwyl hulle uit vrees vir vernietiging van die oordeel weggevlug het, was hulle rebelsheid nog nie genees nie. Daardie nag het hulle vreesbevange maar nog steeds onboetvaardig, na hulle tente teruggekeer.

Korag en sy geselskap het hulle gevlei totdat hulle geglo het hulle is baie goeie mense en dat Moses hulle verontreg het. Indien hulle ingestem het dat Korag en sy geselskap fouteer het en dat Moses reg wes, sou hulle moes aanvaar dat die vonnis om in die woestyn te sterf, die woord van die Here was.

Hulle wou hulle nie daaraan onderwerp nie, en vas geglo dat Moses hule bedrieg het. Hulle het die verwagting vertroetel dat ‘n nuwe teodrag van sake tot stand sou kom waarin hulle geprys, pleks van bestraf sou word. Dan kon hulle gemaklik sonder bekommernis en konflik leef.

Die manne wat gesterf het, het vleitaal gebruik en voorgegee dat hulle groot belangstelling en liefde vir die volk gehad het. Hulle het tot die gevolgtrekking gekom dat Korag en sy metgeselle goeie mense moes wees en dat Moses op die een of ander manier verantwoordelik vir hulle vernietiging was.

Mens kan God nie meer beledig as om die mense te verwerp wat Hy aanwend om verlossing te bewerkstellig nie. Maar dis nie al nie, die volk wou Moses en Aäron doodmaak. Hulle het nie by die plek gekom om God vir hulle sonde om vergifnis te vra nie.

Hulle het daardie nag van genade nie aan berou en belydenis gewy nie, maar planne bedink om teenstand te bied aan die bewyse dat hulle slegte sondaars was.

Hulle het nog steeds haat teenoor die werktuie gekoester wat God angestel het en ook hulle gesag verwerp. Die Satan was daar om hulle oordeel te vernietig, en hulle geblinddoek na hulle ondergang te lei.

Vers 35 Toe het ’n vuur van die HERE uitgegaan en die tweehonderd-en-vyftig man verteer wat die reukwerk gebring het.

Die gevolge van sonde is onberekenbaar.

Verse 36,37 En die HERE het met Moses gespreek en gesê:37 Sê aan Eleásar, die seun van die priester Aäron, dat hy die vuurpanne uit die brand moet wegneem en die vuur ver weg moet strooi; want hulle is heilig  

Die vuurpanne is gebruik om reukwerk vir die Here te bring. Dit het gewyde vuur van die altaar bevat.

Verse 38 Van die vuurpanne van die manne wat deur hulle sonde gesterf het, moet julle dun plate maak en die altaar daarmee oortrek, want hulle is by die altaar gebruik en is aan die Here gewy. Hulle moet die Israeliete altyd aan hierdie gebeure herinner.”

Die vuurpanne van Korag en sy metgeselle was van brons gemaak. In die tyd van Salomo was dit van goud gemaak.

Verse 39,40 Die priester Eleasar het toe die bronsvuurpanne gevat wat by die altaar gebruik is deur die manne wat verbrand is, en hulle uitgeklop en die altaar daarmee oorgetrek. 40Dit moes die Israeliete altyd daaraan herinner dat iemand wat nie uit Aäron se geslag is nie en dus nie daartoe bevoeg is nie, nie ’n wierookoffer na die altaar toe mag bring om dit aan die Here te offer nie. Anders sal so ’n persoon soos Korag en sy bende word oor wie die Here deur middel van Moses uitspraak gelewer het.

DIE REBELLIE DUUR VOORT

Vers 41 Die volgende môre het die hele gemeente van Israel teen Moses en Aäron in verset gekom en gesê: “Júlle het die volk van die Here doodgemaak!”

Dis baie moeilik om ‘n meer uitstaande voorbeeld van rebellie te begryp nadat God op so ‘n vertoon van Goddelike misnoë daarvoor getoon het.

Verse 42,43 Toe die gemeente teen Moses en Aäron bymekaarkom en na die tent van ontmoeting toe draai, het die wolk die tent bedek en het die magtige teenwoordigheid van die Here sigbaar geword. Moses en Aäron het toe na die voorkant van die tent van ontmoeting toe gegaan

Hoekom? Om leiding van God te ontvang en om op Sy beskerming staat te maak want die volk wou hulle doodmaak.

Hoe lank sou die Here hierdie voortgesette rebellie toelaat? Wat was sy boodskap aan Moses?

Verse 44,45 En die Here het vir Moses gesê: 45“Gee pad tussen die gemeente uit dat Ek hulle in ’n oogwink kan verdelg.”Moses en Aäron het op hulle knieë geval en gebid.

Waaroor dink julle het hulle gebid?

“Here as U goeddunk om die volg in ‘n oogwink te verdelg, dan aanvaar ons U besluit. En sien miskien daar is niks wat ons kan doen om hulle tot inkeer te bring nie. Laat U wil maar geskied.”

Nee. Dis nie hoe Moses gebid het nie.

Vers 46 Moses sê toe vir Aäron: “Vat ’n vuurpan, sit vuur van die altaar af daarin en plaas wierook daarop en gaan gou na die gemeente toe en doen vir hulle versoening. Die toorn van die Here het reeds ontvlam en Hy het hulle met ’n plaag begin straf.”

     Wierook was ‘n simbool van bemiddeling, van voorspaak.

Psalms 141:1,2 Here, ek roep U aan; kom tog gou na my toe; luister na my stem as ek U aanroep.2Laat my gebed soos reukwerk voor u aangesig staan, die opheffing van my hande soos die aandoffer.

Verse 47,48 Toe neem Aäron dit soos Moses gespreek het en hardloop onder die vergadering in, en kyk, die plaag het al onder die volk begin! En hy het die reukwerk daarop gelê en versoening gedoen vir die volk.48En terwyl hy tussen die dooies en die lewendes staan, het die plaag opgehou.

Sien jy in jou geestesoog die tragiese prentjie. Mag die Here ons help om geen rebellie in ons harte toe te laat nie.

Kan jy sien hoe Aäron biddend en met trane in sy oë met die vuurpan en wierook tussen die rebelle inhardloop. Hulle wil vir hom en Moses doodmaak. Moses en hy wil hulle red.

Hier is Aäron ‘n tipe van Jesus Christus die groot Hoëpriester wat met die wierook van Sy eie geregtigheid tussen ons sondaars kom inhardloop het om vir ons versoening te kom doen.

Efesiërs 5:1,2 WEES dan navolgers van God soos geliefde kinders;2en wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as ’n gawe en offer aan God tot ’n lieflike geur.

Ag mag die Here tog gee dat ons wat rebelle is, ons wat Hom wil doodmaak, tog die wierook van Sy geregtigheid ruik sodat ons gered kan word.

Vers 49 En die wat deur die plaag gesterf het, was veertienduisend-sewehonderd, buiten die wat gesterf het om Korag se ontwil.

Kan jy jouself in die situasie indink? Hele gesinne is uitgewis. Wat ‘n verskriklike voorbeeld van die gevolge van opstand teen God se wil.

Hoedanig is ons gesindheid teenoor Sy geopenbaarde wil? Is daar dinge wat ek nog moet regmaak?

Behalwe vir die grusame dood van Korag, Datan en Abiram en hulle gesinne, en die 250 met die vuurpanne was daar ook nog die onverbiddelike volk. Ongeveer 15,000 mense is dood.

Kom ons lees net weer ‘n keer wat gebeur het:

Verse 47-50 Toe neem Aäron dit soos Moses gespreek het en hardloop onder die vergadering in, en kyk, die plaag het al onder die volk begin! En hy het die reukwerk daarop gelê en versoening gedoen vir die volk.48En terwyl hy tussen die dooies en die lewendes staan, het die plaag opgehou.49En die wat deur die plaag gesterf het, was veertienduisend-sewehonderd, buiten die wat gesterf het om Korag se ontwil.50Daarop gaan Aäron na Moses terug by die ingang van die tent van samekoms; en die plaag is gestuit.

Was this article helpful?

Related Articles