Maria Magdalena (Deel 17)

MARIA MAGDALENA – ONTMOETING MET JESUS

Skriftuur: Markus 16:1-8

Dit was baie vroeg een Sondagoggend. ‘n Mens kon net die grou silohet van die pragtige tempel hier voor jou sien.

Die oggendskemer het nie toegelaat dat die bome hulle groen lentedrag vertoon nie.

Maria was op pad na die graf waar Jesus die Vrydagmiddag begrawe is. Sy wou met haar reukolie by Jesus se liggaam uitkom. Kom ons lees aangaande haar probleem:

Markus 16:2,3 Die Sondagmôre baie vroeg kom hulle by die graf aan net toe die son opkom. Hulle vra toe vir mekaar: “Wie sal vir ons die klip voor die ingang van die graf wegrol?”

Die vroue wat Jesus gevolg het, het uit verskillende rigtings na die graf aangestap gekom. Almal het met dieselfde probleem geworstel:

“Wie sal vir ons die klip voor die ingang van die graf wegrol?” Markus 16:2.

Vir hierdie vroue was daar ‘n baie groot probleem. “Wie sal vir ons die steen wegrol.”

Die Griekse grammatika sê dat hulle ‘n obsessie met die probleem gehad het. Hulle het dit oor en oor bespreek.

“Maria,” sê een van die vrouens, “hoe gaan ons daardie massiewe klip voor Jesus se graf wegrol? As hier nou net ‘n paar sterk mans gewees het, het ons nie ‘n probleem gehad nie.”

DENKBEELDIGE PROBLEME

En so loop die vrouens oor ‘n denkbeeldige probleem en top. Wat hulle nie besef het nie, is die feit dat hierdie spesifieke probleem nie meer bestaan het nie. Die klip was reeds weggerol en die graf was leeg.

So dikwels mors ons kosbasre tyd en lewenskragte om oor denkbeeldige probleme te gesels. Probleme wat nie eers meer bestaan nie.

Dit was regtig nie hulle probleem om oor die wegrol van die groot steen te bekommer nie.
Wat hulle eintlik moes doen, was om oor die beloftes van die opstanding te peins.

Oor en oor het Jesus beloof dat Hy die derde dag uit die dood sou opstaan. ‘n Mens kan nie glo dat hulle dit sou gou vergeet het nie. Kom ons lees net een van die baie beloftes:

Johannes 16:22 Net so is julle ook nou bedroef, maar as Ek julle weer sien, sal julle harte vol blydskap wees, en niemand kan julle blydskap van julle af wegneem nie.”

Duideliker kon Jesus dit nie gestel het nie. EK SAL JULLE WEER SIEN.

En hierdie belofte het nie net na die historiese opstanding van Jesus gewys nie.

Jesus verskyn elke keer aan ons nadat droefheid ons verniel het. En elke keer verdof Hy die pyn met goddelike blydskap.

En ek kan nie glo dat ons toelaat dat die moeilikhede van hierdie lewe die pragtige beloftes van ‘n opstanding uit ons ellendes so vinnig kan verdring nie. En tog gebeur dit.

Dis soveel heerliker en ontspannender om jou gedagtes met die mooi beloftes van die Woord te vul as wat dit is om jou oor die bekomernisse van die lewe te ontstel.

MARIA WAS EERSTE BY DIE GRAF

Wie dink jy, was eerste by die graf? Ek dink toe Maria naby die plek kom, het sy begin drafstap.

Kom ons lees aangaande haar ondervinding:

Johannes 20:1,2 Die Sondagmôre vroeg, toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf en sien dat die klip van die graf af weggerol is. Sy hardloop toe en gaan na Simon Petrus en na die ander dissipel toe vir wie Jesus baie lief was, en sê vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggevat, en ons weet nie waar hulle Hom nou begrawe het nie.”

TWYFEL

Dink u daar was twyfel in die dissipels se harte toe Maria vir hulle die nuus van die leë graf gebring het? Ja

Die kruisgebeure het alle hoop uit die dissipels se harte geban. Hulle was verslae.

Wanhoop het die plek van die beloftes van Jesus se opstanding ingeneem.

Maria pleit met hulle: “Asseblief. Kom kyk net na die leë graf. Julle kan tog niks verloor nie. Het iemand nie miskien Jesus se liggaam kom steel nie?”

Kom ons lees aangaande die dissipels se reaksies:

Johannes 20:3,4 Petrus en die ander dissipel het toe uitgekom en na die graf toe gegaan. Die twee het saam begin hardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en eerste by die graf gekom.

‘n Mens wonder watter gedagtes alles deur Petrus se kop gemaal het. Hy en Johannes hardloop. En kort op hulle hakke kom Maria aangehardloop.

Petrus het natuurlik alle hoop op homself opgegee. Dit wat Hy aan Jesus gedoen het, was te vreeslik om eers te dink dat hy vergewe moet word.

Naby die graf, skiet Johannes vir Petrus verby. Uitasem kom hy voor die graf tot stilstand.

Groot emosies hardloop deur hierdie drie mense se harte: Petrus, Johannes en Maria.

Hulle is met ‘n baie groot raaisel besig want hulle het Jesus se profesieë oor Sy opstanding vergeet.

Dieselfde geld nog steeds vandag. Wanneer ons die profesieë ignoreer, doem daar skielik baie raaisels op.

Kom ons hoor wat die Sondagoggend voor die leë graf gebeur het:

Johannes 20:5-7 Toe hy vooroor buk, sien hy die doeke lê, maar hy het nie ingegaan nie. 6 Ná hom het Simon Petrus ook daar aangekom, en hy het in die graf ingegaan. Hy sien toe die doeke daar lê, 7 ook die doek wat om Jesus se kop was. Dié doek het nie by die ander doeke gelê nie, maar was eenkant afsonderlik opgerol.

8-10 Daarna het die ander dissipel, wat eerste by die graf gekom het, ook ingegaan, en hy het dit ook gesien en geglo. Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie. Daarna het die dissipels weer huis toe gegaan.

Maria sien hoe die sensitiewe Johannes voor die graf vassteek. Hy loer binne en sien hoe Jesus se grafdoeke netjies opgevou is.

Petrus het ‘n ander soort geaardheid. Toe hy ‘n paar oomblikke later daar aankom, storm hy die graf binne.

Verleë staan Johannes buite die graf. Miskien het Maria hom aangemoedig om in te gaan.

“Johannes gaan asb. tog in en dan sien jy wat ek gesien het. Ek weet dis vir ons almal moeilik om te glo dat Jesus nie meer in die graf is nie. Stap gerus binne”.

Johannes 20:8 Daarna het die ander dissipel, wat eerste by die graf gekom het, ook ingegaan, en hy het dit ook gesien en geglo.

“Baie dankie Maria dat jy my aangemoedig het om die graf binne te gaan. Nou glo ek alles wat jy vir my aangaande die leë graf gesê het.”

JESUS VERSKYN AAN MARIA MAGDALENA

Maria kyk hoe die twee staatmaker, maar ongelowige dissipels by die graf wegstap.

Kom ons lees weer ‘n keer wat in hulle binneste aangegaan het:

Johannes 20:9 Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie. Daarna het die dissipels weer huis toe gegaan.

DIE TUINGRAF

Elke keer wanneer ek Jerusalem besoek, maak ek ‘n draai by die Tuingraf. Dis hier waar Jesus volgens oorlewering begrawe is.

Eerste indrukke is blywende indrukke. Ek sal nooit die eerste keer vergeet toe ek by die graf ingestap het het.

In my verbeelding het ek gesien hoe Sy liggaam in die koue klipgraf neergelê is.
In my verbeelding sien ek hoe Jesus vroeg die Sondagoggend opstaan. Ek sien hoe Hy versigtig die grafdoeke opvou en uit die graf uitstap.

In my verbeelding sien ek hoe Jesus Homself iewers in die tuin versteek. Hy is opgewonde. Hy kan nie wag om aan ‘n baie besondere persoon te verskyn nie.

MARIA HUIL

Kom ons lees wat alles gebeur het ndat Johannes en Petrus by die graf weg is:

Johannes 20:11 Maar Maria het buite by die graf bly staan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor gebuk om in die graf in te kyk.

Daar is niemand in die omgewing nie. Almal is weg. Maria wil nie weggaan nie. Sy staan en huil en huil.

Sy sit die reukolie neer en loer by die graf in. Tot haar grootste verbasing sien sy iets wat Johannes en Petrus nie gesien het nie:

Johannes 20:12,13 Toe sien sy twee engele met wit klere aan daar sit waar die liggaam van Jesus gelê het, een waar die kop en een waar die voete was. Hulle vra toe vir haar: “Mevrou, waarom huil jy?” Sy antwoord hulle: “Omdat hulle my Here weggevat het en ek nie weet waar hulle Hom nou begrawe het nie.”

Dis verbasend wat Jesus alles vir sondaars doen. Ons moet onthou dat ons hier met die kampioen van sondaars te doen het.

As mens destyds Spingbokklere vir die grootste sondaar kon verwerf, sou Maria gekwalifiseer het.

VISUELE DISTORSIE

Wanneer ‘n mens se oë vol trane is, ervaar jy visuele distorsie. Jy kan nie mooi fokus nie.

As Maria se oë nie so vol trane was nie, sou sy agtergekom het dat die twee mans in die graf, nie gewone mans was nie.

En ek dink. As ons oë nie so vol trane was nie, sou ons ook al engele gesien het wat uitgestuur is om ons te red.

Hebreërs 1:14 Is hulle dan nie almal geeste in diens van God, wat Hy uitstuur om die te dien wat die salgiheid gaan beërf nie?

Ons trane weerhou ons om engele te sien. Kom ons laat toe dat die Here met die sakdoek van die Heilige Gees ons trane afvee.

Trane veroorsaak visuele distorsie. Trane belemmer ‘n mens se fokus. Trane verhoed dat ons die mooi dinge raaksien wat ons moet raaksien.

JESUS IS WEGGENEEM

Terwyl Maria in die grafkelder staan, begin die engele met haar praat.

“Mevrou, waarom huil jy?” En Maria hoor die stem van die magtige engel Gabriël wat die plek van Lucifer in die hemel ingeneem het.

Ongelukkig het haar hartseer nie alleen haar sig belemmer nie, haar trane het ook haar gehoor aangetas.

Wat gaan Jesus doen om Maria te troos? Wat gaan Hy doen om haar trane vir ewig af te droog?

En wat gaan Jesus doen om ons trane te droog?

Johannes 20:14 Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en vir Jesus daar sien staan, maar sy het nie geweet dat dit Hy is nie.

Maria wag nie dat die twee engele klaar praat nie. Haar hartseer veroorsaak dat sy die troos van engele misloop.

Hartseer is ‘n baie ongesonde iets. Hartseer ontneem ons van baie seëninge.

JESUS SE HEEL EERSTE VERSKYNING EN GESPREK MET IEMAND NA SY OPSTANDING.

En nou kom ons by ‘n klimaktiese oomblik. Jesus gaan vir die eerste keer aan iemand na Sy opstanding verskyn.

Wie gaan dit wees? Kajafas? Nee. Pilatus wat Hom tot die dood veroordeel het? Nee. Sy dissipels? Nee. Aan Sy Vader en biljoene engele? Nee. Hy besluit om heel eerste aan ‘n bekeerde slet te verskyn.

Johannes 20:15 Jesus vra haar toe: “Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?” Sy het gedink dit is die tuinopsigter, en sy het vir hom gesê: “Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het, en ek sal Hom daar gaan haal.”

Wat ‘n vraag! “Waarom huil jy? Wie soek jy?”

Daardie vraag word deur die klowe van tyd tot hier by ons geëgo. “Waarom huil jy?” “Vir wie soek jy?”

Intiem. Persoonlik vra Jesus vanoggend vir jou en my: “Waarom is jy hartseer? Na wie soek jy?

MARIA HERKEN NIE VIR JESUS NIE

Dis Jesus wat aan haar verskyn, maar haar hartseer is so groot dat sy Hom nie herken nie.

Dis Jesus wat met haar praat, maar haar hartseer is so groot dat sy ook nie haar Meester se stem herken nie.

Is dit moontlik dat ons so verdrietig kan raak dat ons nie eers die stem van Here kan herken nie?

Die geesteswetenskaplikes sê vir ons dis baie gevaarlik wanneer ons toelaat dat hartseer kroniese raak.

Die antwoord wat Maria vir die sogenaamde tuinier gee, is baie irrasioneel. En dis ook wat hartseer aan ‘n mens doen.

Maar Jesus gee nie op met hartseer mense nie. Hy hou aan totdat ons Hom toelaat om ons trane af te droog.

“Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het, en ek sal Hom daar gaan haal.” Vers 15.

Maria praat voordat sy dink. Hoe dink sy sou sy Jesus se liggaam vrou alleen kon verwyder, waar dit ookal was. En dan, vrou alleen op ‘n ander plek sou kon gaan begrawe?

Miskien het sy Lasarus se familiegraf in gedagte gehad wat op die oomblik leeg was.

DIE TWEE GROOTSTE WOORDE

Jesus se liefde vir sondaars is hardnekkig en taai. Hy gee nie op voordat Hy ons intiem gevind en gered het nie. Hy doen dit oor en oor want ons dwaal en struikel oor en oor.

Johannes 20:16 Jesus het vir haar gesê: “Maria!” Sy draai na Hom toe en sê in Hebreeus vir Hom: “Rabboenie!” Dit beteken leermeester.

Net twee woorde maar wat ‘n ensiklopedie van emosionele en kognitiewe inhoud.

“Maria!” Die klankgolwe van Jesus se stemintonasie weergalm in haar hart en roep die grootste bewondering in haar op.

Dis nie die Tuinier van die Tuingraf hier voor haar nie. Dis die Tuinier wat die vuilgoed uit die tuin van sondaarshart uitgetrek het.

Dis die Tuinier van Eden wat in die akker van haar hart die rein saad van ‘n nuwe lewe kom plant het.

“Rabboenie!” roep sy met ‘n stem vol dankbaarheid. Dis musiek vir die Herrese Heiland.

OPROEP

Vanoggend roep die Herrese Heiland elke betraande sondaar op sy of haar naam. Hoor jy hoe Hy jou naam sê? Luister weer ‘n keer.

Kom ons reageer en roep: uit: Rabboenie!

Vir die mees gevalle sondaar van die dag gee Hy ‘n opdrag:

Johannes 20:17,18 Maar gaan na my broers toe en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God, wat ook julle God is.’” Maria Magdalena het toe vir die dissipels gaan sê: “Ek het die Here gesien!” En sy het ook vertel wat Hy vir haar gesê het.

Het die Tuinier aan jou verskyn? Het Hy jou op jou naam genoem? Het jy geantwoord: “Rabboenie!”

Gaan vertel vir ander mense dat jy Hom gesien het. Gaan vertel vir hulle wat Hy vir jou gesê het.

Was this article helpful?

Related Articles