Maria Magdalena Deel 16)

MARIA MAGDALENA – Deel 16

Skriftuur: Matteus 28:1-10

Dis Vrydagmiddag laat. Die son is besig om met kwynende glans in die weste te sak.

Maria het sopas gesien hoe twee deftige lede van die Sanhedrin Jesus se liggaam van die kruis afhaal. Sy het saam met hulle na die graf gestap waar Jesus neergelê is.

Lukas 23:54-56 Dit was Vrydag, en die Sabbat het al begin aanbreek. Die vroue wat saam met Jesus van Galilea af gekom het, het saamgeloop en die graf gesien en gekyk hoe sy liggaam neergelê word. Daarna het hulle huis toe gegaan en reukolie en salf reggemaak. Op die Sabbatdag het hulle gerus soos die gebod bepaal.

Dit moes seker ‘n baie hartseer Sabbat vir Marta, Maria en Lasarus gewees het. Die vorige Sabbat was Jesus en Sy dissipels nog by hulle aan huis.

Hulle praat oor die groot fees wat Simon die vorige Saterdagaand ter ere van Jesus gegee het. Marta voel baie tevrede oor die disse wat sy aan die gaste voorgesit het.

Nou is hulle alleen. Hulle gesels oor hoe hulle Jesus die eerste keer ontmoet het. Hulle praat van die talle kere wat Hy hulle besoek het en die wonderwerke wat Hy verrig het.

Die opwekking van Lasarus was ‘n gebeurtenis waaroor hulle seker die meeste gesels het.

“Boetie Lasarus. Vertel ons weer ‘n keer hoe dit gevoel het toe Jesus jou opgewek het? Hoe was dit om te gesterf het?”

VERBAND TUSSEN DIE EERSTE VRYDAG EN DIE KRUISIGINGSVRYDAG

Ek wonder of Maria en haar dierbares die verband tussen die heel eerste Vrydag van die skeppingsweek en hierdie spesifieke kruisigings-Vrydag van die herskeppingsweek raakgesien het?

Aan die einde van die skeppingsweek, het die Skepper Sy werk teen Vrydag afgehandel. Toe die Sabbat met sononder aanbreek, is ‘n nuwe monument gebou. Dit was ‘n monument van tyd wat God se skeppingswerk herdenk het.

Maar na die skepping van ‘n mooi planeet en mooi sondelose mense het alles verkeerd geloop. Die mens het ‘n verkeerde keuse gemaak en so diep in die sonde geval dat hy homself nie daaruit kon kry nie.

Gelukkig was God nie onverhoeds betrap nie. Lank voor die skepping van die mens het die hemel ‘n plan van herstel uitgewerk, indien die mens in sonde so val.

God se plan om gevalle sondaars te herstel, kom van voor die grondlegging van die wêreld. En net die Here alleen kon met Sy herskeppingskrag die stukkende, magtelose mens kom heelmaak.

DIE VOLTOOING VAN DIE VERLOSSSINGSPLAN

Die implementering van die verlossingsplan het by die val van die mens in die paradys begin.

Die herskeppingswerk aan die gevalle mens is om 3 uur daardie spesifieke Vrydagmiddag voltooi.

Toe Jesus uitgeroep het, dit is volbring, het Hy vir God die Vader ‘n volmaakte Offer, ‘n volmaakte Mens gebring.

Jesus het finaal met die sondes van die mensdom afgereken. Asgevolg van Jesus se sterwe aan die kruis, het die gevalle mens nou vlekkeloos voor die Vader gestaan.

Dwarsdeur Sy lewe het Jesus momenteel rein, onbevlek en oorwinnend geleef. God die Vader was tevrede. Op Golgota het Jesus die sondeskuld wat ons aangegaan het, ten volle betaal. Ons slegte skuld is afgeskryf.

Toe Jesus uitroep: “Dit is volbring” het ‘n triomfkreet die heelal deurpriem. Engele en ongevalle hemelse wesens het gejuig want hulle het geweet dat die Satan se lot vir ewig beslis is.

Die hemele het gejuig want vir die heelal was vir die eerste keer in ‘n lang tyd weer ‘n veilige plek.

Die Sabbat toe Jesus in die graf gelê het, het die rusdag ‘n nuwer en dieper en troosvolle betekenis gekry.

Die heilige Sabbat sou voortaan ‘n addisionele dimensie hê: Dit sou ook die voltooide herskeppingswerk van Jesus herdenk.

Tans nooi die heilige instelling van die Sabbat die gevalle sondaar om in Jesus se verlossingswerk aan die kruis te kom rus. Vanaf daardie spesifieke Sabbat word sondaars geroep om Jesus se oorwinning oor die sonde aan die kruis te kom herdenk en verlossingsblydskap te kom vier.

Het Maria hierdie diep waarhede op daardie stadium waardeer en verstaan? Verstaan ek en jy dit ten volle?

DIE SABBAT NA DIE KRUISIGING

Indien Maria die Sabbat na die tempel toe sou gaan, sou sy ‘n baie bedrukte atmosfeer ervaar.

‘n Jong meisie lei haar blinde pa aan die hand.

“Verskoon my dame,” vra sy vir Maria. “Ons soek na Jesus want ons het gehoor dan Hy blinde mense weer kan laat sien. Waar kan ons Hom kry?”

Maria vertel vir hulle dat daardie genesende hande nou koud en styf oor Jesus se dooie liggaam gevou is.

Nog meer mense met siekes stroom na die tempel. Hulle kom met hoop, hulle draai om in wanhoop.

Die lydendes wat gekom het om deur Jesus genees te word, kon sterf van teleurstelling. Oral word die gehuil van die lydendes op die strate van Jerusalem gehoor. Sonder Jesus staar hulle nou ‘n gewisse dood in die oë.

Nog nooit was Jesus se afwesigheid so erg gevoel nie.

Die geweeklaag van die lydendes het duisende tot die oortuiging gebring dat ‘n groot lig in die wêreld uitgedoof is. Sonder Christus was die aarde donker. Baie wat saam geskreeu het: “Kruisig, kruisig Hom!” het nou besef watter ramp oor hulle gekom het en sou net so gretig geroep het: “Gee ons Jesus!” indien Hy nog geleef het. Die Koning van die Eeue, bld. 704.

Maria het die hartseer tempeltoneel verlaat en huistoe gestap.

Weer het die son in die weste gesak. Ek wonder? Het Maria die verband tussen die eerste Sabbat van die skeppingsweek en hierdie Sabbat van die herskeppingsweek raakgesien?

Twee Sabbatte, twee monumente, twee heilige tydspaleise gebou met stene van heilige ure. Twee Sabbatte wat die skeppings- en herskeppingskrag van die Here voorgestel het.

DIE BESOEK AAN DIE GRAF

Daar is tye wat ‘n mens nie maklik aan die slaap kan raak nie. Tye wanneer ontsteltenis baie swaar op jou gemoed druk.

Maria het bed toe gegaan met een alles oorheersende gedagte:

“More, dou voor dag, wil ek by Jesus se graf wees. Alles wat ek vir daardie koue liggaam kan doen, wil ek doen. Ek wil vir Hom die heel laaste eer bewys.”

Matteus 28:1 Na die Sabbatdag, toe dit die Sondagmôre begin lig word, het Maria Magdalena en die ander Maria na die graf gaan kyk.

DIE BESOEK AAN DIE GRAF

Ek glo nie Maria kon daardie Saterdagnag baie lank geslaap het nie. Dis donker toe sy wakker word en klaarmaak om graf toe te gaan.

‘n Mens wonder wat alles deur Maria Magdalena se gedagtes gemaal het toe sy daardie Sondagoggend die ongeveer 5 kilometers na Jerusalem gestap het.

Sy was die kampioen sondares van die Nuwe Testament. Nou stap sy met ‘n houer reukolie om Jesus, haar Verlosser se liggaam te gaan salf.

Terwyl sy so in die skemeroggend stap, dink sy hoe Jesus keer op keer die duiwels uit haar gedryf het.

Sy dink aan die keer toe die Fariseërs haar voor Jesus gesleep het. Hulle wou hê Jesus moes toestemming gee om haar vir haar owerspel te stenig, maar Hy het nie.

Sy sien nog duidelik hoe Jesus neerbuk en op die grond begin skryf. Sy het later uitgevind dat dit ‘n beskrywing van die Fariseërs se betrokkenheid by haar val was.

Jesus se woorde van verlossing en bevryding klink nog helder in haar ore: “Maria. Ek veroordeel jou ook nie. Maar jy moet asb. tog nie weer hierdie sonde doen nie.”

Die trane loop oor haar wange terwyl sy aan die mooi manier dink waarop Jesus haar sonde probleem hanteer het.

Naby die tempel sit sy die houer reukolie vir ‘n oomblik neer, rus so ‘n bietjie, vee die trane van haar oë af en stap dan weer vinnig in die rigting van die graf.

JESUS IN DIE GRAF

In ‘n donker graf wat met ‘n groot steen toegerol is, lê die lewelose liggaam van Jesus. Net buit die graf, staan daar ‘n Romeinse wag. Hierdie gespierde soldate is die room van die magtige Romeinse ryk. Hulle taak is om te sien dat Jesus nie uit die graf ontsnap nie. Of dat sy dissipels nie Sy liggaam sal kom steel nie.

Die soldate is daar op aandrang van die priesterhoofde en die Fariseërs. Kom ons lees daarvan:

Matteus 27:65 “Pilatus antwoord hulle: ‘Hier is vir julle ‘n wag, gaan beveilig die graf so goed as julle kan.’ Hulle het toe gegaan en die graf beveilig deur die klip te verseël en die wag daar te laat bly.”

Maar behalwe vir die magtige, dapper Romeinse soldate was daar nog iemand wat Jesus nie uit die graf wou laat ontsnap nie. Die duiwel met sy magtigste engele het ook die wag gehou.

VRAAG

Ek vra nou ‘n baie snaakse vraag: Het Jesus vir jou doodgegaan?

Ek het al met so baie stukkende mense gepraat wat nie meer in Hom glo nie. Toe hulle ideale gesterf het, het Jesus saam met hulle ideale gesterf.

Toe die lykswa van teleurstellings die mooi verwagtinge begrawe het, is hulle Jesus ook begrawe.

DIE DOOD VAN SY ENIGSTE DOGTER

Ek onthou nog die pa wat gesien het hoe sy enigste, pragtige dogter aan MS (multiple schlirosis) gesterf het. Toe daardie ou maer, uitgeteerde mensie sterf, het haar pa vir Jesus saam met sy kind begrawe.

So baie mense het Jesus in die graf van hulle verpletterde drome begrawe. Vir baie mense leef Jesus net so lank as wat hulle drome en ideale leef.
DIE DOOD VAN HAAR ENIGSTE SEUN

Ek onthou nog die vrou wat haar enigste seun verloor het. Hy was haar sonskyn en haar trots. Hy was ‘n briljante atoomfisikus.

Maar die dag toe hy asgevolg van ‘n skietongeluk dood is, het die Jesus wat sy gedien het, ook vir haar gesterf.

Ek sal die tannie se hartseer uitdrukking nooit vergeet nie. Die dood van haar seun het haar gees en haar Heiland doodgemaak en begrawe.

Het Jesus miskien vir jou doodgegaan? Het jy Hom saam met jou gestorwe hoop en verwagting begrawe? Sou jy Hom graag weer in jou lewe wil terughê? Sou jy graag weer ‘n vriendskap met Hom wil aanknoop?

DIE OPSTANDING

Dis die donkerste uur van Sondagnag. Dis die uur net voor dagbreek. Dit was ‘n donker uur in die harte van die dissipels. Dit was die donkerste uur in die hart van God en van die heelal.

Daar is tye wanneer dit ook vir ons baie donker word. Kom ons lees die verslag van die heerlikste blyste, gebeurtenis in die anale van die ewigheid:

Matteus 28:2-4 “Skielik was daar ‘n geweldige aardbewing. ‘n Engel van die Here het van die hemel af gekom, na die graf toe gegaan, die klip weggerol en daarop gaan sit. Sy voorkoms was so blink soos weerlig en sy klere so wit soos sneeu. Van skrik vir hom het die wagte gebewe en soos dooies geword.”

DIE TONEEL BY DIE GRAF

Ek wens ek was daar naby om die hele skouspel te sien.

Met groot opgewondenheid verlaat die engel Gabriël die teenwoordigheid van God die Vader. Hy is die magtigste van al die engele, die een wat Lucifer se plek geneem het.

Hy het aan Maria vertel dat Sy geboorte aan die lang verwagte Messias skou skenk.

Drie-en-dertig jaar gelede het Gabriël net so ‘n endjie daarvandaan by Betlehem, Jesus se geboorte aangekondig. Dit was ook nag soos nou. Tydens daardie besoek het hy aan die skaapwagters verskyn.

Nou spoed hy weer ‘n keer deur die ruimtes. Die helder strale van God se glorie verlig sy donker pad terwyl hy deur miljoene melkweë voortsnel.

Met ongelooflike akkuraatheid peil hy reguit op ons sonnestelsel af, toe na ons planeet en toe na Jerusalem waar Jesus in die graf lê.

Toe hy met oogverblindende heerlikheid voor die graf tot stilstand kom, is daar ‘n oorverdowende gerommel. Die aarde begin ruk en skud.

SLAAN OP DIE VLUG

Satan en sy engele gee so vinnig pad as moontlik. Die sterk Romeinse soldate val soos dooies op die grond neer.

Hulle kyk onder hulle arms deur en sien hoe die magtige engel Gabriël die groot rots voor die graf soos ‘n blaartjie wegrol.

En toe hoor hulle Gabriël se magtige engelstem:

“Seun van God, staan op! U Vader roep U.”

JESUS STAAN IN SY EIE GODDELIKE KRAG OP

Vir ‘n oomblik is daar doodse stilte. Sowel bose as goeie engele wag om te kyk wat nou gaan gebeur. Indien Jesus in enige opsig sou gefaal het, sou Hy nie opgewek kon word nie.

En as Jesus nie opstaan nie, het die mensdom geen hoop op die ewige lewe nie.

Terwyl Jesus geleef het, het Hy die volgende interessante voorspelling gemaak:

Johannes 10:17,18 “Die Vader het My lief omdat Ek my lewe aflê om dit weer op te neem. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit my eie af. Ek het volmag om dit af te lê, en Ek het volmag om dit weer op te neem…”

Tydens ‘n ander geleentheid het Jesus gesê:

“…Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig.” Johannes 2:19.

Wat gaan nou gebeur? Gaan Jesus opstaan? Die heelal wag!

Skielik sien die verskrikte soldate hoe Jesus in die opening van die oop graf verskyn. En dan roep Hy oorwinnend uit:

“Ek is die opstanding en die lewe!”

Wat ‘n onbeskryflike oomblik. Jesus het uit die dood opgestaan. Die klankgolwe ego die boodskap van gakalsie tot galaksie.

Die opstanding van Jesus gaan vir Maria die beste nuus wees wat sy nog ooit gehoor het. Hy jy dit al gehoor?

Sy loop en huil terwyl sy na die graf toe loop. Simbolies van jou en my. Maar sy gaan binnekort van blydskap juig wanneer sy van Jesus se opstanding hoor.

Die nuus van Jesus se opstanding gaan vir die klompie verslae dissipels later daardie Sondag die beste nuus in die hele wêreld word.

Terwyl hulle in moedeloosheid versonke is, het Jesus reeds opgestaan. Hulle gaan die nuus hoor, moed skep en met behulp van die Heilige Gees die goeie nuus aan die hele wêreld verkondig.

Mag ek u net weer herinner. Jesus is nie meer in die graf nie. Jesus het opgestaan. En mag ek u net weer herinner dat Hy op hierdie oomblik ons Hoëpriester is wat vir ons by die Vader intree.

En mag ek u net weer herinner. Die gestorwe, herrese Heiland is besig om gereed te maak om ons binnekort te kom haal.

Die slegte vrou van die Nuwe Testament was die eerste om hierdie opwindende boodskap te hoor en te verkondig.

Jesus is vandag nog steeds op soek na Marias om vir ander Marias van die vergewende Jesus te vertel. Om vir ander Marias te vertel dat Jesus opgestaan het.

Om vir ander Marias te vertel dat Jesus nie net uit die klipgraf opgewek is nie, maar dat Hy ook in sondaarsharte opgewek wil word.

Dis my begeerte om die goeie nuus van Jesus se opstanding en Sy spoedige koms te verkondig. Is dit ook jou wens.

 

Was this article helpful?

Related Articles