Maria Magdalena (Deel 14)

MARIA MAGDALENA – DIE VERDROOGDE VYEBOOM

Skriftuur: Johannes 12:29-32.

Marta het vroeg die Dinsdagoggend opgestaan en vir Jesus en Sy dissipels ‘n heerlike ontbyt gegee. Min het sy geweet dat die laaste keer sou wees.

Soos gewoonlik het Maria weer saam met Jesus die nuwe dag ingestap. Wat het sy alles gesien, en wat het sy alles beleef.

In ons vorige preek het ons verneem hoe Jesus by ‘n vyeboom vol blare gaan vrugte soek het. Ongelukkig was daar net blare en geen vye nie.

Die beblaarde boom was ‘n voorstelling van die Joodse nasie wat net pretensies en geen vrugte gehad het nie.

Markus 11:14 Hy sê toe vir die boom: “Van jou sal niemand tot in der ewigheid ooit weer vye eet nie.”

Wat ‘n tragiese verhaal van ‘n geroepe, uitverkore volk. God het soveel mooi planne vir hulle gehad, maar hulle het Hom so bitter teleurgestel.

Die Here het net soveel hoë ideale vir jou en vir my. Hoe lyk my lewe? Is daar net blare en geen vrugte nie? Of is daar vrugte saam met die blare?

Kom ons hoor wat uiteindelik met die vyeboom gebeur het:

Markus 11:20 Toe hulle die volgende môre vroeg by die vyeboom verbygaan, sien hulle dat hy tot in sy wortels verdroog is.

Ons lees hier van die enigste negatiewe wonderwerk wat Jesus verrig het. Dit het presies binne 24 uur gebeur.

Miskien was Maria geskok. Die sagmoedige Jesus wat sy geken het, het skielik assertief opgetree.

Jesus wou vir die mense naaste aan Hom wys watter ontsettende haat Hy teenoor skynheiligheid gehad het.

Mag dit ook vir ons ‘n skok wees. Mag die Here ons help om nooit te veins nie.

AANVALLE DEUR DIE FARISEëRS EN SKRIFGELEERDES

Daardie hele Dinsdag het Maria gesien hoe die Fariseërs en Skrifgeleerdes vir Jesus aanval en slegsê.

Dit was met die grootste selfbeheersing dat Jesus daardie hele Dinsdag, van vroeg tot laat, met die hardnekkige Joodse leiers vasgesit het.

Ek glo dat Maria vir Jesus jammer gekry het terwyl Hy hoflik al hierdie aanvalle hanteer het.

In Matteus 23 lees ons hoe Jesus hierdie mense aanspreek:

Matteus 23:29 Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars!

Maria kyk diep in die oë van Jesus en sy sien ‘n geweldige hartseer. Jesus praat nie in woede nie, Hy praat in deernis.

Sy bemerk ‘n tikkie weemoed in Sy stem.

JESUS SE OPTREDE

Jy hoef nie baie oud te word voordat jy mense raakloop wat jou of skynheilig vlei of ongegrond kritiseer.

As daar iets is wat ‘n mens ontstel, dan is dit hierdie soort optrede teenoor jou. Hoe het Jesus dit hanteer.

Op bladsy 559 gee die boek die Koning van die Eeue vir ons die volgende insiggewende feite:

“Christus se verontwaardiging was teen die huigelary, die verregaande ongeregtigheid waarmee die mense hulle eie siele vewoes, die volk mislei en God ‘n oneer aangedoen het.

Wanneer iemand teenoor ons huigel en ons onregverdig behandel, raak ons opstandig. Jesus het besef dat sulke optrede die mens verwoes en dit het Hom onstel.

En hoewel Hy dit aangespreek het, was hy baie jammer vir die mens wat hierdie self-verwoestende sonde gepleeg het.

“In die bedrieglike, mooi klinkende redenasies van die priesters en owerstes het Hy die werk van sataniese magte gesien.

Hierdie setaat was vir my baie skokkend. Wanneer ek huigel, word ek eintlik deur die duiwel beheer. Mag die Here ons van hierdie sonde bewaar.

“Hy het die sonde skerp deurtastend aan die kaak gestel; maar daar was geen weerwraak in Sy woorde nie. Hy het ‘n heilige toorn vir die vors van die duisternis gekoester, maar Hy het geen vitterige, iriterende humeur geopenbaar nie. “ibid 559.”

Dis goddelike optrede om sonde by sy naam te noem sonder om woede te openbaar.

Wanneer laas het iemand jou aangespreek? Die moontlikheid is baie groot dat woede in daardie persoon se stemintonasie was.

En wanneer laas het jy iemand aangespreek? Jou vrou, jou kind of jou ouer? Watter soort stemintonasie het jy geopenbaar?

Kom ek lees hoe ons moet optree:

“So sal die Christen wat in harmonie met God leef en die lieflike hoedanighede van liefde en genade besit, ‘n regverdige verontwaardiging teenoor sonde koester; maar hy sal nie hartstogtelik opgesweep word om uit te vaar teen diegene wat teen hom uitvaar nie.” ibid 559.

Dis nie maklik om ‘n verkeede daad van die oortreder te skei nie. Pleks dat ons verontwaardig is teenoor die sondedaad wat die persoon gepleeg het, is ons kwaad vir die persoon.

“Selfs al kom hy te staan voor mense wast deur ‘n sataniese mag beweeg word om valsheid te verkondig, sal hy in Christus steeds kalm en selfbeheersd bly.

Ons het nodig om ‘n al hoe hergter verhouding met Jesus aan te kweek. Die vrug van die Heilige Gees wat selfbeheersing genoem word, moet tussen die blare van ons belydenis gesien word.

DIE TEMPEL VERLAAT

Wanneer ek Jerusalem besoek, maak ek seker dat ek oor groot area stap waar die tempel destyds gestaan het. Dis tydens hierdie besoeke dat ek baie diep nadink oor alles wat hier gebeur het.

Waar die Dome of the Rock tans staan, het die pragtige tempel vroeër gestaan. Dis hier waar Jesus een spesifieke Dinsdagoggend, 2000 gelede vir die laaste keer besoek het.

Hy het alles gedoen om die Joodse leiers se liefde te wen. Hy het dag en nag probeer om net vir hulle goed te wees.

Ek kyk na die blou mosaiek van die pragtige koepel van die rots, en ek dink:

Al wat Jesus van die Joodse nasie vir al Sy goedheid en liefdesdade gekry het, was afguns, agterdog, jaloesie, kritiek en verwerping.

Hoe lank moes Hy nog aanhou? Hy het vir meer as ‘n duisend jaar alles probeer wat goddelike liefde kon doen om die Joodse nasie te red.

Kom ons staan ‘n bietjie nader en dan kyk ons na Jesus se gelaat voordat Hy finaal van Sy volk afskeid neem.

‘n Goddelike ontferming en deernis straal uit Hom terwyl Hy vir oulaas na die tempel en die mense kyk. Sy gesig vertrek in pyn terwyl Hy met snikke uitroep:

Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar jou wou nie! Kyk, nou word julle stad as puinhoop aan julle oorgelaat.
Matteus 23:37,38

Met ontsettende pyn snik Jesus die laaste paar woorde uit. God se hart van ontsettende omgee was in Jesus se pynlike afskeidswoorde uitgestort.

BEëIDIGING VAN ‘N VRIENDSKAP

Was jy al deel van die hartseer oomblik waar twee mense van mekaar moes afskeid neem?

Het jy al vir iemand gaan sê dat jy jou vriendskap kom beëindig het?

Ek onthou nog die keer toe ek die telefoon opgetel het en vir haar gesê het ons vriendskap word beëindig. Dis troumaties.

En hier staan God die Vader in Sy Seun, Jesus Christus en beëindig ‘n verhouding met Israel van meer as ‘n duisend jaar.

Eeue van te vore kon die Here hierdie verhouding al verbreek het. Eeue van te vore het Hy gesien dat hierdie huwelik met Sy ontroue bruid nooit gaan uitwerk nie.

Eeue gelede wou Hy die breek maak, maar dis asof Goddelike liefde voor die pyn van afskeid gesteier het:

Hosea 11:8 Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? Hoe kan Ek jou vernietig…? Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk.

Eeue later het die breuk gekom toe Jesus daardie Dinsdag voor Sy kruisiging in die tempel gestaan het.

Terwyl ek op die tempelberg rondstap, dink ek aan daardie ontsettende troumatiese oomblik toe Jesus vir die laaste maal uit die tempel stap.

Toe Hy met sy dissipels daar uitgestap het, het God se teenwoordigheid vir ewig uit die tempel gewyk. Vanaf daardie oomblik het al die seremonies betekenloos geraak.

Matteus 23:39 “Maar Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat die dag kom wanneer julle sal uitroep: ‘Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!’”

DIE GRIEKE

Dit was met hierdie ontsettende troumatiese pyn van afskeid dat Jesus en Sy dissipels by die tempel uitgestap het.

Maar nou het daar ‘n ander toets vir Jesus gewag. Ek glo dat Maria ook deel van die volgende oomblik was.

Kom ons lees daarvan:

Johannes 12:20,21 Daar was ook ‘n aantal Grieke onder die mense wat fees toe gekom het om te aanbid. Hulle het na Filippus, wat van Betsaida in Galilea afkomstig was, getaan en vir hom gevra: “Meneer, ons wil Jesus graag ontmoet.”

TEENSTELLING

Wat ‘n teenstelling. Die Joodse leiers het Jesus sopas verwerp, en hier is Grieke wat Hom soek.

Twee interessante emosies wat Jesus ervaar. Een van verwerping en een van aanvaarding.

Baie geskeide mense het al ‘n baie groot fout begaan nadat ‘n lewensmaat hulle verwerp het. Iemand verskyn op die toneel wat so ‘n verwerpte aanvaar. Aanvaarding is vir hulle so fantasties dat hulle oorhaastig in ‘n nuwe verhouding stap.

Die versoeking was daar vir Jesus om die Grieke se aanvaarding aan te gryp en om Atene te gaan evangeliseer.

Hier was mense wat Hom naarstiglik wou hê terwyl Sy eie mense Hom verwerp het.

Johannes 12:27 Nou is ek diep ontsteld. En wat moet Ek sê: Vader, red My uit hierdie uur?

Wat ‘n interessante kykie in die emosies van Jesus. Waarom is Hy so ontsteld? Omdat die Grieke Hom aanvaar terwyl Sy eie mense Hom verwerp.

Hy is diep onsteld omdat hierdie mense Hom die skande, die pyn en dood van die kruis wou spaar en Hom op hulle hande wou dra.

Jesus is diep ontsteld as Hy dink aan die bloedsweet wat vir Hom in Getsemane voorlê. Die Seun van God is diep onsteld terwyl Hy aan die benoudheid van die tweede dood aan die kruis dink.

En toe doem ek en jy voor Hom op. As Hy saam met die Grieke Atene toe sou gaan, sou ek en jy vir ewig verlore wees.

Terwille van jou en my het Jesus Golgota bo Atene verkies.

As Hy nie aan die kruis sou sterf nie, sou ek en jy geen hoop op die ewige lewe gehad het nie.

Johannes 12:27 Nou is ek diep ontsteld. En wat moet Ek sê: Vader, red My uit hierdie uur?

Soos wat Jesus twee dae later in Getsemane gebid het dat die Vader Hom moet help om kruis toe te gaan, so bid Hy ook hier vir die krag en genade om kruis toe te gaan.

Ongelukkig was daar nie ‘n ander plan behalwe die kruisdood waardeur ek en jy gered kon word nie.

Kom ons luister na die res van Jesus se gebed en hoe die Vader hierop gereageer het:

Johannes 12:27,28 Maar juis hiervoor het ek gekom, vir hierdie uur. Vader, verheerlik u Naam!” Toe het daar ‘n stem uit die hemel gekom: “Ek het my Naam verheerlik, en ek sal dit weer verheerlik.”

Die Vader se stem was op twee vorige geleenthede ook gehoor: tydens Jesus se doop in die Jordaan (Matteus 3:17) en op die berg van verheerliking. (Matteus 17:5).

JESUS SE DOOP

Wanneer mens versigtig na Jesus se doop kyk, sien jy dat dit op Jesus se dood, begrafnis en opstanding wys.

Jesus se voorneme by Sy doop om vir die sondes van die wêreld te kom sterf, was so belangrik vir die Vader dat Hy Sy goedkeuring verbaal laat hoor het.

JESUS SE VERHEERLIKING OP DIE BERG

Terwyl Jesus op ‘n hoë berg gebid het, het Moses en Elia met Hom kom praat. Waaroor? Oor Sy komende kruisdood in Jerusalem.

Weer het Jesus ingestem en is die stem van die Vader gehoor:

“Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug.” Matteus 17:5

DIE KOSTE VAN DIE VERLOSSINGSPLAN

Sal ons ooit kan bereken watter koste daar aangegaan is om ons van ons sondes te kom verlos?

Sal ons ooit die liefde van God die Vader vir ons kan begryp? Elke keer wanneer Jesus in krisis oomblikke aangedui het dat Hy gewillig was om vir die mensdom te kom sterf, het die Vader Sy stem van goedkeuring laat hoor.

THE LOVE OF GOD

The love of God is greater far, than tongue or pen can ever tell.

It goes beyond the hihest star, and reaches to the lowest hell.

Could we with ink the ocean fill, and were the skies of parchment made; were every stalk on earth a quill, and every man a scribe by trade, to write the love of God above would drain the ocean dry; nor could the scroll contain the whole, tho stretched from sky to sky.

DIE REAKSIE VAN DIE MENSE

Kom ons lees aangaade die reaksie van die mense wat die stem uit die hemel gehoor het:

Johannes 12:29-32 Die mense wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat daar ‘n donderslag was. Ander het gesê: “’n Engel het met hom gepraat.” Toe sê Jesus: “Hierdie stem het nie om my ontwil gekom nie, maar om julle ontwil. Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld; nou sal die owerste van hierdie wêreld, die Satan, uitgegooi word buitentoe. En as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek.”

Dis laat die Dinsdagmiddag. Jesus is moeg en uitgeput. Dit sou baie gerieflik gewees het as Hy weer by Betanië kon gaan rus het.

Maar ongelukkig moes Hy Judas se planne fnuik wat Hom due aand daar wou arresteer. Maria groet haar Koning Jesus en stap alleen huistoe.

Wanneer mens die Olyfberg omgewing besoek, kan jy na ‘n grot gaan kyk. Volgens oorlewering is dit hier waar Jesus dikwels gaan slaap het.

Eendag in die hemel sal ons na Jesus se verhaal oor daardie spesifieke Dinsdagnag kan luister.

Die Bybel vertel nie vir ons wat Jesus die Woensdag gedoen het nie. Persoonlik glo ek dat Hy die ure in gebed deurgebring het.

Volgende keer gaan ons hoor wat Maria alles aangaande Jesus se laaste paar uur voor Sy dood beleef het.

Was this article helpful?

Related Articles