Levi

Markus 2:13 17

Elke keer wanneer ons met iemand kontak maak, dan kommunikeer ons. Dit kan ‘n positiewe kommunikasie of ‘n negatiewe kommunikasie wees.  Sonder dat ek noodwendig daarvan bewus is, word iets hier diep binne in my na die persoon oorgedra met wie ek verkeer.

In die boek “Therapeautic Psychology” deur Brammer en Shoshtrom, is daar ‘n hoofstuk getitel: Transferrence, Counter transference and resistance.

As jy my aan my moeilike standerd 5 meneer herinner, gaan ek sekere negatiewe kommunikasie vibrasies na jou uitstuur.  En jy gaan dadelik agterkom dat ek nie juis vir jou ingaan nie.

Ek het in Heidelberg grootgeword.  Ons was verskriklik arm.  In die huis waar ons loseer het, het daar ook ‘n oom loseer wat elke Vrydagmiddag die kinders geroep het, en vir ons lekkers gegee het.  Dit het gebeur voordat ek skooltoe gegaan het maar ek sal die oom nooit vergeet nie.

En vandag nog wanneer ek iemand sien wat soos hy lyk, is ek sommer dadelik positief ingestel.  En as ek baie van jou hou, moet jy weet dis omdat jy soos daardie oom lyk.

LYFTAAL

Baie jare gelede toe ek my opleiding as huweliksberader by Famsa gedoen het, het ons oor lyftaal studeer.  Wanneer jy sekere lyftaaltekens sien, kan jy sekere afleidings maak.

Sedertdien het hierdie geesteswetenskap so ontwikkel dat daar tans 800,000 lyftaaltekens geïdentifiseer is.  Ons kommunikeer nie net met wat ons sê nie, maar met ons totale mens.

Net 7% kommunikasie geskied verbaal.  Die volgende 38% geskied deur stemintonasie en 55%  deur lyftaal.   Elkeen van ons straal ‘n atmosfeer om ons uit.  Dis of een wat met hemelse lig bestraal is, of dis een wat met die duisternis van selfsug besoedel is.

Is daar hoop vir iemand soos ek en jy wat worstel met kompleksiteit van ons sondige selfsugtige natuur?   Is dit moontlik dat ek na mense kan kyk, alle mense, en positief teenoor hulle voel?

Is dit moontlik dat ek en jy ‘n positiewe atmosfeer van lig en liefde kan uitstraal?

Vanoggend bestudeer ons die lewe van iemand wat lelik was maar wat mooi geword het.

LEVI

Markus 2:13  “Jesus het weer na die see toe gegaan.  ‘n Hele menigte mense het na Hom toe gekom, en Hy het hulle geleer.”

In hierdie dorp was daar ‘n welgestelde sakeman.  Maar omdat hy ‘n tollenaar was, het mense negatief teenoor hom opgetree.  Omdat hy in diens van die Romeinse owerheid gestaan het, is as ‘n skelm en ‘n volksverraaier beskou.

Maar dis nie net die volksleiers wat hom skeef aangekyk het en uit die sosiale aangeleenthede verban het nie, die die geestelike leiers van die dag het dit ook gedoen.

En wanneer iemand stief en hard behandel word, reageer hy gewoonlik ook stief en hard teenoor mense wat hom of haar so behandel.  Ons kry mekaar terug.  As dit nie nou dadelik is, dan wag ek my kans af.  En op ‘n dag betaal ek jou terug.

Dis natuurlik heeltemaal onbybels om kwaad met kwaad te vergeld.  So iets gebeur sonder die toestemming van die Heilige Gees.  Wanneer ek kwaad met kwaad vergeld staan ek direk onder die leiding van die bose want dit is deel van sy strategie om mense te vernietig.

LEVI

Levi was tussen die mense wat na Jesus gaan luister het.  Nog nooit in sy hele lewe het hy so iets beleef nie.  Die jong Rabbi se lyftaal was radikaal anders as die van die Fariseërs en die Skrifgeleerdes.  Levi voel geensins veroordeels in hierdie Man se geselskap nie.  Ek wonder wat Jesus die mense daardie dag geleer het?  Een ding is seker, die boodskap het Levi diep aangegryp.
Jesus het met ‘n fyn goddelike waarneming na elke mens in daardie gehoor gekyk.  Hy het die boosheid in Levi se hart gelees.  Hy het van sy skelmgeid geweet.  Maar sonde bring pyn en Jesus het ook die pyn van verwerping in Levi se hart raakgesien. Maar meer nog, Jesus het ‘n sondaar raakgesien wat na verlossing verlang het.

JESUS IS WEER TEENWOORDIG

Jesus is weer vanoggend teenwoordig.  Hy sien die boosheid van my hart. Ek kan niks vir Hom wegsteek nie. Hy ken my pyn van verwerping.  Maar gelukkig weet Hy ook van my verlange om ‘n beter lewe te lei.

Die volgende dag het Levi weer na Jesus gaan luister.  Sy behoefte aan verlossing het net groter en groter geword.  Maar daar was ook twyfel in sy hart.  Die geestelike leiers het hom uit die sinagoge gegooi omdat hulle hom as te sondig beskou het. Sal hierdie Jesus hom aanneem?

DIE SOEKE

Markus 2:14  “Toe Hy by die tolhuis verbygaan, sien Hy vir Levi seun van Alfeus daar sit, en Hy sê vir hom:  Volg My!”

Ek is so bly dat Jesus sondaars soek en red.  Ek is so bly dat ek nie deur my misdade vir Sy genade gediskwalifiseer is nie.

Daardie vorige nag moes Levi seker baie ernstig gebid het dat die Here in sy lewe moes kom.  Na baie ure se worstelling het hierdie ellendige sondaar homself onvoorwaardelik aan die Here oorgegee.

En daardie selfde nag het Jesus ook baie ure in gebed deurgebring.  Hy het totdusver nog net vier dissipels gehad.  Jakobus en Johannes, Petrus en Andreas.  Hy het na ‘n vyfde een gesoek.

En waar gaan soek Jesus die vyfde dissipel?  Vers 14  “Toe Hy by die tolhuis verbygaan, sien Hy vir Levi.”

Hy gaan roep hom by die tolhuis.  Die redding van sondaars was vir Jesus baie belangriker as die menslike opinies.  Hy was bereid om deur die samelewing geêtikiteer te word te einde ‘n sondaar te red.  En Hy stap vandag nog na die tolhuis van ons lewens en Hy roep ons na iets beters.  Hy roep ons om Hom te volg.

SIEN   THEOMAI

Dr. Lukas het ook vir ons hierdie belangrike verhaal opgeteken.  Kom ons hoor wat hy in hoofstuk 5:27 skryf:

“Daarna het Jesus uitgegaan en ‘n tollenaar met die naam Levi by sy tolhuis SIEN sit, en Hy sê vir hom:  Volg My.”

Lukas gebruik ‘n baie interessante woord wanneer hy sê Jesus het vir Levi GESIEN.  THEAOMAI kom van die Griekse woord Theatron.  Kan u raai wat theatron in Afrikaans beteken?  Teater.

In antieke tye was die teater die plek waar mense met die grootste aandag en bewondering na die opvoerings gekyk het.  Ek het talle van hierdie antieke amfiteaters besoek en die akoestiek is eenvouding wonderlik.  Jy kan ‘n stukkie papier skeur en elkeen op die trappe sal dit hoor.

Wat se soort kyk het Jesus vir Levi gegee?  Theaomai.  ‘n Teater kyk.  Een Leksograaf sê dat die kyk wat Jesus vir Levi gegee het met liefde, bewondering en begeerte gevul was.

VUIL KYK

Aan wat se kyke dink u was Levi aan gewoond?  Iemand betaal tien skekels aan die tolhuis.  Hy verwag vyf skekels kleingeld maar hy kry net een terug.  Hy stry oor die kleingeld maar is magteloos.

En daar is niks wat hy daaraan kan doen nie.  Al wat die verkulde man kan doen is om vir  Levi die vuilste kyk te gee wat hy kan.

Ek het noudie dag so ‘n vuil kyk gekry toe ek ‘n verkeersfoutjie gemaak het.  Sy het ook haar toeter vir ‘n taamlike lank ruk gedruk.  Wanneer laas het jy ‘n vuilkyk gekry of een gegee?

Levi hoor ‘n vriendelik stem.  “Volg My”.  Levi kyk op en hy sien die mooiste gesigsuitdrukking wat hy nog ooit in sy lewe gesien het.  ‘n Blik van liefde, bewondering en begeerte.

Wanneer die woord Theaomai in die Nuwe Testament gebruik word, dui dit altyd op ‘n blik van liefde, bewondering en ekstase.

In Markus 16:11 lees ons van Maria wat Jesus na Sy opstanding GESIEN het.  (Theaomai) Kan u haar gesigsuitdruk
ing sien?

Vol liefde, bewondering, ekstase begeerte.  Sy sit in ‘n teater en aanskou die grootste blyspel wat nog ooit afgespeel het, die Verese Jesus.

EERSTE DISSIPELS

Dis interessant om daarop te let dat Jesus hierdie selfde soort blik gegee het toe Hy Sy eerste twee dissipels geroep het.  Nadat Jesus gedoop is, het Johannes Hom as die Lam van god aangewys.

Twee mans het dit gehoor en Jesus begin volg.  Johannes 1:38 vertel vir ons wat toe gebeur het.

“Toe Jesus OMKYK (theaomai) en sien dat hulle Hom volg, vra Hy vir hulle:  Wat soek julle? en hulle het Hom geantwoord:  Rabbi   dit beteken leermeester   waar gaan U tuis.”
Twee ongepoleerde, ongeleerde vistermanne kyk na die mooiste blik wat hulle nog ooit in hulle lewe gesien het.  ‘n Blik wat sê:  Ek het julle lief.  ‘n Blik wat sê.  Ek bewonder julle.  ‘n Blik wat sê.  Ek begeer julle.

Van daardie dag wou Johannes en Andreas nooit meer sonder Jesus wees nie.  Sy blik het hulle harte verower.

PERSOONLIK

Het jy al ‘n menslike blik gekry wat jou hart verower het. Ek was in standerd vyf toe Marie Bezuidenhout my GESIEN het. Ek was bitter jonk maar ek sal daardie kyk nooit vergeet nie.  In haar oë was liefde, bewondering en begeerte.  Ek het destyds nie die Griekse woord vir so ‘n blik geken nie, maar vandag weet ek dit was Theaomai.

‘n Blik van liefde, bewondering en begeerte Dit was so oorweldigend dat ek dit nie kon hanteer het nie.  Om te dink dat haar pa die ryk man was wat die vellefabriek op Heidelberg besit het en sy kyk na my.  Ek wat so arm is en my pa is so arm hy werk op ‘n koeldrank lorrie.

JESUS SE BLIK

En u weet, dis ook hoe Jesus se blik is.  Hy, die Argitek, Skepper en Eienaar van die galaksies in die Kosmos, kyk na ons, arme, swakversorgde sondaars met die grootste liefde, bewondering en begeerte.  En Hy vra pleitend dat ons Hom in ons lewe toelaat.

Wanneer laas het u Sy mooi verlossingsblik raakgesien?  Dit het ‘n veranderende effek op ‘n mens se lelike natuur.

Net soos ‘n aardse bewonderingsblik ‘n mens se lewe verander, so verander ‘n hemelse vewonderingsblik jou lewe.

ESTER

Op negentienjarige leeftyd het iemand my weer raakgesien.  Dit was ‘n theaomai, daardie besondere blik van liefde, bewondering en begeerte.   Daardie blik het so ‘n geweldige impak op my adrenalienvlak gehad dat ek drie jaar later voor die kansel gestaan het.

Ek sien vandag nog daardie besondere blik in die truspieëltjie van ‘n Studebaken kar.  Om te dink dat Ester Roode my met soveel liefde, bewondering en begeerte raakgesien het.  Dit was oorweldigend.

‘n Klomp grys hare het die mooi bos bruinhare kom wegvat. Iets anders het die bloesende mooi jong wange kom wegvat.

Maar daardie kyk, daardie theaomai kyk, daardie teaterkyk van liefde, bewondering en begeerte kan niks wegneem nie.

Terwyl alles met tyd vervaag het daardie blik net duideliker en duideliker geword.

GODDELIKE

Vanoggend wil Jesus hê u moet opnuut Sy blik van liefde raaksien.  Hy wil hy hê u moet Hom op Golgotha sien.

Hy wil hê dat u opnuut Sy goddelike onverstaanbare bewondering vir jou as mens moet sien.

Vanoggend verlang Hy dat u opnuut sal sien hoe Hy begeer om u te besit.

OUTOBIOGRAFIE

Kom ons keer terug na Levi.  Ongeveer 40 jaar na hierdie onvergeetlike dag toe Jesus hom raakgesien het en hom geroep het, het hy gaan sit en die verhaal neergeskryf.

Hy is nou ‘n ou man.  sy gedagtes gaan uit na die mooitste ondervinding  van sy hele lewe en hy skryf die volgende in Mattheus 9:9”

“Terwyl Jesus daarvandaan verder gaan, het Hy ‘n man met die naam Matteus by die tolhuis sien sit en vir hom gesê:  Volg My!  Hy het toe opgestaan en Hom gevolg.”

NUWE NAAM

Kan u ‘n naamsverskil agterkom?  Watter naam het Markus en Lukas vir hierdie tollenaar gegee? Levi.  Maar hier waar Levi self die verhaal skryf, praat ny van homself nie as Levi nie, maar as
Matteus.  Warom dink u doen hy dit?  Waarom gebruik hy nou ‘n ander naam vir homself?

O, die Bybel is so vol goeie nuus en goeie troos vir die sondaar.

‘n Skelm tollenaar het in sy tollelaarshokkie gesit.  Die samelewing het hom as skuim verwerp.  Levi die swendelaar.  Pasop vir hom, bly weg van hom anders word jy met hom geassosieer.  Die naam Levi het ‘n lelike karakterkonnotasie gekry.

Maar toe stap Jesus op ‘n dag in sy lewe in en Hy kyk vir hom.  Wat ‘n blik van liefde, bewondering en begeerte.  Hy het nog nooit so iets ervaar nie.

En Jesus begin te praat.  Maar Hy praat nie met Levi die skurk nie.  Hy praat met Matteus.

Matthaios kom van die Aramees Mattai wat GESKENK VAN DIE HERE beteken.

Ek wens ek kon daar naby gewees het om Levi se reaksie te kon gesien het.  Kan u sy gesig sien straal.  Hy is nie meer die skelm, verworpe Levi van Kapernaum nie.  Nee, hy is nou Matteus, die GESKENK VAN DIE HERE.

HEMELSE NAAM

Ek is so bly vir die belofte van Openbaring 2:7 waar dit sê dat ons eendag nuwe name in die hemel gaan kry.  Daar is sekere mense wat nie so lekker voel wanneer hulle jou of my naam hoor nie.  Hulle het sekere negatiewe konnotasies aan ons name gekoppel. Maar binnekort gaan ek en jy splinternuwe name kry.  Ek sien daarna uit, wat van jou?

MATTEUS

Met trane in sy oë en die gebeurtenis vars in sy geheue, skryf Matteus “Terwyl Jesus daarvandaan verder gaan, het Hy ‘n man met die naam Matteus by die tolhuis sien sit en vir hom gesê:  Volg My.”

Hy vee ‘n paar trane af en skryf dan verder:  “Hy het toe opgestaan en Hom gevolg.”   Matteus 9:9

DIE FEES

Ek is so bly vir Matteus se besluit.  Ek weet nie wat ek sou doen as sy pragtige evangelie nie in die Nuwe Testament sou wees nie.

‘n Ruk na sy bekering het Matteus besluit om ‘n fees te hou.  Hy sou ‘n paar vriende uitnooi.  Wie dink u was sy vriende?  Nie die goeie mense van die dorp nie.  Kom ons lees in Matteus 9:10 wie hierdie spesiale gaste was.

“Jesus het by hom in sy huis gaan eet, en baie tollenaars en sondaars het saam met Jesus en sy dissipels kom eet.”

Wat ‘n partytjie.  Kan u sy Matteus se vriende sien.  Baie van hulle het alreeds op die voorblad van die Kapernaum Evening News vir beweerde bedrog verskyn.

En ‘n paar ander het weer op die agterblad van die Kapernaum Evening Post vir een of ander morele skandaal verskyn.  Party van hulle kon die polisie nog nie vir hulle misdade vastrek nie, maar almal het van hulle geskinder.

Ma’s en Pa’s het hulle kinders teen hierdie ooms en tannies gewaarsku en gesê dat as hulle nie gehoorsaam is nie, hulle net so sleg soos hierdie mense gaan uitdraai.

Kan u die prentjie sien?  Die spul skuim van Kapernaum met al hulle skuldkomplekse wat hulle onnatuurlik laat optree.  Hier en daar maak iemand ‘n grappie wat nou nie van die beste is nie.

Maar Jesus is daar.  Kan u sien hoe Hy tussen hulle deurstap en na hulle kyk soos wat Hy vir Matteus op ‘n dag gekyk het?
Hy neem die grootste skurk om die skouer en gesels met hom. Vir die vrou met die reputasie bring hy die mandjie droë vye.  Sy kan dit nie glo nie. “Hy is so rein en Hy praat met my en Hy offer my iets om te eet.”

Matt 9:11,12  “Toe die Fariseërs dit sien, vra hulle vir sy dissipels:  Waarom eet julle leermeester saam met tollenaars en sondaars?  Maar Jesus het dit gehoor en gesê:  Die wat gesond is, het nie ‘n dokter nodig nie, maar die wat siek is.”

DOKTER JESUS

Ek is so dankbaar dat Jesus vir siek mense gekom het.  Elkeen van ons het ‘n dodelike virus opgetel, die sonde virus.

En omdat ons immunienstelsel deur Adam se val verswak is, word ons baie vinnig siek.

Iemand kan ons partykeer net skeef aankyk, dan kry ons ‘n hewige koors van onsteltenis.

Is jy vanoggend ontsteld oor iets van iemand aan jou gedoen het?  Kyk in die vriendelike gesig van dokter Jesus.  In daardie blik is daar liefde, bewondering en begeerte.  In daardie blik is daar genesing.

Dit mag wees dat jy vanoggend met die dodelike griep van sondeskuld sit.  En saam met hierdie sondeskuld siekte, ly jou ook nog aan depressie.  In die blik wat Jesus ons wil gee is daar baie vergifnis.  Sy sondaarsblik het groot genesingswaarde.

Dit maak nie saak watter soort geestelike siekte u aan ly nie, daar is genesing by Jesus.  Kom ons kyk weer opnuut na Sy blik van liefde, Sy blik van bewondering, Sy blik van begeerte sodat ons kan genees.

DIE FEES

En wanneer ons die ervaring gehad het wat Levi gehad het, laat ons dan ook doen wat Levi gedoen het.  Hy het mense genooi om saam met Jesus te kom feesvier.  Kom ons bring mense na die weeklikse Sabbatfees. Kom ons gaan gee mense die glimlag van Jesus.  Die glimlag wat geen verwyt het het, nie glimlag wat nuwe moed gee.

e-pos Navrae na questions@amazingdiscoveries.co.za

Was this article helpful?

Related Articles