Maria Magdalena (Deel 13)

MARIA MAGDALENA – DIE REINIGING VAN DIE TEMPEL

Skriftuur: Markus 11:12-14

Duisende mense het die Sondagmiddag laat saam met Jesus by die tempelpoort aangekom. Die egos van die hosannes het ver in die Kidron- en Hinnomvalleie weerklink.

Nadat Jesus die tempel geinspekteur het, het Hy stilletjies tussen die skare verdwyn. Hy en Sy 12 dissipels is toe na Betanië.

Toe die 12 gaan slaap het, het Jesus Homself verskoon en die hele Sondagnag in gebed deurgebring. Vir wie dink jy het hy gebid? Vir jou. (Koning van die Eeue)

Hoe lank het jy al in gebed met die Here geworstel? Hoe belangrik is gebed vir jou?

MAANDAG

Vroeg die Maandagoggend het Jesus by die huis van Sy vriende, Marta, Maria en Lasarus aangekom. Hy was fisies uitgeput maar geestelike verkwik.

Daar was nie tyd om rustig saam met die dissipels te sit en eet nie. Jesus het nou in die skadu van die kruis geleef en daar was nog baie werk wat gedoen moes word.

Die bybel sê vir ons dat Maria Magdalena en sommige ander vrouens Jesus gereeld gevolg het. Kom ons lees aangaande ‘n baie interessante insident wat Maria die Maandag waargeneem het:

Markus 11:12,13 Toe hulle die volgende dag van Betanië af terugkom, het Jesus honger gekry. Hy sien toe op ‘n afstand ‘n vyeboom met blare aan en gaan daarheen om te kyk of Hy nie miskien ‘n vy daaraan kry nie…

Jesus het nie die oggend geëet nie. Dis net hy van die dertien mans wat baie honger was.
Jesus het honger gekry.

Jesus was ‘n mens met fisiese behoeftes net soos ek en jy. Hy was nie van liggaamlik pyn en ongemak gevrywaar nie. Hy was nie ‘n DOSATIS nie.

Maar buiten die fisiese knaende hongerpyn, was daar ‘n ander baie erger honger pyn. ‘n Honger na die vrugte van omgee by Sy uitverkore volk.
Gelukkig sien Hy ‘n vyeboom met baie blare. Maria en die 12 dissipels kyk hoe Jesus tussen die blare vir vye soek.

Markus 11:13 Toe hy daar kom, kry Hy niks nie, net blare, want dit was nie vyetyd nie.

Vir eeue het Jesus, die hemelse Lanbouer vye by die Joodse volk gesoek maar net blare gekry.

SKYNHEILIGHEID

Een van die moeilike dinge in hierdie lewe om te hanteer, is die skyn van heiligheid, die skyn van regverdigheid.

Ek staan by die OTM en sukkel want iemand het met hom gepeuter. ‘n Welmenende persoon, so het ek gedink, bied aan om my te help. Eers die volgende dag ontdek ek dat hy my besteel het.

Blare sonder vrugte is een van die afskuwelikste sondes.

Wanneer ek met my piramiede skema met die blare van beloftes van groot wins na jou toe kom, is dit vir jou baie moeilik om te glo dat ek nie vrugte van eerlikheid dra nie.

Pieta en Mariana. Muller uit die tronk.

Die vyeboom met blare sonder vrugte het die Joodse nasie voorgestel. Die ander vyebome sonder blare en sonder vrugte het die heidene voorgestel. Hulle het niks voorgegee nie. Hulle het gelyk net soos hulle was.

Markus 11:14 Hy sê toe vir die boom: “Van jou sal niemand tot in der ewigheid ooit weer vye eet nie.” Sy dissiples het dit gehoor.

Hulle sou die volgende dag, die Dinsdag weer ‘n keer dieselfde uitspraak hoor. Ons lees dit:

Matteus 23:13 “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! (Blare sonder vrugte) Julle sluit die deur van die koninkryk in die mense se gesig toe. Julle gaan self nie in nie, en julle verhinder die wat wel wil ingaan.”

Dis ‘n verskriklike stelling! Wanneer ek mense met leë beloftes mislei, gaan ek verlore. Maar die ergste van alles, ek kan ook die oorsaak wees dat iemand anders verlore gaan.

Luister na nog ‘n verskriklike oordeel wat Jesus die Dinsdag oor die Joodse nasie gevel het:

Matteus 23:38 “Kyk, nou word julle stad as puinhoop aan julle oorgelaat.”

DIE TUIN

Ek en jy staan vanoggend in die tuin van die Here. Hy het van Sy kant af alles gedoen om ons vrugdraende bome te maak. Hoe lyk ons vir Hom?

Sien Hy vrugte in my lewe? Of sien hy net ‘n klomp blare van mooi voornemens sonder vrugte?

DIE REINIGING VAN DIE TEMPEL

Terwyl Marta in haar huis in Betanië gewerk het, het Maria Jesus na Sy volgende bestemming gevolg.

Matteus 21:12,13 Jesus het tempel toe gegaan en al die mense wat op die tempelplein koop en verkoop, daar uitgejaag. Die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi en vir hulle gesê: “Daar staan geskrywe: ‘My huis sal ‘n huis van gebed wees,’ maar julle maak dit ‘n rowersnes.”

U sal onthou dat Maria vir Jesus die Saterdagaand as ‘n Koning gesalf het. Die Sondag het sy Jesus tydens die triomtog as die koning van die Jode sien optree. Op hierdie spesifieke Maandag sien sy Jesus weer ‘n keer in die rol van Messias-Koning.

Jesus praat van die tempel as “MY HUIS.”

Orals sien mens hoe die geld oor die vloer rol terwyl Jesus tafeltjies omgooi.

GODHEID FLITS DEUR MENSHEID

Maria sien hoe Jesus se Godheid deur Sy mensheid flits terwyl Hy die tempel reinig.

Weereens het die deurborende blik van Jesus oor die ontheiligde tempelhof gestrek. Alle oë was op Hom. Priester en owerste, Fariseër en heiden het verbaas en bevrees opgekyk na Hom wat voor hulle in die majesteit van die hemelse Koning staan. Die Godheid het deur die mensheid gestraal en aan Christus ‘n waardigheid en heerlikheid verleen wat Hy nooit tevore geopenbaar het nie. bld. 590.
Die manne met die baie blare en geen vrugte nie, vlug voor die Majesteit van die hemel.

Met Jesus in die tempel, is daar nie plek vir gierigheid nie. Die tempel was ontwerp om in die behoeftes van mense te voorsien en nie om hulle uit te buit nie. Op Engels sê ‘n mens dit raker:

The Temple had been ordained of God to serve man’s need not his greed.

Wat is daar in die tempel van my hart? Skemas om myself ten koste van ander te bevoordeel? Is my hartstempel vol tafels van selfsug en onregverdige wins?

Dis ‘n tragedie dat so baie onreëlmatighede in die naam van godsdiens gepleeg word.

Indien jy vanoggend met ‘n onheilige transaksie in jou sielstempel wil breek, is daar hoop.

Dieselfde Jesus wat destyds die aardse tempel gereinig het, is vanoggend hier om die tempel van ons harte skoon te maak.

Wat dink u sal gebeur wanneer selfsugtige sondaars toelaat dat Jesus hulle harte skoonmaak?

Kom ons hoor wat met die tempel gebeur het toe die selfsugtige swendelaars en Fariseërs uitgedryf is:

Matteus 21:14 Blindes en kreupeles het daar in die tempel na Hom toe gekom, en Hy het hulle gesond gemaak.
Die oomblik toe Jesus die tempel reinig, het die plek weer sondaarsvriendelik geraak.

Mense het na die tempel begin stroom. Bose selfsugtige elemente was uit en Jesus was nou in die tempel.

Nadat Jesus die tafels van selfsug in die tempel omgegooi is, het Hy die tempel met ‘n heilige atmosfeer van onselfsugtigheid gevul.

Die mense met ‘n behoefte aan Sy genesende aanraking kom nou met vrymoedigheid na die tempel. Wat ‘n genesingsessie het Maria nie daardie Maandagoggend aanskou nie!

Kan jy sien hoe kreupeles, blindes en verlamdes die tempel vul. Hulle kom met hulle pyn en verwerping. Jesus genees hulle en hulle verlaat die tempel met ‘n lied in hulle harte.

Wanneer Jesus my hartstempel van alle tafels van selfsug reinig, sal daar baie plek vir stukkende mense wees.

Alleenlik wanneer Jesus my hartstempel gereinig het, sal mense daarin tuis voel.

MENSE IN DIE TEMPEL VAN MY HART

Argeoloë het onlangs ‘n baie intessante ontdekking gemaak. Dis ‘n steen met ‘n Griekse inskripsie uit die tempel van Jesus se dag. Dit lui asvolg:

“Heidene mag nie die heilige aria van die tempel betree nie.”

Ek het die fonds in die argeologiese museum van Istanbul gekry. Terwyl die woorde lees, dink ek:

Is daar sekere mense, “heidene” wat ek doelbewus uit die voorportaal van die tempel van my lewe hou? Mense wat ek dink nie waardig genoeg is om my aandag en deernis te geniet nie?

As hierdie ding jou hinder, het ek goeie nuus vir jou. Hy is bereid om die tafels van eksklusiwiteit, vooroordeel en onverskilligheid te verwyder.

DIE KREUPELES

En wanneer Hy die tempel van my hart van die tafels van selfsug gereinig het, sal die kreupeles van die samelewing graag na die gereinigde tempel van my hart wil kom.

My hart sal so skoon, so vriendelik, so gasvry wees, dat die mens wat deur die teleurstellings van die lewe verlam geraak het, weer gaan moed kry om teen die steiltes van die lewenspad uit te loop.

DIE BLINDES

Wanneer Jesus die tempel van my hart skoonmaak, sal die blindes met hulle wit kieries graag die na my heiligdom van my binneste wil kom. Ek sal hulle nie meer wil uithou omdat hulle nie dinge sien soos ek dit sien nie.

Deur die aanvaarding van hierdie sogenaamde dom, blinde mense, sal ek vir hulle ‘n nuwe visie gee.

Die onselfsugtige lig van die Here wat in die tempel van my hart skyn, sal hulle blindheid genees.

Die eensame, huislose siek mense van die samelewing soek ‘n tuiste van aanvaarding en genesing in die tempelhospitaal van my hart.

OORWINNING

Maar nou sê jy vir my iets wat baie problematies is. Jy wil nie toelaat dat sekere mense wat jy vir goeie redes uitgejaag het weer in jou hartstempel moet inkom nie.

Pla dit jou? Die Psalmdigter Asaf skryf asvolg:

Psalm 73:21,22 Toe ek verbitter was en veronreg gevoel het, was ek dom en sonder insig; soos ‘n redelose dier het ek my teenoor U gedra.

Dis moeilik om iemand wat jou baie skade berokken het ‘n tweede of derde of tiende kans te gee.

Kom ons hoor watter oplossing daar vir ons in die woord van die Here is:

Verse 16,17 Daarom het ek diep nagedink om dit te verstaan en was dit vir my bitter moeilik totdat ek in die heiligdom van God ingegaan en besef het wat die uiteinde van die goddeloses is.

Fantastiese sielkunde. Kyk na sterfbed van jou vyand. het? Dis verskriklik om te sien hoe hierdie mense wat sterk was, uitgeteer en magteloos tussen die wit lakens van ‘n hospitaalbed lê. Jou haat verander in jammerte.

Moeilik mense wat nooit verkeerd was of nooit om verskoning gevra het nie, raak apologeties en sag wanneer hulle die argument ten opsigte van die werklikheid van die dood verloor.

In sy verbittering verplaas Asaf homself na God se heiligdom. Dis hier waar die ewige lot van elke mens bepaal word. Dis hier waar hy van die dood van die goddelose mens hoor.

En dan sien Asaf die tragiese einde van die mens wat doelbewus geweier het dat God hom ‘n mooi mens moes maak. Hulle dood is ‘n hartseer gebeurtenis.
Maar Asaf sien ook hoe die onboetvaardige sondaar uiteindelik in vlamme uitgewis word.

Kyk na God se tempel. ‘n Tempel waar daar hoop vir elke boetvaardige sondaar is. Maar in die selfde tempel word die onboetvaardige sondaar se keuse gerespekteer en hy is vir ewig verlore. Dis so tragies.

Wanneer ons die tragiese einde van die mens sien wat tans die lewe vir ons ondraaglik maak, raak dit makliker om hulle ‘n plekkie van simpatie, pleks van haat in ons hartstempel te gee. x 2.

Ons baklei dan nie met hulle nie. Ons is vir hulle jammer.

Beraam nou al planne om goed te wees vir jou vyand wanneer hy of sy eendag in die doodsvallei gaan steier en val. Daar gaan vir hulle ‘n dag aanbreek wanneer hulle nie meer met jou gaan baklei nie. Iewers vorentoe gaan hulle met die dood baklei.

VERLAAT DIE TEMPEL

Jesus se genesende krag wat daar in die tempel geopenbaar is, het ‘n spontane lied by die jongmense ontlok:

Prys die Seun van Dawid, Prys die Seun van Dawid!

Kom ons hoor wat Jesus gesê het toe hulle Hom oor hierdie lofbetuiging uitgevra het:

Matteus 21:16 Hulle sê toe vir Hom: “Hoor jy wat sê hulle daar?” “Ja,” antwoord Jesus. “Het julle nooit gelees nie: U het daarvoor gesorg dat kinders en suigelinge u lof sing?”

Jongmense stroom die gereinigde tempel binne en sing! Kan jongmense dit van jou en my hartstempel sê? Sing hulle in ons teenwoordigheid?

WIT HEMDE

Baie jare gelede het mans net wit hemde gedra. En toe op ‘n dag het ‘n jongman met ‘n rooi hemp vir my sussie kom kuier.

Ek en my broer het hierdie besoeker baie ontuis laat voel. Ons het enige hemp wat nie wit was nie as ‘n simbool van boosheid gesien.

Die musiek waarna ons geluister het was Del Delker en die King’s Heralds. (Ou uitgawes) Toe my sussie wat tien jaar jonger as ek was met Jim Reeves in die huis kom, het ek geglo sy is nou baie vinnig op die afdraende pad.

Met die jare het ek agtergekom dat die verkeerde handhawing van hoë en goeie standaarde met tye so veroordelend kan raak, dat ek jongmense uit my hart kan weggehou het.

Jongmense met bontklere en rewulosionêre gedagtes moet kan tuisvoel by my withemp sindroom en my styl outydse denke.

In die tempel van my hart speel ek die strelende musiek van Mozart, Mendelsohn en Bach. Maar jongmense wat op hierdie stadium van musiek hou wat aan Parkensonssiekte ly, ‘n ruksiekte, moet by my kan tuisvoel.

Miskien moet ons ouer mense toelaat dat Jesus ‘n paar tafels van anti-jongmenshouding uit ons hartstempels verwyder. Daar is miskien jongmense wat net daarvoor wag om in hierdie gereinigde tempels in te stap.

Ek is so dankbaar dat Jesus destyds die aardse tempel gereinig het sodat mense weer daarin tuis kon voel.

Ek is so dankbaar dat Hy vandag nog hartstempels reinig sodat mense in ons harte kan tuisvoel.

Matteus 21:17 Toe het Hy hulle verlaat en uit die stad uitgegaan na Betanië toe, waar Hy die nag gebly het.

Terwyl gelukkige, geneesde mense die Here in die tempel loof, het Jesus en Sy volgelinge daardie Maandagmiddag teruggestap na Betanië toe. Ek glo Marta het vir hulle ‘n heerlike ete gereed gehad.

En soos gewoonlik, het Maria weer by Jesus se voete gesit en luister. Dit was Jesus se laaste besoek aan hierdie huis met Sy gasvry mense.

Volgende keer luister ons na die boeinde verhaal van Jesus se Dinsdag-wedervaringe. My gebed is dat Hy vir ons net meer kosbaarder en kosbaarder sal word.

Was this article helpful?

Related Articles