Maria Magdalena (Deel 11)

MARIA MAGDALENE – SIMON SE GEDAGTES

Skriftuur: Lukas 7:39-43

Ons is terug in die huis waar Marta die gaste bedien. Maria het sopas ‘n albaste flessie baie duur reukolie op Jesus se kop en voete uitgegooi.

Die reuk van duur salf styg in die neusgate van die feesgangers op. Die verwytende woorde van Judas val op almal se ore:

“Waarom is hierdie reukolie nie vir drie honderd silwermuntstukke verkoop en die geld vir die armes gegee nie?” Johannes 12:5.

SIMON SE REAKSIE

Kom ons fokus vir ‘n oomblikkie op Simon die Fariseër. Hy is die een wat die fees têr ere van Jesus gegee het. En ons moet in gedagte hou dat Simon ‘n trotse man van status was.

Daar het sopas twee dinge gebeur wat die feestelike stemming en die waardigheid van die geleentheid aangetas het.

Maria wat hier voor hulle voete met onbesonnenheid duur salf op Jesus se kop en voete uitgegooi het, en Judas se snedige, sarkastiese opmerking oor die verkwisting van geld.

Sonder om dit te kan verhelp, reageer ‘n mens op prikkels wat toegedien word. Hoe ons die inligting interpreteer en dan prosesseer, is natuurlik ‘n perd van ‘n ander kleur.

Twee mense kan na dieselfde insident kyk en met twee verskillende vertolkings daarvan vorendag kom.

“Two men behind te bars, one saw mud, the other stars.”

Mag die Here ons help om dit wat om ons gebeur en met ons gebeur met behulp van Sy Woord en die Heilige Gees versigtig en korrek te interpreteer.

Judas kyk na wat Maria doen, en hy vererg homself.
Jesus kyk na wat Maria doen, en dit verbly sy hart. Simon kyk na wat sy doen, en dit irriteer hom.

Kom ons hoor wat in sy binneste aangegaan het:
Lukas 7:39 Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, sê hy by Homself: “Hy, as hy ‘n profeet was, sou tog geweet het wie en watter soort vrou dit is wat aan hom raak, dat sy ‘n sondares is.”

Simon het baie goeie maniere gehad. Hy het nie sy ontsteltenis met grammatikale diaria bekendgemaak nie. Maar as jy hom fyn dopgehou het, sou jy aan sy lyftaal ‘n fieserige ontsteltenis opgetel het.

Sy houding het Jesus veroordeel.

Vers 40 Maar Jesus spreek hom aan en sê: “Simon, Ek het iets om vir jou te sê.” “Meneer, sê maar!” antwoord hy.

Kan jy die hoflike Fariseër hier langs Jesus in sy leunende posisie by die tafel sien? Hy steek sy hand uit en neem ‘n droë vy terwyl hy vir Jesus beleefd vra om maar gerus te gesels.

Maar in sy gedagtes maal dieselfde veroordeling teenoor Jesus:

“Hy, as hy ‘n profeet was, sou tog geweet het wie en watter soort vrou dit is wat aan hom raak, dat sy ‘n sondares is.” Lukas 7:39.

Wanneer mens die grondteks raadpleeg ontdek jy iets skokkends. Simon het op hierdie oomblik tot die oortuiging gekom dat Jesus nie die Profeet, die Messias was wat hy verwag het nie.

En waarop het hy dit gegrond? Omdat Hy gedink het dat Jesus nie haar verlede kon lees nie.

“Hy, as hy ‘n profeet was, sou tog geweet het wie en watter soort vrou dit is wat aan hom raak, dat sy ‘n sondares is.” Lukas 7:39.

DIE VERHAAL

Kom ons kyk net weer vlugtig na die agtergrond van hierdie verhaal.

Simon die Fariseër het Maria in sonde gelei. Dit het haar genoop om die huis te verlaat. Die skande was te groot.

Jesus het haar in Galilea raakgeloop waar sy net dieper en dieper in die sonde weggesink het.

En hoe slegter sy geword het, hoe harder het Jesus probeer om haar van Sy vergewende optelliefde te oortuig.

Simon was nie van Jesus se betrokkenheid by Maria se verlede bewus nie.

Ons weet nie op watter stadium Simon melaats geword het nie. Hy is uit die gemeenskap geban en dit het hom verder van die verwikkellinge van tussen Jesus en die mense van Betanië geisoleer.

JESUS GENEES SIMON

Iewers in die Judese woestyn het Simon die Fariseër na genesing verlang. Hy was ‘n onbekeerde man. Hy het nie na die genesing van sy sondige hart verlang nie, hy het net na fisiese genesing gesoek.

Maar die God van hemel en aarde soek nie net na mense wat ‘n behoefte aan geestelike genesing het nie, mense wat Hom aanneem nie. Hy soek ook na mense wat Hom nie soek nie. Mense wat Hom nie wil aanneem nie.

Dit mag wees dat Jesus vir Simon die Fariseër nog in daardie selfde week genees het. Daar was nie tyd om al die nuus oor Maria se doen en late te hore te nie.

Hy sou dit ook nie waag nie want Marta, sy vrou het beslis nie belanggestel om weer oor ‘n seer, skandelike saak te praat nie.

En hier, tot sy grootste verbasing en tot sy grootste ontsteltenis, stap hierdie immorele Maria die vertrek binne. En die manier waarop sy Jesus se voete soen, lyk dit vir hom asof sy by Jesus aanlê.

Kan jy verstaan waarom Simon opgetree het soos hy wel opgetree het? Hy het in die moeilikheid by Maria geraak. Hy wil nooit weer met haar iets te doen hê nie.

En sowaar. Jesus laat hierdie slet toe om Sy voete te was. Hy dink by homself: “Jesus moet Sy kop laat lees.”

“Hy, as hy ‘n profeet was, sou tog geweet het wie en watter soort vrou dit is wat aan hom raak, dat sy ‘n sondares is.” Lukas 7:39.

WIE IS DIE SKULDIGSTE VAN DIE TWEE

Ek wil jou ‘n vraag vra. Wie van die twee was die skuldigste: Simon of Maria?
Simon natuurlik. Wanneer ‘n berader en sy kliënt by mekaar betrokke raak, beskou die wet hom as die senior venoot in die saak. Hy dra die meeste skuld.

Dieselfde geld vir ‘n predikant en sy lidmate. In enige saak dra hy die meeste skuld.

Simon die Fariseër wat die Bybel beter as die jong Maria geken het, het beter geweet.

Lukas 12:47 En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en nie klaargemaak of volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word.

JESUS SE TAK

Jesus wou Simon vir die koninkryk wen. Die heel eerste iets wat hy moes doen, was om vir Simon te oortuig dat hy ‘n baie groter sondaar as Maria was.

Simon wat gedink het dat Jesus nie ‘n profeet was nie sou binne oomblikke uitvind dat Jesus baie meer as net ‘n profeet was.

Jesus was die Seun van God wat gekom het om sondaars op ‘n meesterlike wyse te red.

Lukas 7:41-43 Jesus sê toe: “Twee mense was in die skuld by ’n geldskieter. Die een het vyf honderd rand geskuld en die ander een vyftig. Omdat hulle niks gehad het om mee te betaal nie, het hy die skuld vir albei kwytgeskel. Wie van hulle sal hom die meeste liefde bewys?” Simon antwoord: “Ek veronderstel dié een vir wie hy die meeste kwytgeskel het.” “Jou antwoord is heeltemal reg,” sê Jesus.

Ons het hier met ‘n gelykenis te make wat oor die waardering vir die seëninge van verlossing handel.

Die gelykenis is op die volgende fundamentele beginsel gebaseer.

Die waardering vir seëninge ontvang, hou verband met die intense behoefte aan daardie seëninge.

Hoe dorser ek is, hoe meer sal ek ‘n koue glas water geniet. Hoe hongerder ek is, hoe lekkerder gaan die kos smaak.

Dis net wanneer ek tydens krisisse by die plek kom waar ek besef dat ek totaal van God se hulp afhanklik is dat ek Sy uitkoms kan waardeer.

Voordat ek nie by hierdie plek gekom het nie, sal ek op my eie krag en planne vir uikoms wil staatmaak.

SOOS MET DAVID

Soos wat die profeet Natan vir Dawid deur middel van ‘n gelykenis probeer help het om sy skuld te besef, so het Jesus ook met Simon te werk gegaan om sy sondeskuld te besef.

Simon moes self ontdek dat sy sondes baie erger as die van Maria was. Net soos wat die R500 groter as die R50 was.

Vers 42 Omdat hulle niks gehad het om mee te betaal nie, het hy die skuld vir albei kwytgeskel. Wie van hulle sal hom die meeste liefde bewys?”

Die Heilige Gees was besig om met Simon se hart te praat. Stadig maar seker begin ‘n sondebesef die Fariseër se gemoed teister.

Die een wat net R50 geskuld het kon moontlik nog, indien hy tyd gegun word, sy skuld afwerk. Maar daar was geen manier waarop die een wat R500 geskuld het, dit kon afwerk nie.

Die teks sê hulle het niks gehad om te betaal nie.

Ek en jy het ook geen geregtigheid van ons eie om ons ongeregtigheid mee af te betaal nie. Ons kan God se vergifnis koop nie.

Dit was destyds die gebruik dat wanneer iemand nie sy skuld kon betaal nie, hy tronk toe moes gaan.

En dit geld ook vir jou en my se sondeskuld. As ons dit nie met Jesus se geregtigheid gaan betaal nie, sal ons in die tronk van ewige verlorenheid opgesluit word.

Vers 43 Simon antwoord: “Ek veronderstel die een vir wie
hy die meeste kwytgeskeld het.”

Ek wonder of Simon besef het dat hy ‘n oordeel oor homself gevel het?

SKULD BESEF

Een van die grootste geskenke wat ons van die Here kan ontvang, is ‘n skuldbesef. Eers dan kan ons vir hulp gaan aanklop.

Vers 44. En Hy draai na die vrou toe om en sê verder vir Simon: “Sien jy hierdie vrou? Ek het in jou huis gekom-en jy, water vir my voete het jy My nie gegee nie, maar sy, met haar trane het sy my voete natgemaak en met haar hare het sy dit afgedroog.

Alhoewel Jesus na Maria kyk terwyl Hy praat, rig Hy nogtans Sy boodskap tot Simon.

Terwyl Simon en die ander mense in die vertrek Maria verag het, begin Jesus haar nou te vereer. En nou begin Jesus vir Simon op ‘n taktvolle manier aanspreek.

In die Grieks kry ‘n mens ‘n baie interessante aksent

“Water, het jy my nie gegee nie!”
“’n Soen, het jy my nie gegee nie!”
“Olie, het jy my nie gegee nie!”

Jesus is besig om op ‘n meesterlike manier met Simon se hart te werk.

Dit gaan nie hier oor pligte wat Simon versuim het nie maar eerder oor gunste wat Jesus van Maria ontvang het.

Dit wat Maria vir Jesus gedoen het was nie vir haar ‘n plig nie. Sy het dit uit die oorvloedige liefde en dankbaarheid van haar hart gedoen.

Vers 45 ’n Soen het jy My nie gegee nie, maar sy het vandat sy hier ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie.

Simon het ‘n rukkie vante vore gesien hoe Maria Jesus se voete soen. Hy het eers nie verstaan nie, maar nou het Hy. Sy het Jesus se voete uit dankbaarheid gesoen omdat hulle haar kom opsoek het.

Vers 46 My kop het jy nie eens met olie gesalf nie; sy het my voete met reukolie gesalf.

Simon het nie eers moeite gedoen om Jesus met goedkoop olie te salf nie. In teenstelling daarmee het Maria die duurste olie ter wêreld gebruik en Jesus se voete daarmee gesalf.
Jesus is besig om vir Simon te wys hoe sy eie hart lyk en hoe Maria se hart lyk.

WAARDERING

Jesus was besig met Simon. En Jesus is ook besig met jou en my.

Hy was besig om vir Simon te wys hoeveel geleenthede hy gehad het om sy waardering teenoor Jesus uit te spreek.

Het Simon vergeet dat Jesus hom van sy melaatsheid genees het?

Het Simon vergeet dat die beroemde Rabbi van Galilea die uitnodiging na Simon se huis aanvaar het? Hy was bo miljoene ander vereer.

Met delikate hoflikheid, dog baie duidelik, het Jesus Sy volgelinge laat verstaan dat dit Sy hart bedroef wanneer hulle nalaat om hulle dankbaarheid in woord en daad te wys.

En dit is wat Jesus ook vanoggend vir ons wil sê. Hy is vir ons baie goed. Hy het ons baie sondes vergewe. Hy het vir ons soveel bewyse van Sy liefde oral langs die lewenspad geplaas.

Wat dink jy kan ons vir Hom doen om vir Hom baie dankie te sê.

MIN WAARDERING

Simon se kilheid en verwaarlosing van die Heiland het getoon hoe min waardering hy gehad vir die genade wat aan hom bewys is.

Hy het gedink hy het Jesus vereer deur Hom na sy huis te nooi. Maar nou het Simon gesien hoe Simon werklik lyk.

Hy het gedink hy het Jesus sy gas opgesom. Maar nou ontdek hy dat Jesus hom opgesom het.

Hy besef nou dat Maria ‘n vergeefde sondaar was en hy ‘n onvergeefde sondaar.

Die onverbiddelike reël van geregtigheid wat hy op haar wou toepas, het hom nou veroordeel.

Jesus was besig om die hart van ‘n Fariseër te verower.

As ek en jy miskien skeinheilig soos Simon is, wil ek net sê: Daar is hoop vir ons.

Jesus spesialeer daarin om vir ons berou oor die subtielste sondes te gee en ons dan te vergewe.

Vers 47 Ek sê vir jou, omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde.

Maria het opgetree soos sy opgetree het omdat haar sondes al voorheen vergewe was. Wanneer ons besef hoe kosbaar vergifnis is, sal ons lewens dit meer prominent vertoon.

NIE OPENLIK BESTRAF NIE

Simon se hart is deur Jesus se teerheid aangeraak. Die Meester kon sy skeinheiligheid en sy owerspel met Maria voor almal ontbloot het, maar hy het nie.

Jesus het hom nie behandel soos wat hy wou hê Maria behandel moes word nie.

Luister na hierdie pragtige setaat uit die Koning van die Eeue, bl. 509.

‘n Krasse veroordeling sou Simon teen berou verhard het, maar ‘n geduldige vermaning het hom van sy fout oortuig. Hy besef watter geweldige skuld hy aan sy Here verskuldig is. Sy hoogmoed is verneder, hy het hom bekeer, en die trotse Fariseër eht ‘n nederige, selfopofferende dissipel geword.

Mag die Here vir jou en my help om mense nie met woorde van veroordeling te verwoes nie.

Mag Hy ons help om mense taktvol te help om insig in hulle probleme te kry, en hulle sondoende tot bekering lei.

Was this article helpful?

Related Articles