Maria Magdalena (Deel 10)

MARIA MAGDALENA – DEEL 10

Skriftuur: Johannes 12:4-7

Die verlossingsverhaal is ‘n aangrypende verhaal. Dit vertel hoe die God van blanke rein sterre na die swart vuil modder van ons planeet neergedaal het. Na my.

Die verlossingsverhaal vertel ons dat die moordende rit van ‘n triljoen-ligjare van die hemel na die aarde nie nie vir Jesus onntmoedig het ons kom red het nie.

Die evengelieverhaal vertel van die vernuftige herskeppingswerk wat die Skepper op menslike wrakke in die skrootwerf van hierdie planeet kom doen het. Na my toe.

In die verhaal van Maria Magadalena sien ons hoe Jesus die slegste vrou van die Nuwe Testament tot die reinste geestelike hoogtes verhef het.

Haar naam wat met vuil modderskande op die voorblad van hierdie lewe se koerant geskryf is, is met Jesus se bloed in die hemelse tydskrif van sondaarshelde oorgeskryf.

DIE VLES MET NARDUSSALF

Kom ons keer terug na die gebeure daardie spesifieke Saterdagaand in ‘n huis in Betanië. Maria het sopas die duurste fles nardussalf op Jesus se kop en voete uitgegooi.

Johannes 12:3 Toe het Maria ‘n halfliter egte, baie duur nardusolie gebring en dit op Jesus se voete uitgegiet en sy voete met haar hare afgedroog. Die hele huis is deurtrek met die geur van die reukolie.

Die reuk van kos maak plek vir die heerlikste aroma wat meeste van dardie gaste nog ooit geruik het.

Wie dink u sou die eerste wees om ‘n negatiewe aanmerking te maak? Judas.

Daar is nooit ‘n tekort aan mense wat negatief oor goeie dade reageer nie. Iemand het gesê: “Every good deed will be punished.”

As dit ons swakheid is, mag die Here ons help om die oorwinning oor hierdie vernietigende gewoonte te behaal.

Johannes 12:4,5 Judas Iskariot, een van sy dissipels, die een wat Hom sou verraai, sê toe: “Waarom is hierdie reukolie nie vir drie honderd silwermunstukke verkoop en die geld vir die armes gegee nie?”

Dit vat baie energie om mense se denke positief in te stel. Jy moet baie hard aan hulle werk. Daarenteen is dit baie maklik om mense negatief in te stel.

En dis presies wat Judas nou doen. Hy beïnvloed die ander dissipels om negatief teenoor Jesus te voel en om Hom te kritiseer.

Een vir een begin hulle agter Judas aan te praat:

“Waarom is hierdie reukolie nie vir drie honderd silwermunstukke verkoop en die geld vir die amres gegee nie?”

Terwyl die dissipels besig is om hierdie beswaar maak, kyk hulle met minagting na Maria.

Maria luister na die gedempte ondertone van kritiek. Sy is bang en onsteld. Sy weet dat haar suster Marta nie juis baie ooghare vir haar het nie is dis moontlik dat sy ook oor die sogenaamde verkwisting van die duur salf te velde gaan trek.

Sy was op die punt om stilletjies weg te sluip, toe Jesus vir haar in die bresse tree:

Johannes 12:7,8 Toe sê Jesus: “Laat staan haar. Sy moes dit hou vir hierdie dag om My te salf vir my begrafnis. Die armes het julle tog altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie.”

DRIE EMOSIES

Tydens hierdie Saterdagaand feesmaal, kry ons drie interessante emosies. Die eerste een is die van Maria Sy openbaar emosies van oneindige dankbaarheid omdat Jesus haar sondes vergewe het.

Tweedens kry ons ‘n interessante emosie by Jesus:

Hy ervaar emosies van vergenoegdheid omdat ‘n vergeefde, geredde sondaar soveel dankbaarheid teenoor Hom toon.

Judas, die tesourier, ken die waarde van die Nardus salf. Hy weet presies hoeveel geld hy by enige handelaar daarvoor sou ontvang.
Judas sit met emosies van selfsug en gierigheid. Waarom? Hy wou van die geld in sy eie beursie gehad het.

Waarom raak mense geldgierig? Dit kan ‘n vernietigende oefening wees. Die beste teenvoeter vir hierdie sonde is God se plan om ‘n gereelde tiendebetaler te wees.

Johannes 12:6 Dit het hy gesê, nie omdat hy hom oor die armes bekommer het nie, maar omdat hy ‘n dief was. Hy het die beursie gehad en het van die bydraes gevat.

JUDAS ISKARIOT

Ek weet nie hoekom nie, maar ek het so ‘n jammer gevoel vir Judas Iskariot. Hy kon een van die boeke van die Nuwe Testament geskryf het en eendag in die hemel gewees het. Maar.

Asgevolg van sy geldgierigheid het Judas nie net die seëninge van hierdie lewe verloor nie. Hy het ook die seëninge van die toekomstige ewige lewe verloor.

IRONIESE HUMOR

In die verslag oor Judas se aaklige opmerking oor die vermorsing van die duur Nardussalf, kry ons ‘n interessante stuk humoristiese ironie.

Wie was verantwoordelik vir Jesus se dood? Judas. Maar nou kla Hy oor die duur salf wat met die oog op Jesus se begrafnis aangekoop is.

Judas verklaar dat hy vir amre mense omgee. Feit is egter dat die enigste arm mens vir wie Judas werklik omgegee het, hyself was.

‘n Bietjie later daardie week op Donderdagaand, verlaat Judas die bovertrek waar Jesus en sy dissipels die pasga vier. Die dissipels dink dat hy die armes gaan help het. In werklikheid was hy besig om Jesus se dood te bewerkstellig en sodoende tog vir die armes te sorg.

Kom ons oorpeins vir ‘n oomblik die grootste positiewe ironie in die lewe van Judas.

Niemand het nog ooit ‘n groter geskenk aan die armes gegee as Judas nie. Hy het gesorg dat Jesus aan die kruis vasgenael word en daardeur het die geestelike armes van die wêreld ‘n onskatbare geskenk ontvang.

Kom ons lees weer ‘n keer hoe Jesus vir Maria in haar groot verleentheid bygestaan het:

Johannes 12:7,8 Toe sê Jesus: “Laat staan haar. Sy moes dit hou vir hierdie dag om My te salf vir my begrafnis. Die armes het julle tog altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie.”

Jesus sê ‘n baie belangrike iets:

Die versorging van die armes, hoe belangrik dit ookal mag
wees, is betekenloos wanneer dit nie in die konteks van die kruis gedoen word nie.

En, wanneer ek my kosbaarste gawe na Jesus bring, sal die armes nooit verwaarloos wees nie.

Maria het haar geskenk vir Jesus gebring terwyl die geleentheid daar was. As sy dit nie gedoen het nie, sou sy en ons, vandag baie armer gewees het.

DIE ONMIDDELLIKE EFFEK VAN DIE NARDUS SALF

‘n Mens wonder watter gedagtes alles deur Maria se kop geflits het toe sy daardie duur salf oor Jesus se voete laat vloei het.

Oorspronklik sou sy dit op ‘n lewelose liggaam uitgiet en Sy lyk daarmee gebalsem het. Nou kan sy dit doen terwyl Jesus nog daarvan bewus was. Sy het Hom as Koning gesalf.

Sy dink in haar enigheid:

“Die geur van hierdie duur nardussalf sou net tot ‘n donker grafkelder beperk gewees het. Maar nou kan Jesus dit ruik. Hierdie geskenk bring vir Hom meer as net ‘n aangename reuk. Dit bring ook vir Jesus, my Verlosser, die aroma van my liefde en geloof in Hom.”

Josef van Arimatia en Nikodemus het Jesus se lewelose liggaam daardie Vrydagmiddag van die kruis afgehaal. Ongelukkig was die koue lyk van Jesus onbewus van die duur salf waarmee hulle Hom behandel het.

Die twee manne moes ‘n knop in hulle keel gehad het toe hulle Jesus se liggaam na die graf geneem het.

Hulle kon sekerlik vir Hom baie meer eer en liefde tydens Sy lewe op aarde bewys het.

Dan was daar ook die vroue wat die Sondagmore vroeg na die graf gegaan het om Jesus se liggaam te balsem.

Dit was te laat. Jesus het intussen opgestaan en hulle het by ‘n leë graf aangekom.

Daar was net ‘n kort tydjie waarin mense vir Jesus kon goed wees. Die wat nie van die geleentheid gebruik gemaak het nie, het baie verloor.

DOEN GOED AAN JOU GELIEFDES TERWYL HULLE NOG LEWE

Ek en jy het die geleentheid om vir ons dierbare baie goed te wees. Ons het die geleentheid om ons nardus salf van waardering en liefde nou te bring terwyl hulle dit kan ruik en geniet.

Die geleenthede om vir mense goed te wees, is nie blywend nie. Wanneer die lykswa met die kis na die begrafplaas toe weg ry, is ons geleenthede om vir daardie spesifieke dierbare goed te doen, vir ewig verby.

AS EK TOG MAAR NET

Wanneer ek iemand begrawe, is daar altyd een iets wat die agtergeblewenes vir my sê:

“Ek wens ek het my pa meer male besoek. Ek wens ek het my ma meermale vertel hoe kosbaar sy vir my is. Ek moes my lewensmaat baie meer waardeer het. Ek wens ek was nie so hard op my kind nie. Ek wens ek kon vinniger vrede gemaak het. Ek wens ek het nooit daardie harde woorde gesê nie. Ek wens ek het mooier gepraat.”

DIE DAAD HET JESUS DEUR SY BEPROEWINGS GEDRA

Terwyl Jesus Donderdagaand, vyf dae later na donker Getsemane stap, het Maria se daad voor Sy gees opgedoem.

Terwyl Judas vir Jesus skandelik, en met ‘n skeinheilige soen verloën, het Maria se onselfsugtige salfwingsdaad en opregte soene op Sy voete voor Sy gees opgedoem. Dit het Hom bemoedig.

Terwyl die kwaai oë van Anna en Kajafas na Hom gekyk het, het Jesus Maria se liefdevolle, dankbare oë voor Hom gesien. Dit het Hom kalmeer.

Terwyl ruwe Romeinse soldate die spykers in Sy voete geslaan het, het Hy onthou hoe Maria Sy voete met nardussalf behandel het. Dit het Jesus aangespoor om die pyn te verduur.

Terwyl sy voete gebloei het, het Hy onthou hoe Maria hulle met haar trane benat en met haar hare afgedroog het.

VOORNEME

Dink julle nie ons kan vir mekaar net so ‘n klein bietjie meer liefde gee nie? Kan ons nie vir mekaar meermale sê dat ons mekaar waardeer nie?

Ons het die nardussalf van mekaar se mooi woorde en dade in hierdie tye ontsettend nodig. In hierdie ou lewe van stryd en twyfel en vrees is daar ‘n behoefte om die nardusgeur van omgee-mense se goedheid te ruik.

Kom ons breek die duurste vles van bemoedigende woorde op mekaar se seer koppe oop. Kom ons breek die duurste vles van onselfsugtige omgee-dade op mekaar se vermoeide voete oop.

MARIA SE DAAD

Terwyl Maria daardie Saterdagaand vir Jesus met die duurste Nardussalf gesalf het, het sy nie die implikasies daarvan goed begryp nie.

Toe Judas beswaar maak, kon sy nie mooi verduidelik waarom sy nou juis op daardie oomblik die daad gedoen het nie.

Die Heilige Gees het haar aangespoor, en Sy was gehoorsaam aan Sy stem. En wanneer die Heilige Gees vir jou en my aanspoor om ‘n goeie daad te verrig, kom ons doen dit al verstaan ons nie altyd presies wat ons doen nie.

Ons sal nooit, nooit, nooit, die gevolge van ‘n onselfsugtige daad aan iemand kan meet nie. Jesus sê dit is asof ons dit vir Hom gedoen het.

JESUS VERDUIDELIK MARIA SE DAAD

Kom ons gaan terug na die fees in Simon se huis. Jesus gaan weer praat. Luister mooi wat sê Hy:

Matteus 26:12 “Deur hierdie reukolie op my liggaam uit te giet, het sy My voorberei vir my begrafnis.”

Wat ‘n ontsettende diep gedagte. Jesus sê vir die feesgangers dat dit wat hulle so pas waargeneem het, vooruitwys na Sy dood en begrafnis.
Miskien het Jesus die gebreekte alabastafles in Sy hande geneem en vir die gaste gesê:

”Sien julle hierdie stukkende fles, binnekort gaan my liggaam deur kasthoue, vuishoue, spykers, ‘n doringkroon, ‘n spies, en die sondes van die wêreld gebreek word. Ek gaan sterf.

“Soos hierdie fles gebreek is, so gaan Ek ook gebreek word. Haar daad help my om Myself vir die kruisdood voor te berei.”

“Maar nadat hierdie fles gebreek is, het julle almal die welriekende nardussalf geruik. Dit was ‘n grootse ondervinding. Elkeen in hierdie hele huis kon dit ruik.

“Wanneer My verminkte, gekastyde liggaam uiteindelik aan die kruis deur die dood gebreek word, gaan iets soortgelyks gebeur as wat vanaand in hierdie vertrek gebeur het.

“Ek, die Fles, die Houer van die duur nardusevangeliesalf gaan op Golgota oopgebreek word. Die reddende aroma gaan die hele kosmos deurtrek. Die sondaar wat die evangeliereuk nie doelbewus verwerp nie, sal ruik en vir ewig lewe.”

Maria en die gaste luister aandagtig terwyl Jesus die simboliek van die gebreekte vles Nardussalf verduidelik.

Dit mag ook wees dat Paulus na hierdie voorval verwys, terwyl hy die volgende skryf:

Efesiërs 5:1,2 Wees dan navolgers van God soos geliefde kinders; en wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as ‘n gawe en offer aan God tot ‘n lieflike geur.

Wat ruik jy? Die stank van jou verlede? Wat ruik jy? Die slegte reuk van mislukkings?

Wat ruik jy? Die stank van onaangename, onbeskofde mense?

Ruik weer. ‘n Fles is op Golgota oopgebreek. Ons word genooi om die aroma van God se verlossende liefde te kom ruik.

MARIA KRY ERKENNING

Dis moontlik dat Jesus van die tafel opgestaan het en Maria aan die feesgangers voorgestel het. Baie van hulle het haar verlede geken. Baie van hulle wou nie juis iets met haar te doene gehad het nie.

Van die dames het besluit dat hulle mans nooit naby hierdie slegte vrou veilig sal wees nie.

En toe praat Jesus:

Matteus 26:13 Dit verseker Ek julle: Oral waar hierdie evangelie in die wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot ‘n herinnering aan haar.

Terwyl ons vandag na hierdie verhaal luister, vind ‘n profetiese vervulling plaas.

Ons hoor en ruik vandag wat Maria gedoen het.

Jesus het geweet dat die evangelie aan die hele wêreld verkondig sou word. Hy het geweet dat die Mariadaad met die evangeliedaad gekoppel sou word.

Die magtige antieke ryke van Babilon en Rome het gekom en gegaan. Die ink waarmee die magtige veroweraars se name geskryf het, het dof en onleesbaar geraak. Maar Maria se naam en daad leef onsterflik voort.

Mag die Here gee dat ek en jy baie meer onselfsugtige dade aan ons medemens sal doen. Dis die dade wat voortleef. En mag ons onthou dat watter goeie daad ons ookal aan iemand doen, ons dit vir Jesus doen.

Hy is nie liggaamlik hier nie, maar Sy skepsels is hier.

Mag ons toelaat dat die Heilige Gees die kruik van ons selfsugtigheid oopbreek sodat die geur van die onselfsugtige evangelie in die neusgate van moedelose sondaars sal opstyg en vir hulle nuwe moed gee.

Was this article helpful?

Related Articles