Maria Magdalena (Deel 2)

MARIA MAGDALENA – DEEL 2

Skriftuur: Johannes 8:3-11

In die vorige preek het ons met Maria Magdalena begin kennis maak. As daar destyds ‘n “Guines Books of Records” was, sou hulle haar as die immoreelste vrou van die eeu beskryf het.

Eers raak sy met ‘n Fariseër deurmekaar. Toe gaan bly sy in Galilea. Daar het sy haar so aan die sonde oorgegee dat sy later duiwelbesete geraak het.

Ten spyte van die feit dat die samelewing haar afgeskryf het, het Jesus vir haar omgegee en haar probeer red.

‘n Studie van Jesus onvermoeide, energieke bemoeienis met haar, is ‘n bron van hoop vir elke moedelose sondaar.

Kan u nog onthou hoeveel keer Jesus die duiwels uit slegte Maria gedryf het?

Lukas 8:2 “Daar was Maria, bekend as Magdalena, uit wie sewe duiwels uitgegaan het…”

Jesus se betrokkenheid by Maria Magdalena het in die herfs van die jaar 29 nC. plaasgevind. Nadat Jesus die duiwel vir die sewende keer uit haar gedryf het, het sy saam met ‘n paar ander vrouens ‘n volgeling van Hom geword.

Sowat ‘n jaar later, in die herfs van 30 nC. is Jesus terug na Judea en Jerusalem. Maria het alleen agtergebly. Wat sou van haar word?

DIE VROU WAT IN SONDE BETRAP IS

Die verhaal waarna ons nou gaan luister het ongeveer vier maande voor Jesus se besoek aan Marta, Maria en Lasarus plaasgevind. Die vorige preek het daaroor gehandel.

Terwyl Hy een oggend by die tempel die mense begin leer het, het ‘n groep geestelikes daar opgedaag:

Johannes 8:3 Die skrifgeleerdes en die Fariseërs bring toe ‘n vrou wat op owerspel betrap is, en laat haar in die middel van die kring mense staan.

Jesus het skaars begin om die mense te leer, of ‘n paar onbeskofde geestelikes versteur die verrigtinge.
Hulle stamp ‘n vrou tot in die middel van die groep mense. Met geveinsheid begin hulle beskuldigend te praat:

Vers 4,5: Hulle het vir Hom gesê: “Meneer, hierdie vrou is op heter daad betrap waar sy owerspel gepleeg het. Moses het ons in die wet beveel om sulke vrouens te stenig, maar u, wat sê u?”

Ons kry die skok van ons lewe toe ons sien dis Maria Magadalena wat hulle hier aansleep. Sonde skuld staan duidelike op haar gesig geskryf. Is dit moontlik dat sy weer in sonde kon terugval nadat Jesus haar sewe keer verlos en vergewe het?

Is dit moontlik dat ‘n vrou wat ‘n dissipel van Jesus geword het, weer ‘n keer so laag kon val? Wat maak Jesus met ‘n sondaars wat oor en oor in die grofste sonde val?

Vers 6 Dit het hulle gevra om Hom uit te lok, sodat hulle iets kon kry waaroor hulle Hom kon aankla. Maar Jesus het gebuk en met sy vinger op die grond geskrywe.

Met Sy goddelike vermoëns kyk Hy dwarsdeur hierdie skynheiliges. Dis hulle wat haar in sonde gelei het. Nou probeer hierdie skurke Jesus in ‘n strik lei.

Die Fariseërs wag ongeduldig dat Jesus vir hulle moet antwoord. Gelukkig het Hy Sy teregwysing op ‘n baie sagter manier oorgedra.

Bedagsaam buk Hy af en begin met Sy vinger in die stof te skryf. Dis net die geleerdes wat die vrou daar aangebring het wat kon lees wat Jesus geskryf het.

Moet skynheiliges openlik bestraf word? Jesus se voorbeeld sê nee. Daar is ander maniere waarop dit gedoen kan word.

Wanneer ‘n mens Jesus se optrede teenoor sondaars ontleed, maak jy ‘n versommende ontdekking. Jesus was vir skeinheiliges wat Maria in sonde gelei het net so lief as vir Maria. Hy het alles in Sy vermoë gedoen om verskillende sondaars van hulle sondes te red.

Deur Jesus se taktvolle daad waarin Hy nie die sondes van die aanklaers publiek maak nie, het Hy hulle deur liefde probeer red.

Kan u vir Jesus sien terwyl Hy op die stowwerige klipvloer van die tempel skryf. Die geleerde sondaars leun vorentoe en lees die volgende woorde:
“Die wet bepaal dat die wat hierdie vrou in sonde gelei het, saam met haar gestenig moet word.”

As ek en jy daar naby gestaan het, sou ons die skokuitdrukking op hulle gesigte gesien het. Hulle normale kleur verdwyn en hulle word doodsbleek.

Vers 7-9 Toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: “Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi. Daarna het Hy weer gebuk en op die grond geskrywe. Toe hulle hoor wat hy sê, het hulle een vir een begin wegloop, die familiehoofde eerste. Jesus is alleen agtergelaat saam met die vrou daar in die middel van die kring mense.

Dis die enigste plek in die Nuwe Testament waar ons lees dat Jesus geskryf het. Die beskuldigdes sien hulle geheime sondes in duidelike Hebreeuse skrif in die stof van die tempelvloer.

Nadat hulle die volle inhoud van Jesus se boodskap gelees het, daag Hy hulle uit om die eerste klip te gooi. Stilletjies loop hulle ongemerk een vir een weg.

Verse 10,11 En toe Jesus Hom oprig en iemand sien behalwe die vrou nie, sê Hy vir haar: Vrou, waar is daardie beskuldigers van jou? Het niemand jou veroordeel nie? En sy antwoord: Niemand nie, Here, En Jesus sê vir haar: Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie.

Wanneer ek na die manier kyk waarop Jesus met elke liewe sondaar, staan ek absoluut verstom. Hy het net soveel vir die Skrifgeleerdes en Fariseërs omgegee as vir die slet waarmee hulle Hom in ‘n strik wou lei.

Hy sê eintlik vir hulle.

“Die letters van julle laakbare sondes wat ek nou hier op die grond neerskryf, sal oomblikke later deur ‘n ligte windjie weggewaai word. Wil julle My nie asseblief toelaat om julle lelike sondes met die wind van My liefdevolle vergifnis weg te waai nie?”

Toe sy Jesus se stem hoor wat sê dat Hy haar nie veroordeel nie, het Sy in trane uitgebars en voor Sy voete neergeval.

Nadat Jesus haar van haar sonde vrygespreek het, het Hy vir haar gesê om nie weer te sondig nie. Jesus het nooit wet en genade van mekaar geskei nie. ‘n Ruk later het Jesus aan die kruis van Golgota in Maria se plek gesterf.
Hy het die klippe van dood wat haar moes vernietig toegelaat om Hom te vernietig.

Luister hoe beskryf die “Koning van die Eeue” hierdie vrou se reaksie op Jesus se behandeling:

“Die boetvaardige vrou het een van Sy getrouste volgelinge geword. Sy vergewende genade het sy met selfopofferende liefde terugbetaal.” Bl. 416.

‘n Bepeinsing van Jesus se onbeskryflike sondaarsliefde maak ‘n mens se hart sag en lei jou tot bekering en gehoorsaamheid.

UITNODIGING

Het jy so ‘n tikkie skeinheiligheid in jou? Is jy foutfinderige, krities en veroordelend?. Dieselfde liefdevolle, vergewende Jesus wat slette en Fariseërs gehelp het is is vanoggend hier om ons te help.

Hy wil jou vlugtig aan jou sondes herinner en dit dan met die Wind van Sy vergewende Heilige Gees wegwaai.

Wil jy Hom nie toelaat om dit vir jou te doen nie?

Sit jy met die Maria-sindroom. Sterk op die regter hemisfoor van romantiese verbeeldingsvlugte?

Ek het goeie nuus vir jou. Dieselfde Jesus wat vir ‘n sondares gesê het: “Ek veroordeel jou nie” en die oordeel toe later op Homself geneem het, sê dieselfde woorde ook vir jou.

Aanvaar Sy vryspraak. En dieselfde Jesus wat vir die vrou gesê het om dit nie weer te doen nie, sê ook vanoggend vir jou om dit nie weer te doen nie. Hy sal jou die krag gee om die versoekings te weerstaan.

Wat is jou antwoord?

MARIA TREK BY MARTA EN LASARUS IN

Wanneer presies Maria weer by haar suster Marta ingetrek het, weet ons nie.

Die twee susters moes baie beslis ‘n lang gesprek gevoer het voordat Maria ingetrek het. Hoekom?

Maria se naam het gestink. Nie net in Galilea nie, maar ook in Judea. Mense praat. En wanneer jy ‘n sondige, sensasionele storie het gaan mense gretig luister.

SIMON EN MARIA EN MARTA

As Marta met Fariseër Simon getroud was, soos somige kommentaters meen, dan was Maria se terugkoms huis toe ‘n bietjie problematies.

Oorspronklik het Maria en Simon se buite-egtelike verhouding daartoe gelei dat sy Betanië moes verlaat.

‘n Vraag aan die getroude dames: Sou jy jou suster in jou huis opneem nadat sy ‘n verhouding met jou man gehad het?

Nie so maklik nie. Kom ek vertel u van ‘n baie interessante geval wat ek jare gelede in Bloemfontein gehad het.

GEVAL VAN TWEE SUSTERS IN BLOEMFONTEIN

Twee dames het na die reeks lesings toe gekom – een ‘n bietjie aan die ouer kant en die ander een baie jonger.

Die pragtige waarheid van die drie-engele het albei se harte aangegryp. Tydens my besoeke by hulle het albei tekenne gegee dat hulle gedoop wil word.

En toe hoor ek die volgende skokkende verhaal. Jare gelede het die jong sussie by die ouer suster ingewoon.

Die ouer suster se man het besonder baie aandag aan die jonger sussie gegee en ‘n verhouding het ontstaan.

Uiteindelik los die man toe die ouer suster en trou met die jonger sussie. Asgevolg van die seer en die bitterheid het hulle opgehou om met mekaar te praat.

Jare later woon albei die evangeliereeks by. Deur die genade van die Here het hulle met mekaar versoen. Dit was ‘n groot oomblik toe hulle mekaar in die doopfont omhels het.

Party bitterheid kan binne maande opgelos word. Ander bitterhede neem jare om opgelos te word. Wat by die mens onmoontlik is, is altyd by die Here moontlik.

Op een of ander stadium moes Marta haar jonger sussie Maria vergewe het. Sy is weer toegelaat om in hulle huis te kom woon.
Kom ons hoor wat die Bybel vir ons omtrent Simon vertel:

Lukas 7:36 Een van die Fariseërs het Hom genooi om by hom te kom eet. Hy het toe in die huis van die Fariseër ingegaan en aan tafel sy plek ingeneem.

Wie was die Fariseërs? Hulle het die sedes van die volk probeer handhaaf het. Sover dit die beoefening van die Joodse godsdiens aanbetref, was hulle baie streng.

Die naam Fariseër beteken “afgesonderde”. Hierdie mense het hulleself as moreel verhewe bo die res van die volk gevoel. Gevolglik het hulle met Jesus se leër oor nederigheid gebots.

Hulle het ook ‘n godsdiens van saligheid deur werke be-oefen. Onder die invloed van Filo, ‘n Joodse filosoof, ‘n tydgenoot van Jesus het sommige van hulle Plato se leer van die onsterflikheid van die siel aangehang.

Simon die Fariseër wat in Betanië gewoon het, het baie groot aansien by die volk gehad.

MELAATS

Op ‘n dag het ‘n vreeslike ramp hierdie gesiene man getref. Dit het ‘n skokgolf deur die dorpie en deur die dorpie gestuur.

Markus 14:3 Jesus was in Betanië in die huis van Simon die melaatse.

Die grammatikale wyse waarop Markus hierdie paar woorde geskryf het, impliseer dat Simon die Fariseër vroeër melaats was, maar op een of ander stadium daarvan genees is.

Behalwe vir die melaatsheid van ontrouheid aan sy vrou Marta, het Simon ook die gevreesde melaatsheid van die liggaam opgedoen. Die arme man!

AANKONDIGING

“Marta. Marta. Kom kyk hier. Sien jy hierdie wit merkie aan my keel? Wat kan dit wees?” Baie gou het die priesters by die tempel dit as melaatsheid gediagnoseer.

Daarna is Simon na ander Fariseërs en ‘n dokter geneem wat ‘n vloek oor hom uitgespreek het.

Later die dag het Marta vir hom ‘n paar goetjies ingepak en gegroet. Dit was ‘n baie hartseer oomblik toe hulle van mekaar afskeid geneem het. Sy kon hom verwyt het.

Die teologie van die dag het geleer dat melaatsheid die vinger van God was. Met ander woorde die oordeel van God het op Simon geval.

Hy is uit die samelewing geban en moes iewers in ‘n grot saam met ander melaatses in isolasie gaan woon.

JESUS SE BESOEK AAN BETANIë

Dit was teen hierdie tragiese hartseer agtergrond dat Jesus die huis van Marta, Maria en Lasarus besoek het.

Lukas 10:38,39 Op hulle reis het Jesus in ‘n dorp gekom waar ‘n vrou, Marta, Hom as gas ontvang het. Sy het ‘n suster gehad, Maria, wat aan die voete van die Here gaan sit en na sy woorde geluister het.

Ek verstom my oor Jesus se sielelas. Hy, die God van die kosmos, lê ‘n besoekie by die slegste vrou in Betanië af.

Maria het haar suster Marta se huwelik geskaad; die huis verlaat en ‘n nog groter gemors van haar lewe in Galilea gaan maak.

Jesus het haar sewe keer van die duiwel van wellus verlos. Vir ‘n tyd het dit gelyk of hierdie nimfomaniak reggekom het.

Marta kon haar in die huis teruggeneem omdat Simon asgevolg van sy melaatsheid weg was.

Maar sy was skaars terug in Judea soos ons ‘n oomblik van te vore gehoor het, of sy raak met ‘n paar Fariseërs in Jerusalem deurmekaar. Jesus tel hierdie wrak weer ‘n keer op, vergeef en herstel haar.

Nou kan mens verstaan waar Maria se gretig was om aan Jesus se voete te gaan sit het toe Hy by hulle huis aangekom het. Sy wou ‘n herhaling van die verlossingsplan hoor.

Lukas 10:40 Maar Marta was baie bedrywig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en sê: “Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê sy moet my kom help!”

Wanneer mens na die agtergrond van die verhaal kyk, kan jy verstaan waarom Marta ontsteld was.

Hier sit hierdie sussie van haar vir die hoeveelste keer in die geselskap van ‘n man. Het sy nie al genoeg mans se lewens opgemors nie?

Dis presies hoe sy ook aan haar man Simon se voete gesit het toe hy nog in die huis was. Dis omdat sy nie werk vir haar hande het dat sy so met die mans flankeer.

Lukas 10:41,42 Maar die Here antwoord haar: “Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie.”

Ek en jy het nodig om tydsaam aan Jesus se voete te sit.

Die woord vir besorg in Grieks is Marimnao.

Dit is afgelei van die woord MATIDSOU wat “verdeel” beteken.

Ons raak besorgd wanneer ons nalaat om Jesus met onverdeelde aandag te vertrou. Ons gee Hom ons pyn en ons versoekings, maar dan neem ons dit met tye weer uit Sy hande uit. Ons verdeel ons aandag.

Daar aan die voete van Jesus het die slegte Maria haar sondige verlede met onverdeelde aandag aan Jesus gegee.

Jesus wou ook hê dat die goeie Marta haar seer en skande van die verlede met onverdeelde aandag aan Sy voete moes kom plaas.

Volgende keer hoor van Lasarus se dood en hoe die susters gereageer het.

Ons gaan nuwe, vars dimensies van Jesus se optel-liefde ontdek.

Was this article helpful?

Related Articles