MARIA MAGDALENA – DIE INTOG IN JERUSALEM
Skriftuur: Matteus 21:1-5
Kom ons hoor wat met Jesus gebeur het nadat Maria Sy voete die Saterdagaand gesalf het. Ons gaan tree vir tree saam met Maria agter Jesus aanstap.
Matteus 21:1-3 Toe hulle naby Jerusalem kom, en Betfage aan die Olyberg bereik, het Jesus twee dissipels vooruit gestuur en vir hulle gesê: “Gaan na die dorpie daar reg voor julle, en net soos julle inkom, sal julle daar ‘n donkie kry wat vasgemaak is, en ‘n vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir My. En as iemand vir julle iets daaroor sê, antwoord dan: Die Here het hulle nodig, en Hy sal hulle gou weer terugstuur.”
Betanië, die dorpie waar Jesus die Saterdagnag oorgeslaap het, was aan die onderpunt van die Olyfberg.
Later die Sondagoggend het Hy en Sy volgelinge aan die oostelike kant van die Olyfberg na Jerusalem beweeg.
Na sowat drie kilometer se stap, het hulle by ‘n dorpie met die naam van Betfage aangekom.
Maria het Jesus daardie vorige aand as die komende Koning, die langverwagte Messias gesalf. Kom ons kyk of Jesus Homself met koninklike waardigheid gedra het.
Matteus 21:1,2 Toe hulle naby Jerusalem kom en Betfage aan die Olyfberg bereik, het Jesus twee dissipels vooruit gestuur en vir hulle gesê: “Gaan na die dorpie daar reg voor julle, en net soos julle inkom, sal julle daar ‘n donkie kry wat vasgemaak is, en ‘n vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir My.
Kan julle iets koninkliks in Jesus se optrede agterkom? Kan julle ‘n ander praatstyl agterkom?
Kom ons lees die volgende teks. Luister mooi of u iets koninkliks kan agterkom:
Vers 3 En as iemand vir julle iets daaroor sê, antwoord dan: Die Here het hulle nodig, en Hy sal hulle gou weer terugstuur.”
Vir die eerste keer gebruik Jesus die term HERE vir Homself. (Kurios) Tot dusver het Hy na Homself as die Seun van die Mens verwys.
Maria luister na die nuwe klanke wat die nedige Jesus maak. Dis koninklike klanke. Die duur Nardussalf waarmee Sy Hom gesalf het, was nie gemors nie.
Haar Verlosser is besig om die status en rol van ‘n Koning aan te neem.
Jesus vra nie toestemming om die donkie te kry nie. Net soos ‘n koning gee Hy opdrag dat hulle die dier moet kry.
Soos antieke konings eiendom en dienste aangevra het, so doen Jesus die ook tydens hierdie geleentheid.
Dis hoe ‘n koning praat. Hy is mos die eienaar en heerser oor Sy koninkryk.
ONGETEMDE DIER
In die evangelie van Markus lees ons dat geen mens nog op daardie donkie gery het nie. As jong seun het ons in die koeikamp gaan donkies ry. Dit was nie ‘n probleem om ‘n ou donkie te gery het nie.
Maar wanneer jy ‘n jong vulletjie probeer ry het, het jy nie baie lank bo gebly nie.
Kom ons lees die teks:
Markus 11:2 “Gaan na die dorpie daar reg voor julle, en net soos julle inkom, sal julle daar ‘n jong donkie vasgemaak kry. Geen mens het nog op hom gery nie. Maak hom los en bring hom hier.”
Vir die eerste keer na die dood van Adam wat mag oor die diereryk gehad het, staan daar ‘n tweede Adam op, ‘n koninklike Adam.
Hy bestyg ‘n ongetemde jong donkie waarop geen mens nog op gery het nie, en die dier onderwerp homself aan Jesus se koninklike gesag.
Maria sien hoe haar Verlosser as die Koning van die konings optree. Haar salwing van Hom as Koning was nie tevergeefs nie.
Sy herinner haarself daaraan dat Jesus op vorige geleenthede mense verhoed het om vir Hom koniklike waardigheid te bring. Maar hierdie Sondag more het Hy dit aangemoedig.
Jesus wou soveel publieke aandag as moontlik op Homself trek. Waarom? Sodat die duisende pasga-feesgangers oor vyf dae kon sien hoe Hy die Koning van genade, vir die onderdane van Sy koninkryk kom sterf het.
Hy het hierdie koninklike gebeurtenis toegelaat sodat die Golgota gebeurtenis groter publisiteit kon geniet.
Kom ons luister hoe Matteus Jesus se koninklike optrede profeties onderskraag:
Matteus 21:4,5 Dit het gebeur (Jesus se koninklike optrede) sodat die uitspraak van die profeet vervul sou word: “Sê vir Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe; Hy is nederig en Hy ry op ‘n donkie, op die vul van ‘n pakdier.”
Etlike eeue vantevore het die profeet Sagaria Jesus se in Jerusalemtriomftog in ‘n visioen gesien.
Wat ‘n merkwaardige vervulling van een van die meer as 300 Messiaanse profesieë!
Lukas 19:35 Toe bring hulle die donkie na Jesus toe. Daana gooi hulle van hulle klere op sy rug en help Jesus opklim. Terwyl Hy aanry, het hulle van hulle klere op die pad oopgegooi.
Maria Magdalena kyk hoe die mense hulle klere op die donkie se gooi. Sy kyk hoe Jesus met koninklike waardigheid op die donkie gehelp word.
Nadat die donkie begin aanstap het, het die mense hulle klere ook op die pad voor die donkie gegooi.
Maria kyk hoe al hoe meer mense by die koninklike prosessie aansluit. Die vorige aand toe sy Jesus se kop en voete gesalf het, het sy geweet dat Hy as koning uitgeroep sou word.
Dis baie moontlik dat die teks in Sagaria 9:9 by haar opgekom het. Dis moontlik dat Jesus die detaile van hierdie triomftog voor die tyd met haar gedeel het:
“Jubel, Sion! Juig, Jerusalem! Jou KONING sal na jou toe kom. Hy is regverdig en hy is ‘n oorwinnaar, hy is nederig en hy ry op ‘n donkie, op die hingsvul van ‘n donkie.”
Dit was ‘n pragtige lente dag. Die Messiaanse verwagting in die feesgangers se harte was ongelooflik groot.
Skielik begin die skare spontaan te sing:
Lukas 19:38 Hulle het gesing: “Loof die Koning, Hy wat in die Naam van die Here kom! Vrede in die hemel en eer aan God in die hoogste hemel.”
Met trane van blydskap sing Maria saam met die groot jubelende menigte. Wat ‘n voorreg om Jesus as die lang verwagte Messias en Koning te kon besing.
DIE AARD VAN DIE TRIOMFTOG
Wat dink u het Maria alles daardie Sondagoggend gesien?
Sy het die grootste segetog in die geskiedenis van die mensedom beleef .
In 722 vC. het die Assiriese koning Sargon II ‘n segetog na Nineve onderneem. Dit was nadat hy die tien stamme saam met hom in ballingskap geneem het.
Die trofeë wat hy daar aangebring het, was verslae Joodse ballinge.
Nebukadnesar het etlike segetogte na Bablion gelei. Die trofeë wat hy gebring het, was gevangenisse uit al die lande van die antieke wêreld.
Die boek die Koning van die Eeue gee vir ons die volgende verslag van Jesus se segetog na Jerusalem:
“Maar rondom die Heiland was die heerlike trofeë van sy liefdesarbeid vir die sondige mens. Daar was die gevangenes wat Hy uit die mag van die Satan gered het en wat God loof vir hulle verlossing. bld. 515
Maria was onder hierdie groep mense. Sewe keer het die Jesus die duiwel uit haar uitgedryf. Nou juig sy saam met baie ander wat dieselfde bevryding ervaar het.
Kom ons lees van nog trofeë wat aan hierdie segeprosessie deelgeneem het:
“Die blindes wat Hy laat sien het, het die weg aangedui. Ibid 515.
Wanneer mens die Olyfberg besoek, sien jy die pad wat vanaf Betfage kom. Dan kan jy met ‘n pad na die Kidronspruit daar onder stap. Daarna klim jy teen Moriaberg uit om by die tempel area te kom.
Die geneesde blindes het die skare op hierdie pad gelei. Maria sien hoe ‘n hele klomp geneesde blindes uitroep:
“Volg ons. Ons sal vir julle die weg na die tempel wys. Ons het vroeër in duisternis rondgetas maar nou kan ons sien. Ons loof en prys die Seun van God wat ons oë geopen het.”
Wie dink u het Jesus die luidste, die hardste, in daardie groot skare geloof? Kom ek lees dit vir u:
“Die stommes aan wie Hy hulle spraak gegee het, het die luidste hosannas geroep. Ibid. 515.
Wat ‘n onbeskryflike toneel! Blindes loop met stralende gesigte in die prosessie en hulle loof God uit volle bors. Stommes wat nooit voorheen intelligent kon gesels nie, loop en prys die Here.
By wie sou u sê, was die meeste liggaamlike aksies?
“Die kreupeles wat Hy genees het, het van vreugde gehuppel en was van die voorstes wat palmtakke afgebreek en voor die Heiland uitgewuif het. Ibid 515.
Wat ‘n skouspel! Miskien was sommige van hierdie geneesde kreupele uitermate akrobaties. As ek daar was sou ek self ook van uitbundige blydskap rondgespring het.
Ek sal my nie verbaas as die Fariseërs hierdie akrobate oor hulle sogenaamde verspottigheid aangespreek het nie.
Maar hierdie mense wat nou weer die gebruik van hulle bene en armes gehad het, kon nie help om hulle nuwe spierkrag ter ere van die Here te vertoon nie.
“Ons was verlam, maar Jesus het ons genees. Ons loof die Naam van ons Heelike Geneesheer. Ons loof die Naam van ons Koning en Verlosser.”
Die nuus van Jesus se triomtog na die tempel sprei soos ‘n veldbrand. Almal wat deur Sy almag aangeraak is, stroom na die prosessie.
Maria sien hoe mense uit alle rigtings aangehardloop kom. Hulle wil nie hierdie deelname aan eerbetoning vir Jesus misloop nie.
Die prosessie word groter en grote en groter. Die magtige klanke van lofsange ego deur die Kidron- en Hinnomvalleie. Wie nog dink u was in daardie segetog?
“Weduwees en wese het die Naam van Jesus vir Sy genadewerk geloof wat Hy in hulle verrig het. Die melaatses wat Hy gereinig het, het hulle onbesoedelde kledingstukke voor Hom uitgesprei en Hom as die Koning van die heerlikheid uitgeroep. Ibid 515
Een die geneesde melaatses wat sy onbesoedelde kledingstuk voor Jesus uitsprei, was Simon die fariseër. Hy het net die vorige aand tot bekering gekom, en hy kan nie ophou om Jesus vir ‘n dubbele genesing te loof en prys nie. Hy is van fisiese melaatsheid genees, maar ook van die dodelike sieke van sonde melaatsheid.
En nou kom ons by Jesus se merkwaardigste trofeë. Hierdie mense was die naaste aan Hom. Wie dink u kon hulle wees?
“Hulle wat deur Jesus se stem uit die slaap van die dood gewek is, was onder die skare. Lasarus, wie se liggaam in die graf begin ontbind het, maar homself nou in die fleur van sy lewe verheug, het die dier gelei op wie die Heiland gery het.” bl.515.
Jairus se opgewekte ou dogtertjie was daar. Kan julle haar gesiggie sien? Die weduwee van Nain se seun wat Jesus net voor sy begrafnis opgewek het, was daar.
Lasarus wat reeds vier dae dood was en al begin ontbind het, was daar. Hy lei Jesus op die donkie.
Wat ‘n skouspel!
Terwyl ek hieroor nagedink het, het my gedagtes na die wederkoms van Jesus uitgegaan.
Binnekort gaan ek en jy deel uitmaak van ‘n groot skare juigende mense. Ons was die blindes, die verminktes, die verlamdes, die stommes en die dooies.
Dink julle ons gaan op pad na Jerusalem sing en juig?
Ek glo ons segesang gaan sodanig wees dat die klankgolwe van dankbaarheid die hele kosmos gaan vul.
Ongevalle wêrelde wat ons styd op aarde gemonitor het, kan nie wag om ons lied van onbeskryflike dankbaarheid en geluk te hoor nie.
Ek wil in daardie ruimte optog sing. Wat van jou?
Kom ons lees verder in Matteus:
Matteus 21:8,9 Die grootste deel van die skare het van hulle klere op die pad oopgegooi, en ander het takkies van die bome afgebreek en dit op die pad gestrooi. Die mense wat voor Jesus geloop het en die wat agter Hom aan gekom het, het begin uitroep: Prys die Seun van Dawid! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!” Prys Hom in die hoogste hemel!”
Die Griekse grammatika sê hulle het net aangehou juig en juig en juig. En namate die ander feesgangers die lied gehoor het, het hulle begin saamsing.
Uiteindelik het die prosessie vanaf Betfage bo op die Olyfberg verskyn. Voor hulle was die pragtige tempel met sy spierwit marmermure. Die goue panele het dit een van die mooiste strukture van die antieke wêreld gemaak.
“Terwyl die laat son die hemele getint het, het sy heerlikheid op die suiwer wit marmer van die tempelmure weerkaats en op sy goudgekronde suile gevonkel. Van die hewel af waar jesus en Sy volgelinge gestaan het, het dit soos ‘n massiewe bouwerk van sneeu met goeue torinkies gelyk.” Koning van die Eeue, bl. 516
Wanneer mens oor die geskiedenis van die Olyfberg lees, ontdek jy ontsettende interessante feite.
Net voordat Nebukadnesar Jerusalem in die jaar 586 vC. verwoes het, het priesters die ark uit die stad geneem en gaan versteek.
En onthou God se teenwoordigheid, die sjekinaglorie, het tussen die twee beskuttende gerubs vertoef. Luister wat sê die profeet Esegiël vir ons:
Esegiël 11:23 Die magtige teenwoordigheid van die Here het uit die stad uit opgestyg en op die berg oos van die stad gaan staan.
Die simbool van God se heilige teenwoordigheid het vanaf die verbondsark na die Olyferg verskuif.
Indien argeoloë die ark eendag sou vind, sal God se heerlikheid nie meer daar skyn nie.
Jesus, die vleesgeworde glorie van God staan op die Olyfberg waar God se shekinaglorie net voor die eerste verwoesting van Jerusalem vertoef het. Jesus se optrede roep die Joodse leiers om terug te dink aan wat destyds gebeur het, en om hulle voor die tweede verwoesting van Jerusalem te bekeer.
Dit was ook vanaf hierdie selfde plek dat Jesus na Sy kruisiging na die hemel opgevaar het. Sagaria 14:4 sê vir ons dat die nuwe Jerusalem aan die einde van die duisend jaar op hierdie selfde plek gaan neerdaal.
JESUS SE INTOG IN DIE TEMPEL
Maria is nog steeds deel van die groot jubellende prosessie. Naby die poorte van Jerusalem was Jesus se vyande gereed om Jesus se gesag te bevraagteken.
Matteus 21:10,11 Toe Jesus in Jerusalem ingaan, het die hele stad in beroering gekom en gevra: “Wie is hierdie man?” Die skare het geantwoord: “Dit is die profeet Jesus van Nasaret in Galilea!”
Die “Koning van die Eeue,” bl. 519, sê die volgende aangaade die antwoord wat die dissipels gegee het:
Adam sal vir u sê: Dit is “Melgisedek, die koning van Salem,” die Vredevors (Genesis 14:18). Jakob sal u vertel: Hy is Silo uit die stam van Juda.
Jesaja sal u sê: “Immanuel,” “Wonderbare Raadsman, Sterke god, Ewige Vader, Vredevors.” (Jesaja 7:14; 9:5).
Jeremia sal vir u sê: Die Spruit van Dawid, “die Here ons geregtigheid” (Jeremia 23:6) Daniël sal vir u vertel: Hy is die Messias. Hosea sal vir u sê: Hy is “Here God van die leërskare, Here is sy gedenknaam” (Hosea 12:6).
Johannes die Doper sal vir u sê: “Die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Johannes 1:29)
Die Grote God het van Sy troon af verklaar: “Dit is my geliefde Seun, in wie Ek ‘n welbehae het” (Matteus 3:17)
Ons, sy dissipels verklaar: Dit is Jesus, die Messais, die Vors van die Lewe, die Verlosser van die wêreld.
En die vors van die magte van die duistenis erken Hom en sê: Ek ken U, wie U is: Die heilige van God!” (Markus 1:24)
En ek en jy? Wat sê ons van Jesus?
Markus 11:11 Jesus het in Jerusalem na die tempel toe gegaan en alles daar bekyk. Dit was al laat middag toe Hy en die twaalf weer na Betanië toe gegaan het.
Volgende keer stap ons verder saam met Maria terwyl sy op Jesus se voetstappe volg.